Inleiding
Niemand kan sonder kos lewe nie. Sonder water kan niks groei nie en sal daar geen voedsel vir mens of dier wees nie. Ons kan nie water vervaardig nie en ons kan nie daarsonder lewe nie. God is die Een wat reën gee. Elke lewende wese op aarde is van Hom afhanklik. Baie volke rondom Israel het rituele gehad waar hulle aan hul afgode offers gebring het voor die reën seisoen. Dit sou dan ‘n goeie oes verseker en nie net hul van voedsel voorsien nie, maar ook in hul welvaart. God kom egter weereens deur die profeet Sagaria en se aan sy volk dat hulle hulle nie op nuttelose afgode moet beroep nie, maar op Hom en Hom alleen.
Afhanklikheid
Baie mense wil glad nie erken dat hulle afhanklik van enige iemand of iets is nie. Hul wil voel dat hulle in beheer is van hul besluite. “Ek sal self!” is die mantra van die dag. Tog sal elke boer, groot of klein, kan getuig dat hulle totaal afhanklik is van die weer. God roep die volk op om te bid vir reën in die tye wat Hy in sy Almag bepaal het vir die seisoenale reëns. Job 28:26 Toe Hy vir die reën vaste reëls neergelê het, ‘n pad vir die harde donderslae. Voor ons by hierdie oproep van God aan sy volk kom het ons alreeds ʼn aantal hoofstukke deur gewerk waarin God die volk oproep om aan Sy Woord getrou te wees. Baie soek reën in die tyd van die laat reëns, maar het geen begeerte om deur die jaar in getrouheid aan God te leef nie. Hulle kom in die nood en nou hef hulle hulle oë na bo en verwag dat God na hulle pype moet dans. ‘n Lewe van afhanklikheid is ook ‘n lewe van dankbaarheid en gehoorsaamheid. God is nie ‘n afgod wat ‘n eenmalige ritueel vra nie, maar ‘n lewende God, wat totale toegewydheid aan Hom vereis. ‘n Eenmalige biddag vir reën, sonder die nodige verootmoediging en toewyding, is niks anders as afgodediens nie. Sommige dink dat die God wat hemel en aarde geskep het soos ʼn genie behandel kan word wat jy vryf en Hy doen net wat jou hart begeer. Nee, God wil hê dat ons ons eerste toevlug tot Hom moet neem, nie net wanneer ons in die nood verkeer of wanneer ons iets van Hom wil hê nie, maar omdat ons Hom liefhet as die Een wat ons eerste lief gehad het.
Goed en sleg
Dit is verder ook belangrik om te noem dat God, omdat hy die reën ʼn vasgestelde tyd gegee het, die reën laat val oor die goeie en die slegte. Mattheus 5:45 sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees. Hy laat immers sy son opkom oor slegte én goeie mense en Hy laat dit reën oor wetsgehoorsames én wetsverbrekers. As dit dus reën op jou grond of finansieel met jou goed gaan is daar geen rede tot roem nie, aangesien dit nie ʼn bewys is van jou geregtigheid nie. Baie mense koppel teëspoed onmiddellik aan sonde en sal stilweg wonder watse sonde jy gedoen het dat God jou straf of droogte gestuur het. Dit kan dalk wel ‘n straf wees, maar God maak dit duidelik dat aardse voor of teëspoed nie verwant is aan geestelike regverdigheid, aldan hoe “goed” of “sleg” jy is nie. Hierdie waarheid word duidelik geïllustreer in die verhaal van die rykman en Lasarus. Die ryk man was ʼn man wat sekerlik sou kon roem op hoe God Hom geseën het. Hy het oorvloed gehad en het aan die einde van sy lewe ook ʼn groot begrafnis gehad. Kan jy jou indink wat hulle alles by sy begrafnis van hom gesê het? ʼn Man wat sogenaamd deur God “geseën” is. Teenoor Hom staan Lasarus wat nie net brandarm en ʼn bedelaar was nie, maar ook sere oor sy hele liggaam gehad het – sere wat nie deur mense verbind is nie, maar deur honde, wat as vuil en onrein diere beskou is, gelek is. Lukas 16:20-21Voor die ingang van sy huis het ‘n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. Hy het ook geen menslike begrafnis nie, maar word deur die engele opgedra na Abraham se boesem. Dit is egter belangrik om op te let dat slegs Lasarus ʼn naam in hierdie verhaal het, aangesien God die verhaal vertel en Hy het vir Lasarus geken. Was Lasarus nie geliefd deur God nie? Waar was Lasarus se aardse seën dan? Wat van Paulus, wat deur “hel” was op aarde soos wat hy ons in 2Korintiers 12 meedeel?
