Amos 1

Inleiding

Daar was niks besonders aan Amos nie. Hy was ʼn gewone man, en het nie as ʼn profeet bekend gestaan nie, maar as ʼn herder. Die 2020 vertaling is korrek as dit sy beroep identifiseer as ʼn herder en nie ʼn skaapboer soos in die 1953 vertaling nie. Die woord in die Hebreeus gee geen aanduiding dat die skape syne was nie, maar wel dat hy skape opgepas het. Al rede hoekom hierdie boek aangeteken is, is omdat die Heilige Gees aan ʼn eenvoudige herder van Tekoa, ʼn obskure plek, ʼn boodskap gegee het vir die mense van sy tyd. Dit is belangrik om op te let dat hy as vreemdeling homself in Israel bevind om vir hulle ʼn boodskap te gee, want Tekoa is in Juda. Daarom sal die koning van Israel vir hom sê Siener, trap! Vlug vir jou eie beswil na die land van Juda; gaan verdien daar jou brood en profeteer daar. Amos 7:12.

Niemand besonders

Dit is nooit omdat iemand besonders is dat God hom/haar uitkies om ʼn spesifieke posisie te beklee nie. Saul die eerste koning kon bely: Is ek nie ‘n Benjaminiet, uit een van die kleinste van die stamme van Israel, en my geslag die geringste uit al die geslagte van die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my? 1Samuel 9:21. Dit is tog so jammer dat hy dit so vinnig vergeet het. Dawid was ʼn seun wat skape opgepas het, die jongste van agt seuns. Selfs die grootste man wat volgens Jesus ooit gebore is, was ʼn man wat sy lewe in die woestyn deurgebring het, ʼn vel gedra het en heuning en sprinkane geëet het, nl. Johannes die Doper.  Die dierevel was natuurlik ook ʼn kledingstuk wat eie was aan baie van die profete. Johannes die Doper was die man wat ook bely het dat hy nie werd was om eers die sandale van Jesus aan te dra nie. Mattheus 3:11 Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, en ek is nie eers werd om sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Dit is duidelik dat dit nooit oor die individu moes gaan nie maar wel oor die boodskap, want die boodskap was van God. 2Korintiers 4:7 Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie. Daarom kies God nie altyd die wyses en die rykes nie, maar eenvoudiges. 1Korintiers 1:27 Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam. ʼn Eenvoudige man word na ʼn volk gestuur wat hoogmoedig was en in hulle sonde volhard het.

Krag van God

As herder is dit sekerlik een van die belangrikste take om die skape te beskerm teen roofdiere en om hulle na weivelde te neem waar daar genoeg kos vir hulle is. Leeus wat brul en weivelde wat verdor is slegte tekens vir enige herder en word deur God gebruik om deur Amos volke te waarsku van komende oordeel. God brul soos ʼn leeu. Hierdie uitdrukking kom ʼn hele aantal kere voor in die Ou Testament. Jeremia 25 is ʼn voorbeeld hiervan. Jeremia 25:30 En jy, jy moet al hierdie woorde teen hulle profeteer. Jy moet vir hulle sê, Die Here, uit die hoogte sal Hy brul, uit sy heilige woning sal Hy sy stem laat hoor. Hy brul geweldig teen sy blyplek. ‘n Kreet soos van druiwetrappers hef Hy aan teen al die bewoners van die aarde. Ons God is nie ʼn mak leeu nie. Hy is ʼn leeu wat brul en die aarde en die hemel sal bewe. As Hy spreek moet almal bewe voor sy woord. Hierdie magtige leeu wat brul en almal bewe is die God by wie sy kinders kan skuil. Joel 3:16 En die Here, uit Sion brul Hy, uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die Here is ‘n toevlugsoord  vir sy volk, ‘n skuilplek vir die Israeliete. God is niemand se speelmaat nie. Niemand moet dink dat hulle na Sy Woord kan kom en daarmee die spot dryf of dit ligtelik opneem nie. Ons God is ʼn God wat duidelik spreek en die God wat gehoorsaamheid beveel. Psalm 29:3-5 Die stem van die Here is oor die waters, die God van heerlikheid  laat dit dreun, die Here is bo die magtige waters, die stem van die Here is kragtig, die stem van die Here is glansryk. Die stem van die Here  breek seders, die Here versplinter die seders van die Libanon. (Lees gerus die hele Psalm 29)

Amos bring die boodskap dat God vanuit Sion spreek in teenstelling met al hulle sogenaamde plekke van aanbidding. Sy Woord kom duidelik uit Sion, die plek waar die tempel gestaan het. Koning Jerobeam het lank tevore plekke van aanbidding gebou in Dan en in Bet-el en die mense het gedink dat hulle nog steeds die God van Abraham aanbid en volg. Dit is soos baie mense deur die geskiedenis en ook vandag wat die arrogansie het om ʼn godsdiens op te bou wat in stryd met God se Woord is en dan nog steeds daarop aanspraak maak dat hulle die God van die Woord volg. Behalwe dat hulle net soos die mense van Amos se tyd nie verstaan met Wie hulle te make het nie, kan niks verder van die waarheid wees nie. Amos maak aan hulle bekend dat God duidelik aan hulle sal toon dat Hy nie tevrede is met hulle aanbidding nie. Hulle moes ook nie dink dat dit  ʼn sagte teregwysing sou wees nie, nee, Hy sal brul soos ʼn leeu. Vrees vir wat voorlê.

