Inleiding
Die profeet wys die Jode in hierdie hoofstuk sterk tereg. Sy grootste teregwysing gaan aan die leiers en die manne met mag en finansiële vermoëndheid. Hul hele lewe word toegespits om nog meer bymekaar te maak, maak nie saak op watter wyse dit plaasvind nie.
Die waarskuwing is egter ook vir elkeen wat die ware Godsdiens verruil vir ʼn teologie van welvaart en mag hier op aarde. Die valse profete is vandag nog meer aktief en nog minder subtiel. Hulle preek wat mense graag wil hoor en bekom so mag en geld. Met leë beloftes maak hulle mense slawe van wêreldse begeertes. Alles gaan egter oor hulself.
Ontevredenheid
Dit laat jou dink aan Agab en sy vrou Isebel. Agab het Nabot se wingerd begeer, ʼn wingerd wat teenaan sy paleis gelê het. Nadat Nabot weier om dit aan Agab te verkoop, aangesien dit erfgrond was wat die Here aan sy familie gegee het, gaan lê Agab soos ʼn klein seuntjie en brom op sy bed. Hy draai sy gesig weg en weier om te eet, net soos ‘n stout kind wat nie sy sin kry nie. Isebel is egter ‘n slinkse vrou en maak planne om valse getuies teen Nabot te kry en te sorg dat hy vermoor word, sodat Agab sy hartewens kon kry. Jakobus praat tereg van mense wie se lewe beheers word deur hulle begeertes. Jakobus 4:1-3 Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. Die karaktertrek van ʼn gelowige moet totaal anders wees. ʼn Gelowige word gekenmerk as iemand wat vergenoeg is. 1Timotheüs 6:6-8 Wat wel ‘n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. As jy nie tevredenheid het nie gaan jy nooit gelukkig wees nie. Jy sal altyd opsoek wees na nog meer en daardie soektog steel jou vreugde. Paulus sluit hierdie perikoop in sy brief aan Timotheüs af dat hy die gemeente moet waarsku dat die hunkering na rykdom sommige mense van die geloof laat afdwaal het. Op hierdie stadium het Paulus nog nie geweet dat een van die mense wat saam met hom gewerk het, Demas, hom sou verlaat oor hierdie einste rede nie. 2Timotheus 4:9-10 Doen jou bes om gou na my toe te kom, want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry… As hy maar net na die waarskuwing van die Heilige Gees, deur die brief van Paulus, geluister het.
Straf
As jy ontevrede is met dit wat God jou gegee het, sal Hy dit ook van jou af wegneem. Dit is die straf wat deur die profeet aan die volk aangekondig word. A.g.v. hierdie volk se optrede en hunkering sou God hulle geheel en al vernietig. Hier word ʼn kontras uitgebeeld tussen die volk en God. Die volk bedink onreg teenoor God wat onheil bedink, maar sy onheil is geregverdig. Hulle is wakker om die verkeerde te doen en Hy om oordeel oor hulle te bring. Die profeet kondig aan dat daar geen manier sal wees hoe hulle sal kan ontvlug van God se wraak nie. Hierdie volk sal alles waarna hulle gehunker het verloor en selfs ook dit wat God as eiendom aan hulle gegee het a.g.v. hulle goddeloosheid. Hierdie volk kon met die Jubilee, elke vyftig jaar, hulle erfgrond weer terug kry, omdat die grond nooit aan ʼn persoon behoort het nie, maar wel aan God wat families aangestel het om spesifieke gedeeltes vir Hom te bestuur. Daardie tyd sou nou verby wees. God sou Sy grond terugneem. Elke persoon moet terdeë daarvan bewus wees dat God die eienaar van alles is en ons is slegs bestuurders. Niks behoort aan my nie. Dit is slegs geleen en omdat my dae getel is moet ek dit wat Hy aan my toevertrou het so bestuur dat Hy verheerlik word. Psalm 49:13-15 maar ‘n mens met skatte is nie blywend nie; hy is net soos die diere – hulle gaan ten gronde; dit is hulle lewenspad, dié wat vol selfvertroue is, hulle einde, dié wat van hulle eie uitsprake hou. Sela Soos kleinvee is hulle vir die doderyk bestem, die dood is hulle herder, teen die môre heers opregtes oor hulle. Hulle liggame is bestem vir vertering deur die doderyk, ver van hulle indrukwekkende wonings.