Goddelike seën en afhanklikheid
Dit is belangrik dat ons seën in goddelike terme definieer. Goddelike seën is enige iets wat jou nader aan God bring, of dit nou siekte en teëspoed of voorspoed is. Vir die rykman was sy rykdom alles behalwe ‘n seën aangesien dit hom selfvoldaan op homself laat roem het en sodoende vervreem het van die ware bron van sy welvaart. Miskien, volgens wêreldse norme, was die rykman meer geseënd, maar die gelowige is maar terdeë daarvan bewus dat hierdie wêreldse dinge nie kan opweeg teen die Hemelse nie. Romeine8:18 Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Die oproep van God aan sy volk is dat hulle in afhanklikheid van Hom moet lewe. Dat hulle hulle aangesigte na Hom moet ophef in alles en ook in die tyd van nood. Die Psalmdigter stel dit so mooi in Psalm 121. Psalm121:1-2 ‘n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Die berge was die plek waar die afgode aanbid is. Die Psalmdigter sê dus dat sy hulp nie kom van enige afgod nie, maar van die Here wat alles geskape het. Dit was nog altyd die probleem met die volk van God. Hulle het na leuens en mense wat nietige drome verkondig het geluister, eerder as na God. God sou die herders en die vooraanstaandes van die volke tot orde roep en hulle sal veroordeel word.
Die Jode het God se beloftes aan hulle vergeet. Hy was die Een wat hulle kon vertrou met alles in hulle lewens. Hy is die Een wat sorg vir die voëls in die lug en die blomme in die veld. Nie net sorg Hy vir hulle nie, maar daar sal nie ʼn mossie op die grond val sonder dat Sy wil geskied het nie. Mattheus 10:29 “Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. Alles word deur God bepaal en sy wil sal in elke situasie uitgevoer word. Daarom kan die gelowige en moes sy volk in rustigheid en afhanklikheid van Hom gewandel het, wetende dat Hulle net van Hom afhanklik is. In die Onse Vader leer Jesus ons om na God te gaan in afhanklikheid van ons daaglikse brood. Elke dag moet ons in afhanklikheid van Hom leef vir ons daaglikse voedsel. As ons weereens na Israel as voorbeeld kyk, sien ons hoe hulle hierdie feit mis. God verklaar in die woestyn dat Hy elke dag aan hulle manna sal gee. Hulle moes manna net vir daardie dag invorder en niks tot die volgende dag laat oorbly nie. Tog vind ons dat die volk vir hulle opgaar asof God hulle gaan teleurstel. Eksodus 16:19-20 Moses sê toe vir hulle: “Niemand moet daarvan oorhou tot die oggend nie.” Maar hulle het nie na Moses geluister nie. Party het daarvan oorgehou tot die volgende oggend, maar dit was vol maaiers en het gestink. Moses was woedend vir hulle. Die gelowige se opdrag is om God se koninkryk te soek bo enige aardse koninkryk en Hom te vertrou vir sy aardse behoeftes. Mattheus 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Goddelike reën
Wat was die reën wat God sou gee? As u tot dusver saam met ons deur Sagaria gewerk het sal jy die antwoord beslis weet. Sagaria wys die volk na die Messias wat sou kom waarin hulle die volle seën van God sal ontvang. Efesiërs 1:3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. In Christus het ons al die seëninge wat in die Hemel is ontvang. Dit wat die volk in Hom sou ontvang sou die seëning wees wat hulle harte werklik nodig het en wat elke mens sou genees van sy ewige siekte en gebrokenheid, die wond wat opgedoen is in die tuin van Eden. 1Timotheus 4:7-8 Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. Wat is jou verlange buiten Hom? Wat is die seën en die reën waarna jy smag? God kla deur Jeremia dat die volk Hom verlaat het en smag na dit wat nooit hulle dors sou les nie. Jeremia 2:11 Het ‘n nasie sy gode al verruil? En dit is nie eers gode nie! Maar my volk het sy Majesteit verruil vir hulle wat geen voordeel bied nie. As jy hierdie gedeelte hoor kan jy nie anders as om jouself te vind in die middel van die dag, langs ʼn put, waar Jesus ʼn Samaritaanse vrou ontmoet nie. Sy was al vyf keer getroud en die man by wie sy gebly het was nie haar man nie. Jesus spreek elke honger in haar lewe aan, van haar soeke na liefde tot haar soeke na “godsdienstigheid” wat haar dors gelaat het. Hy lig haar in dat die water wat Hy aan haar sou gee haar lewe sou verander en maak dat sy nooit weer sou dors na die wêreldse dinge nie. Johannes 4:13-14 Jesus het haar geantwoord: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.
Slot
Die gelowiges sal altyd oorwinnaars wees oor al hulle vyande, aangesien Christus aan die kruis oorwinning behaal het. Al kan ons nie nou alreeds sien dat al die vyande oorwin is nie weet ons dat dit sal plaasvind omdat God dit belowe het in Sy Woord. 1Korintiers 15:25 Want Christus moet as koning regeer totdat Hy al die vyande onder sy voete gestel het. Soveel groter as wat die Jode kon waarneem hoe God hulle terug gebring het uit slawerny, sou hulle kon waarneem as God die volk herstel met die koms van die Messias. Vir die nuwe volk van God sal dit ʼn tyd van vreugde en vrede wees. God sê sy volk sal vrolik wees soos diegene wat vol wyn is. Diegene wat vol wyn is het geen bekommernis oor vandag of môre nie, hulle is onder die invloed en die beheer van die alkohol. Net so sal Sy kinders onder Sy beheer wees en sal hulle lewe sonder enige bekommernis vir vandag of more, want hulle aanbid ʼn lewende God. Gelowiges sal in totale afhanklikheid van God wandel en hulle sal manne en vroue, seuns en dogter wees wat deur Hom sterk gemaak sal word.
