Sagaria 9

Inleiding

Die God van Israel is ‘n jaloerse God en het bemoeienis met Sy volk, Israel, gemaak om aan hulle Sy verordeninge bekend te maak deur Sy profete. God het die mens gemaak en weet wat ware geluk bring. Sy reëls en wette is dikwels daar om mense teen hulself te beskerm en indien hulle dit sou gehoorsaam, vol beloftes van seën. God het Sy volk gestraf a.g.v. hulle ontrouheid, sodat hulle na Hom sou terugkeer, omdat Hy hulle liefhet. Daar was egter, reg rondom Israel, baie volke wat God glad nie aanbid het nie en wat geleef en gehandel het net soos hulle wil. Baie van hierdie volke was bekend vir hul welvaart en sogenaamde wysheid. God se volk was egter besig met ‘n valse godsdiens en het nie Sy liefde ervaar nie, net Sy toorn. Dit, terwyl die volke sonder God oënskynlik floreer het. In Sagaria 9 roep God sy volk op om hulle valsheid te verander in ʼn ware aanbidding van Hom. Hul fokus op seremonies en rituele moet verander word na getrouheid en gehoorsaamheid aan Hom. God belowe dat hulle dan Sy seëninge sal ervaar. God se volk moes egter ook besef dat alle volke onder sy toorn staan. Hy was nie net Israel se God nie, maar die enigste God. Hy sien alles en beheer alles.  God vertel deur sy profeet dat Hy die vyande van sy volk ook tot verantwoording sal roep en hulle sal straf net soos Hy sy volk gestraf het. Hy het nie sy volk vergeet nie en het sy oog op hul vyande gehou en sal ʼn swaar las op hulle lê.

Die wêreld se wysheid

Hy begin met die bure van die Israeliete, die Assiriërs met hulle hoofstad Damaskus. Elke volk en mens wat aan Hom ongehoorsaam is lê onder sy wraak. Dit is ook die boodskap van die Nuwe Testament. Johannes 3:36 Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.” Die mens moet eerder hulle vertroue op God, wat alles raaksien wat op aarde gebeur, plaas as op hulle eie vindingrykheid en hul afgode. Hadrag, Damaskus en Hamat, was almal Aramese stede, wat bekend was vir hul rykdom en wysheid. Hul vertroue was in hul eie vermoëns en rykdom. Dit was hul sekuriteit. God wys egter dat Hy hulle in ‘n oogwink kan vernietig. Net so was Tirus bekend as ʼn sterk vesting wat onoorwinbaar was;   veilig, omring deur water, vol goud en silwer en wêreldse wysheid.

Esegiël vertel van sy wysheid. Esegiël 28:3 Kyk, jy is slimmer as Daniel! Geen geheim is vir jou duister nie! Nie net is Tirus wys nie maar hulle het vir hulle skatte vergadering soos stof en modder van die strate. Tirus is beskerm met water en daar was geglo dat dit nooit sou val nie. Tog belowe God dat Tirus verwoes sal word met vuur. Hoe ironies dat verwoesting juis deur vuur sal plaasvind terwyl die inwoners hul vertroue op die water om hulle geplaas het. Al die omliggende nasies wat hul vertroue op Tirus geplaas het, sou sidder van angs. Die plek waarin hulle hulle vertroue geplaas het, het teleurgestel. Ons weet vanuit die geskiedenis dat Tirus verwoes is op die presiese wyse waarop God voorspel het. Alexander die Grote het al hierdie lande met sy weermag oorwin en nuwe kolonies daar opgerig. Alles net soos wat die profesie voorspel het, nl. dat “die baster sal in Asdod woon”.

Vertroue

Waarin plaas jy jou vertroue? Wat dink jy sal staande bly en nooit verwoes kan word nie? God kan in een oomblik alles waarop jy en ek vertrou tot ʼn einde bring. Vir Tirus net soos vir ons is die boodskap duidelik, daar is geen veiligheid en geen anker buite God nie. Spreuke 10:29 Die weg van die Here is ‘n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. Hoe maklik plaas ons ons vertroue in mense en dinge. Sê die psalmdigter nie tereg dat ons nie ons vertroue op vooraanstaandes moet plaas nie. Psalm146:3 Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op ‘n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Ons sien telkemale hoe die Israeliete hulle vertroue in mense i.p.v. in God geplaas het. ʼn Goeie voorbeeld hiervan vind ons in Jeremia. Jeremia waarsku die volk om nie na Egipte te vlug vir beskerming nie, maar hulle vertroue in die Here te plaas. Jeremia 42:10-11 As julle inderdaad in hierdie land bly, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie; Ek sal julle plant en nie uitruk nie, want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het. Moenie bang wees vir die koning van Babilonië, vir wie julle so bevrees is nie! Moenie vir hom bang wees nie, is die uitspraak van die Here, want Ek is by julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red. Die tragiese is dat die volk aan Jeremia verklaar het dat wat ook al God vir hom te kenne gee hulle sal gehoorsaam en tog, toe die boodskap van God kom, volg hulle nogsteeds hulle eie kop en vlug na Egipte.

