Inleiding
Jou dade het gevolge. Tot dusver het die profeet die volk opgeroep tot bekering en herstel belowe as hulle gehoorsaam sou wees. Hier begin die profeet egter vernietiging en vergelding aankondig. God gaan nie langer as Hul Herder optree nie, en gaan hulle oorgee aan hulself en ander slegte herders. God wil nie hê dat die volk willens en wetens moet aanhou sondig met die gedagte dat, aangesien God hulle in die verlede vergewe het, hulle nou maar kan voortgaan met hulle sonde, want God sal hulle net weer vergewe, nie. Hy wil nie hê dat hulle Sy liefde vir hulle moet misbruik en sondig nie. Hy begin om die verwoesting aan te kondig vir hulle wat veilige vestings het en dink dat geen onheil hulle sal tref nie. Hy noem die leiers van Juda Libanon, met sy bome as veilige vesting. God spreek die leiers van beide die volk van Juda en Israel (die pronkbosse van die Jordaan) aan en sê dat hulle totaal verwoes sal word. As hulle deur God gestraf gaan word, hoe maklik sal die res van Juda nie ook gestraf word nie? ‘n Metafoor van herders wat na die volk van God moet omsien word gebruik om God se sorg te illustreer. Die opdrag aan Sagaria is dus ‘n simboliese opdrag en is ‘n voorspelling van die ware Goeie Herder, Christus, wat sal kom teenoor die slegte herders wat die volk sal mislei. Hierdie gedeelte gaan dus oor die Joodse volk, wat nie God se sorg kon raaksien vir wat dit is nie, maar “verkies” het om deur slegte leiers en herders misbruik te word, tot hul eie vernietiging. Wanneer God se hand van sorg weggeneem word, is daar geen hoop meer nie.
Valse leiers
God was altyd bereid om sy volk te lei. Daar was altyd ʼn herder (‘n profeet) wat deur God geroep was om sy volk op te pas en hulle Sy instellings te leer. God gaan egter sy sorg aan hulle onttrek en hulle letterlik oorgee om hulself te vernietig deur hul eie sonde. Die leiers van die volk het geen gevoel vir hulle gehad nie en was slegs uit op winsbejag. Hulle het die volk uitverkoop. Hulle maak wins daaruit en prys die Here daarvoor! Net so het die herders geen medelye met die volk nie. Hierdie groep is die valse profete en leraars van die dag. Dit is vandag nog hoe sommige geestelike leiers lyk. Hulle hele uitkyk op hul bediening is: “Wat se wins kan ek maak?” Hulle sal enige iets verkondig solank hulle self daaruit kan baat. 2Petrus 2:1-3 Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle ‘n skielike ondergang vir hulleself. Baie sal die losbandighede navolg van daardie mense deur wie se toedoen die pad van die waarheid belaster word. Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit. Hulle vonnis staan reeds lankal gereed; ja, hulle ondergang talm nie. Kan jy dink dat iemand so arrogant is dat hy valse leer verkondig, die volk vernietig en dan nog aan God die eer gee vir die geld wat hy gemaak het uit sy valse boodskap? Ons sien dit vandag oral in kerke – mense wat duidelik valse leraars is en dan God die eer gee dat dit so goed met hulle kerke gaan, asof die “seën” van hulle bediening van Hom af kom. Meeste valse leraars wil graag die indruk skep dat daar ʼn direkte verband is tussen “getalle” en die getrouheid van die leraar. As dit waar was moes Jona sekerlik die mees getroue profeet gewees het en Jeremia die mees ontroue profeet. Sê Jesus nie tereg vir sy volgelinge “Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan. Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind.” Mattheus 7:13-14” Die interessante is dat net nadat Jesus hierdie woorde gesê het, praat Hy met hulle oor die valse profete wat in skaapsklere kom maar van binne wolwe is wat verskeur. Die valse profete en leraars gaan verseker deur God gestraf word, maar hul verleiding laat nie die volk onskuldig nie. Al het die volk valse profete gehad is hulle nogsteeds skuldig, aangesien hulle na die valse profete geluister het. Hulle het die valse boodskap geniet en dit het hulle ore gestreel. 2Timotheus 4:3 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. God sal met hierdie mense saam en hul leiers geen medelye hê nie.
