Inleiding
In Sefanja 3 word van twee groepe mense vertel. Diegene wat God nie gevrees het nie en diegene wat in nederigheid en in ootmoed op Hom vertrou het. Wanneer mense God nie vrees nie, is hulle blind vir sy straf en verhard hulle hulle teen enige vorm van teregwysing. God het hierdie ligsinnige mense gestraf, hy het volke uitgeroei en stede verwoes en nog steeds het hulle voortgegaan om Hom te minag. Hulle sal verseker onder sy toorn verwoes word. God vertel egter ook van diegene wat Hom sal dien en hoe Hy oor hulle voel. Dit is ʼn boodskap van hoop en liefde. Die wonderlike liefde van ʼn Vader wat sy kinders uitgekies en gered het. ‘n Boodskap waarin elke kind van die Here kan rus en uit dankbaarheid lofliedere kan sing.
Leiers
Die Woord van God is baie duidelik daaroor dat iemand wat ʼn geestelike leier is erger geoordeel gaan word, omdat hulle veronderstel is om van beter te weet en omdat hulle mense mislei. Sefanja vertel dat dit die profete en die priesters is wat in stryd met God se Woord lewe. Die profete is ligsinnig. Alles word ligtelik opgeneem aangaande God se Woord. Niks is vir hulle ernstig nie. Profete en leiers wat so optree wys deur hulle gedrag dat hulle geen vrees vir God het nie en daarom geen wysheid het nie. Psalm 111:10 “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid.” Iemand wat God nie vrees en vir sy Woord nie ontsag het nie is ʼn dwaas. Dit is hulle van wie Jesus in die gelykenis vertel wat hulle huise op sand bou en as die storms kom word hulle huise vernietig. Die priester van die volk het ook geen ontsag vir die wet van God nie en God sê hulle verkrag sy wet. Hulle draai sy Woord om sodoende mense se ore te streel. Hierdie afvalligheid is aan die orde van die dag. Paulus vertel dat hierdie mense wat so leef, deel uitmaak van die tekens van die laaste dae. Die ergste is dat die mense vandag hierdie tipe “geestelike” leiers rondom hulle versamel. 2Timotheus 4:3-4 “Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend.” Mense wie se lewens nie reg is met God nie wil graag die valsheid aanhoor. Hulle geniet dit om na predikante en pastore te luister wat hulle goed laat voel aangaande hulle sonde. Jeremia 5:31 “Die profete profeteer leuens, en die priesters skraap hande vol bymekaar. En my volk hou daarvan so! Wat meer sal julle nog doen? “
God regverdig
Terwyl al hierdie dinge gebeur in die stad is God nog steeds besig om te doen wat reg is. Hoe wonderlik dat, ongeag hoe boos die wêreld ook al mag wees, God nog steeds sy reg laat deurbreek soos ʼn lig en die duisternis sal laat vlug. Niemand sal ooit ʼn verskoning hê dat hy/sy nie geweet het nie. Ten spyte van God se lig wat elke dag helder skyn sê Sefanja dat die kwaaddoener geen skaamte het nie en dat hulle net voortgaan met hulle sondes. Daarom sal God sy wraak uitoefen op die aardbewoners wat in hulle sondes volhard en sal hulle einde met vuur wees. Jesaja 66:24 “Hulle sal dan uit die stad gaan en die lyke sien van die mense wat teen My oortree het, want die wurms op hulle sal nie sterf nie, en die vuur om hulle sal nie uitbrand nie. Hulle sal afskuwelik wees vir alle mense.” Dit is die plek waarvan Jesus sy volgelinge waarsku, as hy aan hulle meedeel dat dit beter is om ʼn ledemaat af te kap as om in hierdie plek van straf vir ewig te verkeer. Markus 9:48 “…waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie.”
God bring herstel
In die tweede gedeelte van hierdie hoofstuk vind ons dat God die herstel sal bring. Die verhaal is oral in God se Woord, die mens sondig en God tree op en bring mense terug. God bring herstel. Dit is soos die Psalmdigter sê: … “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” Psalm127:1. Niks kan gebeur as dit nie van God af kom nie. Niemand sal na God toe kom as dit nie God is wat die persoon trek nie. Jesus se volgelinge het hierdie boodskap so gehaat dat hulle Hom na hierdie woorde verlaat het. Johannes 6:65 “Verder het Hy gesê: Daarom het Ek vir julle gesê: ‘Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.’” God sal mense bring uit alle volke om Hom te dien. Hierdie mense sal kom selfs van lande soos Kus. Kus was deel van die nageslag van Gam, die vervloekte seun van Noag, volgens die vloek sou hy ʼn “kneg van knegte wees vir sy broers.” Genesis 9:26. Tog gaan daar selfs vir hierdie vervloekte kinders herstel kom. Net so sal daar ook herstel kom vir Israel en hulle sal nie meer skaam wees aangaande hulle sondes nie. Hierdie herstel is egter nie vir die hele Israel nie, maar dit is duidelik dat daar net ʼn klein groepie sal oorbly wat God sal volg en aan Hom gehoorsaam sal wees.
