Inleiding
‘n Profeet is ʼn boodskapper van God vir die tyd waarin hy lewe, maar ook vir die mense van die toekoms. So is die boodskap van Haggai vir elke Jood wat besig was om God se tempel te herbou, maar dit is ook ʼn boodskap vir elke gelowige wat vandag in opdrag van die Here besig is om in Sy koninkryk te werk. Dit is ‘n boodskap van bemoediging, ʼn waarskuwing en hoop vir die toekoms.
Hou moed en werk
As die Israeliete nou na die tempel moes kyk wat sou hulle sien? Hoe lyk die tempel in vergelyking met die vorige tempel wat deur Salomo gebou is? Het God nie deur Esegiël gespreek dat die nuwe tempel wat gebou sou word soveel groter in heerlikheid sou wees as die vorige tempel nie? Agt dae is verby vanaf die eerste boodskap van Haggai. Wat kon hulle moontlik bou in so ʼn kort tyd? Soos daar alreeds in die vorige blog geskryf is, het die mense al begin met die lê van die fondasie en begin bou, maar het opgehou sodat hulle kon fokus op hulle eie huishoudings. Nou is hulle terug en begin weer met die herbouing van die tempel. Tog, terwyl hulle bou, is hulle terdeë daarvan bewus dat hierdie tempel nie naastenby kan vergelyk met die heerlikheid van die vorige tempel nie. Daarom was dit noodsaaklik dat God ʼn boodskap deur sy profeet Haggai stuur om die volk aan te spoor. Hoe maklik word ons nie moedeloos met ons werk in God se koninkryk as ons ons lewens meet aan ander gelowiges of fokus op ons eie tekortkominge nie. Dit is waar dat ons te kortskiet en dat ons nie naby die standaarde van God kom nie. Die duiwel kan hierdie waarheid teen ons gebruik om ons moedeloos te maak. As ons konstant daarop fokus gaan ons nooit besig wees met God se werk nie. In plaas daarvan dat ons besig is om te werk is ons konstant besig met introspeksie. Om jouself te ondersoek en seker te maak dat jou motiewe suiwer is, is nie verkeerd nie, maar dit kan jou lamlê. God roep ons op om ons sondes te bely en ons afhanklikheid van Hom te verklaar en tog aan te hou met die werk wat Hy aan ons toevertrou het. God se opdrag is: “Skep moed en werk”. God kondig verder aan dat die Gees in hul midde is en daarom hoef hulle nie bevrees te wees nie. Die Gees is in ons midde so waarom is ons bevrees? Ons krag is nie uit onsself nie, dank die Here, maar uit die God wat woning in ons gemaak het. Efesiërs 1:19-20 wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele.
God se werk
Soms dink ons dat die bydrae wat ons in God se Kerk kan maak so klein is, dat ons dit net sowel kan los. Ons talente, tyd en geld is min en ons kan tog nie werklik daarmee in hierdie donker wêreld ʼn verskil maak nie. Wat ons egter moet onthou is dat dit God is wat die werk doen. Dit is Hy wat die aarde sal laat bewe, dit is Hy wat sal veroorsaak dat die skatte van die nasies sal vloei na die tempel en dit is Hy wat die tempel sal vul met heerlikheid. Alles in die Hemel en op die aarde behoort aan Hom. Daarom kan Hy aankondig dat die toekomstige heerlikheid van die “huis” groter sal wees as die vroeëre, net soos wat die profete voorspel het. Voordat ons die vervulling hiervan bespreek is dit tog nodig dat elke gelowige, net soos die eerste hoorders, besef wie ons is en wie Hy is. Dit is nooit hoe wonderlik ons is nie, maar altyd hoe wonderlik Hy is. Dit is Hy wat selfs ʼn donkie kan gebruik, en daarom ook vir my en jou.
Hoop
Alles behoort aan Hom en Hy is ten volle in beheer, ja soewerein oor elke deel van die heelal. Hierdie nuwe tempel sal sy vervulling hê in Christus. Die bouers van hierdie tempel sou nooit die heerlikheid van die toekomstige tempel ervaar nie. Hulle sou slegs vashou aan die hoop van die toekomstige, terwyl hulle arbei in opdrag van God. By elke gelowige is daar ook die besef van ʼn alreeds en ʼn nog nie. Ons leef met die alreeds en tog met die verlange van dit wat nog nie hier is nie. Die gelowige se lewe word gekenmerk deur hierdie hoop. Die hoop waarvan die gelowige praat is nie ʼn onsekerheid nie, maar ʼn vaste hoop in die beloftes van God op die ewige lewe. Romeine 8:24-25 Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat ‘n mens reeds kan sien? Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. Daarom raak die gelowige nooit moedeloos nie en kan ons elke dag arbei met die vooruitsig van dit wat nog gaan kom. Gee in alles jou beste, wetende dat God die een is wat jou gehoorsaamheid gebruik in Sy soewereine raadsplan om tot uitvoering te bring dit wat Hy alreeds voor die grondlegging van die aarde vir sy kinders beplan het.
