Jona 3

Inleiding

Dit is baie duidelik dat Jona nie hierdie amp as profeet ontvang het a.g.v. sy eie getrouheid nie. God se genade skyn helder in die boek van Jona, asook in hierdie ontroue profeet se lewe. Vir die tweede keer kom God met dieselfde opdrag na Jona. Jona moet die boodskap wat God aan Hom sal gee in die groot stad Nineve verkondig. Hierdie keer gaan Jona sonder teëstribbeling, maar ons vind sy boodskap kort en kragtig: God gaan Nineve verwoes. Hierdie is God se boodskap en hoewel ons as mens sekerlik dit anders sou wou verwoord, meer saggies dalk, of meer aanmoedigend, is dit die boodskap en God gebruik dit om ʼn nasie tot bekering te bring.

God se boodskap

Nêrens word ʼn profeet of enige iemand gestuur om sy eie boodskap te verkondig nie. Jy kan nie maar die boodskap opmaak soos jy aangaan nie. Nee, dit is altyd God se boodskap. Elke keer word mense opgeroep om God se boodskap te verkondig en nie met ʼn graad daarvan af te wyk nie. Vandag nog is dit een van die grootste bekommernisse, dat in so baie kerke mense se opinies en voorkeure meer gesag dra ingevolge dit wat verkondig word as die gesag van die Woord. ʼn Duidelike waarskuwing van God aan die mense dat ons nooit die gedagte moet hê dat Hy sy plan verander nie, word beskryf in 1Konings 13. Hier vind ons ʼn profeet wat ʼn opdrag van die Here kry en tog, op grond van ʼn ander profeet se leuens, aan God se opdrag ongehoorsaam is. Volgens die ander profeet het God ʼn nuwe boodskap vir hom. Hierdie tweede ouer profeet nooi hom uit om by hom te eet en te drink wat in stryd was met wat God gesê het. God se opdrag was dat hy nie langs die pad mag eet of drink nie. God kondig dan die straf van die eerste profeet aan en ʼn leeu maak hom dood op pad terug na sy woning. Moenie dat enige iemand jou ooit vertel dat God van gedagte verander het nie. Dat God sekere sonde nie meer as so “erg” beskou nie, dat sekere sonde nie meer sonde is nie of dat God verander het oor hoe Hy wil hê dat die plaaslike kerk moet lyk of gelei moet word nie.

Nineve is ʼn groot stad waarin Jona die boodskap moet verkondig. As jy deur Nineve sou loop van die eenkant tot die anderkant sou dit jou drie dae neem. ʼn Massiewe stad. Hy begin in die stad met net een boodskap: “Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes”. Jy kan maklik vra en dit is die eerste gedagte wat by my opkom: “Wil jy werklik vir my vertel dat jy dink dit gaan werk?” Dink net as jy dit more oggend sou doen. Die dorp of stad waarin jy woon instap en aan die mense vertel dat hulle stad verwoes sal word. Miskien sal dit nie lank wees voor jy opgesluit word vir rusverstoring nie of miskien beland jy in een of ander psigiatriese inrigting. Tog, as God die opdrag gee is dit God in sy almag wat die eenvoudige boodskap in gehoorsaamheid gebruik. Kyk maar na Gideon en driehonderd man wat in gehoorsaamheid aan God ʼn magtige nasie oorwin. Wat van Moses wat sy staf in die water druk en die hele see gaan staan regop en ʼn droë pad word geskep vir die Israeliete om op deur te loop? Josua en sy manne laat ʼn stad inmekaar stort deur op die stad te skreeu, en hoekom? Omdat dit God se opdrag was. Jona verkondig die boodskap en God werk in manne en vroue se harte en ʼn stad roep ʼn vasdag uit en beklee hulle in rougewaad. Nie net het die man op straat tot inkeer gekom nie, maar selfs in die paleis kom die magtigste man, die koning, in Nineve tot inkeer. Die interessante is hoe ver die Bybel sê Jona in die stad in beweeg het voor hierdie wonder plaasgevind het? Vers 4 vertel ons dat hy net een dagreis ingegaan het. Is dit jy wat mense kan verander? Kan jy iemand vernuwe? Nee, God moet die werk in die mens doen, want geen mens kan dit uit homself doen of iemand anders deur sy woorde verander nie. Jeremia 13:23 “Kan ‘n Kussiet sy velkleur  verander of ‘n luiperd sy vlekke? Dan sou ook julle in staat wees om goed te doen, julle wat gewoond is om kwaad te doen.” Daarom, weet ek dat ek in my opdrag om uit te gaan en die evangelie te verkondig gebrekkig is en my boodskap te alle tye op dowe ore sal val, tensy God nie die werk doen om dooie mense lewendig te maak nie. Dit is Sy opdrag, Sy boodskap en Sy lewendmakende Gees wat mense verander, nie ek en jy nie.

