Inleiding
Dit is belangrik om te weet, voor ons hierdie gedeelte in diepte bespreek, dat God nie ʼn God is wat van gedagte verander of berou het nie. Numeri 23:19 God is nie ‘n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ‘n mensekind, dat Hy van plan sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand doen nie? Menslike eienskappe wat God gebruik om oor Homself te praat is om aan die mens iets te verduidelik. Daar is baie sulke voorbeelde in die Woord, bv. as die Woord praat van God se arm, dat Hy ʼn deur is, ens. Dit is alles beelde wat aan ons iets aangaande Hom uitlig. In hierdie gedeelte kry God twee keer berou ten opsigte van die straf van die volk. Die derde keer wat God straf aankondig tree Amos nie by God in vir die volk nie en God verander nie van gedagte rakende die volk se straf nie. Wat wou God aan die volk en ook aan ons kommunikeer deur hierdie profesie?
Genadetyd
God wil die volk deeglik bewus maak van die hoeveelheid kere wat Hy hulle al kon straf en totaal kon uitwis en dit tog nie gedoen het nie. Hy wys ook vir hulle dat Sy genade teenoor hulle hulle nie tot inkeer laat kom het nie. Sy goedheid en vriendelikheid het hulle nie verander nie. Watter aanklag is dit nie teen die volk nie? Hulle het hul harte verhard en luister glad nie na Sy waarskuwings nie. Die eerste straf sou nie so erg wees soos die tweede straf nie en die tweede sou nie so erg wees soos die derde nie. Amos kondig aan dat God hulle wel sal straf met die derde straf en dat die tyd van genade nou verby is. So het God die volk van die begin af gewaarsku van sy straf wat sou kom as hulle sou volhard in sonde. Deuteronomium 28:15 As jy egter nie na die stem van die Here jou God luister deur al sy gebooie en vaste voorskrifte wat ek vandag vir julle voorskryf, nougeset na te kom nie, sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou tref.
Ontferming
Amos wys ook in hierdie gedeelte die volk daarop dat hy vir hulle ingetree het. Dit is nie asof Amos kwaad was vir die volk of hom verlekker het in dit wat die volk sou tref nie. Sy begeerte was dat God hulle sou oorsien. Hy het nie terug gedeins om aan hulle God se straf oor te dra nie, maar in sy hart was daar ʼn deernis vir die mense. Dit is so ʼn wonderlike voorbeeld hoe elke gelowige se lewe moet lyk. As ons mense waarsku aangaande hulle sondes en die oordeel vir hulle aankondig as hulle daarin sou volhard, moet dit nooit vloei uit ʼn gevoel van genot nie. My lewe moet gekenmerk wees deur hartseer oor die hardheid van mense se harte. Luister gerus wat Paulus sê aangaande die volk waaraan hy fisies behoort het. Romeine 9:1-2 Ek praat die waarheid in Christus – ja, ek lieg nie – en my gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig teenoor my dat ek in my hart ‘n ontsaglike droefheid en ‘n onophoudelike pyn ervaar. Sy begeerte is dat hulle sou luister. Net so is dit my begeerte en my gebed dat mense die boodskap wat ek aan hulle sou bring sal aanvaar en dat hulle hulle lewens in lyn sal bring met God se Woord. Gelowiges ontferm hulle oor ander mense se lot, fisies sowel as geestelik, maar veral geestelik. Ons weet vanuit God se woord wat die uiteinde van sonde is en baie gelowiges het al self die pad van sonde gestap en die hartseer gevolge gedra. Omdat ons ander hierdie pyn wil spaar is dit uit hierdie hart van deernis wat ons mense waarsku en nie uit hooghartigheid nie.
Valse beskuldigings
Die tragiese is dat die volk hom sou beskuldig van ʼn sameswering ten spyte van sy intree vir hulle by God. Die man wat Amos sou aankla is Amasia, ʼn priester. Hoe baie keer is dit juis vanuit die sogenaamde “kerk” waaruit ons felste aanvalle kom? Miga, die profeet van God, het van God ʼn boodskap aan Agab gehad dat God hom sou laat sterwe in die oorlog. Hierteenoor het Sedekia, die valse profeet, gestaan en getuig dat alles goed sou gaan met Agab en die weermag. Sedekia was onmiddellik kwaad omdat Miga dit onomwonde gestel het dat wat hy profeteer vals was. 1Konings 22:24 Daarop het Sedekia, seun van Kenaäna, na vore gekom; hy het Miga op die wang geslaan en gesê: “Nou waar het die Gees van die Here dan van my af na jou oorgegaan om met jou te praat?” Net so het Pasgur, ʼn priester en ook ʼn profeet, vir Jeremia geslaan en in ʼn blok gesit oor die woorde van God wat Jeremia verkondig het. Jeremia 20:2 Pasgur het toe die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit wat by die boonste Benjaminpoort was in die huis van die Here. Die grootste aanslag teen Jesus se bediening was vanuit die “kerk” van sy dag, die Sanhedrin. Daar is niks wat valse predikante en pastore meer haat as die waarheid van God se Woord nie. Die sogenaamde “kerkmense” sal die ware boodskap, wat in stryd is met wat hulle ore wil hoor, haat en daarom, omdat jy as gelowige die draer is van hierdie boodskap, sal jy beslis gehaat word. Hulle sal jou hart beoordeel en jou laat twyfel in jou motiewe. Hulle sal jou liefdeloos noem, terwyl jy in jou binnekamer vir hulle intree en opreg bid vir hul redding. Die duiwel wil hê jy moet vreesbevange raak en doodstil bly rakende God se Woord en dat jy moedeloos sal word omdat mense jou so verkeerd verstaan en vals beskuldig.
