Inleiding
Hier begin Miga te skryf aan die oorblyfsel wat aan die Here getrou is. Hy wil hulle moed gee dat God weer herstel sal bring. “Daar kom ‘n tyd”, sê Miga, en dan volg die beskrywing van hoe dinge dan sal wees. Hierdie tyd word beskryf as dit waarna elke gelowige uitsien, nl. ʼn tyd waar Christus vir ewig sal heers en daar volkome vrede en rus sal wees. As ons na die geskiedenis kyk dan besef ons egter dat hierdie tyd verwys na ‘n geestelike toestand eerder as na ʼn fisiese realiteit, want met Christus se koms sou die laaste dae aanbreek. Hebreërs 1:1-2 In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.
Die nuwe tempel
Daar kom ʼn tyd wanneer die tempel van God herbou sal word. Johannes 2:19-21 Jesus het hulle geantwoord: Breek hierdie tempel af, en binne drie dae sal Ek dit opbou. Daarop het die Jode gesê: Ses-en-veertig jaar gelede is daar aan hierdie tempel begin bou, en jy sal dit binne drie dae opbou? Maar Hy het van die tempel van sy liggaam gepraat. Hoe tragies dat so baie in die kerk nog steeds ʼn afwagting het dat die tempel wat herbou sal word in Jerusalem sal wees, nadat Jesus so duidelik verklaar het dat Sy liggaam die nuwe tempel is. Paulus maak dit verder ook duidelik dat elke gelowige ʼn tempel is en dat ons almal saam as gelowiges ook ʼn tempel van die lewende God is. 1Korintiers 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? Hierdie tempel wat God sal oprig sal tot in ewigheid vasstaan en alle volke sal daarheen stroom. In Jesus se tyd word daar al getoon dat die volke na Hom toe stroom. Johannes 12:20-21 Daar was ‘n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid. Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: Meneer, ons wil Jesus sien. Met die uitstorting van die Heilige Gees in Jerusalem word hierdie profesie net nog meer duidelikheid vervul, omdat die boodskap vanuit Jerusalem uitgaan na die res van die wêreld.
Uiterlike vrede
Die woord vir “regspreek” in die Hebreeus het ook te make met heerskappy voer. In hierdie konteks is dit duidelik dat dit die betekenis is van hierdie woord, aangesien daar waar Christus sal heers mense se harte sal verander. Waar God se Woord onder nasies verkondig word sal daar onder individue groot transformasies plaasvind. Mense uit verskillende volke wat mekaar voorheen gehaat het en families wat met ʼn onvergewings gesindheid gelewe het sal kom en mekaar vergewe en vrede maak. Luister hoe Paulus hierdie nuwe mens beskrywe in Kolossense. Kolossense 3:11 By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. Deur die geskiedenis het die evangelie mense en se harte vernuwe en het die grootste vyande rondom die Nagmaalstafel brood gebreek en die beker gedeel. Die kerk sal die plek wees wat gekenmerk word deur verskillende volke wat saam aanbid en in vrede met mekaar lewe. ʼn Christen kan nie iemand wees wat met wrokke rondloop nie. ʼn Christen kan nie iemand wees wat ander volke haat of nie kan verdra nie. 1Johannes 4:20 As iemand sê, Ek het God lief, en sy broer haat, is hy ‘n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. Nie net moet die gelowige sy medebroer en -suster lief hê nie maar Jesus roep ons op om selfs ons vyande lief te hê. Mattheus 5:44-45 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees… Klipharde manne en vroue sal sag gemaak word. ʼn Newton wat slawe gekoop en verkoop het sal ʼn kampvegter teen slawerny en ʼn verkondiger van God se Woord word. Niemand sal dieselfde kan bly nadat God sy intrek in die persoon se lewe geneem het nie. Wanneer God kom tempel kom maak het binne in jou.
