Miga 5

Inleiding

Die hooftema van Miga 5 is Jesus Christus, die koning wat sou kom. Dit is die profesie wat dit duidelik maak dat ʼn gans ander heerser na vore sal kom om die volk te lei. Dit is duidelik uit hierdie profesie dat Hy anders sou wees as die vorige konings en dit kan al gesien word in die feit dat Hy uit Betlehem sou kom, nie uit Jerusalem wat die stad van konings was nie. Hierdie profesie voorspel sy koms, maar ook die volk se reaksie op Hom. Die vraag aan elke mens is: “Wat is jou reaksie op die Koning van alle konings, Jesus Christus?”

Heerser

Daar word ʼn voorspelling deur die Heilige Gees gemaak dat  ʼn heerser uit Betlehem sal voortkom. Dit was beslis nie ʼn belangrike dorp in die stam van Juda nie. Jy sou verwag dat indien ʼn heerser in Juda gebore sou word, dit in Jerusalem, die stad van die konings, sou wees. Dit is ook die plek van waar die konings van Israel, en later Juda, regeer het. Dit is dan ook die eerste plek waarheen die sterre kenners gaan, nadat hulle die ster in die ooste gesien het. Hulle het geweet dat dit die geboorte van ʼn koning voorspel en het veronderstel dat dit in Jerusalem sal wees. Daarom is hulle vraag “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” Mattheus 2:2. In die profesieë word dit baie duidelik gemaak dat Hy nie soos ʼn gewone koning sou wees nie. Hierdie koning sou kom in nederigheid. Hy sou in ʼn stal gebore word, omdat daar nie vir Hom plek sou wees in enige herberg nie. Dit is ʼn vooruitwysing na die feit dat mense ook nie vir Hom plek sou hê in hul lewens nie.  Dit dien as ʼn teken dat Hy nie verwelkom sou word as Hy na sy eie mense toe gaan nie. Johannes 1:11 “Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.” Dit word duidelik gesien wanneer die leierpriesters hierdie profesie as antwoord aan die sterre kenners aanhaal. Luister na hulle antwoord: Hulle het vir hom gesê: In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders  van Juda nie; want uit jou sal daar ‘n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei. Mattheus 2:5-6. Nadat hulle die profesie reg uitgelê het is daar nie een van hulle wat saam met sterre kenners na Betlehem gaan nie. Nee, hulle was eerder saam met Herodes en die res van Jerusalem ontsteld oor hierdie boodskap. Mattheus 2:3 “Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom.” Hoe is dit moontlik dat mense wat die Woord en die uitleg van die voorspelling geken het nie opgewonde geraak het nie? Politieke status en om in die goeie boeke van die koning te wees, was van meer belang. Daar is baie profesieë in die Bybel wat voorspel dat hierdie Heerser, weer gaan terugkom. Ja, Jesus gaan weer op die wolke terugkom en Sy koninkryk finaal regeer. Baie mense sê dat hulle uitsien na hierdie dag, hulle ken die Woord en beweer dat hulle die profesieë verstaan. Tog wanneer jy na hul lewens kyk, getuig dit van mense wat eerder ontsteld is oor hulle wêreldse besittings wat hulle mag verloor as dit wat God in Sy Woord vra ons oor ontsteld moet raak.  

Nederigheid

Hoe meer Jesus die Blye Boodskap van verlossing verkondig en ʼn lewe van nederigheid geleef het, hoe meer het mense Hom verlaat. Hy sou ʼn koning wees wat op ʼn donkie ry. Sagaria 9:9 “Juig, dogter van Sion! Jubel, dogter van Jerusalem! Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul  van ‘n donkiemerrie.” Daarom sou Hy nooit deur die vooraanstaandes en belangrikes aanvaar word nie. Die pad waarop ons Hom moet volg is  ʼn pad van nederigheid,  ʼn pad van sterwe in jouself. Daarom sê Jesus dat iemand wat Hom wil volg sy kruis moet opneem en as jy nie hierdie pad van sterwe wil loop nie, jy Hom nie waardig is nie. Mattheus 10:38 “En wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie.”