In Christus, deur Christus
Hierdie herstel is dan ook ʼn vooruitskouing van dit wat sou gebeur met die koms van Jesus Christus. In Hom sal mense uit elke volk en taal en nasie redding vind, redding wat deur Hom moontlik gemaak is. Hulle is diegene wie se lewens herstel sal word en waarvan daar getuig sal word dat hulle heilige lewens lei. Nog ʼn eienskap van hierdie mense is dat hulle niks sal vrees nie. Gelowiges is diegene wat bely dat alles in God se hande is en dat geen mens enige iets aan hom/haar kan doen as God dit nie toelaat nie. Ons is nie uitgelewer aan mense of omstandighede nie. Nee, ons is meer as oorwinnaars wat glo dat niks ons kan skei van die liefde van Christus nie. Romeine 8:38-39 “Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”
God se kinders moet jubel aangesien ons sondes vergewe is en ons verlede uitgewis is. Hoe bevoorreg is ons as gelowiges nie? Psalm 103:12 “So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons.” Net dit alleen moet ons met vreugde vul die res van ons lewens en tog is dit nie al wat God doen nie. Kan dit waar wees dat God hom verheug oor ons met blydskap en juig oor ons met gejubel? Die Hebreeus vertel ons van ʼn God wie se liefde in homself so groot vir ons is, dat Hy daarin stil word. In Hooglied vertel God aan Sy bruid, die Kerk hoe lief Hy haar het. Hooglied 4:9 “Jy het my hart gesteel, my suster, my bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë, met een kettinkie van jou halssnoer.” Dit is die liefde waarvan Christus in sy gebed in Getsemane getuig. Johannes 17:23 “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het.” God het Sy kinders net so lief. Dit is ʼn liefde wat jou stilmaak as jy daaraan dink. Dit is net so ver hoër as wat jou denke jou kan neem. Net die Heilige Gees wat in ons woon kan hierdie liefde aan ons openbaar. Efesiërs 3:16-19 “Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is, sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.” Elke dag, deur die werking van die Heilige Gees, groei die gelowige in die bewuswording van hierdie liefde.
Israel
Net soos God elke dag besig is om diegene wat aan die Vader behoort in sy koninkryk in te bring deur Christus met die werking van die Heilige Gees, sal daar ʼn tyd aanbreek vir die herstel van die volk Israel, soos wat God aan hulle, sy geliefdes, ook belowe het. Hierdie groep, soos ons alreeds in die blog van Sagaria gesê het, sal net ʼn klein oorblyfsel van Israel wees nadat twee derdes van hulle uitgewis sal word. Ook in Romeine 11 word van hierdie groep Jode vertel wat Christus sal ontdek en in Hom gered sal word. Dit is belangrik om daarop klem te lê dat hierdie oorblyfsel ook in Christus gered sal word en nie op grond van hulle Joodse gebruike nie. Christus alleen is die weg en die waarheid en die lewe en niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie. Johannes 14:6 “Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Christus is die goeie herder wat die gewonde skaap gaan soek en terug bring. Dit sal ʼn dag van gejuig en vreugde wees as die verlore skaap op die skouers van Christus terug gedra sal word. Elke gelowige kan met hierdie metafoor identifiseer. In 1Petrus word dit so mooi uitgebeeld. 1Petrus 2:24-25 “wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding julle genees is. Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele.”
Slot
Wêreldse leiers en kerk leiers wat God nie vrees nie, mislei mense wat mislei wil word en wil vashou aan hul sonde en ongehoorsaamheid. Hulle sien nie God se straf raak nie en daarmee erken hulle Hom nie as die outeur van alle dinge nie. Die absolute morele verval en die gevolglike ellende in die wêreld is hiervan ʼn voorbeeld. God bly egter getrou en Sy beslissings is regverdig. Hy berei steeds vir Hom ʼn volk uit elke taal en volk en nasie. ‘n Volk vir wie Hy lief is en waarvoor Hy sy Seun gegee het om hulle te koop. Hy gee ook Sy Gees om hulle van sy liefde bewus te maak en hulle te seël as sy kinders. Hy is ons Vader en ons is sy geliefde kinders. Daarin kan ons stil word en weet, Hy is die Here.
