Inleiding
Die profeet wil dit baie duidelik stel dat die boodskap van God af kom. Hy herhaal dit twee keer dat hierdie boodskap van Jahwe (Here) kom en dat Hy dit aangekondig het teen Edom. Profete het nooit hulle boodskappe deur hulle eie gedagtes of hulle eie vindingrykheid uitgedink nie, luister gerus weer wat die Heilige Gees deur Petrus bevestig. 2Petrus 1:20-21 Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is. God kondig aan dat die oorlog wat gaan plaasvind van Hom af kom. Meeste gelowiges vergeet baie keer hierdie waarheid, nl. dat God in beheer is van alles en ja, selfs die oorlog, uit Sy hand kom.
Alles uit God se hand
Kom ons kyk saam na enkele verse. Eksodus 15:3 Die Here is ‘n krygsman, Here is sy Naam. Moses en die volk sing hierdie lied nadat God die Farao en al sy manne in die Rooisee verdrink het. Jesaja vertel ons ook dat God die een is wat voorspoed skep, maar ook is Hy die een wat onheil skep. Jesaja 45:5-7 Ek is die Here, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen god nie. Ek omgord jou, al het jy My nie geken nie, sodat hulle van waar die son opkom, en van waar hy ondergaan, kan weet dat daar niks is buiten My nie. Ek is die Here, en daar is geen ander nie – die Een wat die lig vorm en die duisternis skep, wat voorspoed bewerk en onheil skep. Ek, die Here, bewerk al hierdie dinge. Die profeet Amos se uitspraak is net so duidelik dat alles van God af kom. Amos 3:6 As ʼn ramshoring in ‘n stad geblaas word, bewe mense nie? As daar teenspoed in ‘n stad is, het die Here dit nie gedoen nie? Daarom moet die gelowige nooit bevrees wees aangaande enige onheil nie, maar kan ons ons vertroue plaas in die Een wat in beheer van alles is. Is dit die God waarin jy glo?
Eiewaan
Die land Edom kom uit die nageslag van Esau. God het hulle die gebergte van Seïr gegee waarop hulle moes woon. Tog het hierdie volk arrogant geword en begin dink dat hulle onaantasbaar is en niks hulle sal kan oorwin nie. Hul vertroue het hulle geplaas in die omgewing, wat ontoeganklik volgens hulle was. Edom is soos die dwaas waarvan Jesus ons vertel, wat skatryk was en ʼn groot oes gehad het, maar nie genoeg stoor plek gehad het nie. Hy besluit om sy skuur wat hy gehad het af te breek en ʼn groter een te bou. Luister na sy arrogansie: Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik. Lukas 12:19. God noem hierdie man ʼn dwaas en eis sy lewe in dieselfde nag. Die waarskuwing is dat enige iemand wat skatte bymekaar maak en nie ryk is by God nie, soos hierdie man is. Edom het vergeet dat wat hy gehad het uit die hand van God gekom het. Edom het God nooit gesoek nie, maar sy vertroue in homself geplaas. In sy arrogansie het hy gedink dat hy vir homself kan sorg en homself sal kan beskerm. Niemand leef egter vir ewig nie. Niks bly vir ewig behoue nie. Die wêreld en die wêreldse dinge is van korte duur. Waarop vertrou jy? Wat het jy wat jy nie ontvang het nie, en as jy dit ontvang het waaroor is jy arrogant?
God vernietig
God sou alles vernietig, niks sou oorbly nie. Die Assiriërs wat God sou stuur, sou nie soos diewe wees wat net steel wat hulle nodig het en van die druiwe-oes ten minste nog ʼn na-oes nalaat nie. Nee, God sou hulle stuur om Edom kaal te stroop. Verder kondig God aan dat al die bondgenootskappe wat Edom gehad het niks sou beteken nie. God sal al hul vriende en die mense met wie Edom bondgenootskappe gesluit het se harte teen hulle draai. God sal hulle vriende, hul vyande maak. Hy sal hulle wyses vernietig en tot hulle helde sal bang wees. God verydel elke moontlike saak waarin hulle vertroue kon gehad het en vernietig dit een vir een.