Wees heilig, want Ek is heilig
Twee maande later bring Haggai weer ʼn boodskap van God. Sy boodskap aan hulle is dat die Skrif duidelik is dat dit wat onrein is, alles onrein maak waaraan dit raak. In teenstelling maak dit wat heilig is, nie alles waaraan dit raak heilig nie. Wat is die betekenis hiervan? Die volk is besig om aan die tempel te bou en is dus besig met dit wat heilig is. Hoe maklik kan die volk nie die verwagting hê dat, a.g.v. hulle werk aan die tempel wat heilig is, hulle ook heilig gemaak gaan word nie. Anders gestel, hulle moes nie dink dat, aangesien hulle met heilige dinge werk, hulle heilig voor God sou wees nie. Moenie dink dat net omdat jy iets vir die Here doen, Hy jou sonde sal oorsien of jou sal begenadig nie. Hoe baie keer in die geskiedenis, en vandag, vind ons dat menige predikante, pastore, ouderlinge, diakens en betrokke lidmate op ʼn dag ontbloot word as iemand wat besig is met die mees haglike sondes. “Wat het gebeur?” is die vraag op baie se lippe. Die antwoord hierop is dieselfde as wat Haggai aan die volk gee, nl. dat hulle nie terwyl hulle besig is met die werk aan die tempel, hul eie geestelike lewens en toewyding aan God moet vergeet nie. Elke gelowige, ongeag jou amp in die kerk, se eerste prioriteit is altyd om stil te word met die Here. Dit behels om Sy Woord te bestudeer, te bid en jou eie lewe in oënskou te neem. Mattheus 16:26 Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Wat mense van jou dink en hoe hulle jou geestelike lewe beoordeel is van min tot geen waarde nie. Wat wel belangrik is, is wat God van jou lewe sê. 1Korintiers 4:5 Gevolglik moet julle nie reeds oordeel voordat die Here kom nie. Hy sal die verborge dinge van die duisternis aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Dan sal elkeen afsonderlik van God lof ontvang. Ons gaan nie eendag voor mense staan nie, maar wel voor God. Moenie sonde ʼn vatkans in jou lewe gee nie, want dit sal jou verwoes. Regdeur die Skrif sien ons dat die grootste probleem met die Israeliete was dat hulle gedink het hulle godsdienstigheid is van groter belang as ʼn heilige lewe. 1Petrus 1:14-16 As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: Wees heilig, want Ek is heilig. Wees in alles soos Josef deur te vlug van die sonde al moet jy alles verloor. Jesus sê aan sy volgelinge dat dit beter is dat jy jou regterhand of jou oog verloor as dat jy in die hel gegooi word. Ons is maar te bewus van die sluheid van die Satan. Daar is by die gelowige geen begeerte om met die sonde te speel of dit ligtelik op te neem nie. Dus is die argument van Haggai duidelik. Alles word onrein as dit in kontak kom met iets onrein. Maak nie saak wat jy sê of doen nie, as dit uit ʼn lewe is wat bevlek is met sonde, sal jou beste dade ook onrein wees. Weereens kom die waarskuwing soos in hoofstuk een, nl. dat hulle lewens gebrekkig is aangesien hulle besig is met dinge wat God nie behaag nie. So al was hulle nou besig met die herbou van die tempel het niks rondom die straf van die Here rakende hulle verander nie.
Ewige koninkryk
In vers 21 spreek Haggai ʼn profesie uit dat God die hemel en die aarde sal laat bewe. Die Hebreër skrywer haal hierdie vers aan in Hebreërs 12. Destyds het sy stem die aarde geskud, maar nou het Hy die volgende aangekondig: Nog een keer sal Ek nie net die aarde skud nie, maar ook die hemel.” Hebreërs 12:26. Die konteks van hierdie gedeelte is duidelik. Elke gelowige moet besef dat hierdie wêreld tot ʼn einde sal kom. Niks van hierdie aardse koninkryk is ewig nie. Nee, daar is onwankelbare koninkryk waarin ons in Christus deelgenote geword het. Daarom moet ons met dankbaarheid die Here dien op ‘n welgevallige wyse, “met eerbiedige onderworpenheid en ontsag.” Hebreërs 12:28. Die Hebreërs skrywer sluit hierdie hoofstuk af met die boodskap dat ons God ʼn verterende vuur is. Die grootste fout wat enige gelowige kan maak is om sy/haar vrees vir die lewende God te verloor. Die Woord is duidelik dat wysheid begin met die vrees van die Here. Moenie jou sonde goed praat of probeer wegsteek nie, maar bely jou sonde en laat dit staan. 1Johannes 1:9 As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.
Slot
In opdrag van God is ons elke dag besig om te bou aan sy geestelike koninkryk op aarde. Wat ons sê en doen het ʼn impak maak nie saak hoe gering jy dink dit is nie. God is die een wat die saadjie wat jy saai sal laat groei. Hy is ook die Een wat jou die krag sal gee om alles te doen wat Hy van jou vra, maar dan moet jy by Sy voete bly. Elke dag moet jy luister na die boodskap wat Hy uit sy Woord vir jou wil gee. Dit is al introspeksie wat jy nodig het, want God se Woord is soos ʼn spieël waarin jy jouself sal kan sien, soos God jou sien. Dit sal jou daarvan weerhou om jouself met mense te vergelyk en sal jou elke dag opnuut vul met die geestelike voedsel wat jy nodig het om jou taak met dankbaarheid en blymoedigheid te verrig. Met jou oë gevestig op Jesus en die hoop wat ons in Hom het.
