Inleiding
Straf en genade is die tema van Amos 5. God kondig sy straf aan, maar wys ook sy genade deur weereens ʼn oproep tot die volk te rig, dat hulle sy aangesien moet soek en na Hom moet terugkeer. So dikwels kyk mense na die Ou Testament en sien daar ʼn God wat kwaad en ongenadig is. Die teendeel is egter waar. Elke keer wanneer God straf aankondig kom ook die uitnodiging om terug te keer na Hom.
Soek My
Die profeet kondig in Hoofstuk 5 die verwoesting van Israel aan. Hulle was selfvoldaan en was vet gevreet aan al die ongeregtigheid in die land wat God vir hulle gegee het. Weereens kondig God hulle straf aan, nl. dat hulle uitgewis sal word en dat Hy hulle minder sal maak en totaal sal verdryf uit hierdie land. Terwyl Hy hulle straf aankondig is daar tog nog steeds ʼn oproep van God tot hierdie mense om Hom te soek, sodat hulle sal bly lewe. Hierdie opdrag om Hom te soek is oral te vind in Sy Woord. In Jeremia roep God die volk op om Hom te soek met hulle hele hart. Jeremia 29:13 Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. Die Psalmdigter vertel ons dat die wat die Here soek nie moeg en honger sal raak nie. Psalm 34:11 Jong leeus kry swaar en ly honger, maar wie die Here soek, ly geen gebrek aan alles wat goed is nie. God sê verder in Hebreërs dat die wat in geloof na Hom toe nader ook moet glo dat Hy die een is wat diegene beloon wat so na Hom soek. Hebreërs 11:6 Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.
Streel ons ore
Die soeke na God word nie gevind in bygelowe nie. Al die volk se mensgemaakte, godsdienstige bedrywighede staan God nie aan nie. Hulle het besluit dat om in Bet-el offers te bring net so goed is as om in Jerusalem te offer. God se opdrag is egter dat hulle in Jerusalem hul offers moes bring. Hierdie volk besluit hoe hulle God wil aanbid. Nie net hulle self besluit waar hulle hul offers wil bring nie, maar hulle offers was ook leeg, omdat hulle lewens geen Godsvrug gehad het nie. Hulle was ongehoorsaam aan Hom in hul daaglikse handel en wandel en wou dit reg “dokter” deur aan Hom offers te bring. Hulle godsdiens is aangepas en ingekleur soos wat dit hulle gelukkig gemaak het. As jy hulle sou vra of hulle God gesoek het sou hulle beslis instemmend hulle koppe geknik het: “Kyk al ons plekke van aanbidding, kyk net al die offers wat ons bring.” Tog sou God verklaar dat hulle harte ver van Hom af weg was. Reg en geregtigheid is nie meer gehandhaaf in die land nie. Hulle het selfs die man wat die geregtigheid wou handhaaf gehaat en ʼn afsku gehad in hom wat in opregtheid spreek. Dit is so eie aan die kerke vandag. Baie min het werklik ʼn begeerte om God se Woord in sy volheid aan te hoor. Nee, streel maar net my ore. 2Timotheus 4:3 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle het ten spyte van hulle godsdienstige seremonies, dit waartoe God hulle oproep in hulle verhouding met hulle naaste, agterwee gelaat. Hulle het die armes uitgebuit en sodoende hulleself verryk. Dit is presies wat die Skrifgeleerdes ook gedoen het. Markus 12:38-40 In sy lering het Jesus gesê: Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word, en die voorste sitplekke in die sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang. In die week doen jy oneerlik besigheid en Sondae sit jy vroom in die kerk. Jy het lang gebede en jy vertel hoe goed jy die Bybel ken, maar jy byt mense uit en jou hele lewe is geskoei op ʼn winsbejag. Dit is hoe sommige sogenaamde Christene vandag lyk en hoe die volk in die tyd van Amos gelyk het. God haat dit.
Almagtige, Heilige God
Die profeet vertel hulle dat hulle nie besef met wie hulle te make het nie. Geen mens wat dink dat hy van Maandag tot Saterdag kan leef soos hy wil, het enige idee wie God is nie. Daarom is die oproep deurgaans in die Skrif dat ons God moet vrees. Hy is ʼn almagtige en grote God. Daarom vra hy ook deur Maleagi vir die mense waar die vrees vir Hom is. Maleagi 1:6 ‘n Seun respekteer ‘n vader, en ‘n dienaar sy heer. As Ek dan ‘n vader is, waar is die respek wat My toekom? As Ek die Opperheer is, waar is die ontsag vir My? Die Here, Heerser oor alle magte, sê: Dit geld vir julle, priesters, wat my Naam minag! Maar julle vra, Hoe minag ons u Naam? Hy is die Skepper van alles en tog maak julle of julle Sy opdragte in die wind kan slaan en kan leef soos wat julle wil, sonder dat Hy julle sal straf. God sal alles wat hulle bymekaar gemaak het verwoes en daar sal niks oorbly nie.
