Sefanja 1

Agtergrond

Sefanja was ʼn profeet in die tyd toe Josia koning van Juda was ongeveer 641-610 v.C. Josia volg sy vader en oupa, wat albei goddelose konings was, op. Sy oupa, Manasse, was so goddeloos dat hy selfs van sy seuns deur die vuur laat gaan het in sy aanbidding van afgode. Manasse was die seun van Hiskia, die koning wat nie wou sterf nie en vir wie God nog 15 jaar langer laat leef het. In hierdie 15 jaar raak hy egter totaal van God afvallig en in hierdie goddelose tydperk word Manasse gebore. Tog was Josia anders. Onder sy heerskappy word die tempel herstel en vind hulle die wetboek. Nadat dit aan Josia voorgelees is, skeur hy sy klere uit ontsteltenis, omdat hy besef hoe ver die volk afgedwaal het van dit wat die wet vereis. Hoe wonderlik sal dit wees as individue hulle harte begin skeur uit ontsteltenis omdat hulle so ver tekort skiet aan die standaard van dit wat die Woord hulle leer. In sy tyd vier hulle weer die Pasga soos wat dit laas gevier is in die dae van Samuel. 2Kronieke 35:18 So ‘n Pasga is nie in Israel gevier sedert die tyd van Samuel, die profeet, nie. Van al die konings van Israel het nie een dit gevier soos die Pasga wat Josia, die priesters, die Leviete, die hele Juda en Israel wat daar teenwoordig was, en die inwoners van Jerusalem, gevier het nie. Josia is ʼn klein ligpunt in ʼn anders donker tydperk van Juda. Dit is baie vreemd dat Sefanja se geslagsregister genoem word tot en met Hiskia. Die verduideliking hiervoor wat die meeste sin maak is dat Hiskia verwys na koning Hiskia, dieselfde groot groot oupa van Josia. Dus kom Sefanja ook uit die koninklike lyn. Sefanja se boodskap is ʼn Woord van die Here, nie die opinie van ʼn mens nie. Nee, dit is God wat ʼn boodskap het vir die mense van sy tyd. Die koning en die profeet is op dieselfde bladsy aangaande die begeerte dat die land hervorm moet word.

God kondig sy straf aan

Dit is wonderlik om te sien hoe Josia, ten spyte van ʼn boodskap dat God Juda sou straf en vergeld vir hulle sonde teen Hom, aanhou om die land te hervorm. Hy het ‘n begeerte om te doen wat God behaag en roep die volk op om weer God se opdragte uit te voer. Tog ten spyte van sy leierskap was die meerderheid mense se harte nogsteeds gerig op afgode en om in hulle eie wee te wandel. Dit kan duidelik gesien word in die land se optrede na die dood van Josia. God belowe hulle deur sy profeet, dat Hy alles van hulle sou verwoes. Hy sou mens en dier verwoes soos in die dae van Noag. Al die mense wat behae het in hulle afgode en nie die Here soek en raadpleeg nie, se lewens sal deur God tot ʼn einde gebring word.

Heidense invloede

Die volk het begin om die godsdienste van die heidene met hulle aanbidding van God te vermeng. Sefanja 1:5 Ook diegene wat op die dakke voor die hemelliggame neerbuig; diegene wat neerbuig, wat by die Here ‘n eed sweer én ook by hulle koning ‘n eed sweer. Die woord wat gebruik word vir koning in die Hebreeus is Milkom, wat verwys na die afgod Moleg. Hoe maklik word die Christelike godsdiens nie vermeng met ander godsdienste nie. Van die vroegste tye was dit so. Ons vind die Jode in die woestyn nadat God hulle van slawerny bevry het besig om ʼn goue kalf te aanbid. Aaron noem die afgod: “die gode wat Israel laat optrek het” en dan hou hulle ʼn fees tot eer van die Here. Eksodus 32:4-5 Hy het dit uit hulle hand aanvaar. Toe het hy dit met ‘n stilus vorm gegee en ‘n gegote kalf daarvan gemaak. Hulle sê toe: “Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” Toe Aäron sien wat gebeur, het hy ‘n altaar voor die beeld gebou. Aäron roep toe uit en sê: “Môre is daar ‘n fees vir die Here!”  Vandag vind ons nogsteeds dieselfde. Predikante en pastore wat mense leer mediteer soos die Hindoes in Indië. Ons vind ook dat mense in beswymings gesigte en visioene ervaar wat uit die okkulte hul ontstaan het. Miskien kan jy jouself verontskuldig van hierdie praktyke en tog is jy ook besig met jou eie godsdiens waarin jy die Here dien en ook vashou aan jou eie wêreldse begeertes en sondes. 1Johannes 2:16 want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld.

Ons sien hierdie vermenging ook in mense se gebede, waar hulle dink dat hulle mag en krag besit om duiwels te bind en engele opdragte te gee. Ons glo dat ons lewe kan spreek en krag het om dinge tot stand te bring slegs deur daaroor te praat. Baie van hierdie gedagtes kom uit die New Age beweging waar individue ander probeer breinspoel om sekere dinge te glo en te doen. Hierdie dinge word nog steeds in die naam van Jesus gedoen, maar eintlik is die mens nou in beheer en word die mens as god opgestel. Daarom is die groot gebod dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hele hart, siel en verstand. Hierdie Here, is die Here soos wat Hy homself in die Woord aan ons openbaar en Hy vra jou liefde bo ALLES.