Innerlike vrede
Nie net sê die profeet dat daar vrede tussen mense sal wees nie, maar dat elke persoon vrede in sy eie gemoed sal hê. Elke Jood het die verlange gehad om in die beloofde land onder sy eie wingerdstok en vyeboom te sit en vrede te ervaar. Tog het dit nooit gebeur nie en oorlog na oorlog was die kenmerk van hulle lewens, selfs in Kanaän. Tog is daar ʼn volkome geestelike rus, waarvan Hebreërs praat, waarna al die Sabbatsdae en Kanaän heen gewys het. Hebreërs 4:10-11 Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke – soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Elke gelowige sal hierdie rus ervaar in sy lewe en niks en niemand sal hierdie vrede van hom of haar kan steel nie. As jy as gelowige met tye nie hierdie vrede en rus ervaar nie is dit a.g.v. ongehoorsaamheid en sonde wat jy in jou lewe toelaat. Bely jou sonde en wandel in gehoorsaamheid aan God se Woord en jy sal ervaar hoe God se rus en vrede weer deel van jou lewe sal wees. Laat ander hulle vertroue plaas in hulle gode maar ons as gelowiges vertrou op die Here. Hy alleen is ons toevlug en ons rots by wie ons skuil. Psalm 62:6-8 Vind rus by God alleen, my siel, want op Hom is my hoop gevestig. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord. Ek sal nie wankel nie. By God lê my verlossing, my eer. My sterk rots, my skuilplek, vind ek in God.
Christus, die rots
Die gelowige het volle vertroue in God, want Hy alleen sal ons kan genees. Hy bring die wat kreupel, verstrooi, gewond en siek is, weer bymekaar. Hy sal mense versamel en heelmaak. Nie net bring hy die verlore skaap weer terug nie, Hy bring ook weer genesing en herstel vir die wonde van die sonde wat ons beseer het. Hy is die goeie Koning wat oor ons sal heers van nou af en tot in ewigheid. Hy sal die Kerk bou tot ʼn magtige koninkryk wat nooit sal wankel en nooit vernietig sal word nie. Petrus en die ander dissipels word deur Jesus die vraag gevra wie hulle sê dat Hy is. Petrus maak die belydenis dat Hy die Christus is, die Seun van die lewende God. Hierop se Jesus: En Ek sê vir jou, jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Mattheus 16:18. Petrus is in die Grieks Pétros wat klip beteken, terwyl die Griekse woord pétra, rots beteken. Jesus is beslis nie besig om te sê dat Hy die kerk op Petrus, die klippie, gaan bou nie, maar wel op die rots, wat verwys na Petrus se belydenis van wie Hy is. Hierdie Kerk wat gebou is op die rots, Jesus Christus, sal staande bly tot in ewigheid. Die Kerk is nie sterk opsigself nie, maar is sterk omdat dit gebou is op Christus. Ons is net so sterk as wat ons in afhanklikheid van Hom leef. In hierdie totale afhanklikheid word die Woord van God aan die plaaslike kerk bedien, wetende dat as Hy die kerk nie bou nie, bou ons tevergeefs. Psalm 127:1 ʼn Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker.
Herstel
Alhoewel die profeet ook aankondig dat die Jode vir ʼn tyd weggevoer sal word in ballingskap en dat dit met hulle baie swaar sal gaan, wil God hulle bemoedig. Hy wil nie hê dat hulle moed verloor en vergeet wat God hulle belowe het nie, al sou hulle vir nou in ballingskap gaan. Net so wil God hê dat elke gelowige ook sal vashou aan Sy beloftes al gaan hy deur ʼn dal van doodskaduwee. Die gelowige word nie vasgevang in sy omstandighede nie, maar hou vas aan God wat in beheer is van sy omstandighede. Ons oë bly op Hom gevestig. Psalm 123:2 Kyk, soos die oë van slawe gerig is op die hand van hulle eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy ons genadig is. Daar sou weer herstel vir hulle kom en God sou hulle weer terug bring uit Babilon, maar meer as dit Hy sou vir hulle in Babilon ook sorg en ʼn God vir hulle wees.
Slot
Die oproep vir die Kerk is dat hulle moet opstaan en besef dat God oorwinning sal gee oor alle volke en nasies en koninkryke en, aan die einde as Hy weer kom, sal alles aan Sy Kerk gegee word en hulle sal saam met Hom heerskappy voer op die nuwe aarde. Die Kerk moet nooit vas kyk in heersers en volke wat hulle wil verwoes nie. God sal toelaat dat hulle vertrap word, maar God het ʼn plan gemaak wat vas sal staan en nooit vernietig sal word nie. Daar sal ʼn dag aanbreek dat die Hemel oopgeskeur sal word en die Seun van die mens sal kom in Sy heerlikheid op die wolke. Wat ʼn dag sal dit nie wees nie!?!
