Inleiding
Hierdie gedeelte is van toepassing op God se volk. Eerstens is die boodskap spesifiek vir die Joodse volk en kan die lyn regdeur getrek word na die boodskap vir die Jode in Openbaring, wanneer daar verwys word na die eindtye. God se volk sluit egter in die Nuwe Verbond alle gelowiges, ook vanuit die heidense volkere, in en as sodanig is hierdie boodskap ook vir ons, God se Kerk.
Die Kerk
Die boodskap vir die Kerk, soos vir Israel, is dat hulle gehaat sal word deur die wêreld. Die aanvegtinge van binne en van buite sal tot by die wederkoms vel wees. Jesus waarsku male sonder tal sy volgelinge dat hulle in hierdie wêreld gehaat sal word. Mattheus 10:22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Die wêreld het Hom gehaat en daarom sal die teken dat ons aan Hom behoort wees dat ons ook gehaat sal word. Johannes 15:18-19 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle. Jesus vertel aan sy hoorders dat die wêreld Hom haat, omdat Hy van hulle getuig dat hulle werke boos is. Johannes 7:7 Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. Die aanklag van die Bybel op elke mens is dat hulle beste dade soos besoedelde kledingstukke is. Jesaja 64:6 Ons almal het geword soos iets wat onrein is, soos ‘n besoedelde kledingstuk is al ons geregtighede. Ons almal het verwelk soos blare, en soos die wind het ons sondeskuld ons weggedra. Die wêreld haat hierdie boodskap, omdat dit beteken dat hulle nie uit hulle eie gered kan word nie, maar ʼn redder nodig het. Hulle dink dat hulle nie so sleg is nie en hul goeie dade swaarder as hul slegte dade op die skaal sal weeg. Watter skok is dit dus vir die wêreld as gelowiges verklaar dat slegs Jesus goed is en redding dus net in Hom is! Daarom is hierdie boodskap ʼn steun des aanstoots vir elke ongelowige en haat hulle die boodskappers – God se Kerk.
Berou oor sonde
Vir die uitverkorenes wat wederbaar is deur die Gees, sal daar ʼn geween wees aangesien elkeen sal besef dat hy/sy skuldig is aan die kruisiging van Jesus Christus. Ons sonde het Hom deurboor. Daarom sal die kenmerk van elke gelowige wees dat hy/sy ween aangaande hulle sonde. 2Korintiers 7:9-11 is ek nou bly; nie omdat julle bedroef gemaak is nie, maar omdat julle droefheid tot berou gelei het. Julle is volgens die wil van God bedroef gemaak, met die gevolg dat julle in geen opsig deur ons benadeel is nie. Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. Want kyk nou net watter toewyding julle droefheid volgens die wil van God vir julle bewerk het: ja, watter verontskuldiging, watter verontwaardiging, watter ontsag, watter verlange, watter ywer, watter bestraffing! In elke opsig het julle getoon dat julle onskuldig is wat hierdie saak betref.
Bewaring tot die einde
Verder word aan ons, as gelowiges in hierdie wêreld, belowe dat God ons sal bewaar. Hierdie belofte word ook deur die hele Nuwe Testament aan die Kerk belowe. Elke gelowige is maar te bewus daarvan dat hulle nie sonder God se hulp tot die einde toe sal kan volhard nie. God belowe egter, nie net word ons deur die Seun vasgehou nie, maar ook deur die Vader. Johannes 10:28-29 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Aan elke gelowige word ook belowe dat Hy wat die werk in ons begin het “dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.” Filippense 1:6. God belowe verder dat die swakste onder sy kinders so manhaftig soos Dawid sal wees. Sien ons dit nie in Petrus se lewe nie? Die apostel wat te bang was om te getuig voor ʼn slavin word die man wat op Pinksterdag voor duisende kan getuig en mense kan oproep tot bekering. Dit word alleen moontlik gemaak deur die inwoning van die Heilige Gees in elke gelowige se lewe. Die huis van Dawid sal wees soos God. Die Ou Vertaling sê soos ʼn hemel wese, maar God is die korrekte vertaling, aangesien die Hebreeuse woord Elohim, God beteken. Die een wat ons dus sal lei sal uit die huis van Dawid kom en sal God self wees, die God/mens, Jesus Christus.
Israel.
