Inleiding
Die straf van Israel word weereens aangekondig en God maak dit duidelik dat niks en niemand vanuit sy beheer kan wegvlug nie. Hierdie wêreld is vervloek met sonde en gaan in totaliteit geoordeel en gestraf word. Tog het God in Sy groot genade ʼn groep gekies om aan Hom te behoort en sal Hy hulle behoue laat bly. Selfs in hierdie tye van straf en verdrukking, waar ook die uitverkorenes deur vervolging en marteling sal gaan, sal hulle egter nooit verlore gaan nie, maar sal hulle in God se bewarende hand wees.
Totale beheer
God kondig weereens die vernietiging van Israel aan. Geen mens sou hierdie oordeel kon vryspring nie. Geen plek is buite die bereik van God nie. Dit sou Jona ook ontdek as hy van God probeer wegvlug na Tarsus. Amos kondig aan dat al dink hulle dat hulle na die doderyk of na die hemel van God kan wegvlug, hulle pogings beslis sal faal. Selfs al vlug hulle na die diepste oseaan sal God die seeslang opdrag gee om hulle te pik. Dit is tog interessant om daarop te let dat die seeslang in die Bybel uitgebeeld word as “hy wat in stryd met God is.” In hierdie gedeeltes word hy die Leviatan genoem. Jesaja 27:1 Op daardie dag sal die Here met sy wrede en groot en sterk swaard rekenskap eis van Leviatan, die vinnige slang, van Leviatan, die kronkelende slang. Die monster wat in die see is, sal Hy doodmaak. Dus sal God ook ʼn vyand van Hom gebruik om hulle te straf. Elke skepsel, ja selfs die satan, is onder God se beheer en soos in Job leer ons dat hy niks kan doen sonder God se toestemming nie. Hier kan ons ook bely en leer dat God ook Sy vyande gebruik om Sy opdragte uit te voer. Niemand moet ooit die idee hê dat God beheer verloor het oor Sy skepping nie. Nee, alles word bestuur soos Hy voor die grondlegging van die wêreld bepaal het. Ons kan gerus na Dawid, aan die einde van sy koningskap, voordat Salomo gekroon is, luister. 1Kronieke 29:10-11 En Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.
Nie net sal God die mens straf nie, maar die aarde sal ook deur God gestraf word. Hy vergelyk hierdie straf met die grondgebied van Egipte wat met tye deur die Nyl oorstroom word. Die lande is dan geheel onder water, sodat niemand kan plant of oes nie. Niks wat op aarde plaasvind moet as toevallig gesien of onbeplan geag word nie. Ons kyk na die weer as weerstelsels en patrone en lugdrukstelsels. Aardbewings en vulkaniese uitbarstings word gesien as gevolge van kragte wat inwerk op die aardkors. So het ons wetenskaplike verduidelikings vir alles. Al is die verduidelikings nie verkeerd nie, is dit nie die volle verhaal nie. Daar is ʼn lewende God wat alles beheer en gebruik tot Sy eer. Hy kan deur Elia vir Agab sê dat daar reën sal val en as Elia ʼn wolkie sien so groot soos ʼn man se hand kan hy aan Agab sê dat hy hom moet haas sodat die reën hom nie terug hou nie. 2Konings 18:44 Die sewende keer sê hy toe: Daar kom ‘n wolkie so klein soos die palm van ‘n man se hand uit die see op! Toe sê Elia: Gaan! Sê vir Agab, Span in en gaan af, sodat die reën jou nie terughou nie.
Selfvoldaan
Waaroor het hierdie volk nie alles geroem nie? Waarop het hulle nie alles hul vertroue geplaas nie? Sou hulle nie vir mekaar kon sê dat God hulle meer lief het as al die ander volke nie? Sou hulle nie kon wys na die uittog uit Egipte as ʼn bewys dat God met hulle meer bemoeienis gemaak het as met ander volke nie. Tog sê Amos aan hierdie volk dat God hulle soos die kinders van Kus beskou. Hulle het vergeet dat God aan hulle genade bewys het en dat hulle aan God gebind was en nie God aan hulle nie. Volgens hulle kon hulle doen en leef net soos hulle wou en God, in teenstelling met hulle, moes aan hulle eer betoon. Hy moes aan hulle net altyd die goeie gee aangesien Hy hulle God is. “God skuld ons.” Watter arrogansie!? God wys hulle daarop dat Hy ook die God is wat die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir laat trek het. Daar is dus niks besonders dat julle van slawerny uit Egipte bevry is nie. Elke bevolkingsgroep en mens is geplaas presies waar God hulle wou hê. Dit word ook deur Paulus duidelik gemaak aan die mense wat na hom geluister het by die Areopagus. Handelinge 17:26 Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal.
