Inleiding
Is dit goed om die Here te dien? Is daar voordeel vir jou en vir jou huis as julle doen wat God van jou vra? Is dit ʼn vraag waaroor jy wonder? Dit is die retoriese vraag wat Miga aan die hoofde en leiers vra. Dit is onverstaanbaar dat enige iemand wat die geskiedenis van Israel geken het, kon twyfel of daar voordeel in is om die Here te dien. Kyk maar na die tye in die woestyn wanneer die volk ongehoorsaam was. Het God nie slange gestuur, hulle 40jaar in die woestyn laat wandel a.g.v. hulle ongehoorsaamheid nie? Wat van die boek Rigters wat vol is van God se straf vir ʼn volk wat sy eie pad geloop het. Wat van die Konings? Was God nie goed vir sy volk in die tye waarin Goddelike konings geheers het nie? Wat van jou? Is dit voordelig dat jy God se opdragte in jou huwelik uitvoer en die rol wat God vir jou bestem het uitleef? Is jou kinders nie toegewyd aan God omdat jy hulle groot gemaak het in tug en vermaning in die weë van die Here nie. Is daar nie vreugde en vrede in jou lewe, omdat jou vertroue in die Here is en nie in die dinge van die wêreld nie? As jou lewe nie anders is as die van die wêreld nie is die rede daarvoor dat jy net soos God se volk ongehoorsaam was aan Sy opdragte.
Vanuit die hart
Hierdie volk en leiers het gehaat wat goed is. Daar was by hulle geen begeerte om te doen wat God behaag nie. Hulle genot was om die verkeerde dinge te doen. Dit is beslis die verskil tussen die gelowige en die ongelowige. Die gelowige het altyd die begeerte om dit wat God van hom/haar vra te doen. Paulus maak dit onderleiding van die Heilige Gees duidelik in die Woord van God dat daar ʼn innerlike stryd tussen vlees en gees is, maar dat sy begeerte is om te doen wat God van Hom vra. Romeine 7:22 In my diepste wese verbly ek my oor die wet van God. Wat is dus jou hart se versugting? Wat maak jou opgewonde? Jesus vertel aan sy aanhoorders dat …waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Mattheus 6:21. Wat is dit wat van waarde vir jou is? As God en Sy Koninkryk in jou hart is sal jou lewe daarvan getuig. Ons kan deur die geskiedenis van die kerk sien hoe gelowiges opgewonde was oor die Woord van God. Party was bereid, na die reformasie en met die aanhoor van die Woord, om ʼn hele naweek deur te gaan en die een na die ander preek te luister. Hulle was opgewonde om net ʼn deel van die Woord in hulle hande te kon vashou en het dit weer en weer gelees. Daarom roep Jesus mense op om te kyk na die vrug van die mens se lewe, aangesien iemand wat ʼn gelowige is, met dit wat oor sy lippe vloei, getuienis sal gee van wat in sy hart aangaan en wat vir hom/haar belangrik is. Mattheus 12:34 Addergeslag! Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Valsheid verwoes
Hierdie leiers van die volk het deur hulle lewens die volk verwoes. Valse leraars en leiers verwoes mense se lewens omdat hulle hulle valsheid leer. Hulle praat hul sonde goed en laat hulle vashou aan leë beloftes. Hulle gee hulle gemoedsrus dat God met hul lewens tevrede is en sodoende gaan hulle voort met hul sonde. Ons weet dat sonde die mens verwoes en dit is dan presies wat met die volk gebeur. Aangesien hierdie leiers soveel mag het sal hulle ook erger as enige iemand anders geoordeel word. Jakobus 3:1 Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. Hierdie mense skroom nie om enige iets te doen net solank hulle daaruit kan voordeel trek. As hulle weet dat hulle sakke daardeur gevul sal word en dat mense met hoë agting na hulle sal kyk sal hulle enige iets verkondig. Die grootste misleiding wat daar is, is dat baie wat vandag leraars en pastore is, manne is wat mense liefhet. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Valse leraars is net bekommerd oor hulle eie lewens en wat vir hulle tot voordeel strek. Gee vir hulle net kos en geld en hulle sing soos ʼn kanarie. Hulle sal ook baie sterk teen die ware gelowiges opstaan. Dus is dit goed om uit te vind wie die valse profete haat en dan by daardie persoon die Woord te gaan luister. As Josafat 400 profete hoor wat dieselfde profetiese uitspaar lewer bevraagteken hy dit onmiddellik. 1Konings 22:7 Toe vra Josafat: Is hier nie nog ‘n profeet van die Here nie, sodat ons deur hom die Here kan raadpleeg? In Miga word die ware gelowige en geestelike leiers opgeroep om die waarheid te verkondig wat altyd in stryd met die mens se vlees sal wees. Romeine 8:7 Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
