Inleiding
Tot hiertoe het Jona nog net teen God sy vuis gebal en gedoen wat sy vlees begeer. Vir die eerste keer vind ons Jona in afhanklikheid van God. Jona bevind homself in die maag van die vis, omring deur duisternis en gevang in sy eie benarde situasie. Hier is Jona, alleen, ver van die bewoonde wêreld, met geen hoop om ooit weer vry te wees nie. Dit is op hierdie oomblik, in sy diepste nood, dat Jona tot besinning kom en sy hart na God uitroep.
Swaar tye
Hoe goed is dit nie vir die gelowige om deur swaar tye te gaan nie? Watter tye in jou lewe kan beskryf word as die beste tye van gebed en van totale afhanklikheid? Is dit nie juis wat God vir Paulus wou leer as hy bid dat God die doring in sy vlees moet verwyder nie. 2Korintiers 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Dit is so dikwels in die tye wat dit goed gaan wat ons arrogant begin raak. Tye wat ons dink dat ons onaantasbaar is en sonder God kan klaar kom. Ons sal dit nie hardop sê nie, maar ons lewens getuig daarvan dat ons nie tyd maak om by die Koning van alle konings, by Hom wat elke atoom en elke sekonde reël en beheer, stil te raak nie. Kolossense 1:16-17 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. Hoe kan ons een tree gee sonder om in gebed tot Hom te nader? Kan jy ʼn besluit neem sonder dat jy met Hom in gesprek was? Hier sien ons die beste van Jona in die slegste tyd. Hy begin sy gebed nie net in die naam van Jahwe(Beteken Here en die God van die verbond) nie, maar noem Hom ook “sy” God. Jona begin sy gebed deur te sê: “Ek roep tot die Here in my benarde toestand, en Hy antwoord my” (Jona 2:2). In die donkerste oomblik van sy lewe, vind Jona troos in die feit dat God hom hoor en antwoord gee. Hy besef dat daar geen hoop is buiten God nie.
Belydenis
Jona bely dat sy oproep tot God uit benoudheid gebore is. Hier binne in die vis se maag het vrees oor Jona gekom. Hy ervaar hierdie plek as die plek van die doderyk. Wat hier interessant is, is om op te let dat Jesus die tydperk van Jona in die vis se maag vergelyk met Sy eie tydperk in die “hart van die aarde”. Die metafoor spreek dus duidelik tot elke leser. Jona se gebed is ʼn gebed wat kom uit geloof. Hy bely dat terwyl hy in die vis se maag is en hierdie doodsheid rondom hom ervaar, hy, sonder enige teken van God se kant, weet dat God sy stem gehoor het. Dit is ʼn teken van geloof, om nie te sien nie en tog te glo. Dit is dan ook waarmee Jesus vir Thomas teregwys aangesien Thomas bely dat hy nie sal glo as hy nie “in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. Johannes 20:25. Nadat Jesus aan hom verskyn roep hy uit “My Here en my God”. Hierop antwoord Jesus Hom “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het”. Johannes 20:29. Wat is dus ware geloof? Geloof is om tot God te bid, soos Jona, en te weet dat God na my stem luister en my versugtinge aanhoor. Daarom is die gebruik van die verlede tyd so ʼn voorbeeld van geloof as Jona bely dat God sy stem “gehoor” het. As ek tot God nader in gebed bely ek dat Hy na my luister al het niks sigbaar verander nadat ek my gebed voor Hom uitgestort het nie. Tog kan ek bely dat ek verander het. In geloof het ek aanvaar dat God gehoor het en dat ek nou in vrede kan gaan, want ek weet my Verlosser leef “en ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is”. Romeine 8:28.
God in beheer
Hy verstaan dat God in beheer is van die omstandighede waarin hy hom bevind. Alles in die gelowige se lewe is ʼn besturing en niks is per ongeluk nie. Alles wat in my lewe plaasvind is met ʼn doel en ʼn plan toegelaat deur ʼn God wat my oneindig liefhet. Hy bely die realiteit waarin hy homself bevind en tog bely hy dat elke golf en elke brander was “U” golwe en “U” branders. Is dit nie die toonbeeld van ware geloof nie? Elke brander en elke golf wat oor my gegaan het, het U bepaal om oor my te gaan. Daarom kan Dawid ook in gebed voor God lê en smeek vir die lewe van sy seun en as God dan besluit om sy seun se lewe te neem, kan hy opstaan, sy gesig was en gaan eet, aangesien God dit so bepaal het en God se besluite goed en reg is. 2 Samuel 12:22-23 Hy het geantwoord: “Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.”