Waarsku en word dan stil
Die wyses sal in hierdie tyd begin stil raak. Hulle sal nie meer waarsku nie. Salomo haal in Prediker twee maniere aan hoe ʼn dwaas geantwoord moet word en by die eerste oogopslag lyk dit of hy homself weerspreek. Spreuke 26:4-5 Moenie ‘n dwaas antwoord in ooreenstemming met sy sotheid nie, anders word jy ook dieselfde as hy. Antwoord ‘n dwaas in ooreenstemming met sy sotheid, anders is hy wys in sy eie oë. God wys ons dat jy nie ʼn dwaas(iemand wat God se opdragte in die wind slaan) moet antwoord as hy dwase dinge kwytraak nie. Die oomblik as jy met sommige mense begin redeneer dink hulle dat hulle ʼn geldige punt beet het en dat hulle slim is. Dan weer as jy ʼn dwaas antwoord, antwoord sy vraag op net so ʼn dwase manier dat dit wys dat sy vraag dwaas is. Die Skrif leer ons ook om nie ons pêrels voor die varke te gooi nie. Mattheus 7:6 Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie met hulle pote vertrap, en die honde nie omspring en julle verskeur nie. Daar kom ʼn tyd, nadat ek ʼn persoon herhaaldelik gewaarsku het vanuit God se Woord, dat ek dan stil raak. Die apostels het dit ook gedoen in Handelinge as hulle die stof van hulle skoene afskud en daardeur aantoon dat hulle die mense gewaarsku het en dat die aanhoorders nie daarop ag geslaan het nie. Net so waarsku Jesaja die volk dat daar ʼn tyd kom dat God homself sal stilhou teenoor hulle. Jesaja 59:2 Maar julle sondeskuld, dit het skeiding gebring tussen julle en julle God. Julle sondes het Hom sy gesig vir julle laat verberg, sodat Hy nie luister nie.
Die dag van die Here
En tog het die Israeliete nog steeds ʼn hoop gehad dat God op ʼn dag sou kom en dat Hy alles sou herstel en dat dit dan weer goed met hulle sal gaan. Die dag van die Here was dus ʼn dag waarna hulle uitgesien het. Amper soos baie mense wat vandag in kerke sit en selfs ongelowiges in die wêreld, wat ʼn afwagting het dat die Here Jesus weer sal kom. Dit terwyl hulle glad nie in gehoorsaamheid aan Hom leef nie. God waarsku duidelik deur die profeet dat dit alles behalwe ʼn wonderlike dag vir hulle sal wees. Kyk hoe vergelyk die profeet hierdie ontmoeting met God. Amos 5:18-19 Wee dié wat uitsien na die dag van die Here. Wat hou dit vir julle in? Die dag van die Here is duisternis, nie lig nie, soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik ‘n slang hom. Mense dink dat dit wonderlik gaan wees as die Here kom en tog het hulle nie gedoen wat Hy van hulle gevra het nie. Sal jy opgewonde wees as jou baas terugkom van ʼn sake reis indien jy geen een van die opdragte wat hy vir jou gelos het nagekom het nie? Verseker nie. Hoeveel te meer nie wanneer die opdragte kom van die Lewende God nie? Die volk moes weer herinner word dat God al hulle feeste, offers en hulle liedere haat. Hulle liedere en musiekinstrumente maak net ʼn geraas in sy ore en Hy luister nie daarna nie. Die rede hiervoor is dat die godsdiens van die volk en van baie mense vandag net ekstern geword het – tradisie en rituele. Intern is mense vrot al lyk hulle so vroom vir almal rondom julle. Jesus gee dieselfde boodskap aan die Fariseërs. Mattheus 23:27 Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle is soos witgekalkte grafte wat van buite pragtig lyk, maar van binne is julle vol doodsbeendere en elke vorm van onreinheid.
God roep jou op om Hom lief te hê met jou hele hart en verstand en al jou krag. Hy is nie tevrede met halfhartige aanbidding nie, nee dit is alles of niks. Verder is die boodskappe duidelik dat hulle sy opdragte moet uit voer. Dit is volgens Jesus die teken van iemand wat Hom werklik lief het. Johannes 14:21 Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak. Daarom word Johannes deur die Heilige Gees gedryf om te skrywe dat mense nie kan sê dat hulle God lief het en hulle broer haat nie. So iemand wat praat van ʼn liefde vir God is ʼn leuenaar. 1Johannes 2:4 Iemand wat sê, Ek ken Hom, maar sy gebooie nie onderhou nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie.
Slot
Die tragiese van hierdie volk is dat dit nog altyd hulle verhouding was teenoor God. Self in die tydperk wat God hulle uit Egipte uitgelei het was hulle harte ver van God af. Male sonder tal het die volk hulle eie paaie bewandel. Hulle was die volk wat selfs die kalf wat hulle gemaak het met dieselfde naam genoem het as die God van hemel en aarde. Aaron roep die fees uit tot eer van die Here(Die Verbondsgod Jahwe). Eksodus 32:5 Toe Aäron sien wat gebeur, het hy ‘n altaar voor die beeld gebou. Aäron roep toe uit en sê: Môre is daar ‘n fees vir die Here! Hulle het hom verder besing as die God wat hulle uit Egipte gebring het. Hoe is dit moontlik? Mense doen dit egter nou nog en miskien is dit presies wat jy doen deur ʼn Jesus te skep wat doen en sê presies wat jou pas. Hy is ʼn afgod wat jy na jou beeld geskep het en ingekleur het soos jy daarvan hou. Daarom stel die Woord nie belang in die opinies van mense of hoe opreg die mens dink hy/sy in hul aanbidding van God is nie. Die enigste vereiste vir ware aanbidding is dat Sy Kinders Sy Woord bestudeer en in gehoorsaamheid aan Sy Woord lewe. Luister wat Jesus aan die vrou by die put sê wat met Hom wil stry oor waar hulle glo hulle moet bid en waar die Jode glo hulle moet bid. Johannes 4:23-24 Daar kom egter ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die waarheid is ʼn persoon, Jesus Christus. Hy is die Woord! Slegs deur Hom kan ons waarlik God aanbid.
