Jona 4

Inleiding

Die afsluiting van die boek van Jona is ʼn tragiese uitbeelding van die mens van vandag. Jona is die spieëlbeeld van so baie van ons. Ons het die bekering van die sondige Nineve aanskou, Jona en Israel se vyande, en in plaas van vreugde is Jona ontsteld. Hy het hierdie vyande van hom God se toorn toegewens. Dieselfde genade wat hy ontvang het was te goed vir sy vyande, want sien, soos baie van ons, het hy gedink hy is beter as hulle. Ons sien in die laaste hoofstuk van Jona hoe God geduldig met ons, en sy profeet, verduidelik dat alles wat ons het, alles wat ons ontvang het en nog gaan ontvang, net Sy genade is. Genade wat Hy kan gee aan wie Hy wil en die feit dat ek en jy ontvangers daarvan is, moet ons in dankbaarheid laat neerbuig in absolute aanbidding elke dag. God gebruik ʼn kragtige illustrasie om sy profeet en ons te leer. Kom ons gaan leer saam met hom.

Liefde vir ons vyand

Jona was erg ontsteld. Die Hebreeuse woorde druk vir ons uit dat sy ontsteltenis baie erg was. Kan jy dit glo dat iemand so ontsteld kan raak oor sy vyande se redding? Die meerderheid mense het die idee dat God in die Ou Testament geen probleem gehad het as jy jou vyande gehaat het en hulle sleg behandel het nie. Kom ons kyk na ʼn paar gedeeltes waar die Israeliete riglyne ontvang het van God rakende hulle vyande. Die bekendste is dalk Spreuke wat herhaal word in Romeine 12:20. Spreuke 25:21 As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink. Selfs in die Tora (eerste vyf boeke van die Bybel) word die volk opgeroep om selfs hulle vyande en diegene wat hulle haat te help en hul diere wat afgedwaal terug te besorg. Eksodus23:4-5 Wanneer jy afkom op jou vyand se bees of donkie wat ronddwaal, moet jy dit beslis na hom terugneem. Wanneer jy iemand wat jou haat se donkie onder sy vrag sien lê, mag jy dit nie aan hom oorlaat nie. Jy moet hom beslis daarmee help. Jona se wens is dat God tog net nie sy vyande moet verander nie. “Here straf my vyande, mag dit nie met hulle goed gaan nie”, is baie keer die gedagte wat in ons harte skuil.

Genade vir my, toorn vir my vyand

Jona bring nou die hele sak patats na vore wanneer hy in gebed tot God, God daarvan beskuldig dat Sy genade te groot is. Dit is so belaglik, want dit is om iemand daarvan te beskuldig dat hy/sy “te goed” is. Hoe kan dit wees!? Die rede vir sy weg vlug na Tarsus, bely hy, was omdat hy geweet het dat God hierdie mense gaan verander en as hulle verander dat Hy hulle sal vergewe. Sy aanklag, as ʼn man van die Ou Testament, is dat die God wat hy ken ʼn God is wat genadig, barmhartig, lankmoedig (ʼn Woord wat iemand beskryf wat lank vat om kwaad te word) en groot van goedertierenheid is. So baie keer luister ons na mense wat kyk na die Ou Testamentiese God en sê dat Hy verskil van die Nuwe Testamentiese God. Tog as ons na Jona luister, vind ons dat dit wat ons op ʼn nog grotere en dieper vlak in die Nuwe Testament van God leer, alreeds bekend was vir die mense van die Ou Verbond. Hoe meer jy die Ou Testament lees, hoe meer kom jy onder die indruk van hierdie God wat beskrywe word deur Jona. Tog wil Jona nie hê dat God so moet wees teenoor sy vyande nie. Hy wil nie hê dat God mense moet vergewe en hulle kwytskeld van die toorn wat Hy oor hulle belowe het, net omdat hulle tot inkeer gekom het nie. Is dit nie so baie keer die kenmerk van ons lewens nie? Ons sal dit nie so eerlik uitspreek soos Jona nie, maar dit is die gedagtes wat diep in ons hart verborge is. Ons wil graag hê dat God al hierdie dinge aan my en my gesin bewys en tog wil ons nie dieselfde hê vir ander nie. Ons wil hulle nie vergewe soos God ons vergewe nie, ons wil nie barmhartig of genadig wees soos God teenoor ons is nie. Luister hoe Jesus sy volgelinge leer: Julle het gehoor dat gesê is, Jy moet jou naaste liefhê, en Jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. Mattheus 5:43-45. Lyk jy soos jou Vader in die Hemel? Is Sy begeertes jou begeertes en Sy optrede jou optrede? As Jona na al hierdie dinge kyk wat God in Nineve gedoen het wil hy eerder sterwe. “Laat my eerder sterf as wat ek sien dat dit goed gaan met my vyand.” Hoe selfsugtig kan ʼn mens wees!? God se teen vraag aan Jona is of hy rede het om kwaad te wees.