Beantwoord van gebede
God sal nie goddelose mense antwoord nie. God luister nie na die goddelose mens se gebede nie. Spreuke 15:29 Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges
hoor Hy. Die blinde man wat Jesus genees in Johannes 9 wys dat die Jode hierdie beginsel baie goed geweet het. Johannes 9:31 Ons weet dat God sondaars nie verhoor nie, maar as iemand godvresend is en sy wil doen, verhoor Hy hom. Miga vertel dat al hierdie waarsêers en sieners beskaamd sal staan omdat God nie sal antwoord nie. Teenoor hulle staan Miga wat vol krag is en spreek onder die leiding van die Heilige Gees. Hy het geen vrees vir die mense van sy tyd nie. Hy gee nie om wat hulle posisie in die samelewing is nie. Al wat vir hom van belang is om God se boodskap aan hierdie volk oor te dra. Is jy vreesbevange vir mense se opinies of wat hulle aan jou sal doen? ʼn Gelowige mag nie die mens vrees nie. Luister na Jesus se woorde. Mattheus 10:28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. Baie mense wat na Jesus geluister het, het ʼn oppervlakkige en tydelike geloof gehad. Hulle wou Jesus volg, maar hulle wou nogsteeds die eer van mense geniet. Johannes 12:42-43 Nogtans het ook baie van hulle leiers in Hom begin glo, maar vanweë die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God. As jy geen vrees vir mense het nie sal jy die volle evangelie aan mense kan bring en nie ʼn halwe, afgewaterde, mens georiënteerde evangelie verkondig nie. Jy sal mense kan aanspreek oor hulle sonde sonder enige vrees, soos wat Miga in die volgende verse ook gedoen het.
Hipokrasie
Die skokkende van die priesters en die valse profete is dat hulle alles gedoen het vir geld en ten spyte daarvan nogsteeds verklaar het dat die Here in hulle midde is. Kan jy so verwaand wees om te dink dat jy kan leef en valshede in teenstelling met God se opdragte kan verkondig en dan nogsteeds dink dat God met jou is. Nie net dit nie, hulle het ook gedink dat hulle nie gestraf sal word nie. Jesus waarsku sy volgelinge dat baie wat hulle sal vervolg hierdie waansinnigheid sal hê. Johannes 16:2 Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ‘n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. Niemand is so blind as diegene wat dink dat hulle kan sien nie. Hy strompel voort en tas rond maar sal aanhou bely dat daar geen fout met sy oë is nie. So is die valse leiers en valse mense in die kerk. Hoe tragies is dit nie om waar te neem hoe mense teen God ʼn stryd voer en om te sien hoe hulle seer kry en vernietig word nie. Die ligtoring se lig sal altyd bly skyn ten spyte van wat enige skipper se opinie daarvan is. Ignoreer dit tot jou eie ondergang en dit wat vir jou kosbaar is sal skipbreuk lei op die rotse van die sonde. God sou Sion, die plek van aanbidding, en Jerusalem totaal vernietig a.g.v. die oortredings van sy volk en hulle onbekeerlike hart.
Slot
Dit is interessant dat Hebreërs vir ons daarop wys dat die ark wat Noag gebou het nie net sy familie gered het nie, maar dat dit ook die wêreld van sy tyd veroordeel het. Hebreërs 11:7 Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, ‘n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en ‘n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof. Die Woord sny altyd twee kante toe, tot redding en tot vernietiging. Dit is nooit soetsappig nie, maar altyd konfronterend. Dit wys duidelik die pad aan en waarsku teen gevaar. Watter pad gaan jy volg?