Die Here doen niks

Hoe groot is God vir jou. Is Hy werklik die een wat in beheer van jou lewe is, of is Hy vir jou maar daar êrens in die agtergrond? Paai jy jouself met: “Ten minste glo ek Hy is daar” of soek jy die Here in elke faset van jou lewe en raadpleeg jy Hom aangaande elke besluit? Koning Ahasia was die koning van Samaria. Hy het deur die tralievenster van sy bo-kamer geval en baie siek geword. In plaas daarvan om die Here te raadpleeg gaan soek hy advies van Baal-Sebub, die god van Ekron. God stuur Elisa na Hom met die volgende vraag: …Is dit omdat daar geen God in Israel is nie dat julle op pad is om Baäl-Sebub, die god van Ekron, te raadpleeg? 2Konings 1:3. Waar gaan vind jy jou sekerheid? In wie plaas jy jou hoop? Daar was so baie in die volk wat bely het dat die Here geen goed of kwaad doen nie. Jy kon maar lewe net soos jy wou, jy sou nie beloon of gestraf word nie. God doen mos niks nie! Sefanja kom en maak dit baie duidelik, dat daar ‘n dag sal kom, nl. die dag van die Here, waar diegene wat hul rug op God gedraai het, verwoes sou word. Die Woord is duidelik dat die wat gehoorsaam is aan God se Woord, sy seën sal ervaar en die wat ongehoorsaam is sy vloek sal dra. In Deuteronomium 27 en 28 word die vloek en seën verkondig. Die vloek word uitgebeeld met die berg Ebal en die seën met die berg Gerisim. Die berg Ebal het kaal gelyk in vergelyking met die berg Gerisim en hierdie teenstelling is vandag nog sigbaar. Die nuwe Testament bevestig dat as God in ons lewens is sal daar ʼn fontein van lewe uit ons binneste borrel. Nie net sou die gelowige God se geestelike seën in sy/haar lewe ervaar nie, maar daar sal ook beslis ʼn dag van oordeel plaasvind waar die ongelowige die ewige straf sal binnegaan en die gelowige die ewige heerlikheid.

Word stil

Die volk word opgeroep om stil te raak voor die Here. Is jy altyd bedrywig? Altyd aan die beweeg? Raak jy stil met Sy Woord dat Hy praat en jy, as dienskneg en diensmaagd, net luister? Alles rondom ons wil ons stilte met Hom steel. Om stil te raak is om jou lewe onderdanig aan sy Woord te maak. God laat die volk weet dat Hy nie net gepraat het om hulle bang te maak nie, maar dat Sy oordeel sal plaasvind. Daar gaan ʼn offer aan God wees, waar Hy as priester die lewens van mense sal eis: die vorste en prinse en almal wat geweld en bedrog pleeg. Dalk is jy in jou lewe so bedrywig dat jy jou glad nie aan God steur nie. Net soos die mense in Psalm10:4-5 dink jy God hoor en sien nie dit wat jy doen nie. Psalm10:4-5 Die goddelose sê met sy neus in die lug: “God vra nie rekenskap nie; daar is geen God nie” –

dit is al sy gedagtes. Sy paaie is altyd voorspoedig. U beslissings is ver buite sy gesigsveld. Hy minag al sy teenstanders. Jy is so ingestel op bymekaar maak en besit dat jy bereid is om kompromieë te maak en selfs bedrog te pleeg. Sefanja kondig die dag van God aan. Dit is ‘n sekerheid. Die profeet voorspel dat daar oral in die stad ʼn geraas sal wees, ‘n dag van nood en benoudheid, storms en verwoesting, donkerte en duisternis, angs, blindheid en bloedvergieting. Al jou geld en besittings sal dan waardeloos wees. Die geld en die besittings het vir Juda en Jerusalem niks gebaat nie. Met die inval van die Babiloniërs het hulle alles verloor en kon die geld vir niemand vryheid koop nie. Net so sal dit wees aan die einde as Christus terugkeer. Dit sal ʼn vreesaanjaende dag wees vir die ongelowiges en niks wat jy op aarde bymekaar gemaak het sal jou kan red van die ewige oordeel nie.

Slot

Sefanja kom om die volk en ons te waarsku. God, wat alles gemaak het, is nie ‘n God wat net terugsit en toekyk hoe mense Hom minag nie. Hy kom in sy toorn om diegene wat Hom nie eer nie te vernietig. Hy het die mag om dit te doen en Hy sal dit ook doen. Minag jy God deur Hom nie eerste in jou lewe te plaas nie? Raadpleeg jy ander “gode” voordat jy Hom raadpleeg oor probleme in jou lewe? Begeer jy aardse dinge in plaas van die geestelike seëninge wat daar te vind is in Jesus Christus? Staan jy met jou een voet in die wêreld, met hul New Age mantras van positivisme, of is God jou bron van hoop? Die dag van die Here sal ‘n dag van verskrikking wees vir diegene wat Hom nie dien nie. Wat is die vooruitsig van hierdie dag vir jou?