Inleiding
In hoofstuk 2 gaan Sefanja voort om die straf van die Here aantekondig teenoor diegene wat Hom nie erken het nie. Dit is vas en seker en toon aan dat God in beheer van die wêreld is. Sy almag word hier getoon wanneer hy afreken met diegene wat dink dat hulle sonder Hom kan leef. Die hele wêreld sal deurloop onder God se straf as ons sien hoe God gebiede na die Weste, Ooste, Suide en Noorde van Juda straf. God vereis onverdeelde liefde en trou.
“Ruk julle reg”
Die oproep gaan uit vir Juda om hulle tot God te bekeer. Hulle word deur God beskryf as ʼn nasie wat nie skaam word nie. Hulle klink eerder soos Sodom en Gomorra as die volk van God. Weet ons nog wat skaamte is? Om jou kop te laat hang, omdat jou optrede jou ontbloot as ‘n swak en ellendige mens. Nee, in die wêreld vandag basuin mense hul swakhede en sondes uit as ‘n aantyging teen die samelewing. Mense is slagoffers van omstandighede en gebruik hul sondes amper as “bevoegdhede” om deur ander erken en raakgesien te word. Ook die kerk word nie meer skaam vir ons sondes nie. Nee, ons het eerder ʼn legioen verskonings waarom ons sondes nie so erg soos ander se sondes is nie. Die kerk is net so ʼn paar meter agter die wêreld in haar moraliteit. Net soos in die tyd van Jeremia wil kerkleiers nie meer mense se sonde aanspreek nie, maar verklaar “Alles is reg! Alles is reg!” as goedkoop raad vir die wêreld wat sonder Christus in hul sonde verlore gaan. Dit terwyl God verklaar dat Hy hulle sal straf vir hul goddeloosheid. Jeremia 6:14 -15 Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op ‘n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ Maar daar is geen vrede nie. Staan hulle beskaamd omdat hulle afstootlik opgetree het? Hulle skaam hulle hoegenaamd nie, ken selfs geen skaamte nie. Daarom sal hulle val onder die gesneuweldes; in die tyd wanneer Ek hulle tot verantwoording roep, sal hulle tot ‘n val kom, het die Here gesê. Ons kyk na die wêreld en ons stel onsself gerus dat ons nie so sleg soos “hulle” is nie. Daarom hou ons so van skinder, want daar is altyd iemand wat my laat beter voel oor myself en waar ek myself bevind. Selfs diegene wat werklik vir die Here wil leef loop deur, want ons het nodig om hulle af te bring sodat hul lewe my nie so aankla nie.
Die enigste standaard waarteen ons egter ons lewens moet meet is die Woord van God. Sonde beteken in die Hebreeus en die Grieks om “die teiken te mis.” Om te mis waarvoor jy geskep is. As ons weer terug kan dink aan die belydenisskrifte waar gevra word wat die mense se skeppingsdoel is. Die antwoord is om God te verheerlik en Hom te geniet. Hiermee word dit duidelik hoekom ons die teiken mis. Die enigste ware vreugde word gevind in gehoorsaamheid aan God se Woord. Deur die Skrif roep die profete manne en vroue op om terug te keer na God. Johannes die Doper se eerste woorde is: “Bekeer julle” en net so is Jesus se eerste woorde ook. Mattheus 4:17 Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande.”
Wanneer iemand die woord: “Ruk jou reg” gebruik kry mens amper die indruk van iemand wat in ‘n beswyming is en moet wakker skrik. Iemand wat van beter weet, maar so half voortploeter. “Ruk jou reg” is die woorde van ‘n ouer aan ‘n halstarrige tiener wat dom onnosel die verkeerde dinge doen of wat lui is, te laat slaap, te veel eet of drink, terwyl hulle weet wat die uiteinde daarvan gaan wees. “Ruk jou reg” is die woorde van Sefanja aan ‘n volk om te besef dat hulle onder God se wraak wandel en verseker deur Hom gestraf gaan word. “Ruk jou reg” is ook God se woorde aan jou om die uiteinde van jou sonde te besef en jouself te bekeer terwyl jy nog in die genade tyd leef.
Goddelike tug
Nadat God die volk waarsku dat Hy hulle gaan straf gee Hy hulle geleentheid om hulle te bekeer. Nadat Hy hulle in vers 1 oproep om hulle te bekeer word hulle weereens gewaarsku dat God se toorn oor hulle sal kom. Daar is elke keer by God die verlange dat Sy volk op Hom sal ag slaan. Dit is nog steeds die versugting van God teenoor Sy kinders. Hy het Sy kinders lief en daarom sal Hy nie toelaat dat hulle in hulle sonde bly voort leef nie. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem. Dit is ʼn sekerheid vir elke gelowige dat God jou in liefde sal tug. Iemand wat dus bely dat hy/sy ʼn gelowige is, maar volhard in sonde en nie getug word nie, kan nie ʼn kind van God wees nie.