Wraak en versoening

Soms kyk ons na ons vyande wat God nie dien nie en wonder waarom dit met hulle so goed gaan. Self wanneer hulle ons vervolg en sleg sê lyk dit asof hulle net meer en meer voorspoedig raak. Ons het wraakgedagtes en is afgunstig op hul oppervlakkige geluk. Net soos God aan Sy volk belowe dat Hy hul vyande sal straf, so belowe Hy dat Hy sal wraak neem op Sy en ons vyande. Romeine 12:19 Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here.  Ons gebed is egter steeds dat mense tot bekering sal kom en deel sal word van God se volk. Alhoewel ons nie weet wie uitverkies is nie, weet ons dat God mense na Hom sal roep, net soos wat Hy ons, wat eers Sy vyande was, geroep het. Ons sien dit wanneer God, ten spyte van Sy aankondiging dat Hy hierdie volke sal verwoes, ook verklaar dat ʼn oorblyfsel van hierdie volke tot Hom sal bekeer, dat Hy volkome herstel vir hulle sal bring en hulle deel sal maak van Sy volk. Dit vind dan ook plaas in Jesus Christus wat mense van alle volke een volk maak. Galasiërs 3:28 Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus!

‘n Koning kom!

Sagaria roep die volk op om opgewonde en vol vreugde te wees, want hulle Koning sal kom. Hy sal eerstens ʼn regverdige koning wees. Is dit nie waarna die volk verlang het nie? Hierdie Koning sal ‘n regverdige heerser en oorwinnaar oor alles wees. Verder sal Hy ʼn nederige koning wees wat ry op ʼn vul van ʼn donkie. Die triomftog van hierdie Koning vind plaas in Johannes 12. Johannes 12:14-15 En Jesus het ‘n jong donkie gekry en daarop gaan sit, soos daar geskryf staan: “Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom, Hy sit op ‘n donkievul.” Alles wat God belowe het, het in Jesus Christus waar geword, maar omdat hulle ʼn aardse koning gesoek het, wat hulle van die Romeinse onderdrukking sou verlos, het hulle kreet vinnig verander van “Hosanna” na “Kruisig hom!” Hy was die nederige koning wat mens sou word en sterf aan ʼn vloekhout vir die sonde van Sy Kerk. Hy het hulle met sy bloed gekoop; die bloed van Sy verbond waardeur die gevangenis sou kon vry gaan. Sagaria 9:11 En verder, Sion, op grond van die bloed van jou verbond met My sal Ek jou gevangenes uit ‘n waterlose opgaarput vrylaat. Jesus is die Regverdige God, wat ons regverdig kom maak het en aan ons hierdie bediening toevertrou het. Hy het ook die dood oorwin en oorwinning oor alle vyande behaal. Daarom roep ons uit dat ons meer as oorwinnaars is deur Hom wat ons die krag gee en weet ons dat niks ons kan skei van sy liefde nie. Is dit die Koning waarna jy verlang? Is Sy Koninkryk die koninkryk waarna jy smag? Die volgelinge van hierdie Koning sal vrede verkondig aan alle nasies. ʼn Vrede tussen God en mens wat bewerkstellig is deur Jesus Christus wat God se toorn op Hom geneem het. Omdat die oorwinning geestelik behaal is, sal daar geen oorlog meer wees nie. Jesus verklaar aan Pilatus aan dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Johannes 18:36 Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.”

Oorwinnaars

Die volk wat teruggekeer het uit ballingskap het hulself nogsteeds gesien as diensknegte. Hulle moes hulle aangesig draai van die aardse na die vervulling wat sou plaasvind in die Messias wat sou kom. Jesaja 45:22 “Wend julle tot My, en word verlos, almal van die uithoeke van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie. In Hom sal Sy volgelinge ervaar dat hulle bekers oorloop soos wat Psalm 23 dit stel. Hulle sal meer as oorwinnaars wees (Romeine 8) en mense wees wat ʼn vrede en vreugde het wat ongekend is. Hierdie groep wat God in Christus verlos het, is Sy kroongesteentes.  Jesus vertel aan sy volgelinge dat dit die kinders is wat die Vader aan Hom gegee het en vir wie Hy sy lewe sou aflê, ja, Sy eie skape. As jy ooit twyfel in hoe lief God sy kinders het lees Johannes 17. Hier vind ons Jesus se verklaring dat ons sy kroongesteentes is en dat die Vader ons liefhet. Johannes 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het.

Slot

God verklaar in Sagaria dat diegene wat aan Hom behoort se voortreflikheid of majesteit groot sal wees, en net so ook dat hulle skoonheid groot sal wees. Hoe is dit moontlik dat ʼn mens, ʼn blote wurm, se skoonheid en majesteit deur God besing kan word? Hoe kan dit wees, as die Bybel verklaar dat niemand goed is nie en dat ons keel ʼn oop graf is? Dit is slegs moontlik gemaak deur die Een wat hierdie skoonheid besing, God self. So word God se Kerk besing deur God in Hooglied. Luister maar na Hooglied 4:7 Alles aan jou is mooi, my liefling, jy is heeltemal vlekkeloos. Sy volk sal Sy skoonheid aanskou en groei deur Hom wat hulle sal voed. Hy is die brood van die lewe en as ons van Hom eet sal ons in ewigheid nooit honger wees nie. Hy is die lewende water waarvan ons drink om nooit weer te dors na enige iets anders as Hy nie. Hy word ons enigste begeerte en die verlange van ons hart. Psalm 27:4 Een ding het ek  van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die Here  te woon, om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy tempel.