Inleiding
Amos roep die tien stamme van Israel op om te luister na die boodskap wat hy van God ontvang het, hierdie almagtige God wat hulle bevry het van slawerny. Petrus, onder leiding van die Heilige Gees, sal ook na hierdie verlossing verwys in 2 Petrus. 2Petrus 2:1 “Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle ‘n skielike ondergang vir hulleself.” Die woord in die Grieks vir Heer is die woord waarvan despoot kom. Hy is die alleenheerser – die baas. Julle was slawe in Egipte, maar nou is julle slawe van die een wat julle losgekoop het uit slawerny. Op hierdie manier probeer Amos dit benadruk dat dit nie hy, ʼn blote mens, is wat met hulle praat nie, maar hul baas, hul Here. Die hoop is sekerlik dat hulle dan sal ag slaan op sy boodskap en die erns daarvan sal besef.
God ken
Die profeet wys hulle daarop dat God hulle uit al die volkere op aarde geken het. Die woord in die Hebreeus vir ken is “yada”. Hierdie woord is soveel meer as net ʼn kognitiewe kennis. Die Woord, net soos sy Griekse eweknie, word gebruik vir ʼn intieme liefdesverhouding. God het dus in sy almag besluit om Israel bo al die ander volke lief te hê. Watter dankbaarheid moes dit nie by die Israeliete te weeg gebring het nie? Dat God uit al die nasies wat Hy kon kies Sy liefde op hulle uitgestort het. Was hulle besonders? Was hulle ʼn magtige volk? Deuteronomium 7:7-8 “Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met ‘n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit ‘n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.” Tog het ons uit die vorige hoofstukke alreeds agtergekom dat nederige dankbaarheid alles behalwe die gesindheid van die Israeliete was. Hulle was baie soos die Korintiër gemeente wat God deur Paulus aanspreek. 1Korintiers 4:7 “Want wie ag jou belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom beroem jy jou daarop asof jy dit nie ontvang het nie?” Hulle was vol eiewaan en God het hulle geskuld eerder as andersom. God verklaar dat, omdat Hy met hulle bemoeienis gemaak het, Hy hulle ook gaan besoek oor hulle ongeregtighede. Dit is soos ʼn vader wat sy kinders tug, omdat Hy hulle lief het. Luister gerus hoe die Hebreërs skrywer dit stel: “En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.” Hebreërs 12:5-6. Hoe meer jy ontvang het hoe meer verantwoordelikheid sal van jou geëis word.
Straf word aangekondig
In die volgende paar verse gaan God Sy volk onderrig aangaande hierdie straf wat Hy oor hulle gaan bring. Amos begin dit in vers 3 duidelik maak dat wat hy as profeet profeteer van God af kom en op grond van God se outoriteit gedoen word. Verder spreek God sy soewereiniteit uit oor alles wat plaasvind op aarde. Hy wys hulle verder daarop dat Sy toorn nie verniet op hulle gekom het nie, net so min as wat ʼn leeu sal brul in die bos as hy niks gevang het nie. God het rede om toornig te wees op sy volk a.g.v. hulle ongehoorsaamheid. As Hy spreek slaan tog ag daarop. Moenie speel met Sy Woord nie. God wys die volk daarop dat die dinge wat met hulle gebeur en nog gaan gebeur nie per toeval is nie. Hy het dit so beskik en alles kom van Hom. Die grootste gevaar is dat mense dink dat dinge wat met hulle gebeur toevallig of volgens die noodlot is. Niks kan verder van die waarheid wees nie. God bepaal alles en bestuur alles op aarde volgens sy plan en wil. Net so min as wat ʼn voël in ʼn strik gevang sal word of ʼn wip opspring as dit niks gevang het nie, net so min sal enige iets op aarde plaasvind sonder God se beheer en besturing. Daarom moet die volk nie Sy waarskuwings in die wind slaan nie. Alles wat God is sy Woord sê sal net so plaasvind. Jesaja 55:11 “net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het.” Vir ons as gelowiges is dit ʼn wonderlike boodskap. Ons weet dat God alles beheer en bestuur en dat ons in Sy arms veilig is en ja, dat alles sal meewerk ten goede, soos Josef ook kon getuig aangaande sy broers. Genesis 50:20 “Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.” Niks sal gebeur, geen onheil sal ʼn stad tref, as God dit nie bewerk het nie. Daarom moet die mens vrees as God spreek net soos die mens in ʼn stad moet vrees as hulle ʼn ramshoring hoor blaas, wetende dat daar vyande oppad is. Hoe dwaas is ʼn volk wat nie ag slaan op die profeet se waarskuwing nie. Hoe dwaas sal jy nie wees as jy nie na God se Woord luister en ag slaan op sy waarskuwings nie?
