Inleiding
Habakuk begin om ʼn pleidooi voor God te lewer. Die Jode het God verlaat en is besig om goddeloos te handel en as gevolg hiervan is daar ʼn wetteloosheid in die land. Sy denke is soos volg: as God mense straf in ooreenstemming met hulle oortredings sal ander vrees en ophou met hulle sonde. Verder sal mense ook regverdig wil lewe as dit goed gaan met die regverdige, maar nou is die regverdige omring deur, of te wel, te midde van die goddelose en die regverdige ly skade. Dit is baie keer hoe ons ook redeneer. As mense net onmiddellik in hulle sonde gestraf word, sal hulle ophou met sondig en as God die regverdige seën sal ander ook soos hulle wil leef en sal die wêreld hulle tot God bekeer.
God waarsku
Hierop is God se antwoord dat Hy beslis sy volk sal straf vir hulle sonde. Twee keer roep die profeet dat die volk moet opmerk en oplet en dat hulle verwonderd en verstom moet wees. Hierdie waarskuwing wat God deur sy profeet stuur, word ook deur Paulus aangehaal as hy die Jode van sy dag waarsku oor wat oor hulle sou kom. Handelinge 13:40 “Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie: Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie.” God het die profete gebruik as onderwysers om die volk te leer en te reg te wys en tog het hulle nooit ag op God se Woord geslaan nie. Nou sou Hy die Babiloniërs gebruik as hul onderwysers. God maak dit deur Habakuk duidelik dat Hy hulle sal straf deur die Babiloniërs. Hy het male sonder tal die volk, deur sy profete, gewaarsku dat Hy hulle sou straf, maar hulle het gedink dat dit fabels is en dat dit nooit sou gebeur nie. Die feit dat hulle nie onmiddellik gestraf word nie, sien hulle nie as God se genade nie, maar as swakheid. Dieselfde waarskuwing gaan vandag uit tot elke mens. Baie ignoreer dit as sprokies of lag dit af as die gebrabbel van mal mense. Baie hoor dit en dink dat hulle aan die waarskuwings gehoor sal gee op hul terme, wanneer hulle hul lewens klaar “geniet” het. Hulle “geniet” van die wêreld is egter oppervlakkig en leeg. Die oordeel is ‘n realiteit of jy nou daarin glo of nie.
God is geduldig
God se genade is groot en Hy is geduldig. Hy wou hê dat Sy volk hulle moes bekeer. In 2 Petrus herinner Petrus die kerk aan dieselfde gedagte. Hy herinner hulle daaraan dat God aan die mense van Noag se tyd belowe het, dat Hy die wêreld sou uitwis deur ʼn vloed en dat dit alles gebeur het net soos Hy belowe het. In hulle geval was God ongeveer 120 jaar geduldig voor Hy sy belofte in vervulling gebring het. Net so belowe God in hierdie tyd “maar die huidige hemele en die aarde word deur dieselfde woord vir vuur opsy gesit; dit word bewaar vir die oordeelsdag en die vernietiging van die goddeloses.” 2Petrus 3:7. Die rede hoekom God uitstel en lank wag om te straf is omdat Hy wil hê dat sy uitverkorenes hulle moet bekeer. In hierdie vers praat Petrus met die Kerk met ʼn hoofletter as hy sê “Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2Petrus 3:9. Petrus, deur die Heilige Geesse inspirasie, skryf duidelik dat die groep waarmee Hy geduldig is, die aanhoorders van die evangelie, m.a.w. die Kerk, is. Hy is dus nie besig om van alle mense van die wêreld te praat nie, anders sou die gedeelte gewees het: Hy is geduldig met almal. Net so was God se oproep aan Sy volk en was Hy geduldig met hulle, omdat Hy wou hê dat hulle tot inkeer moet kom. Numeri 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? Dit is altyd die verskil tussen hoe God sy kinders en sy volk tug teenoor hoe Hy die wêreld straf. Tug is tot inkeer en straf is tot totale vernietiging.
