Amos 2

Inleiding

Amos se eerste aanklag in hoofstuk twee is teen die mense van Moab. Moab is uit die nageslag van Lot en dus familie van Abraham. Abraham was dan ook die persoon wat die vader van Moab gered het toe volkere hulle oorwin en as slawe weggevoer het. Edom aan die anderkant is uit die nageslag van Esau, die kleinseun van Abraham. Tog was die Moabiete genadeloos en gevoelloos teenoor die mense van Edom. Hulle het die koning van Edom se beendere opgegrawe en dit tot kalk verbrand. Hulle wou nie net die land oorwin nie, maar ook die mense van Edom verneder. So sou God hulle ook verneder en hulle paleise, hulle trots, met vuur verbrand en die mense en selfs die hooggeplaastes uitwis.

Straf

God kondig ook die straf vir die mense van Juda en Israel aan. Juda het nie God se wet en sy gebooie nagekom nie en sou ook deur vuur verbrand word. Net so sal God Israel straf, omdat hulle ook sondes teen God gepleeg het. Hulle het regverdiges en armes te na gekom  en in afskuwelike sondes verval. Daar is ʼn ooreenkoms tussen die straf van Moab en die straf van Juda en Israel. Die interessante is dat God hulle aanspreek oor die feit dat net soos wat Moab vergeet het wat Abraham gedoen het, hulle vergeet wat Hy vir hulle gedoen het. God het hulle uit die land van Egipte, uit slawerny verlos en Hy het die Amoriete in Kanaän uitgedelg sodat hulle die land in besit kon neem. God waarsku sy volk in Levitikus 18 dat die volk nie moet word soos die land van Egipte en Kanaän nie. Hulle was volke wat volhard het in afskuwelike sondes.(Lees gerus Levitikus 18). Dan kondig God aan dat hierdie sondes tot gevolg gehad het dat hulle uit die land gewerp is. Levitikus 18:25 “Die land het onrein geword. Ek het die land tot verantwoording geroep oor haar sondeskuld en sy het haar inwoners uitgespoeg.” Hierdie is beslis  ook ʼn aanklag teen die Westerse samelewing van vandag wat afskuwelike sondes, wat God in Sy Woord aanspreek, toelaat. Hulle laat dit nie net toe nie, maar praat dit selfs goed. Dit is Paulus se aanklag teen die mense van sy tyd en die profetiese uitspraak teenoor volke en mense wat sondes nie net sal doen nie, maar ook sal goedkeur. Romeine 1:32 mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat die mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat hulle dit boonop goed wanneer ander dit doen.

Lewe van dankbaarheid

ʼn Volk wat dankbaar was vir wat God gedoen het sou tog meer heilig gelewe het. Hoe lyk ʼn individu wat dankbaar is vir wat ʼn ander persoon vir hom gedoen het? Miskien hier is dit goed om die voorbeeld van die tien melaatse mans wat almal deur Jesus genees te gebruik. Tien mans is almal deur Jesus genees en tog kom net een man terug om Jesus te bedank. Lukas 17:16-17 “Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hy was ‘n Samaritaan. Jesus antwoord hom toe: ‘Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? Jesus spreek sy skok uit dat nie een van die ander nege omgedraai het nie. Net hierdie vreemdeling het kom dankie sê. Hoe kan iemand bely dat Hy deur Christus se kruisdood gered, nuutgemaak en lewendgemaak is en tog nog steeds volhard in sonde, sonder om ʼn lewe uit dankbaarheid in gehoorsaamheid aan God se Woord te leef?

God waarsku

God het uit Israel se seuns manne opgewek as profete en Nasireërs. God kon self elke keer met ʼn harde stem aan hulle sy boodskap gegee het en tog het God bepaal dat dit deur gewone mense in hulle eie taal aan hulle oorgedra sou word. Hy het hierdie manne verwek vir hierdie taak. Ons sien dit duidelik in God se oproep van Jeremia. Jeremia 1:4-5 “Die woord van die Here het tot my gekom: Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.” Net so het Hy nasireërs opgewek, waarvan Simson en Johannes die Doper voorbeelde was. Simson se ouers kry die volgende opdrag: “Ja, kyk, jy gaan swanger word en ‘n seun in die wêreld bring. ‘n Skeermes mag nie naby sy kop kom nie, want die seun sal ‘n nasireër van God wees van die moederskoot af. Hy sal begin om Israel te red uit die hand van die Filistyne.” Aan Sagaria, die vader van Johannes die Doper, verskyn ʼn engel met die aankondiging dat hulle ʼn seun sal hê wat ook ʼn nasireër sal wees. Lukas 1:15 Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank  drink nie, en hy sal reeds van voor  sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie van die kinders van Israel na die Here hulle God laat terugkeer. Hulle lewens en boodskap sou getuig dat hulle van God gestuur is en dat mense na hulle moes luister. Tog wou die volk nooit ag slaan op hulle nie. Hulle wou die aanklag van hul heilige lewens stil maak deur hulle wyn te laat drink. Hulle het die profete beveel om stil te bly. Niks is erger vir iemand wat in die wêreld wil leef as ʼn gelowige wat heilig wil leef nie. Sy lewe kla jou aan en jy haat dit. Sy lewe kla jou nie net aan nie, maar maak jou ook bewus van God se opdragte. Elke individu wat heilig leef en die Woord van God op hulle tonge dra sal vir die wêreld, en veral diegene wat in die kerk sit wat nie heilig wil leef nie, ʼn steen des aanstoots wees. Sê Jesus nie tereg: Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. Johannes 7:7.