Valse profete
Terwyl Miga, Jesaja en ander ware profete die volk waarsku, sê die valse profete dat hulle moet ophou om te profeteer. Hulle soek nie profete wat hulle waarsku nie, maar wel profete wat mooi woorde spreek en hulle laat goed voel. Hulle sal wees soos die leraars in die laaste dae. 2Timotheüs 4:3-4 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend. Hierdie volk wou graag profete hê wat hulle gee wat hulle begeertes was. As die profeet lieg en in stryd met God se Woord spreek, sou dit ʼn gewilde profeet wees. Hy sal die skares trek. Hulle het gesoek na ʼn profeet wat vir hulle wyn en sterk drank belowe het. Hy moet een van die “manne” wees! Hy moet ʼn lekker ou wees! Gee vir ons ʼn leraar wat sê wat ons graag wil hoor! Hierteenoor sê Miga dat God goeie dinge aan diegene belowe wat aan Hom gehoorsaam is. Miga wys verder die volk daarop dat hulle alles behalwe regverdig optree.
Verlaat
Die regverdiges word deur die Here opgeroep om hulle gereed te maak om die land te verlaat. Hierdie land het onrein geword en God sou dit vernietig. Oral deur die Skrif word die gelowige opgeroep om hom/haarself te herinner dat hierdie nie hulle tuiste is nie. In hierdie wêreld sal die gelowige altyd ʼn bywoner en vreemdeling wees soos wat Israel in Egipte was. 1Petrus 2:11 Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die siel. Het jy dalk jouself te vasgeanker in hierdie wêreld? Het hierdie wêreld jou begeerte en die van jou kinders geword? Die manne en vroue van geloof, wat in Hebreërs 11 beskrywe word, was mense wat geleef het met hulle oë gevestig op die ewige en nie die tydelike nie. Luister wat word van Abraham vertel: Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in ‘n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is. Hebreërs 11:9-10. Moet nooit jou tentpenne te diep hier inslaan nie. Soms gaan dit nodig word om vir die behoud van jou siel mense, dinge en plekke te verlaat, omdat dit so onrein geword het, dat jy nie meer met ‘n skoon gewete voor God daar kan leef nie. Ons is wel in hierdie wêreld en kan onsself nie daaruit verwyder nie, maar ons kan situasies, mense en plekke vermy waar ons met die wêreld besoedel gaan word. Hierdie wêreld sal jou altyd teleurstel en sal nooit tevredenheid en rus gee nie. Vestig as gelowige altyd jou oë op die dinge wat daar bo is, daar waar Christus ons Verlosser is.
Christus ons koning
God maak ʼn belofte aan die oorblyfsel van Israel dat Hy hulle bymekaar sal maak soos skape in ʼn kraal. Dit wat ondenkbaar is, is dat die hoeveelheid mense wat bymekaar sal kom baie sal wees. Daar sal dus meer wees as net die oorblyfsel van Israel. In Johannes wys Jesus ook na ʼn tweede groepe skape wat na Sy stem sal luister. Johannes 10:16 Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder. Hierdie groep bestaan uit mense van elke volk en taal en nasie. Hulle sal deel wees van hierdie groep wat God bymekaar sal bring. Diegene wat die nuwe Koninkryk wil ingaan sal dit doen met geweld. Lukas 16:16 Tot en met Johannes het die Wet en die Profete gegeld, maar van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer met alle mag daar ingaan. Jesus sê op ʼn ander stadium dat mense al hulle kragte moet inspan om by die nou deur in te gaan. In Johannes 10 vertel Hy aan sy volgelinge dat Hy hierdie deur is waarby hulle moet ingaan. Hy is nie net die deur nie, maar ook die Koning wat voor hulle uit sal gaan sodat hulle Hom kan volg. Die een wat vooraan sal wees sal die HERE wees. Die Grieks hier is die κύριος(kurios), die Here. Deur die hele Nuwe Testament word na Jesus verwys as die Kurios. Hy is ons Koning en die Here van ons lewens. Ons volg Hom en nooit anders om nie. Ons moet inval by Hom en aan Hom gehoorsaam wees.
Slot
God gee en Hy neem. Hy seën en Hy straf. Indien jy Hom voor oë hou en altyd aan Hom gehoorsaam is, sal jy elke dag meer en meer besef dat hierdie nie jou tuiste is nie. Hierdie wêreld is tydelik en stel al te dikwels teleur. Wees bedag op alle vorme van ontevredenheid wat op sulke subtiele maniere in ons lewens insluip. Loof God vir dit wat Hy in jou lewe doen en dit wat jy in oorvloed van Hom ontvang het. Moenie jou ore uitleen vir valse leiers en sogenaamde profete wat jou ore streel met allerhande beloftes van God wat nie in Sy Woord staan nie. Hou egter vas aan die beloftes wat wel daar staan. Christus is ons koning en Hy sal ons lei na waters waar rus is. Sy goedheid en guns sal met jou wees al die dae van jou lewe. Met Hom as jou koning sal jou beker oorloop en is jy geseën met elke geestelike seën wat in die hemel is, naamlik Jesus Christus.
