Inleiding
Miga is ʼn profeet tydens een van Israel se goddeloosste konings, Agas, en een van die beter konings, Hiskia. Gedurende hierdie tye sou hy ʼn boodskap van God hê vir die goddelose mense sowel as die regverdiges wat God se aangesig gesoek het. Ongeag of ons lewe in ʼn tyd met goddelose heersers of getroue heersers, die Here het ʼn boodskap van vertroosting vir die regverdiges en ʼn boodskap van waarskuwing van straf vir die goddeloses, Miga was ʼn profeet in dieselfde tyd as Jesaja, met Jesaja wat die oudste van die twee was. Hoe wonderlik dat in hierdie tye hierdie twee manne saam vir die Here kon werk en hoe God elkeen se boodskap beaam het deur die prediking van die ander. Dit was die Woord van die Here wat tot hom gekom het. Nooit het ʼn profeet uit sy eie opinie en sy eie woorde neergeskryf nie. Nee, elke woord was die Woord van God en moes so hanteer geword het.
Die gehoor
Die profeet se gehoor is die mense van Israel in Samaria en die van Juda in Jerusalem. Tog word die hele wêreld ingeroep om te luister as God praat. Die boodskap van God is vir almal, of hulle nou luister of nie. Almal sal deur God se Woord geoordeel word. Verder is al die volke ook getuies dat wat God sê in vervulling sal gaan. God is Miga se getuie dat die oordeel wat hy profeteer die waarheid is. Dit wil sê God sal die oordeel bring en daardeur bevestig dat die profeet se woorde van Hom af kom. Hy getuig vanuit sy Heilige tempel (woord in die Hebreeus). Die Jode kon terug kyk oor hulle geskiedenis en male sonder tal sien hoe God hulle gewaarsku het en hoe die waarskuwing in vervulling gegaan het, omdat hulle hulle nie daaraan gesteur het nie en volgehou het met hul sonde. ʼn Voorbeeld wat nog vars in die gedagtes van meeste van die Jode moes gewees het, was God wat die pa van Jotam, die koning wat regeer het toe Miga begin het met sy bediening, met melaatsheid getref het. Hy was Asarja of Ussia genoem. Hy was die koning wat in die heilige tempel ingegaan het en ʼn offer aan God wou bring wat net die priesters bevoeg was om te doen. God slaan hom met melaatsheid omdat hy nie Hom aan God se Woord onderwerp het nie en die res van sy lewe was hy in afsondering terwyl sy seun Jotam regeer het.
Valse gerustheid
Hierdie volk het geglo dat God in sy Heilige tempel is en dat Hy daarom aan hulle kant is. Hulle offers en tiendes wat hulle so nou en dan bring was genoeg in hulle oë om Hom gelukkig en te vrede te hou. Alles behalwe, is die boodskap van Miga. God verlaat hierdie tempel en gaan sy straf oor hulle uitstort. Die berge wat voor Hom smelt en die valleie wat oopskeur dui op God se toorn teenoor hierdie volk. Elke deel van hierdie volk, Israel en Juda, is deurtrek van sonde. God maak dit baie duidelik dat die hoofstede, Jerusalem en Samaria, die oorsaak is van die sondes van Sy volk. In Samaria is offers aan afgode gebring en in Jerusalem is die offers slegs as tradisie gebring, vermeng met allerhande bygelowe. Ons ervaar dit baie vandag. Kerke dink hulle is op ʼn beter plek as die Moslems of die Hindoes, omdat hulle nie valse gode aanbid nie en tog het hulle die ware aanbidding van God vermeng met hulle eie begeertes, voorkeure en bygelowe sodat dit ʼn valse, lou godsdiens geword het wat God uit sy mond sal uitspoeg. Openbaring 3:15-16 Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg. Christus gee aan die gemeentes wat so duidelik besig is met hierdie tipe vermenging die boodskap dat hy hulle lamp van hulle sal wegneem. Hulle het toegelaat dat mense sondige lewens lei en aan hulle verkondig dat dit alles goed is aangesien God ʼn genadige God is. Sonde is oorgesien en is toegelaat om stadig maar seker die kerk soos ʼn kanker te besmet, Dit is ‘n waarskuwing vir elke gemeente van Christus. Is die aanbidding van Christus die fokus van jul gemeente of is mense?