Daar is ʼn groot stuk humor in hierdie verhaal. Jona gaan uit die stad en bou ʼn skerm sodat hy kan sien wat met die stad gaan gebeur. Hy het nog steeds ʼn klein bietjie hoop dat God hulle miskien tog sal straf en dan wil hy dit nie mis nie. Dit lyk amper soos iemand wat gereed maak vir ʼn fliek en die bank regskuif, gereed met springmielies en Coke. Soos God genadig en geduldig is met die mense van Nineve, so is God met Sy profeet wat soveel beter moes geweet het. Het God nie ook sy lewe gered toe hy ongehoorsaam was en weg gevlug het nie? Kon God hom nie net daar summier uitgewis het nie? Tog openbaar God weereens sy geduld teenoor hierdie ongelukkige en opstandige profeet. God laat ʼn wonderboom opkom en dit gebeur onmiddellik. Waarom doen God dit? Ja, hy gee vir Jona ʼn skaduwee wat hy beslis nie verdien nie en toon weereens sy genade, maar daar is meer. Jona bly opstandig, omdat God mense wat dit nie verdien nie vergewe, net omdat hulle hulle bekeer. Hulle aanvanklike bekering bewerk ʼn onmiddellike vergifnis. Moes God nie darem net eers vir hulle ʼn toets tydperk gegee het, sodat hulle kon bewys dat hulle werklik ernstig was aangaande hulle berou nie? Amper soos ons wat sal sê: “Ja ek sal vergewe maar hy/sy moet eers bewys dat hulle werklik berou het.” Op hierdie punt maak Jesus dit baie duidelik dat as iemand na ons toe kom en vergifnis vra, ons hulle moet vergewe, selfs al sondig hulle sewe maal op ʼn dag teen ons. Lukas 17:4 En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, Ek het berou, moet jy hom vergewe. God bewys onmiddellik genade aan Jona, met die opkom van die boom,  en hy is mal daaroor. Jy kan hom daar sien sit met ʼn groot glimlag. God het sy “fliek” kyk soveel verbeter. Van hier gaan die verhaal Suid vir Jona. God gaan die genade van die skaduboom van Jona onttrek, die boom wat hy sonder enige verdienste van God ontvang het. God stuur ʼn wurm, ʼn klein insek en al sy genot word verwoes. Dan stuur God ʼn gloeiende Oostewind en Jona word magteloos deur die son gesteek. Wat sou gebeur as God net in een klein aspek sy genadige hand van jou af wegneem? Wat sou gebeur as God jóú “genade” en jóú “barmhartigheid” aan jou terug sou gee? Jona sê weer, soos vroeër in die hoofstuk, dat dit beter vir hom sal wees om te sterwe. God gee hom ʼn beter rede vir sy smagting om dood te gaan. Ons wil glimlag, miskien omdat ons onsself in Jona sien.