Bevraagteken God
Habakuk kla dan ‘n tweede keer teenoor God. Die eerste klagte is oor hoekom God nie onmiddellik die goddeloses straf en dit laat goed gaan met die regverdiges nie. Hierdie keer kla hy omdat God ʼn volk gebruik wat nog slegter as die Jode is om die Jode mee te straf. Hy verstaan dat God hulle as ʼn tugroede bestel het, maar hoekom ʼn volk wat nog meer goddeloos is as hulle? Hy maak ʼn oproep tot God, op grond van God se reinheid en omdat Hy ʼn God is wat onreg nie kan verdra nie, om op te tree in ooreenstemming met wie Hy is. Volgens die profeet sou God nie reg laat geskied as Hy een wat slegter is gebruik om die volk te straf vir sy sonde nie. Die argument is duidelik en klink vir ons legitiem. Tog moes Habakuk, net soos ons, besef dat hy nie God se planne op ‘n menslike manier kan verstaan, mag bevraagteken of beoordeel nie. Jesaja 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. Die profeet se argument is verder dat as God die Babiloniese koning toelaat om so teen die volk op te tree, hulle sal voortgaan en net nog meer goddeloos word. Hulle sal die hele skepping behandel asof hulle alleen daaroor heers en dink dat hulle nie verantwoording aan enige iemand hoef te doen nie. Nadat hy almal verwoes het, sal hy vrolik wees en juig oor sy oorwinning en hy sal die eer vir sy oorwinning aan sy afgode gee. Kan jy die profeet se argument verstaan? “Here hierdie vyande sal nie eers aan U die eer gee vir hulle oorwinning nie. Nee, hulle afgode sal al die eer kry.” Verder is sy vraag of God dan hierdie volk net so sal laat voortgaan, sonder dat daar verantwoording van hulle geëis word. Hierdie argument is net so dikwels in ons gedagtes. Here hoekom kan “slegte” mense “goeie” mense te na kom en daarmee wegkom!?
God eis verantwoording
Dit is baie duidelik deur die Skrif dat God goddelose nasies gebruik om ander te straf en dat Hy dan weer van hulle verantwoording vra en hulle straf vir hulle goddeloosheid. Hiervan is die bekende gedeelte in Jesaja 10 ʼn voorbeeld as God die Assiriërs gebruik as die stok in sy hand en dan weer van hulle verantwoording eis aangaande hulle dade. Jesaja 10:5-6 “Wee Assur! die roede van my toorn en ‘n stok is hy—in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ‘n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ‘n vertrapping te maak soos modder van die strate.” Al is ʼn volk meer goddeloos as ‘n ander, kan God nogsteeds in Sy almag hulle gebruik om sy wil uit te voer. Hulle doen dit nie om Hom te eer nie, maar a.g.v. hulle eie slegte begeertes. Dit is belangrik om te let daarop dat God nie regverdige mense verander om nou slegte dinge te doen nie. Hulle is alreeds sleg. God wys verder vir Jesaja dat Hy ten volle bewus is dat die volke wat Hy gebruik dit doen vir hulle eie eer. Jesaja 10:7 Maar hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.
Slot
God is genadig en geduldig. Hy is liefdevol en lankmoedig (raak nie vinnig kwaad nie.) Hy is egter nie ‘n mens dat ons Hom kan verstaan nie. Sy wil en Sy plan is reg, al dink jy dalk jy het ‘n beter plan vir die mensdom en al die goddeloosheid. God doen alles in geregtigheid en Hy sondig nooit nie. Die gelowige moet vertrou dat al verstaan ons nie elke dag God se plan in ons lewens en in die wêreld nie, God in beheer is en dat Hy alles, vir ons as Sy kinders, sal laat meewerk ten goede. Romeine 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Ons grootste probleem is dat ons kortsigtig is en ons oë rig op die tydelike en fisiese uitkoms van sake eerder as op die ewige en geestelike einddoel.
