Inleiding
Daar is baie vrae aangaande God. Sommige is vrae deur mense wat opreg na God se antwoorde soek en ander is meer in die vorm van ‘n aanklag, amper asof die blote vraag God dood verklaar. Ons ken almal hierdie vrae: “Waar is God wanneer soveel korrupsie, moord en onreg gepleeg word? Kyk hoe lyk die wêreld!? Hoe kan God ‘n regverdige God wees indien ons al die ellende rondom ons in oënskou neem?” Hierdie is nie nuut tot vandag nie en ons vind dit by die Psalmdigter in Psalm 10. Psalm 10:5-6 Sy paaie is altyd voorspoedig. U beslissings is ver buite sy gesigsveld. Hy minag al sy teenstanders. Hy sê in sy hart: Ek sal nie struikel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie teenspoed sal ervaar nie. Hierdie is nie werklik vrae nie, maar verwyte. Verwyte wat elke kind van die Here al moes aanhoor en dalk self ook geopper het. Ons voel dikwels onbevoeg om hierdie tipe vrae te beantwoord en voel ons moet God verdedig met slim redenasies en antwoorde. In hierdie hoofstuk antwoord God self. Die regverdige sal leef en die goddelose sal gestraf word. Hy sluit dan ook die hoofstuk af deur te verklaar dat Hy alleen God is en die mens in Sy teenwoordigheid moet stil wees! Ons hoef nie God te verdedig nie.
Word stil en luister
Die profeet sê in vers 1 van hoofstuk twee dat hy wil ophou om na dinge te kyk soos mense daarna kyk. Hy wil bokant die gedruis uitstyg, hom afsonder in ‘n wagtoring, om agter te kom wat die rede en God se bedoelings met alles is. Hy wil homself fyn instel op God se woorde en aandagtig na God luister wanneer God hom sal antwoord op al sy vrae. Die Kerk het ook nodig om te luister na God en nie na die opinies van mense en leiers en politici nie. Ons luister na wat God dink van ons samelewing, hoe God wil hê dat ons moet leef en wat ons uitkyk op die wêreld moet wees. Net ʼn dwaas oordeel volgens sy eie verstaan van wat aangaan, die wyse is hy/sy wat diep inkyk in die Woord van God en sy antwoorde by God vind. Spreuke 3:5 Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Elke gelowige sal sy vreugde en vrede verloor as hulle nie hulle siel rustig maak in God se Woord nie. Ons hoop is in Hom. Psalm 43:5 Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom, my God, weer dank vir die verlossing wat Hy, my God, deur sy teenwoordigheid bring. Ons vind gereeld vir Jesus waar hy die apostels verlaat om alleen met Sy Vader te wees. Die aand voor sy kruisiging is hy weer in die tuin van Getsemane, op ʼn afstand van drie van sy apostels, en bid Hy tot Sy Vader dat sy sweet soos bloed druppels word. Lukas 22:44 Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. Hy kon sy hart voor sy Vader uitstort en dan die wêreld ingaan, wetende dat wat Sy Vader vir Hom bestem het, ook Sy enigste begeerte was. As ons Verlosser, God self, so met sy Vader alleen moes kom, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie. Vind ‘n plek, weg van die gedruis, ‘n wagtoring, waar jy alleen kan wees en kan stil raak met God se Woord.
God antwoord openlik
Die profeet ontvang ʼn antwoord van God. Die gesig wat God aan Hom sou gee moes opgeskryf word op tafels en so groot geskryf word dat almal wat verby sou gaan dit sou kon lees. Die boodskap moet uitgaan en almal moet dit hoor. Dit hang nie af of mense daarop sal ag slaan of nie, die taak is duidelik dat die boodskap van God aan almal sigbaar gebring moet word. God se opdrag aan Esegiël was soortgelyk. Esegiël 2:5 En hulle, of hulle nou luister of verseg om te luister – want hulle is die rebelse huis – hulle sal besef dat daar ‘n profeet onder hulle was. Alles wat God belowe het sal gebeur net soos dit in Sy Woord opgeteken is. Wag daarop want dit sal verseker kom. Luister hoe beskryf die Psalmdigter sy lewe: “Ek wag op die Here my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop. My hele wese wag op my Heer, meer as wagte op die môre, ja, wagte op die môre”. Psalm 130:5-6. Daarom se dit Profeet dat die gelowige se lewe gekenmerk word deur ʼn lewe in geloof. Hierdie frase word ook deur Paulus aangehaal in Romeine 1:17 nadat hy dit aan die gemeente in Rome duidelik stel dat hy hom nie skaam vir die evangelie van Christus nie, want dit is die krag van God tot redding. Die aanhaling pas so duidelik by die beeld in Habakuk waar hy God se antwoord, in groot letters, skaamteloos en duidelik, op die tafels moes skryf. Is jy skaam vir God se Woord? Is jy bang wat ander sal dink of sê as jy Sy Woord verkondig?