Julle maak my naar

Wat dink jy is God se reaksie teenoor ʼn volk wat, nadat Hy aan hulle soveel seëninge gegee het, in ondankbaarheid in sonde voortleef. In vers 13 gee God aan hulle ʼn metafoor wat aan hulle Sy gevoel teenoor hulle uitdruk. Amos 2:13Kyk, Ek laat dit onder julle kraak, soos ‘n wa kraak wat vol gerwe is.” Ek dra julle al hierdie jare en julle raak te swaar vir my is God se boodskap. God gee deur Jesaja dieselfde boodskap aan sy volk. Jesaja 1:14 “Julle nuwemane en vaste feestye haat Ek met my hele wese; dit is vir My ‘n las, Ek is moeg daarvoor om dit te dra. Net so gee God aan Laodisea ʼn boodskap deur ʼn metafoor te gebruik waarmee hulle goed bekend sou wees in hul alledaagse lewe. Laodisea het nie ‘n natuurlike bron van vars water gehad nie. Hulle het dus water uit omliggende bronne deur middel van ‘n akwaduk (waterleiding) na die stad gebring. Een van hierdie bronne was die warm minerale bronne by Hierapolis, wat ongeveer 9 kilometer noord van Laodisea was. ‘n Ander bron was die koue water uit die stroom by Kolosse suid van Laodisea. Die water uit Hierapolis het deur die akwaduk gevloei en teen die tyd dat dit Laodisea bereik het, was dit louwarm. Dit was nie aangenaam om te drink nie, veral in vergelyking met die warm helende water by Hierapolis of die verfrissende koue water by Kolosse. Hierdie situasie het ‘n kragtige metafoor geskep wat in die brief aan die kerk van Laodisea in Openbaring gebruik is. “Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg.” Openbaring 3:15-16. Die Griekse woord, wat as spoeg vertaal word, is om op te gooi. Miskien hou jy meer van die woord braak, in elk geval is die beeld duidelik.

Skynheiliges

God haat dit as mense die mooiste verklarings maak, maar deur hulle lewens wys dat hulle geen ontsag vir Hom het nie. Hulle is soos die Fariseërs wat hou van die skynheilige beeld wat hulle vir mense voorhou. Vir hulle is dit meer van belang wat ander van hulle dink as wat God van hulle dink. Luister wat Jesus vir die Fariseërs en skrifkenners sê: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle bou die grafte vir die profete en versier die grafmonumente van die regverdiges. En julle sê, As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons nie saam met hulle deel gehad het aan die bloed van die profete nie. Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol.  Slange, addergeslag! Hoe sal julle die oordeel van die Gehenna ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur vir julle profete en wyses en skrifkenners. Julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig, en julle sal sommige van hulle in julle sinagoges gesel en hulle van dorp tot dorp vervolg.” Hy belowe aan hulle dat Gehenna(die hel) vir hulle voorlê. Hierdie mense sal ʼn erger oordeel ondergaan as die wat voluit in die wêreld leef. Jesus se aan die mense in Gorasin en Betsaida, plekke waar Hy gepreek het, dat hulle erger geoordeel sal word as die volke waar hy nie gepreek het nie. Mattheus 11:21 “Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het.” Daarom kondig Amos die straf vir die volk van God aan. ʼn Straf waarvan niemand sal vrykom nie en ʼn straf wat so erg sal wees dat tot die dapperste in die volk kaal sal weghardloop.

Slot

Speel jy met sonde in jou lewe? Wil jy die boodskap van God stil maak sodat jy in sonde kan voortleef? Gee jy voor om warm te wees maar in werklikheid is jy louwarm en maak jy God naar. Amos kondig dan ook vir jou die straf aan. Hy is ʼn heilige God wat gevrees moet word. Bekeer jou en keer terug na Hom, die Een wat jou die Lewe kan gee en dit in oorvloed.