Christus, die goeie Herder
God herinner weereens die volk hoe Hy hulle opgepas het. Vanaf vers 7 begin die versorging van God verwys na Christus, die goeie herder, wat gestuur sal word. Hierdie goeie herder wat sou kom word deur die profete voorspel. Jesaja 40:11 Soos ‘n herder laat Hy sy kudde wei, in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy. Jesus bevestig sy herderskap in Johannes 10 as Hy met die volk praat. Hy het twee stawe teenoor die herder wat gewoonlik een staf gehad het, nl. “Lieflikheid/Welwillendheid” en “Samehorigheid” Luister na die Psalmdigter aangaande God se liefde. Psalm 90:17 En laat die lieflikheid van die Here onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit! In Spreuke word God se weë ook lieflik genoem. Spreuke 3:17 sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. As ons in Sy paaie wandel sal ons ervaar dat dit in elke opsig wonderlike paaie is waarop daar vrede tussen God en mens is. Verder sal “die Herder” se ander staf ʼn staf van samebinding wees. In vers 14 word vertel dat hierdie samebinding die broederskap is tussen Israel en Juda. God sal al twee hierdie stawe verbreek. God gaan ʼn stadium bereik wat Hy nie verder hulle Herder sal wees nie. Hy sal die volk oorgee aan hulle eie goddeloosheid. Op hierdie dag sal die ellendiges van die skape dit raaksien en ag gee. Johannes 9:39 En Jesus sê: Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word. Sê Jesus nie tereg dat die prostitute en tollenaars geluister het in teenstelling met die Fariseërs en Sadduseërs wat van beter moes geweet het nie.
God roep die volk op om sy loon as Herder vir hom te betaal aangesien hy nie verder hulle herder sal wees nie. Hierdie verwys na die volk wat nie vir Jesus as die Messias wou aanvaar nie. God kondig die oordeel oor die Joodse volk aan, ‘n volk wat Hom nie erken het nie en vir wie sy troue sorg, niks meer werd was as die loon van ‘n slaaf nie. Hulle weeg sy loon af as dertig sikkels silwer, die prys van ʼn slaaf. Daarom in Eksodus word daar vereis dat as iemand se bees ʼn slaaf stoot en doodmaak hy die heer van die slaaf moes vergoed vir dertig sikkels silwer. Eksodus 21:32 As die bees ‘n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word. Christus die Herder word deur sy volk, met Judas as verteenwoordiger van die volk, vir dertig sikkels silwer verkoop. Verder sal die grond wat gekoop word die grond van die pottebakker wees, net soos wat die profesie voorspel het. Mattheüs 27:5-7 Hy het toe die silwerstukke in die tempel neergegooi, weggegaan en homself gaan ophang. Die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: “Dit is nie toelaatbaar om dit in die skatkis te gooi nie, aangesien dit bloedgeld is.” Hulle het toe ‘n besluit geneem, en met die geld die grond van die pottebakker aangekoop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge. Hoe blind moes die leiers nie gewees het om met hulle eie optrede die profesie in vervulling te laat gaan sonder om dit raak te sien nie. Sê Jesaja nie tereg Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. Jesaja 56:10. ? As jy hierdie profesie vergelyk met die gelykenis wat Jesus vertel van die landbouers, wat ʼn stuk grond gehuur het en nie die eienaar sy huurinkomste wou betaal nie, sal jy die ooreenkomste duidelik raaksien. Die ergste was dat, nadat Jesus die gelykenis vertel het, die Fariseërs kwaad geword het en dan volg die volgende sin “En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek. En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het. Mattheus 21:45-46.
Wolwe
God sal nie meer verder hulle herder wees nie, maar sal wolwe oor hulle aanstel – dit waarna hul harte eintlik al die jare gehunker het. Hosea word deur God opgeroep om ʼn prostituut te trou as metafoor van die volk se prostitusie met ander gode en volke. Hosea1:2 Die begin van wat die Here deur Hosea gesê het. Die Here het vir Hosea gesê “Gaan neem vir jou as vrou ‘n prostituut wat hoerkinders het, want die land hou aan hoereer, weg van die Here af.”
Slot
Hoewel hierdie professie vir die Jode was, is daar ook vir die mens van vandag ‘n boodskap. Niemand is so blind soos diegene wat nie wil sien nie. Mense wat die Woord in hulle hande het, maar dit nogsteeds nie wil gehoorsaam nie, is blind. Elke persoon wat nie gehoor gee aan God se Woord nie is soos die volk van Israel, ʼn volk wat opsoek is na slegte herders om hulle te lei. God sal met sy wederkoms elke slegte herder straf, aangesien hulle mense mislei het. Die herder sal erger geoordeel word aangesien hy van beter moes geweet het. Tog sal niemand ʼn verskoning hê waarom hy/sy nie God se Woord gehoorsaam het nie. Die probleem is nie met God se Woord nie, maar wel met die mens se klip harde hart.

🙌
LikeLike