God verskaf ook die rede waarom Hy hulle gaan vernietig. Hulle het geweld teen Jakob en Juda gepleeg. Hulle was net soos die Israeliete besny, omdat hulle vasgehou het aan hulle voorvaders se gebruike en tog het hulle nie omgegee toe hul familie gely het nie. Dit is baie belangrik om daarop te let dat God die magte teen Juda gebring het en dat Hy Juda vernietig het en tog haat God dit dat Edom hom verlekker het in die straf van Juda. Hulle het ook verder gegaan en van Juda gesteel dit wat oorgebly het en het die mense wat gevlug het uit Juda verslaan. God haat dit as jy jou verlekker in die ander se straf. Spreuke 24:17 Wanneer jou vyand val, moet jou nie verheug nie; wanneer hy tot ‘n val kom, laat jou hart nie jubel nie. Anders sien die Here dit, en is dit verkeerd in sy oë; dalk wend Hy sy toorn van hom af. Hoe afskuwelik is dit nie in God se oë as jy jou verlekker in ʼn ander se leed nie, selfs al is dit jou vyand en het hy/sy dit verdien nie. God sal die straf oor Edom bring waarin hulle hulle verlekker het. Onthou altyd dat die wraak God toekom en dat ons opgeroep word om vir ons vyande te bid en hulle lief te hê. Wanneer medebroers gestraf en getug word vir sonde in hul lewe, word jy opgeroep om daar te wees om hulle weer op tel en te ondersteun wanneer hulle tot inkeer kom. Intussen is jou opdrag om vir hulle, ondanks jou vermaning wat in liefde moet geskied, te bid. Hierdie is veral moeilik wanneer ʼn persoon teen jou gesondig het. Onthou altyd dat daar ʼn dag mag kom dat die bordjies verhang word en jy die een is wat vermaning, tug, liefde en ondersteuning nodig het.
Herstel
Daar is ook ʼn belofte wat God maak aan elke persoon wat in Juda woon en na hierdie boodskap luister en miskien vra: “Here hoe is dit vir ons tot voordeel dat U Edom straf?” God gee hulle die antwoord dat daar redding sal kom in Sion. God sal sy volk weer herstel. Die berg Sion, die plek waar Isak geoffer sou word, sal die plek wees waar die Seun van God, die volmaakte offer, vir sy “volk” vergifnis bewerk. God sal Sy Kerk weer opbou en Hy sal herstel bring. Dit is die verskil tussen die gelowige en die ongelowige se straf. Die ongelowige se straf is ʼn totale verbranding tot stoppels en ʼn totale vernietiging, terwyl God se tugtiging van Sy kinders altyd ʼn tugtiging is om hulle weer te herstel. Luister hoe die Hebreërs skrywer dit aan ons duidelik maak onder leiding van die Heilige Gees: Want hulle het ons vir ‘n kort rukkie getug volgens dit wat vir hulle reg gelyk het, maar Hy tot ons beswil, sodat ons deel kan kry aan sy heiligheid. Op die oomblik lyk elke tugtiging wel nie of dit blydskap bring nie, maar droefheid. Later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is: ‘n vrug van geregtigheid. Hebreërs 12:10-11.
Slot
Die Profeet Obadja profeteer dat God sy volk se vyande, Edom, sal straf. Hy gee egter ook die belofte dat die Israeliete met hulle terugkeer uit ballingskap die hele beloofde land, die land wat God aan Abraham belowe het, in besit sal neem. Die Israeliete het a.g.v. hulle ongeloof en sonde nooit die volle beloofde land verower nie. Selfs in Dawid se tyd word die volle land nie in besit geneem nie. Na hulle terugkeer uit ballingskap sou hulle net ʼn klein deeltjie van die land weer in besit neem. Christus se koms het hierdie belofte ten volle vervul. God se volk het nou gegroei na Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld. In al hierdie volke sal daar ʼn oorwinning plaasvind en God se boodskap van Verlossing sal na elke deel van die wêreld versprei word. Sy Woord sal mense oral oorrompel en tot inkeer bring. Ons, wat die verlostes is, sal diegene wees wat opgaan na die berg Sion, die plek waar daar vir ons verlossing bewerk is. Christus het absolute heerskappy oor alles op aarde en alles behoort aan Hom. Psalm 110 Van Dawid. ‘n Psalm. Dit is die uitspraak van die Here vir my heer: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak. Uit Sion stuur die Here jou magtige septer: Heers te midde van jou vyande!