In die Ou Testament het God ʼn volk uitgekies waarop Hy sy liefde uitgestort het. Tog leer die Bybel ons dat binne daardie volk net ʼn gedeelte (‘n oorblyfsel) is wat aan Hom behoort. Romeine 11:5 Net so is daar ook in die huidige tyd ‘n oorblyfsel, deur genade uitgekies. U kan gerus Romeine 9-11 lees. In die Nuwe verbond is dit anders en hier vind ons dat Hy sy liefde uitstort op ʼn groep wat Hy in sy liefde uitverkies het voor die grondlegging van die aarde. Hierdie groep is die groep wat die Vader aan die Seun gegee het, vir wie die Seun sy lewe gegee het en wat in der ewigheid nooit verlore sal gaan nie. Dus sal hierdie groep getug word, sodat hulle nie verlore sal gaan soos die res van die wêreld nie. 1Korientiers 11:32 As ons deur die Here geoordeel word, word ons gedissiplineer, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom vind ons dat die profeet nou begin praat met hierdie oorblyfsel, ʼn klein groepie binne Juda om te doen wat reg is. Hulle is die nederiges van die land. Diegene waarvan Jesus in die bergpredikasie praat wat “sagmoedig” is. Hulle wat hulle knieë buig voor God. Elke kind van die Here moet elke dag soek na geregtigheid. Om elke dag te soek om volgens die verordeninge van God te leef en gehoorsaam te wees aan sy opdragte. Psalm22:27 Die verdruktes kan dan eet en versadig word; wie Hom raadpleeg, kan die Here loof. Mag julle harte vir altyd leef!
Vertroosting
Vanaf vers 4 gaan die profeet die uitverkorenes, die oorblyfsel, vertroos met die feit dat God se verwoesting net vir ʼn tyd sal wees en dat God dan die heidene en die uitlanders sal straf. Ons kan, soos die oorblyfsels van Israel, so maklik moedeloos raak as God ons tug en vergeet dat dit waarmee God besig is ʼn liefdesdaad is. Die straf wat egter na die vyande van God sal kom, sal nie ʼn straf uit liefde wees nie, maar wel ʼn straf vanuit God se wraak. Die nasies waarvan die profeet eerste praat is nasies wat rondom Israel is, hulle bure. Hierdie vyande van Israel se gebiede sal so verwoes word dat dit ʼn plek sal word waar skape sal wei en plekke sal wees waar krale gebou sal word vir die kleinvee.
Oordeel van die nasies
God het die gespot van die heiden nasies teenoor sy volk gehoor. Die Ammoniete en die Moabiete was van hierdie volke wat die spot met Israel gedryf het. Hulle moes van beter geweet het. Hulle is die nageslag van Lot. Lot se dogters het kinders by hulle pa gehad en die Ammoniete en Moabiete het uit hulle voortgespruit. Hulle is die nasate van ʼn man en dogters wat God uit Sodom en Gomorra gered het en tog het hulle dieselfde pad as Sodom en Gomorra geloop. Nog erger, het hulle die volk wat voortgespruit het uit die Oom van Lot, Abraham, gespot. Ons sou dink dat hulle vir mekaar sou sê dat as God die Jode, wat die geliefdes van die Here is, straf aangaande hulle sondes hoeveel te meer vir hulle. Daarom belowe God hulle dat Hy hulle ook sal vernietig soos Hy Sodom en Gomorra vernietig het, sodat niks van hulle sal oorbly nie. Hoe tragies is dit nie dan mense nie ag slaan op God se waarskuwings nie.
God sal verder ook die magtige Assiriese ryk met hulle hoofstad Nineve uitwis. Hulle was ʼn sterk en magtige ryk wat gedink het dat niemand teen hulle teenstand sal kan bied nie. Hulle was skatryk en het baie ryke oorwin en oorheers en tog sou niks van hulle oorbly nadat God hulle verwoes het nie. Voor hierdie finale vernietiging gekom het, het God alreeds sy almag aan die Assiriërs getoon toe Hy met een engel in een nag meer as 185000 manne verslaan het sodat hulle in skaamte terug moes keer na hulle land. Hulle het Hom egter nie erken nie en wou nie voor Sy almag buig nie.
Slot
Die gelowige moet nooit moedeloos word as God hulle tug rakende hulle sonde of as hulle deur ʼn toets gaan nie. Al hierdie dinge is tydelik en is daar om ons nader aan God te bring deur ons te versterk in ons geestelike lewens. Daar is nog tyd om jou reg te ruk, om jou te bekeer en terug te draai na ‘n liefdevolle Vader, wat met oop arms vir jou wag. Hierdie stryd teen ons vlees en teen die wêreld sal tot ‘n einde kom en ʼn ewigheid sal aanbreek waarin ons vry sal wees van enige pyn en hartseer – vir ewig in God se teenwoordigheid. Daarteenoor sal daar ʼn tyd van ewige straf aanbreek vir die wat aan Hom ongehoorsaam was en in hulle sondes volhard het. 2Tessalonisense 1:4-8 Daarom spog ons op ons beurt onder die gemeentes van God oor julle volharding en geloofsvertroue, te midde van al die vervolging en verdrukking wat julle verduur. Dit is ‘n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly. Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld, en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele, in ‘n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.
