Inleiding
Hoe ingelig is mense vandag? Ons kan sekerlik sê dat die meeste mense weet wat is gesond om te eet en hoe om na hul gesondheid om te sien, hoe om hul geld te bel en tegnologies is selfs die meeste mense vaardig genoeg om ʼn slimfoon te gebruik en op Google navorsing te doen. Ook rakende God se opdragte, weet ons wat reg en verkeerd is en self indien jy die verskoning wil gebruik dat jy nie weet nie, sê die Bybel onomwonde dat God se wet in die mens se harte geskryf is. Tog, het sommige mense die idee dat God se opdragte daar is om jou pret te bederf. Net soos wat verkeerde eetgewoontes jou gesondheid sal beïnvloed, al is die gemorskos hoe lekker, so sal jou sonde jou lewe en jou verhoudings met ander negatief beïnvloed. Jy sal dalk op aarde op ʼn manier met so min moontlik letsels as moontlik kan deurkom, maar die uiteinde van sonde is die dood. Die ewige dood, want die belangrikste verhouding, nl. jou verhouding met God, is alles of niks. Op ʼn dag sal jou sondes jou inhaal, jou boekie is vol en al wat oorbly is die straf van God. Dit is die boodskap wat Amos aan die volk moes gee.
Daar is nog baie tyd
God wys aan Amos ʼn mandjie met somervrugte. In jou geestesoog kan jy hierdie vrugte sien, dit is ryp en reg om geëet te word. God toon aan Amos dat hierdie volk se sonde tot volle rypheid gekom het en dat hulle vernietiging voor die deur lê. Die Hebreeuse woord vir somervrugte is קיץ(kayits) en die woord vir die einde is קץ(kets). Een letter in die Hebreeuse taal wat verskil. Hoe duidelik is hierdie beeld nie? Hoeveel maal het God nie alreeds hierdie volk gestraf voordat Hy hierdie boodskap stuur nie en tog het hulle hulle harte verhard en nie ag gegee om Sy waarskuwings nie. Die Israeliete, soos baie van vandag, het die idee dat daar nog genoeg tyd is om later hul lewe reg te maak. Hulle wil nog eers hulle eie paaie wandel en hulle lewens sogenaamd “geniet”. “Daar is nog baie tyd.” Behalwe dat ons nooit met die genade tyd moet speel nie kan niks verder van die waarheid wees as om te dink genot lê in ʼn lewe buite gehoorsaamheid aan God nie. Nee, ons is gemaak om God te verheerlik en ons sal slegs rus vind in gehoorsaamheid aan Hom. Jeremia 6:16 So sê die Here: Gaan staan langs die paaie en kyk; vra na die weë uit die voortyd. Vra waar die pad na die goeie is, en volg dit! Vind so sielerus! Maar hulle het geantwoord, Ons sal nie gaan nie. In die paleise was daar vreugde liedere ten spyte van hulle sondes. In hulle eie oë was hulle selfvoldaan. Die profeet is verkeerd. God is met ons. Kyk net hoe goed gaan dit met ons. Hulle was soos die mense van Noag se tyd waarvan Jesus gepraat het. Mattheus 24:38-39 Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees. Al die vreugde sal tot uit die paleise verdwyn. Daar sal oral dooie liggame wees en ʼn doodse stilte sal oor die land kom. Die genade tyd is verby.
Geldgod
Weereens kla God die volk aan dat hulle die behoeftiges vertrap en die ootmoediges probeer uitroei het. Hulle denke was oorheers deur ʼn winsbejagtheid. Al waaroor hulle kon dink op die Sabbatdag en die feesdae aan die Here was om nog meer wins te maak. Hulle kon nie wag vir die heilige dae om net verby te wees sodat hulle besigheid kon doen nie. Klink dit soos jy? Niks is vir jou belangriker as om net nog meer geld te maak nie. Daar is net geen rus vir jou nie. Jy dryf jouself ten koste van jou gesin en die gemeente waaraan jy behoort. Jy kan nie afskakel nie. Jy verontskuldig jou drang na geld as ʼn harde werksetiek. Die rykes in die volk het selfs verder gegaan en het oneerlike besigheid gedoen. Hulle het mense uitgebyt, verkul en ʼn hebsug na net nog groter wins gehad. As Moses leiers vir die volk moes aanstel was dit manne wat onregverdige wins gehaat het. Eksodus 18:21 Maar wees jy op die uitkyk na bekwame manne onder die hele volk, betroubare manne wat ontsag het vir God, wat ‘n weersin het in oneerlike wins. Stel hulle oor die volk aan as aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien. So word die vereiste vir ʼn ouderling ook gestel as iemand wat nie geldgierig is nie. 1Timotheus 3:3 Hy moet nie ‘n dronkaard of veglustig wees nie, maar inskiklik, vredeliewend, en nie geldgierig nie. Die volk is deur God in die Ou Testament beveel om nie hulle broers(volksgenote) wat arm is uit te byt nie. Hulle mag nie vir hulle geld geleen het teen ʼn rente of grond verkoop het met ʼn rente op die terugbetaling nie. Verder mag jy ook nie wins maak uit die kos wat jy aan hom gee nie. Levitikus 25:36-37 Moenie van hom rente eis of uit hom wins maak nie; jy moet vir jou God ontsag hê en jou familielid moet by jou leef. Jou geld mag jy nie vir hom teen rente gee nie en van jou kos mag jy nie vir hom teen wins gee nie. Hoe ver het die Israeliete nie wegbeweeg van God se opdragte nie? Nie net het hulle ander volkere uitgebyt nie, maar ook hulle eie landgenote. Hoe lyk jou lewe ten opsigte van jou besigheid en broers in Christus?