Dit is presies wat gebeur het met die blinde man se ouers in Johannes 9 toe die Fariseërs vir hulle begin uitvra oor hulle seun wat blind was van geboorte en wat nou kon sien. Luister na sy ouers se antwoord aan die Fariseërs: Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë oopgemaak het, weet ons nie. Vra hom – hy is oud genoeg; hy sal vir homself praat. Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode. Die Jode het naamlik reeds ooreengekom dat as iemand Hom openlik as die Christus sou bely, hy uit die sinagoge geban sou word. Johannes 9:21-22. Hierteenoor het hulle seun gestaan wat geen vrees vir die Fariseërs gehad het nie. Jy sal nie lank in die geloof staande bly as jy ʼn vrees het vir mense se opinies of aksies nie. Jesus se verhaal van die saaier illustreer dit baie duidelik. Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is die saad wat vir ʼn tyd groei, maar as vervolging en verdrukking kom, kwyn hulle onmiddellik weg.
Gaan net weg
Amasia belet vir Amos om verder in Israel te profeteer en roep hom op om Bet-el te verlaat. Hy vertel aan Amos dat dit beter is om in Juda te gaan preek en dat hy daar vergoed sal word vir sy profesie, in teenstelling met wat hy onder die Israeliete ervaar. Hier in Bet-el het hy geen gesag nie en kan hy nie net dinge kom verander soos wat dit hom pas nie. “Ja, jy is ʼn profeet maar net nie hier nie.” Amasia skep die indruk dat daar sekere plekke is waar God geen jurisdiksie het nie. Asof daar sekere plekke is waar God se Woord nie gesag het nie. Hoe maklik gebeur dit nie in mense se lewens nie. Hulle dink dat die Woord nie gesag het oor hulle seksualiteit, hulle besigheid of hoe hulle hulle kinders grootmaak nie. Hulle plaas hulle lewens in kompartemente en in sekere gedeeltes mag God spreek, maar in ander is daar ʼn groot bordjie waarop staan: “Hier is ek die baas.” In hierdie plek was Amasia priester en profeet en is hy betaal vir sy dienste en niemand gaan in sy slaai kom krap nie. Sy boodskap sou die koning en die inwoners rustig maak en Amos se boodskap ontstel net mense. Niks is beter vir ʼn valse profeet as dat alles rustig is en almal rustig, ongesteurd en met vreugde die pad na die hel reis nie.
Goddelike opdrag
Amos het geen begeerte om op te hou preek nie. Sy roeping het nie sy oorsprong in homself gehad nie. Dit is nie asof Amos op ʼn dag besluit het dat hy vir daardie mense in Israel ʼn boodskap gaan gee nie. Amos maak dit duidelik dat hy nie eers die seun van ʼn profeet is nie en dat die enigste rede hoekom hy preek is omdat God hom ʼn opdrag gegee het. Paulus sou dieselfde belydenis hê aangaande die opdrag wat hy het om die evangelie te verkondig. 1Korintiers 9:16-17 Want as ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my rede om my daarop te beroem nie? Daar rus immers ‘n verpligting op my, en wee my as ek nie die evangelie verkondig nie. As ek dit uit vrye wil doen, is daar vir my beloning; as ek dit egter nie uit vrye wil doen nie, doen ek dit as ‘n taak wat aan my toevertrou is. Geen gelowige moet dink dat hy of sy ʼn keuse het of hulle die evangelie wil verkondig al dan nie. Elke gelowige het die opdrag ontvang om uit te gaan en die evangelie te gaan verkondig. Amos kon bely dat hy ʼn gewone plaasboer was en dat God hom daar weg geneem het en na Israel gestuur het met ʼn boodskap aan hulle. Hier moet ons nie misverstaan en dink dat almal predikante moet word nie. Nee, maar almal wat getuig dat hulle gelowiges is moet Woord verkondigers wees in die plekke waar God hulle geplaas het.
Slot
Valse profete en mense kan jou boodskap probeer smoor met valse beskuldigings teen jou of probeer om jou weg te jaag. Daar is baie maniere om van die waarheid te probeer ontslae raak. God laat egter nie met Hom speel nie en omdat hierdie boodskap nie sy oorsprong by ʼn blote mens gehad het nie, maar by God en omdat Amos gehoorsaam aan sy opdrag was, kondig Amos aan dat die valse profeet, wat die waarheid van die volk wil weghou dubbeld gestraf sou word. Hierdie straf word aangekondig teenoor Amasia en sy familie. Niemand moet dink dat God dit ligtelik sal opneem as jy in die pad van die evangelie staan nie. Of dat God daarmee tevrede sal wees om net oor sekere dele van jou lewe heerskappy te voer nie. God is die Koning of jy nou daarvan hou of nie en Hy sal regverdig oordeel. Hebreërs 10:30-31 Want ons ken Hom wat gesê het: Aan My behoort die wraak; Ek sal vergeld. en ook: Die Here sal sy volk oordeel. Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God!