God verlate
Terwyl Jona God se straf vir sy sonde beleef ervaar hy dat hy weggestoot is van God. Die ironie is dat Jona ervaar het dat hy nie net weggestoot was van God nie, maar ook “weg van Sy oë” was. Jy kan nie anders as om te glimlag nie. Dit wat Jona begeer het, toe hy met die skip weggevlug het, was juis dit wat hy nou beleef het en hy besef dat dit nie is wat hy ooit wil hê nie. Hy kan nou bely dat sy begeerte is om God te aanskou. Is dit nie presies wat sonde doen nie? Jy doen en geniet sonde en jou begeerte is dat God niks daarvan sal sien nie. Hy moet jou net los, sodat jy jou lewe kan geniet. En dan ervaar jy dieselfde doodsheid wat Jona ervaar het. Die doodsheid wat sonde en verlatenheid van God veroorsaak. Watter honger en dors na Sy teenwoordigheid sal jy nie op daardie oomblik ervaar nie? Hoe vreesaanjaend om van God verlate te voel? Sonde wat jou vasdruk en oor jou spoel en al die asem uit jou binneste steel. Dit wat Jona fisies ervaar het was sekerlik ook sy geestelike ervaring. Jona erken wat sonde in sy lewe veroorsaak het. Sy gebedslewe is ʼn openlike gesprek met God wat alles weet.
Vergifnis
Ten spyte van dit wat Jona nou ervaar kan hy nog steeds bely dat hy die tempel weer sal aanskou. Hier bely hy dat hy weer in die teenwoordigheid van God sal kom, die heilige tempel. Hy sal weer by die plek wat heilig is kan kom. Die plek van vergifnis en heiligheid in sy eie lewe, sal hy weer beleef. Hoe wonderlik dat ons as Nuwe Testamentiese gelowiges weet dat ons na die genade troon kan gaan en dat ons in Christus vergifnis vir ons misdade kan ontvang! Watter vrede sal ons nie daar ontvang nie. Vlug na die kruis as daar sonde in jou lewe is en moet dit nie vir een oomblik uitstel nie. Hier sal jy soos Jona vind dat God jou lewe uit die grafkuil kom uittrek. Luister hoe die Psalmdigter dit stel: Ek het op die Here bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op ‘n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee. Psalm 40:2-3. Is dit nie wat jy gevind het toe jy jou sonde bely het nie? Het jy nie ontdek dat Hy graag wil vergewe en jou oortredings van jou verwyder nie. Psalm 103:12 So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. In Jona se wanhopige situasie, ervaar hy die genade en goedertierenheid van God. Hy sê: “Maar U het my lewe uit die verderf opgehaal, o Here my God” (Jona 2:7). Hy erken dat God hom uit die dieptes gered het, selfs al het hy dit nie verdien nie.In sy gebed het hy ervaar dat hy in God se heilige tempel gekom het, net soos ons tot God se troon nader in ons gebede. Hoe bevoorreg is ons nie. Hoe skuldig is ons dat ons nie meer male tot Sy troon nader nie. Hier vind Sy kinders altyd genade en vrede.
Slot – Danksegging
Aan die einde verander Jona se gebed in ʼn loflied. Die dankbare hart sal lof aan God bring en die persoon wat tot God genader het sal met ʼn loflied in sy binneste die wêreld kan ingaan. Ek weet verseker dat my Verlosser leef en dat Hy leef hier binne in my. Hy sal my nooit begewe en nooit verlaat nie. As daar enige gevoel van verlatenheid is, is dit altyd van my kant af dat dit plaasvind. As daar nie vrede is nie is dit my skuld. Ek weet verseker dat ek in Hom meer as oorwinnaar is en dat niks my van sy liefde sal kan skei nie. Romeine 8:38-39 Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.