Ware liefde
God belowe dat Hy Samaria eerste sal vernietig, wat dan ook gebeur het onder die Assiriese magte. Sy vernietiging sou totaal wees en strek tot voor die deur van Jerusalem. Ook dit het in vervulling gegaan. Hy het alles vernietig waarop hulle hulle vertroue geplaas het. Ook die volke waarop hulle vertrou het. Dit sal baie duidelik word dat al hulle afgode nietighede was en dat dit geen mag gehad het nie. Hulle het gehoereer weg van God af. Hosea gebruik dieselfde metafoor in sy boodskap van God, nl. dat die volk vir God as hul man verlaat het en met ander mans gehoereer het. God vertel deur Esegiël dat hierdie volk ʼn volk was wat in sy bloed gespartel het, sonder enige iemand wat met haar bemoeienis gemaak het en hoe Hy Homself oor haar ontferm het en vir haar gesorg het en sy eie gemaak het. Esegiël 16:6-9 Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, Bly leef! Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, Bly leef en groei! Soos plante in die veld het Ek jou gemaak. Jy het gegroei, grootgeword, die mooiste juweel geword. Jou twee borste het ferm geword, jy het skaamhare gekry. Maar jy was ontbloot en nakend. Ek het weer by jou verbygegaan, jou raakgesien, en kyk, jou tyd vir die liefdespel het aangebreek! Ek het die soom van my kleed oor jou gesprei, jou naaktheid bedek. Ek het vir jou ‘n eed afgelê, My in ‘n verbond met jou begewe, is die uitspraak van my Heer, die Here: en jy het Myne geword. Ek het jou met water gewas, jou bloed afgespoel en jou met olie ingevryf. Hoe kan jy so ʼn liefde net in die wind slaan. Hoe kan jy dit verlaat om liefde te soek by diegene wat geen liefde het nie? Het Christus se kruisdood enige inpak in jou lewe? Het jy Hom lief met jou hele hart en siel en verstand? Hoekom hunker jy na dit wat nooit kan bevredig en nooit jou dors kan les nie? Jeremia 2:13 Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap – gebarste opgaarputte wat nie water hou nie.
Droefheid tot bekering
In die laaste gedeelte van hierdie hoofstuk spreek Miga ook die mense van sy geboorte dorp aan. Die profeet skroom nie om ook in sy geboortedorp die waarheid van God se oordeel te verkondig nie. God se Woord trek niemand voor of verskoon niemand nie. Handelinge 10:34-35 Petrus het toe begin praat en gesê: Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. Ons moet altyd bereid wees om mense te waarsku al is dit familie of vriende wat ons moontlik kan verwerp. Niemand gaan vrykom van God se oordeel, omdat hulle iemand ken of familie van ʼn gelowige is nie. Elke persoon sal verantwoordelikheid doen voor God vir haar/sy eie lewe. Hierdie volk gaan ween en in sak en as wees a.g.v. God se straf op hulle sonde. Dit is baie keer tragies om te sien hoe maklik mense ween oor die gevolge van hulle sonde en nie oor die sonde self nie. Is die sonde teen God dit wat jou hart breek? Is dit die feit dat jou sonde Hom vasgenael het aan die kruis dit wat jou in sak en as voor God laat stelling inneem? Daar is ʼn droefheid wat tot bekering is en ʼn wêreldse droefheid. 2Korintiers 7:10 Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. Judas die verraaier is ʼn voorbeeld van die wêreldse droefheid. Sy droefheid lei hom na ʼn boom waar hy homself gaan ophang om vry te kom van sy gewete en die gevolge van sy sonde. Mattheus 27:3-5 Toe Judas, sy verraaier, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry. Hy het toe die dertig silwerstukke na die leierpriesters en familiehoofde teruggeneem en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Hulle het egter gesê: Wat het dit met ons te doen? Jy moet maar self toesien. Hy het toe die silwerstukke in die tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang. Teenoor hom staan die sonde belydenis van Dawid na die owerspel van Batseba en sy moord op Uria. Psalm 51:4 Was my heeltemal skoon van my sondeskuld en reinig my van my sonde want ek is deeglik bewus van my oortredings en my sonde is voortdurend voor my. Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel. Sy groot vrees in vers 13 is dat God hom uit sy teenwoordigheid sal dryf en die Heilige Gees van hom weg geneem sal word.(Lees gerus die hele Psalm 51).
Slot
Dalk voel jy op hierdie stadium dat God net die heeltyd veroordeel en straf. Elke klein profeet wat ons tot dusver behandel het is vol waarskuwings oor sonde. “Sonde, sonde, sonde, straf, straf, straf!” word die refrein. Waar is die liefde, die genade en die vergifnis? Dit is opgesluit in die waarskuwings en die straf en word volkome in die kruisdood van Jesus Christus. God haat sonde. Hy is regverdig en moet sonde straf. Hy is lief vir jou en waarsku jou deur Sy profete dat straf ‘n direkte uitvloeisel is van Sy regverdigheid en toorn. En dan kom Sy genade tot sy uitverkorenes in die offer van Jesus aan die kruis en vind ons vergifnis as ons droefheid ons lei na die kruis. Mag jy in Hom jou vergifnis en troos vind en mag sy liefde jou uitstuur om ander in liefde te waarsku en in dankbaarheid jou lewe in te rig volgens Sy woord.