God openbaar deur sy Woord
Alles wat God gaan doen word deur sy profete geopenbaar. God stuur sy knegte uit met ʼn boodskap aan gelowiges en ook aan die wêreld aangaande alles wat plaasgevind het en nog sal gebeur. Daarom kan Paulus in die Areopagus opstaan en teenoor ongelowiges getuig aangaande God se opdragte en waarskuwings. Handelinge 17:30-31 “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. Want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.” Amos vertel aan die Israeliete dat daar geen manier is dat as God gespreek het die mens kan weier om te profeteer (God se Boodskap te verkondig) nie. Kan enige persoon wat bely dat hy/sy God se Woord in hul hande het daaroor stilbly? Nee, gelowiges sal dit uitbasuin vir die verlore wêreld. Elke gelowige moet saam met Jeremia bely dat God se Woord in ons nie stilgemaak kan word nie. Jeremia 20:9 “Ek het al gesê: Ek sal nie aan Hom dink nie, nie meer in sy Naam iets sê nie. Maar dan word dit in my hart soos ‘n vuur wat brand, vasgevang in my gebeente! Ek het my moeg gemaak om dit binne te hou, maar ek kon nie.” Al wou hierdie mense nie luister nie het die profeet tog nie opgehou om God se aanklag teen hulle te verkondig nie. Al sou hulle die een na die ander profeet slaan en doodmaak sou die profete se stemme nie stilgemaak kon word nie. By God se kinders is die vrees om te versuim om God se Woord te verkondig groter as die vrees vir mense se woede. Vrees jy ʼn mens wie se asem in een oomblik deur God weggeneem kan word? Vrees jy wat mense van jou sê of wat hulle van jou dink?
Straf en troos
Tog sal hierdie volk nie ag slaan op God se waarskuwing nie. God sal dus die vyand stuur soos Hy belowe het. Met hierdie volk se hardnekkigheid en hulle verwerping van God se Woord is dit totaal vreemd dat God tog nog steeds ʼn boodskap van troos sal hê. Hoe is dit moontlik dat God ten spyte van hulle halstarrigheid aan hulle genade kan bewys? Luister na hierdie vers. Amos 3:12 “So sê die Here: Soos ‘n skaapwagter twee stukkies agterbeen en die kraakbeen van ‘n oor red uit die bek van ‘n leeu, so sal die Israeliete gered word wat in Samaria sit met net die hoek van ‘n bed en die sykant van ‘n slaapbank.” God sal altyd ʼn oorblyfsel van die volk laat oorbly. Hy sal Sy beloftes hou. Al was hulle ontrou, God sal altyd getrou bly. 2Timotheus 2:13 “as ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.” God sou alles verwoes soos Hy belowe het en tog het Hy genade bewys. Net so is God teenoor ons as Sy kinders. Hy is ʼn God wat die sonde haat en nie sal toelaat dat Sy kinders in sonde aanhou voortleef nie, maar in sy toorn sal Hy ons bewaar van ʼn ewige verderf weg van sy aangesig af.
Slot
Elke kind van Hom laat hom/haar waarsku deur God se Woord en slaan daarop ag. Ons sien God se straf op die sonde en Sy toorn daarop dwarsdeur die bladsye van Sy Woord. Hebreërs 12:25-29 “Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie; want as hulle nie ontvlug het toe hulle Hom, wat hulle op aarde gewaarsku het, verontagsaam het nie, soveel te meer ons, as ons die rug draai op Hom wat ons van die hemele af waarsku! Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig: Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel. En hierdie uitdrukking “nog een keer” wys op die verandering van die wankelbare dinge – aangesien hulle geskape is – sodat die onwankelbare dinge sal bly. Daarom, terwyl ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ‘n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad ‘n verterende vuur.”