Ware bekering

Die inkeer wat plaasvind in hierdie heidense volk was beslis ʼn aanklag teen elke Jood wat die wonders van God in hulle “geskiedenisboeke” gehad het en profete gehad het wat op ʼn daaglikse basis hulle opgeroep het tot bekering. Die hele Nineve, ryk en arm, het hulle bedek met rouklere en hulle is deur die koning opgeroep om God in alle erns aan te roep. Hulle word ook opgeroep om hulle te bekeer van hulle slegte gedrag en die geweld wat aan hulle hande sit. Nie net word hulle deur die koning opgeroep om uiterlik oppervlakkige verandering te toon nie, maar innerlik moes hulle hulle gedrag verander. Was dit nie God se probleem met Israel nie? Hulle het offers gebring en gevas maar hulle gedrag het hulle nie verander nie. Jesaja 58:5-7  “Is die vas wat Ek verkies dan so, ‘n dag van verootmoediging vir ‘n mens? Is dit om die hoof te buig  soos ‘n biesie, en in sak en as te lê? Is dit wat julle vas noem? is dit ‘n dag wat die Here se goedkeuring wegdra? Is dit nie hierdie vas wat Ek verkies nie, dat julle die boeie van goddeloosheid losmaak, die stroppe van die juk stukkend ruk, verdruktes vry wegstuur en elke juk breek? Is dit nie bedoel om vir hongeriges jou brood te breek, om aan magteloses en haweloses onderdak  te bied nie? Wanneer jy iemand sien wat kaal is, moet jy hom bedek, en jou nie afsydig hou van jou eie vlees en bloed nie.”  As Johannes die Doper op die toneel verskyn roep hy ook mense om tot inkeer te kom en verder om vrugte te dra wat by die bekering pas. Jy kan nie vertel dat jy aan die Here behoort en jou lewe aan Hom toevertrou het en tog leef jy soos die wêreld nie. Luister na Jesus se woorde aan die skare wat na Hom geluister het: “Net so dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. Aan hulle vrugte sal julle hulle dus uitken”. Mattheus 7:17-20.

Genade

Iets wat ook treffend is van die koning se oproep op sy volk tot bekering is dat hy glad nie die idee het dat as hulle hulle bekeer God enigsins verplig is om af te wyk van die straf wat Hy oor hulle aangekondig het nie. Is dit nie ʼn teregwysing vir die mense van Israel en elke persoon op aarde wat dink dat God hulle iets skuld nie? Hoe tragies dat so baie die idee het dat hulle God se arm kan draai as hulle net ʼn paar dinge in hulle lewe verander of as hulle ʼn gelofte aan die Here doen, dat Hy sal inval by hulle wense en versoeke. Hierdie koning besef dat daar niks is waarop hulle kan roem en niks wat hulle vir God kan gee om te veroorsaak dat hulle Sy wraak op hulle kan afweer nie. Hulle kan niks na die tafel bring nie. As God hulle sou vergewe sou dit alleen op grond van sy genade wees en sonder enige verdienste van hulle kant af. Onmiddellik dink ek aan die verhaal wat Jesus vertel van die tollenaar en die Fariseër. Al twee mans het na die tempel gegaan om te aanbid. Die Fariseër het God gedank dat hy nie soos ander sondaars is nie. Hy wou hê God moes let op al die goeie dinge wat hy gedoen het. Teenoor hom staan die tollenaar wat nie eers na die hemel wou kyk nie. Hy kan net op sy bors slaan en sê: “O God, wees my, sondaar, genadig!” Jesus vertel aan sy hoorders dat die tollenaar eerder as die Fariseër huis toe gegaan het met sy saak wat reg was met God. Elke gelowige besef maar net terdeë dat daar niks is waarop hulle kan roem nie. Dat alles wat ons het ons ontvang het van God en dat Hy die Een is wat die goeie werk in ons begin het. Filippense 1:6 “juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.”

Goddelike berou

God het berou gehad en van gedagte verander rakende die straf wat Hy belowe het. Berou beteken net dat God nie meer die straf oor hulle sou uitstort nie. Ons weet dat dit nie berou is soos wat mense berou het nie, aangesien God nie so ʼn berou het nie. Numeri 23:19 “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” God gebruik menslike taal om iets van Homself te kommunikeer. Nog voorbeelde van hierdie beeldspraak is die Woord wat sê “die arm van die Here is nie te kort nie.” Wil die teks aan ons verkondig dat God ʼn arm het? Beslis nie, maar wel dat God daar is om ons te help. Net so word die woord berou gebruik om ons te vertel dat God hulle nie meer sou straf nie. Ons weet dat God van die begin van Jona al hierdie begeerte gehad het en daarom het Hy vir Jona gestuur. God doen soos Hy in Sy eie voorneme besluit het en voer dit uit volgens Sy eie plan. Hy gebruik mense in hierdie Goddelike plan.

Slot

Hoe moes so ʼn bekering van mense nie gelyk het nie? Ryk en arm soek die aangesig van die Here. Hoe opgewonde sou dit jou gemaak het om so ʼn wonder in jou eie tyd te kon beleef? Bid ons vir ander se redding? Bid ons vir ons bure en dorp? Gaan ons uit elke oggend met die begeerte dat God deur my lewe mense sal red en deel ek met individue wat God oor my pad stuur die evangelie. God het die opdrag om uit te gaan gegee, Hy gee ook die Blye Boodskap wat verkondig moet word. Ons hoef ons nie daarvoor te skaam nie, ons hoef nie vir die kultuur wat ons geloof beledig en bespot bang te wees of die boodskap vir hulle aan te pas nie. Bly by God se waarheid, wees gehoorsaam en Hy sal die verandering bring. Dalk sien ons dit in ons leeftyd soos Jona, of dalk, soos Jeremia, sien ons dit nooit. Wat vasstaan is dat God sien en ons gehoorsaamheid sal beloon.

Lewer kommentaar