Amos 4

Inleiding

Die misbruik van mag en aansien en rykdom is die tema van Amos 4. Amos gaan vanaf Hoofstuk 3:15 voort om ook die rykes aan te spreek. Hulle wat winter en somer huise het en die mense is wat die armes verdruk. Die rykes is baie keer die mees arrogante mense wat vol is van hulleself en die idee het dat hulle onaantasbaar is. Hulle is diegene wat neersien op ander wat nie het dit wat hulle het nie. Amos wil deur die boodskap in hoofstuk 4 elke persoon wat dink dat hy/sy iets het om op te roem of dat hulle beter is as ander mense bring by die gewer van alle gawes, nl. God. God alleen is die Een wat ons moet vrees en en daarom vrees Amos geen mens nie. Sy boodskap sal uitgaan aan iedereen, ryk of arm, eienaar of slaaf. Jy kan op sy boodskap neerkyk en dit verontagsaam, maar dit bly die waarheid en dit staan vas.

Familie in Christus

Dikwels roem ryk mense in hul rykdom en kyk neer op ander wat nie dieselfde finansiële sukses as hulle in die lewe behaal het nie. Dit was dan ook die probleem in die Korinte gemeente. Die rykes het voor die tyd by die kerk gearriveer en dan, sonder om te dink aan die armes wat eers later by hulle sou aansluit a.g.v. hulle werksverpligtinge, aangesien baie van hulle slawe was, die kos verorber en hulle selfs dronk gedrink het. 1Korintiërs 11:20-22 Wanneer julle saamkom, is dit nie werklik om die Here se maaltyd te eet nie; want elkeen gaan voort om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger, en ‘n ander word dronk. Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of minag julle die gemeente van God, en verneder julle diegene wat niks het nie? Wat kan ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Oor hierdie saak prys ek julle nie. Daarom word die rykes ook deur Jakobus aangespreek en gemaan om te onthou dat hulle soos ʼn blom van gras is wat een oomblik daar is en die volgende oomblik verwelk. Elke individu moet gereeld hulleself daaraan herinner dat dit God is wat ryk maak en God is wat arm maak en dat jy daarom geen rede tot roem het nie. As ryk en arm gelowiges nie mekaar kan dien en liefhê en saam kan kuier nie, kan ons beslis nie die kerk ʼn familie in Christus noem nie. God het sy misnoeë uitgespreek dat daar onder die volk sommige rykes was wat die armes verdruk het.

Vrees God alleen

Amos weet dat hierdie rykes ook op hom en sy boodskap sal neersien en daarom spreek hy, onder leiding van die Heilige Gees, hulle aan as beeste. Hy sê hierdeur dat hy nie omgee wat hulle het of al bereik het nie. Hulle mag maak hom nie bang nie en hy sal hulle aanspreek soos God hom beveel het. Luister wat sê die Skrif aangaande iemand wat mense vertrou en op hulle staat maak en afwyk van God se opdragte. Jeremia 17:5 So sê die Here: Vervloek is die man wat op mense vertrou, wat in mense sy krag vind, maar sy hart draai  van die Here weg. Geen man of vrou van God kan vrees hê vir mense en God dien nie. God se dissipels is mense wat onverskrokke is en nie skroom om aan mense Sy waarheid te verkondig nie. Verder wil Amos ook aankondig dat hulle dade daarop wys dat hulle nie waardig is om mense genoem te word nie. Hy noem hulle koeie van Basan. Basan word afgelei van “om vet te wees.” Mense word soos diere as hulle vol raak van hulleself en dink dat hulle kan hiet en gebied sonder enige teregwysing. God moes vir Nebukadneser soos ʼn dier laat word om hom nederigheid te leer, aangesien hy in sy mag gedink het dat alles deur sy wysheid ontstaan het.

Die straf wat God aankondig vir hierdie rykes is dat hulle met hoeke, soos ʼn vis wat deur ʼn visserman gevang is, weggevoer sal word. “Julle is so vet, maar God sal julle maklik wegvoer soos met ʼn hoek.” Hulle sal verneder word voor almal a.g.v. hul arrogansie – dit is ʼn belofte van God. Sou jy dit waag om te speel met God se Woord? As God waarsku, sou jy dit in die wind slaan? Dink jy dat jy magtiger as Hy is en dan jy onaantasbaar is? Die waarskuwing is beslis vir almal, maar God se aankondiging van straf begin by die rykes en vooraanstaandes.

Net soos God vir die leraar waarsku dat hy erger geoordeel sal word. Jakobus 3:1 Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word.