Gans anders

Die Heilige Gees maak dit duidelik dat hierdie Heerser wat sal kom nie ʼn gewone mens sal wees nie. Van watter mens sal ons die volgende stelling kan maak: ..en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” Miga 5:1. (Ou Vertaling 1953). Die LXX (Griekse vertaling van die Ou Testament) vertaal dit ook as ewigheid. Selfs die 2020 vertaling maak dit duidelik dat die persoon van wie die profeet praat iemand is wat al reeds lank, voor Sy geboorte in Betlehem, geleef het. Hoe wonderlik vir die gelowige om te weet dat Jesus se koms in ooreenstemming is met wat God Drie-Enig van ewigheid af besluit het. Die Een wat sou kom sou werklik God wees wat geen begin en geen einde het nie. Dit maak dit  soveel meer skokkend dat die geestelike leiers van die volk God self nie wou gehad het nie. Dit was God se aanklag van die begin af teen sy volk, nl. dat hulle Hom nooit wou aanbid en dien nie. Amos 5:25 “Het julle slagoffers en graan offers vir My gebring, die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel?” Jesus maak dit ook duidelik in die gelykenis van die eienaar wat sy wingerd verhuur. Die huurders wou die eienaar nie betaal nie en toe hy sy seun stuur, het hulle hom ook doodgemaak. Die skokkende van die reaksie van die aanhoorders van die gelykenis is dat hulle besef het dat dit op hulle gemik was. Mattheus 21:45 “Toe die leierpriesters en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy van hulle praat.”

Goeie Herder

Volgens die profesie sou God eers die volk oorgee aan sy vyande, totdat die vrou geboorte skenk. Daar sal egter ʼn oorblyfsel wees wat deur God behoue sal bly. Met Christus se koms het die terugkeer van die oorblyfsel plaasgevind. Dit was volgens Paulus altyd net ʼn oorblyfsel wat God in bewaring gehou het. Jesus sal die Herder wees wat hierdie groep sal laat wei, soos die Psalmdigter God se herderskap in ons lewens beskrywe. Psalm 23:1-3 “’n Psalm. Van Dawid. Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.” Jesus bevestig dat Hy hierdie herder is in Johannes 10:11 “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” Hy sal ons lei in Sy krag en in Sy Naam en nie in ons eie nie. Alles sal tot Sy eer wees en geen mens sal kan roem dat hy iets in sy eie krag gedoen het nie. Hoe wonderlik om te weet dat ons sekerheid en veiligheid gewortel is in Hom en nie in onsself nie. Is dit nie juis waarom Paulus kan skrywe dat ons meer as oorwinnaars is omdat dit Hy is wat ons die krag gee en Hy is wat sorg dat niks ons van Hom kan skei nie? Hy het na sy Hemelvaart gaan sit aan die regterhand van God die Vader. Hy heers in almag. As ons in Hom is hoef ons nooit te vrees nie, want al neem mense ons fisiese lewens kan hulle niks doen wat God nie in Sy almag bepaal het om plaas te vind nie. Die dood is nie iets wat die gelowige vrees nie, maar iets waarna die gelowige uitsien. Daarom sal hierdie oorblyfsel wat deur God gered en gelei sal word nooit weer hulle hoop op mense vestig nie. Die gelowige bely dat sy hoop in die Here is. Ons is nie soos die wêreld wat hulle hoop vestig op regeerders of magtiges nie. Psalm 146:3-4 “Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op ‘n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Sy asem gaan uit, hy keer terug na die grond; op daardie dag is sy planne daarmee heen.” Hierdie klein groep wat die goeie herder sal volg, sal ʼn magtige volk wees. Nie omdat hulle so groot of so sterk is nie, maar omdat hulle Koning die Here is. Dit is Hy wat die Kerk, waaroor ons in Miga 4 geskryf het, sal vestig en geen helse mag sal dit kan oorwin nie. Dit is hulle van wie Christus in Openbaring praat wat eendag oor alles aangestel sal word en saam met Hom sal regeer. Openbaring 2:26-28 “Aan wie oorwin, en enduit vashou aan wat Ek sê, sal Ek mag gee oor die nasies. Hy sal hulle as ‘n herder lei  met ‘n ysterstaf en hulle soos kleipotte  stukkend slaan. Soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek aan hom ook die môrester gee.”

Slot

Die waarskuwing aan die einde van die hoofstuk is ook duidelik aan almal wat Christus nie sal aanvaar nie. Hy sal Sy wraak op hulle uitstort. Daarom is daar “vandag”, waarna die Hebreër skrywer tereg verwys, waarop elke persoon na Christus moet kom voordat dit te laat sal wees. So stel Paulus dit ook duidelik aan elkeen wat luister: “As medewerkers van God doen ons ‘n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie! Want Hy sê: Op die regte tyd het Ek na jou geluister, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp. Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing!” 1Korintiers 6:1-2.

Jesus Christus, ons nederige Koning en goeie Herder, gaan terugkom as magtige Heerser om God se wraak uit te oefen op elkeen wat Hom nie aanvaar het nie. Die profesieë is duidelik: Sy koms is naby. Daar is “vandag”. Laat dit geld.