Bewarende hand
Net soos God die ander koninkryke a.g.v. hulle sondes tot ʼn einde gebring het, sal Hy ook met Israel maak en tog sal Hy hulle nie heeltemal uitwis nie. God sal hulle sif soos koring en die kaf in die wind laat wegwaai. Dit is tog duidelik dat God nie ʼn enkele koringkorrel op die grond sal laat val nie. Al het Hy die volk geskud en al is van sy volgelinge ook onder die straf weggevoer, Daniel, Sadrag, Mesag, Abednego, Esra en Nehemia is hierdie diensknegte van God deur Hom bewaar. Hier moet ons daarop let dat al is dit ook duidelik in die Ou en Nuwe Testament dat baie regverdiges vermoor en gemartel is, dit duidelik is dat hulle self daarin in God se bewarende hand is. Hebreërs 11:36-38 Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel—die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.
Nuwe koninkryk
Al is hierdie straf oorweldigend is dit duidelik dat, aan diegene wat hierdie boodskap ter harte sou neem, God ook ʼn troos wou gee. God sou die vervalle hut van Dawid weer opbou. Die nuwe sal soveel groter as die oue wees. Hierdie nuwe koninkryk sal nou Edom en al die nasies oor wie God se naam uitgeroep is insluit. Jesus vertel aan sy hoorders dat daar ook skape van ʼn ander kraal is wat Hy sal inbring en een kudde sal maak. Johannes 10:16 Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. In Christus word hierdie profesie ʼn werklikheid. Dit sal ʼn ongekende tyd wees. ʼn Tyd van oorvloed. Die eerste wonderwerk wat Jesus doen bring hierdie profesie so duidelik in vervulling. Jesus is by ʼn bruilof en die wyn het opgeraak. Jesus gee die dienaars die opdrag om die reinigings kanne vol water te maak. Jesus verander hierdie water in wyn wat so heerlik is dat die hoofdienaar die bruidegom roep en sê:Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar. Johannes 2:10. Jesus het ons daarop gewys dat die ou reinigingsgebruike vervul sou word met iets soveel heerliker. Sy eie lewe sou die ewige reiniging bewerk. Maar daar is meer. Die water word, sonder die wingerdstok en die druiwe en die oes van die druiwe en die pers daarvan, direk verander in wyn. Die druiwetrapper het letterlik die saadsaaier ingehaal. In Christus sou die gelowige ʼn heerlikheid ontvang wat ongekend sou wees. In Hom ervaar ons die berge drup van mos en die heuwels loop daarvan oor. Loop ons bekers nie oor nie. Sy Woord veroorsaak ʼn opgewondenheid hier in my binneste. Hierdie nuwe volk waarvan Amos praat sal die verwoeste stede herbou en bewoon. Hulle sal werk in die land en sal self die opbrengs van die oes geniet. Hierdie profesie word ook bevestig deur Jesaja. Jesaja 65:21-22 En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Elke gelowige sal die vreugde ervaar in hulle wandeling saam met Hom.
Slot
Die Here belowe ons ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan, al word ons as slagskape behandel. Ons is meer as oorwinnaars en daar is niks wat ons van die liefde van Christus kan skei nie. Paulus, onder die inspirasie van die Heilige Gees, vertel aan die Korintiër gemeente, en so ook aan elkeen van ons, dat elke belofte wat daar gemaak is, in Christus ja en amen is. 2Korintiers 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. Nooit sal die gelowige uit die “land” uitgeruk kan word nie. In Christus sal ons vasgehou word en niks of niemand sal dit kan verander nie. Alles wat ons ontvang het, het ons ontvang in Christus Jesus en dus sal ons dit ewig as erfenis besit. Efesiers 1:3-4 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees. Het hierdie vreugde wat belowe word al jou hart bereik? Baie lees hierdie beloftes, maar dit bly kognitief en sak nie af na die hart nie. Ons is so baie keer vasgevang in die wêreldse en ons begeertes en verlange is dié van die wêreld, sodat die ewige lewe saam met Christus, wat nou alreeds begin, nooit ʼn werklikheid word nie. Is Sy begeertes jou begeertes; Sy verlange, jou verlange? Kolossense 3:1-3 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Na die sondeval het God die aarde en alles daarop vervloek. Hy het egter ʼn nuwe koninkryk kom oprig deur die bloed van Sy seun, Jesus Christus, waarin opgeneem word mense van elke volk en taal en nasie. Die sonde sal gestraf word, soos deur God belowe word en al is ons deel van hierdie gevalle wêreld is ons nie van hierdie wêreld nie en sal ons na ons werklike tuiste terugkeer op die tyd wat God daarvoor bepaal. Intussen leef ons in Sy bewarende, vrygewige, genadige, seënende hand met vreugde as oorwinnaars. Mag dit waar wees in jou lewe!