Geestelike armoede

Die profeet gaan voort met sy metafoor om hulle met beeste te vergelyk in die voorafgaande verse. Hy vertel hulle in vers 3 dat hulle soos beeste deur die openinge in die muur sal vlug, elkeen om weg te kom uit vrees vir die vyand. Jy kan omtrent die chaos in jou geestesoog sien. Enige iemand wat al gesien het hoe beeste ʼn draad breek weet waarvan ek praat. Eweskielik sal niemand meer omgee vir al sy besittings nie. Nee, al wat sal saak maak sal wees om jou eie lewe te red. Hoe ironies sal dit nie wees nie? Mense wat so behep is met die materiële sal alles opgee vir hulle liggame. Hoe kan mense hulle geestelike welstand prysgee vir dit wat van geen ewige waarde is nie? Kyk gerus wat Jesus aan die mense leer wat na Hom geluister het. Markus 8:34-37 Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Wat sal jy nie alles opgee en sou jy nie prys gee as jy in die ewigheid voor God se oordeel staan nie. Wat sal dan van belang wees?

Valse godsdienstigheid

Die profeet kondig aan dat hulle sogenaamde “godsdienstige pligte” hulle net nog meer ʼn gruwel vir God maak. Hul godsdienstige aksies het God se wraak net nog meer intens gemaak. Hulle het gedink al hulle offers en tiendes sou God gelukkig maak of paai, terwyl hulle besig was met afskuwelike wandade. Hulle was soos mense wat afgode aanbid en net die afgod se wraak wil stilmaak deur offers te bring sodat hulle kan bly voortleef. Dit was God se aanklag voortdurend teen die volk. Jesaja 1:11-14 Wat baat julle magdom slagoffers My? vra die Here. Ek het genoeg gehad van die brandoffers van ramme en die vet van gevoerde diere. Die bloed van bulle, lammers en bokramme staan My nie aan nie. Wanneer julle kom om voor My te verskyn – wie eis dit van julle om my voorhowe te vertrap? Hou op om waardelose graanoffers aan te dra! Reukwerk – afstootlik is dit vir My. Nuwemaansfeeste en Sabbatte, die saamroep van byeenkomste – Ek kan nie onreg én gewyde rusdae verdra nie. Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese, dit is vir My ‘n las, Ek is moeg daarvoor om dit te dra. Dink ons dat God iets van ons nodig het? Dat Hy behoefte het aan enige iets wat ons vir Hom kan gee? Verstaan jy nie dat dit jy is wat in elke opsig van Hom afhanklik is nie? Jy is die een wat eendag aan Hom rekenskap moet gee. Hierdie mense, sê Amos, doen net die “regte dinge” solank dit inpas by wat hulle wil doen. Ek sal God dien en aan Hom gehoorsaam wees in soverre dit by my inpas. As God iets in Sy Woord vra wat my nie aanstaan nie, sal ek dit nie doen nie. God moet maar net te vrede wees met wat ek bereid is om te doen. Dit klink vir my soos baie mense wat nog vandag in kerke sit. Hulle sit met die Bybels in die hand met die lied van die dag: “I did it my way”.

Goddelike tug en straf

God het hierdie volk nie net aangepreek deur Sy Woord nie, maar hulle ook daadwerklik gestraf en tog het dit geen verandering te weeg gebring nie. Hy het hulle kos weggeneem en hulle met broodsgebrek gestraf en tog het hulle hulle nie bekeer nie. Amos kondig al die maniere aan hoe God hulle gestraf het, van lande sonder enige oes tot siektes en plae soos die mense in Egipte, en tog was niemand hartseer oor hulle dade nie. God het hulle gestraf soos Hy Sodom en Gomorra gestraf het, met die enigste verskil dat God uit Israel ʼn handjievol mense laat oorbly het. Dit is elke keer onverstaanbaar hoe God, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid, tog aan Israel genade bewys wat geen van die ander volkere ooit ervaar het nie. Omdat God so sal handel, wees gereed om God te ontmoet. Moenie speel met die lewende God nie. Kyk na Sy skepping en besef dat Hy  ʼn grote en almagtige God is. Hoe klein is jy nie, o mensie, wat met God wil worstel en met Hom in ʼn stryd gewikkel wil wees nie. Nie!? Selfs met Jakob wat met God geworstel het wys God dat die worsteling nie ʼn saak van krag was nie, maar waar Jakob geopenbaar word as ʼn man wat al sy lewe lank worstel met God. Kyk hoe maklik stop God die geveg: Toe hy sien dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling met hom ontwrig. Genesis 32:25. Die woord in die Hebreeus vir tref is om aan te raak. Net ʼn aanraking van God ontwrig Jakob se heup. Vir die res van sy lewe sou hy mank loop en almal sou weet van die ontmoeting wat plaasgevind het.

Slot

Die oproep is duidelik aan elke mens. Wie is jy om teen die lewende God se Woord op te staan? Wie is jy om te dink dat jy so belangrik is en dink dat jy op ander kan neersien. In een oomblik kan God van jou jou lewe eis soos die verhaal van Lasarus en die Rykman. Wat was sy voorland nie? Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou ‘n mens gee as losprys vir sy lewe?