Amos 6

Inleiding

Amos skuif nou die fokus weg van die stam Israel na Juda. Ook Juda word nou ingesluit by die oordeel van God. Die hoofstuk skok jou soos die bergpredikasie as jy dit lees. In die bergpredikasie druk die woord wat ons vertaal het as “geseënd” volkome geluk uit. Tog is dit wat volkome gelukkig maak totaal in stryd met wat die mens as gelukkig sal beskou. Hier is dit dieselfde wanneer die profeet God se oordeel uitspreek oor die mense wat gerus en sorgelose lewens lei. Sou ons nie sê: “Gelukkig is die wat ʼn lewe lei sonder enige bekommernis en gerus is in alles wat hulle doen nie?. Hulle wat oorvloed het en nie bekommerd is oor die dag van more nie, omdat hulle alreeds daarvoor voorsorg getref het nie?” Die tempel was in Sion, die plek wat God daarvoor bepaal het. Die stadsmure was sterk en hulle het hulself veilig gevoel. God was volgens hulle met hulle en sou hulle beskerm. Tog het God verskeie male die volk gewaarsku om nie hierdie vertroue te hê terwyl hulle ongehoorsaam aan Sy opdragte is nie. Jeremia 7:4 Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, Die tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here is dit! nie. Is dit nie presies wat vandag gebeur nie? Mense lewe goddelose lewens met so ʼn geestelike versiering bo-oor hulle lewens. Hulle bely dat die Here hulle sal beskerm en dat hulle niks vrees nie. Hulle lei sorgelose lewens sonder enige begeerte om in absolute gehoorsaamheid aan God se Woord te leef. Amos kom om hierdie dun lagie van sorgeloosheid af te krap en die ware stand van sake bekend te maak. Hulle godsdiens is net skyn en hulle besef nie werklik dat alles wat hulle het uit God se hande gekom het nie, dat dit Hy is wat hulle ryk gemaak het nie.

Valse sekuriteit

Die profeet wys hulle na stede wat net so magtig en suksesvol was en tog totaal uitgewis is in die tyd wat hy aan hulle geprofeteer het. Dit is soortgelyk aan die waarskuwing van God deur Moses dat die volk nie moet leef soos die heidene wat in Kanaän geleef het nie en dat die land hulle ook sal uitspoeg soos hulle al die volkere uitgespoeg het. Levitikus 18:28 Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was. Was hierdie lande waarna Amos verwys groter en sterker as Israel? Beslis, en tog het al hulle sekuriteit vir hulle niks beteken nie. Julle dink daar sal nooit ʼn dag van afrekening kom nie, hoe arrogant is julle nie. Hierdie vooraanstaandes en rykes was nie bekommerd nie, want soos baie van vandag was dit juis hulle wat geld uit oorloë gemaak het. Hulle koop hulle vryheid met mag en geld en die oorloë veroorsaak dat hulle die armes en die besittings van baie ander kon bekom in die tye van chaos en anargie. Kyk maar hoe die baie magtige en sterk lande arm lande leeg steel van hulle minerale. Hoe die rykes van die lande wat besteel word net ook nog meer rykdom vergader terwyl die algemene bevolking in die lande kwyn van ellende. Daarom is dit so ʼn ironie dat toe God Jerusalem deur Nebukadneser laat vernietig, Hy die armes laat agterbly in die land. 2Konings 24:14 En hy het die hele Jerusalem weggevoer en al die owerstes en al die mense van vermoë, tien duisend ballinge, en al die smede en die slotmakers; niemand het oorgebly nie, behalwe die arm mense van die land.