Die Bybel leer ons om vergenoegd te wees met wat ons het en dat ons gedagtes gefokus moet wees op godsaligheid. Niks van dit wat jy hier op aarde bekom sal saam met jou geneem word as jy sterwe nie. 1Timotheus 6:7 Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie. Daarom word ons ook gewaarsku in dieselfde hoofstuk dat geld die wortel is van “allerlei”(Wat ʼn beter vertaling is van Griekse woord) kwaad. 1Timotheus 6:10 Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Die probleem lê nie daarin om besigheid te doen en geld te maak nie, nee dit gaan daaroor dat jou grootste begeerte is om ryk te word. Iemand wat hierdie begeerte het val maklik in versoekings, aangesien hy gedryf word deur ʼn begeerte om nog meer te hê en nie deur die begeerte om sy werk tot die beste van sy vermoë te doen en sodoende in alles ʼn getuie vir Christus te wees nie. Hierdie mense het selfs besluit om die slegte dele van die koring oes ook te verkoop en daaruit wins te maak. Geld was hulle lewe. Hierin lê die gevaar – dat geld jou blind sal maak vir die ongeregtigheid. Deuteronomium 16:19 Jy mag nie die reg verdraai nie, jy mag nie partydig wees nie en jy mag nie omkoopgeskenke aanvaar nie; want ‘n omkoopgeskenk verblind die oë van wyses en verdraai die woorde van regverdiges.
Honger na God se Woord
Nie net sou God hulle straf en hulle land vernietig nie, maar hy sou ook ʼn honger stuur in die land om die woorde van die Here te hoor. Hulle wou so graag na die valse profete en priesters luister. Die ware profete is vervolg en doodgemaak. Jesus kla die mense van sy dag aan in die gelykenis van die wingerd wat uitgehuur word en die huurders wat die eienaar se diensknegte en selfs sy seun aan die einde vermoor het. Hy maak dit ook aan hulle duidelik dat hulle kinders is van die mense wat die profete vermoor het. Mattheus 23:30-31 En julle sê, As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie. Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Van die laaste profeet tot en met die koms van Johannes die Doper gaan 500 jaar sonder ʼn Woord van God verby. Die eerste Woord na 500 jaar is Johannes die Doper se oproep dat hulle hulle moes bekeer. God het geen profeet meer gestuur nie. Elke profeet wat opgestaan het, het gekom uit die hand van God. Elke man wat God se Woord suiwer verkondig is gestuur deur God en op so ʼn genade moes die volk ag geslaan het. Hoe opgewonde moes hulle nie gewees het dat God met hulle as blote mense bemoeienis gemaak het nie? Nou sou daar geen meer voeding wees nie en ʼn woestyntyd sou vir hulle voorlê sonder die geestelike versterking van manna en kwartels en die geestelike water uit die rots wat alleen die dors kan les. Hoe tragies is hierdie tyd? Die geestelike ineenstorting sal oral sigbaar wees. Die volk sou in hierdie tyd besef hoeveel groter die geestelike honger en dors is as die fisiese.
Slot
Slaan jy ag op God se Woord? Is jy opgewonde om nie net jou eie Bybelstudie te hou nie, maar ook om onder die geklank van die Woord op ʼn weeklikse basis saam met ander gelowiges te kom? Jesus vertel in die bergpredikasie dat mense wat honger en dors na geregtigheid versadig sal word. Ons weet dat die grootste drang in elke mense die drang na kos en water is. Christus maak dit duidelik dat ons grootste drang moet wees na Sy geregtigheid. Om te lewe in gehoorsaamheid aan Sy Woord moet die drang van elke gelowige wees. Wat jy sal besef as hierdie drang jou grootste begeerte en die gebed van jou hart is, is dat jy versadig sal word. Jy sal geen meer honger hê na die wêreldse dinge nie. Elke keer as jy ʼn honger het na wat die wêreld jou bied moet jy besef dat jou geestelike honger en dors nie geles word nie en daarom het jy hierdie wêreldse honger in jou. Iemand wat ʼn heerlike maaltyd gehad het en versadig is, sal verby ʼn winkel kan stap wat aan jou ongesonde kos wil voorsit, sonder om daarvan te begeer. Is jy vanoggend gevul met die ware Brood van die Lewe? Het jy gedrink van die Rots waaruit die Lewende water stroom, Christus self? Die barometer van jou geestelike gesondheid is die honger en die dors na die materiële dinge, teenoor jou honger en dors na die Woord van God.