Straf vir die goddelose
Vanaf vers 5 kom God se antwoord aangaande die koning van Babilon en sy mense. Dit geld natuurlik vir elkeen wat hom/haar skuldig maak aan soortgelyke praktyke. Hy is soos ʼn besope man wat links en regs slinger en oral waar hy gaan neem hy nog meer lande en volke in besit. Dit lyk of hy kan doen net wat sy hart begeer en dat daar geen verantwoording vir hom is nie. Hy is vol hoogmoed en dink dat hy onaantasbaar is. Tog sal daar ʼn dag van afrekening kom. Uit die geskiedenis leer ons dat Babilon ingeval word in ‘n nag waarop sy bevolking in ʼn besope toestand verkeer en geen weerstand kan bied nie. Hierdie nag word in Daniël bespreek as hy voor die koning verskyn om uitleg te lewer oor ‘n boodskap wat deur ʼn vinger teen die muur geskrywe is. Daniel 5:25-28 Dit is dan die skrif wat geskryf is: Mene, mene, tekel ufarsin. Dít is die uitleg van die woorde: Mene – God het die jare van u koningskap getel en dit beëindig. Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. Peres – u koninkryk is verdeel en is aan die Mede en Perse gegee.
God waarsku deur Habakuk wat die dinge is wat die skaal tot die mense se nadeel sal tilt. Hoogmoed, geldgierigheid, oneerlikheid, geknoei, moord, onsedelikheid, dronkenskap, geweld teenoor mens en dier – al hierdie dinge is maar simptome van die grootste sonde, nl. dat jy God nie erken as die ware heerser en bron van alles nie. God sal sulke mense en heersers tot niet maak.
Die ware Koninkryk
Die Kerk van die Here kan na enige en alle regeerders en regerings kyk en weet dat daar ʼn dag van oordeel sal kom. God sal van elke regeerder en individu rekenskap eis. Daarom, vir die gelowige wat in geloof lewe, is daar geen vrees in hierdie wêreld vir enige mens of regering nie. God maak dit verder duidelik dat die hooghartige mens, met al sy smagting na besit, hom afsloof vir dit wat van geen waarde is nie en leeg sal laat bly. Jesus vertel ʼn gelykenis waarin hierdie gedagte mooi geïllustreer word. Dit is van ʼn bestuurder wat sy eienaar verkul en homself verryk met die eienaar se besittings. As hy dan uitgevang word gebruik hy sy dienstyd wat oor is om, met die eienaar se geld, vir hom vriende bymekaar te maak wat hom sou versorg wanneer hy afgedank word. Hierteenoor roep Jesus sy volgelinge op om geld te gebruik vir God se koninkryk, sodat mense vir Hom gewen kan word. Ons gebruik dus ons besittings, wat eintlik God s’n is, sodat ons eendag deur die mense wat daardeur vir God bereik word, in hul ewige tente ontvang word. Lukas 16:9 Ek sê vir julle, Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot ‘n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.
Afgode
Die grootste probleem met die mense van Habakuk se tyd en deur die Ou Testament was dat mense God vergelyk het met die gode wat hulle aanbid het. God beskou hulle as dwase wat vir hulle gode maak wat geen lewe in hulle het nie. Jesaja verwys na hierdie mense en openbaar hul dwaasheid as God hulle daarop wys dat hulle ʼn stomp vat en daaruit vuurhout sowel as ʼn afgod maak. Jesaja 44:16-17 Die helfte daarvan verbrand hy in ‘n vuur; op hierdie helfte is vleis wat hy kan eet; hy braai dit en word versadig. Hy maak hom ook warm en sê, A! Ek word warm; ek sien die gloed van ‘n vuur! En die res daarvan verwerk hy tot ‘n god, tot sy afgodsbeeld. Hy kniel daarvoor neer, buig daarvoor in aanbidding, aanbid dit en sê, Red my, want u is my god! Jy as moderne mens lag heel moontlik hiervoor, maar ons doen nogsteeds dieselfde. Vandag maak ons met katoen en linne klere en geld. Geld wat ons aanbid asof ons lewens daarvan afhang. Is ons soveel beter as die “antieke” mens? Calvyn was reg toe hy gesê het dat die hart van die mens ʼn afgodsfabriek is. God is ‘n jaloerse God en waarsku, dat ellende wag vir elkeen wat Hom nie as die enigste ware God erken en aanbid nie.
Slot
God is soewerein en in beheer van alles. Elke individu sal sy/haar knie voor hom moet buig en erken dat Hy die Here is. Hy lig sy volk in dat Hy in sy heilige tempel is. Hy praat hier met sy volk wat Hy oproep om na Hom toe terug te keer. Dit is asof God sy volk inlig dat Hy nogsteeds op dieselfde plek is wat Hy nog altyd was. Dit is nie dat Hy hulle verlaat het nie, maar eerder dat hulle Hom verlaat het en hulle vertroue in ander dinge geplaas het. Al die vrae oor “hoekom” en “waarom” en “waar is God”, is maar net skynheilige verwyte van mense wat God verlaat het. Hy is en bly dieselfde: gister, vandag en môre. Indien dit vir jou voel of God ver is, of asof daar ‘n muur tussen jou en Hom is, is die nie omdat Hy verander het nie, maar omdat jy verander het en jou eerste liefde verlaat het. Hoe belangrik is dit nie vir ons om te onthou dat God te vinde is vir elke persoon wat hulle opregte toevlug na Hom toe neem nie! Keer terug en swyg voor Hom. Luister, sodat Hy deur sy Woord tot jou spreek en hou op met jou eie insigte en jou eie idees.