Deurtrek van sonde

God haat dit as mense trots is op wat hulle bereik het en in hulle hoogmoedigheid op ander neersien. God kondig aan dat die vernietiging van Jakob nie iets ligtelik sal wees nie. Die stelling dat as daar tien in ʼn huis oorbly almal sal sterwe, verwys daarna dat God hulle totaal sal vernietig. Daar was niks goeds dat God dit kon spaar nie. Dit is soos wanneer daar ʼn plaag in ʼn huis was. Volgens Levitikus 14 moes daar vasgestel word of die plaag versprei het nadat hulle klippe wat met die plaag besmet was in die huis afgebreek het. As die priester na sewe dae die huis sou ondersoek en sien dat die plaag versprei het, moes dit totaal afgebreek word. Levitikus 14:43-45 Maar as die skimmelplaag weer in die huis uitslaan nadat die klippe uitgebreek en die huis afgeskraap en oorgepleister is, moet die priester in die huis ingaan. As hy die huis ondersoek en vind dat die plaag versprei het, is daar skadelike skimmel in die huis; dit is onrein. Die huis moet afgebreek word en die klippe, die hout en al die los grond van die huis moet buite die stad op ‘n onrein plek weggegooi word. Juda en Israel was deurtrek van sonde en moes vernietig word. Die beskrywing van God se straf is in hierdie gedeelte baie grafies en ons sien hele gesinne wat doodgemaak word. Die vernietiging sal so erg wees dat ʼn familielid die liggame sal moet begrawe aangesien hele gesinne uitgewis sou word. Die werk sal so groot wees dat die familielid die liggame sal verbrand, sodat hy net die bene van die mense hoef te begrawe aangesien hy nie al die liggame op sy eie sal kan begrawe nie. As hy iemand sou vra of daar nie ander van die huis of van sy familie oorleef het nie sal die antwoord, “Nee” wees. Hoe verskriklik sal hierdie dag nie wees nie?

Alle skyn verdwyn

Uit hierdie vers sien ons dat daar tog iets in diegene wat oorbly sal verander. Hierdie volk se straf was dat hulle God se naam oral aangeroep het terwyl hulle nooit ontsag vir Hom gehad het nie. Hier vind ons dat die mense wat oorbly sal vrees om Sy naam te noem. Hulle sal werklik besef dat God in ʼn stryd teen hulle gewikkel is en dat daar niks beter vir hulle is as om van Sy aangesig weg te vlug nie. Dit sal soortgelyk wees aan die uitroep van mense in Openbaring dat die berge op hulle moet val en hulle moet bedek van die aangesig van God. Openbaring 6:16-17 Hulle het na die berge en kranse geroep: Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly? Mense sal ʼn besef hê met wie hulle te make het.

Sonde verwoes

Geen mens moet ooit dink dat hulle iets kan doen teen God se Woord en ongestraf daarvan sal wegkom nie. Net so min as wat ʼn perd kan hardloop op rotse of osse op so ʼn rotsagtige land kan ploeg kan iemand dink dat daar enige iets goeds sal kom uit ʼn lewe van ongeregtigheid. So baie mense dink dat hulle sondes bedek kan bly en ander lewe sonder om te besef dat sonde  ʼn verwoestende effek op hulle lewens sal hê. Die teendeel is waar, sonde se gevolg is nie net dat dit jou wil verwoes nie, maar die Bybel waarsku ook dat die loon van die sonde die dood is. Romeine 6:23 Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here. Luister maar gerus na hoe God vir Kain waarsku voordat hy sy broer doodgemaak het. Genesis 4:7 Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers. Sonde het die begeerte om jou te verwoes. Die duiwel geniet dit as jy met die sonde speel aangesien hy weet dat jou verwoesting voor die deur lê. Die sonde is so mooi deur sy ma, Eva, beskryf as sy daarna verwys as ʼn “lus vir die oog” en dat die boom “begeerlik” was. Wee jou as jy daarvan eet, die tuin van Eden sal jou ontneem word en dorings en dissels sal jou voorland wees.

Slot

Ten spyte hiervan is daar ʼn blye boodskap. In Christus word die woestyn land verander in ʼn oase. ʼn Vrou wat diep gedrink het van die sonde, wat vyf mans gehad het en die sesde waarby sy gebly het was nie eers haar man nie, sou in Christus ontdek dat Sy water, wat Hy alleen aan jou kan gee, sou veroorsaak dat borrelende water uit haar binneste sou vloei. In teenstelling met die familielid in Amos, wat vrees gehad het vir die naam van die Here, sou hierdie vrou hardloop na die dorp en skreeu dat die mense van haar dorp moes kom kyk. Johannes 4:29 Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe?  Hulle sou na Hom kom luister en getuig: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het Hom self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is. Johannes 4:42. Is jy al vrygemaak deur hierdie Verlosser en vind jy nou jouself in Eden, wandelend in die teenwoordigheid van God? Mag jy deur Amos ontbloot word van alle skyn en jou toevlug vind in Jesus.