Weer vra God vir Jona of hy rede het om kwaad te wees. Hierdie keer gaan Jona vrymoedigheid neem om die vraag te antwoord. Te veel is te veel. In sy hart kon hy gedink het: “Ek het werklik baie geduld aan die dag gelê en nou is genoeg, genoeg! Hierdie lekker boom het gevrek en nou steek die son my kop, nee wat, as ek so moet leef wil ek nie leef nie.” God se polsing kom met ʼn teen vraag: “Jona is jy kwaad omdat iets klein, wat ek aan jou in genade gegee het, van jou ontneem is? Maak dit jou ontsteld?” Kan jy God se geduld met Sy profeet sien? Kan jy sien hoe God vir Jona brei in Sy leerskool. God gaan met hierdie illustrasie van die boom vir ons en vir Jona ʼn groot les leer. Jona hoekom is jy so bekommerd oor iets wat ek vir jou gegee het en waarvoor jy nie eers ʼn vinger verroer het nie? Miskien is jy iemand wat selfvoldaan na jou lewe kyk en aan ander vertel dat jy hard daarvoor gewerk het en dat wat jy het nie sommer in jou skoot geval het nie. Dit mag alles waar wees, maar wie het jou die gesondheid, krag en geleenthede gegee wat jy ontvang het? Daar is so baie veranderlikes wat daartoe lei dat ons in die posisie is waarin ons ons bevind. Om dus alles aan jou eie harde werk toe te skryf sal beslis oneerlik wees. As God net een vinger van genade vir ʼn millisekonde oplig sal alles eensklaps inmekaar stort. Job kon na alles kyk wat hy in sy lewe gehad het en selfs na sy eie kinders, wat in een oomblik van hom weggeneem is, en die volgende bely: …Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer. Die Here het gegee en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here geprys word! Job 1:21.

Red van siele

Is mense vir jou meer belangrik as jou besittings? Sou jy alles opgee as net een persoon gered kon word? Wat van jou vyand? God wys vir Jona dat mense en selfs die vee van Nineve van meer belang was as die boom wat in een nag opgekom het. Hierdie volk het nog nooit ʼn profeet gehad wat aan hulle God se opdragte verkondig het nie. Hulle was nooit so bevoorreg soos Juda en Israel om God se stem te hoor en Sy opdragte aangeteken te hê nie, nie eers te praat van profete wat hulle opgeroep het om daaraan gehoorsaam te wees nie. Hoe bevoorreg was Israel nie en tog het hulle male sonder tal hulle rug op God gekeer. Hoeveel keer was God nie genadig, barmhartig, lankmoedig en hoeveel keer het God hulle nie vergewe nie? Wat sou gebeur as God Sy rug op hulle sou keer? Wat van jou? Is God se genade en goedheid nie vir jou genoeg om jou hele lewe in dankbaarheid aan Hom toe te wy nie? Romeine2:3-4 Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring? Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?

Slot

Net soos Jona word elke kind van die Here uitgestuur in ʼn vyandige wêreld. Ja, dikwels na ʼn wêreld wat ons haat en die lewe vir ons moeilik maak. In ons harte, of ons dit wil erken of nie, bid ons dikwels die wraak Psalms asof dit spesifiek vir ons vyande geskryf is. In plaas daarvan om liefde en deernis uit te straal, sit ons in afwagting en toekyk hoe die wêreld deur hul eie sonde verwoes word. Vergifnis van sonde teen God is nie joune om aan te bied nie, maar God s’n en Hy doen dit teenoor elkeen wat in nederige berou hul toevlug tot Hom neem. Dit is jou taak om hierdie genadige, liefdevolle, maar ook heilige God aan mense te verkondig. Jona se boodskap, was God se komende toorn. Dit is ʼn realiteit vir elke ongelowige. Die sonde het in hierdie wêreld sy eie gevolge en ons kan dit in mense se lewens waarneem. Daaroor moet ons hartseer wees en vir hulle bid. Nie dat dit met hulle beter mag gaan nie, maar dat hulle die Here, die bron van ware vrede en vreugde sal ontmoet, want die sonde het ook ewige gevolge. Hoewel ons dit nie nou kan waarneem nie, is dit finaal en onherroeplik. Terwyl God se genadetyd nog daar is, mag ons die boodskap verkondig tydig en ontydig, tot eer van Sy Naam! Mag die siele van mense vir ons belangriker wees as enige besitting.