Boodskap vir die wêreld

Hierdie herder van Tekoa het egter nie net ʼn boodskap vir Israel nie, maar ook vir die volke rondom Israel. ʼn Eenvoudige herder moes nie net opstaan teen die hooggeplaastes en koning nie, maar ook teen koninkryke rondom hom. Dit is presies wat gebeur met ʼn klompie eenvoudige vissermanne wat met die krag van God die wêreld moes gaan omkeer. God wil aan Israel aankondig dat, nie net is Hy die regter oor Israel nie, maar ook oor elke volk wat bestaan. Hulle moenie vir een oomblik dink dat God hulle nie sal straf omdat hulle sy volk is nie. O nee, Amos verkondig dat hulle net soos die ander volke gestraf sal word. Elke volk, al het hulle nie die wette van God gehad nie, het nog steeds ʼn wet gehad wat in hulle harte was. Romeine 2:15 Hulle wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan, en hulle gewetens bevestig dit; en hulle teenstrydige gedagtes sal hulle soms aankla, en soms verontskuldig. Selfs wêreldse mense het in hulle die morele wete van wat reg en verkeerd is en al het hulle nie die begeerte om dit te doen nie, is die wet so sterk op hulle gewete dat baie dit nakom. Dink daaraan dat selfs ʼn dief, wat ‘n lewe daarvan maak om van ander te steel, sal kwaad raak as jy van hom steel. In sy hart sal hy onmiddellik betoog dat dit nie reg is wat met hom gebeur het nie. Daarom kan God verantwoordelikheid van hulle eis, aangesien hulle weet wat reg en verkeerd is.

Moraliteit

Ons lewe vandag in ʼn tyd waar alle morele waardes onderdruk word. Alles wat voorheen taboe was word vandag as nie so erg gesien nie. Vers 13 is beslis ook ʼn aanklag teen die mense van vandag. Die Ammoniete wou hulle grond gebied groter maak en het daarom die swanger vroue van Gilead oopgesny. Hoe tragies dat geld en besittings vir jou so belangrik kan wees dat jy so ʼn vreesaanjaende misdaad pleeg. “Dit is barbaars!” sal baie mense sê. “Dit gebeur nie meer vandag nie, want ons is opgevoed!” Regtig? Een van die grootste redes vir aborsie is dat dit nie vir mense geleë is om nou die finansiële en emosionele verantwoordelikheid vir ʼn kind te aanvaar nie. Dit kos eenvoudig te veel. Hoe ver het die mens van ons eeu nie geval nie? Dit lyk of ons so gesofistikeerd en so modern is en tog is ons besig met die wreedste dade onder die dekmantel van “vrye keuse”. Ons is die monsters van ouds wat vir Molog ons kinders offer. Luister na God se straf wat Hy aankondig vir mense wat sulke wandade pleeg. Levitikus 20:2 Vir die Israeliete moet jy sê, Enigiemand onder die Israeliete en onder die vreemdelinge met tydelike verblyf in Israel wat van sy nageslag aan Moleg afstaan, moet beslis sterf. Die volk van die land moet hom met klippe doodgooi. Beslis sal God optree teen volke wat sulke afskuwelike dade pleeg en ons moet soos Amos nie net die kerk nie, maar ook die wêreld waarsku dat daar ʼn dag van oordeel sal kom. Ja God sal volke oordeel en hulle afbreek, maar elke individu moet weet dat daar ʼn oordeel sal aanbreek vir elke mens as hy/sy voor die regterstoel van God sal staan. Daar is ʼn hel wat voorlê vir diegene wat nie in vrees neerbuig en die Koning van alle konings aanbid en dien nie. Openbaring 14:9-10 Ná hom het ‘n ander engel, ‘n derde een, gekom en met ‘n harde stem uitgeroep: As iemand die dier en sy beeld aanbid, en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.

Slot

God is magtig en brul soos ʼn leeu om elkeen te waarsku dat hy sal straf. Moenie ligsinnig een of ander vorm van godsdiens probeer beoefen nie. God vra onverdeelde trou aan Hom en aan Hom alleen. Uiteindelik is Hy die een wat die hele wêreld in sy hand het. Jy en ek weet nie net wat is reg en verkeerd nie, maar deur God se ongelooflike genade en openbaring in Sy Woord ken ons ook die Een wat reg en verkeerd bepaal het. Hy is die Een wat die wet in ons hart geskryf het en wat ons die krag gee om so te lewe dat ons Hom vereer. Danksy die Leeu van Juda hoef ons nie straf te vrees nie, maar is ons by Hom veilig van alle gevaar. Openbaring 5:5 “Toe se een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin…”) Wees soos Amos ʼn herder en gaan vertel hierdie boodskap vir jou wêreld.