Deur die geskiedenis was daar geen volk wat so gehaat is en gehaat word soos die volk van Israel nie. Niemand kan ontken dat hierdie volk, wat deur hulle vyande omring word, ʼn bonatuurlike beskerming beleef om vandag nog, na duisende jare van vervolging, steeds as volk te bestaan nie. Hierdie volk word juis ook soos die gelowiges gehaat, omdat hulle uitverkorenes van God is. God het in sy almag besluit om Israel uit te verkies, nie omdat hulle beter as enige ander volk was nie, maar omdat Hy besluit het om sy liefde op hulle uit te stort. In Openbaring net soos in Sagaria word aan ons vertel dat daar ʼn dag aan die einde van die dae sal aanbreek waarop alle nasies teen Jerusalem sal optrek. Openbaring 20:8-9 Dan sal hy optrek om die nasies tussen die vier uithoeke van die aarde, die Gog en Magog, op ‘n dwaalspoor te lei, en om hulle te mobiliseer vir die oorlog. Hulle getal is soos die sand van die see. Hulle het van oor die breedte van die aarde opgeruk, en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur uit die hemel neergedaal en hulle verteer.
Net soos in Sagaria vertel Openbaring dat God hulle vyande sal verdelg. God belowe dat Hy sy Gees oor sy volk sal uitstort en dat hulle sal rou oor die een wat hulle deurboor het. Hierdie is dan ook ʼn profesie aangaande die wyse waarop Christus doodgemaak sou word. Johannes 19:37 En ‘n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Die Jode sal op ʼn dag deur God bepaal, die boosheid van hulle dade teenoor Christus besef en in sak en as wees. God belowe dat daar ʼn tydperk aangebreek het waarop die meerderheid van die wat aan die Kerk van die Here sal behoort uit die heiden nasies sal kom. Lukas beskryf hierdie tydperk as die tye van die nasies wat ook op soortgelyke wyse in Openbaring 11:2 beskryf word. Lukas 21:24 Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is.” Openbaring 11:2 Die voorhof wat buite die tempel is, moet jy buite rekening laat, en nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is. Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. Daniel verwys ook na hierdie tydperk wat sal kom. Daniel 12:7 Ek hoor toe die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was, sê, terwyl hy sy regter- en sy linkerhand ophef na die hemele en sweer by die Ewig Lewende: “Dit is vir ‘n vasgestelde tyd, tye en ‘n halwe tyd. Sodra die verbryseling van die mag van die heilige volk tot ‘n einde kom, sal al hierdie dinge ophou.”
In hierdie tyd sal God, volgens Openbaring, die Jode beskerm terwyl dit ʼn tydperk van ʼn velle aanval op die Kerk sal wees. Die Jode word in hierdie gedeelte as die vrou beskrywe wat met die son bekleed is en die maan onder haar voete en die twaalf sterre. Enige iemand wat bekend is met die drome van Josef sal dadelik hierdie vrou kan identifiseer as Israel. Openbaring 12:17 Die draak was woedend vir die vrou, en het weggegaan om oorlog te voer teen die res van haar nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het. Paulus beskryf hierdie tyd as ʼn tyd van saligheid wat tot die heidene gekom het om die Jode jaloers te maak. Hierdie tydperk sal aanhou tot die volle getal heidene ingekom het, die getal wat God uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld. Na hierdie tydperk sal God bekering van die Jode bewerk. Romeine 11:25-26 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. Daarom as Jesus Jerusalem aanspreek omdat die leiers nie wou toelaat dat Hy hulle kinders bymekaar maak soos ʼn hen haar kuikens nie, sê Hy die volgende: Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Ek sê vir julle, julle sal My beslis nie weer sien nie, totdat die tyd aanbreek dat julle sal sê, Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Lukas 13:35.
Slot
Ons sal in die volgende blog nog meer aangaande die Jode se bekering sê. Hoe wonderlik dat daar ʼn tyd van herstel vir die Jode ook sal kom, ʼn tyd van ongekende rou, as hulle ook deel sal word van die Kerk, die nuwe volk van God. Vir ons as gelowiges is die boodskap egter duidelik. Ons het genadetyd ontvang. God het ʼn werk in ons begin en sal ons vashou en bewaar tot die dag wat Hy ons kom haal. Meer as dit – Hy sal ons dapper en sterk maak sodat ons in hierdie wêreld kan leef as die oorwinnaars.
