Inleiding
Dit is ongelooflik om te sien hoe God die volk straf vir hulle volgehoue sonde en dat dit dan ook God is wat die volk se toestand sal verander. Die werk van herstel en van die omkeer van ʼn wederstrewige volk sal plaasvind omdat God die werk sal doen. Dit is belangrik om daarop te let dat dit nie die volk is wat sal verander en dat God daarom herstel sal bring nie, maar dat dit God is wat die verandering sowel as die herstel te weeg bring. Klaagliedere 5:21 Bring ons terug na U toe, Here, sodat ons kan terugkeer; maak ons dae nuut soos voorheen. Die oomblik as ons verstaan dat God die een is wat die mens sal verander bring dit by die hoorder ʼn gerustheid. Watter vertroue kon ons hê dat die mens in homself ʼn verandering te weeg sal bring? Sal die mens in hom/haarself God soek? Die Skrif is baie duidelik dat niemand God soek nie maar dat dit God is wat elke keer die mens soek. Romeine 3:10-11 soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. God sal terugkeer na Sion is die boodskap van die Here aan die volk en omdat God sy volk hartstogtelik liefhet, sal Hy bemoeienis met hulle maak en hulle laat terugkeer na Hom.
Herstel
Dit is belangrik om weereens te beklemtoon dat die boodskap van Sagaria letterlike sowel as geestelik geïnterpreteer moet word. Die nuwe stad Jerusalem is regdeur die Bybel ‘n simbool van God se nuwe koninkryk wat tot stand gekom het met die koms van Christus. Letterlik is die boodskap aan die Jode, dat Jerusalem herstel sal word na die verwoesting deur hul vyande. Al lyk die omstandighede hoe beroerd en al lyk dit vir hulle onmoontlik, is alles by God moontlik. God sal die stad Jerusalem weer herstel. Geestelik is die boodskap aan gelowiges dat God by ons sal kom woning maak. Hierdie professie kom in vervulling met die koms van Christus en spesifiek vir elke gelowige die dag waarop hy/sy gevul word met die Heilige Gees. Die feit dat die Here kom woning maak op ‘n plek sal verandering veroorsaak. Jerusalem sal nou bekend staan as ʼn stad van trou en ʼn heilige berg genoem word. Net so sal daar in die geestelike lewe van elke kind van God, deur die inwoning van die Heilige Gees, verandering plaasvind. As God woning kom maak word alles nuut gemaak. 2Korintiers 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.
Vrede
God gaan ʼn herstel bring wat te wonderlik klink vir woorde. Dit sal ʼn tyd van ongekende vrede wees. Onder die ou verbond het God aan sy volk belowe dat indien hulle aan Hom gehoorsaam was, dit met hulle en hulle kinders goed sal gaan. Deuteronomium 4:40 Kom daarom altyd sy vaste voorskrifte en gebooie na wat ek vandag vir julle voorskryf, sodat dit met julle en julle kinders ná julle goed kan gaan, en sodat julle ‘n lang lewe kan hê op die grond wat die Here julle God vir altyd vir julle gaan gee. Hulle het dit egter nooit beleef nie, omdat hulle altyd aan God ongehoorsaam was en nie sy gebooie nagekom het nie. Onder die nuwe verbond sal God, dit wat in die ou verbond onmoontlik was, deur Christus se kruisdood en die werking van die Heilige Gees tot stand laat kom, nl. ʼn ongekende tyd van vrede. Sagaria 8:4-5 So sê die Here, Heerser oor alle magte, Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ‘n kierie in die hand van ouderdom. En die pleine van die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel. Waar die ou verbond verwys na ‘n aardse vrede, wat tydelik is, verwys Christus se koms na ‘n geestelike vrede wat ewig is. Vir diegene wat Christus se koms as die koms van ʼn aardse vrede verstaan het, verduidelik Jesus dat Hy nie ʼn aardse vrede kom bring het nie. Mattheus 10:34 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Die vrede wat Christus kom bring is ʼn geestelike vrede. Die vrede wat ʼn gelowige ervaar tussen hom/haar en God. Dit is die vrede wat in die Bybel genoem word ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hierdie is die rus wat, volgens die Hebreërs skrywer, aangebreek het waarvan die Sabbatsrus slegs ʼn skaduwee was. ʼn Vrede tussen God en mens, waar gemaak deur Christus se kruisdood en oorwinning oor die dood. In Christus word Sy kinders in geloof alreeds in die hemele geplaas. Efesiërs 2:4-6 Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel. Daarom kan ons saam met Paulus in Romeine 8 uitroep dat ons meer as oorwinnaars is deur Christus wat ons die krag gee en dat niks ons sal kan skei van die liefde wat daar in Christus Jesus is nie.
In Sagaria se tyd was hoë ouderdom gesien as ‘n teken van God se seën. Net so, is die onskuld van kinders en die feit dat hulle sonder sorge kan rondspeel ‘n teken van vrede. Hoewel hierdie toestand in die huidige omstandighede vir die Jode onmoontlik gelyk het, is dit presies wat God hulle belowe het. God beloof hierdie seën en vrede vandag vir sy kinders. Ons sal nooit sterf nie en daar sal vrede wees tussen ons en God. Miskien dink jy dat dit onmoontlik sal wees om vrede met God te hê a.g.v. sonde wat jy alreeds teen God gedoen het en verkeerde keuses wat jy in jou lewe gemaak het. God se belofte is egter ook aan jou. Indien Jesus Christus by jou kom woning maak, sal jy ook hierdie vrede, wat net van God af kom, ervaar.
Duisendjarige vrederyk
Daarom sal oumanne en ouvroue wees met ʼn stok in hulle hand a.g.v. die veelheid van hulle jare en kinders speel omdat daar geen bedreiging op hulle geestelike lewens sal wees nie. Dit is tog belangrik op hier te noem dat die Bybel wel praat van ʼn fisiese vervulling van hierdie tyd in die duisendjarige vrederyk. Jesaja 65 en Openbaring 20 vertel ons ook van hierdie tyd. ʼn Tyd waarvan Jesaja sê die grysaard sy dae sal uitleef en waar ʼn seun sal sterwe op ʼn honderd jaar oud. Openbaring 20 vertel dat dit ʼn tyd sal wees waarin die duiwel gebind sal wees vir ʼn duisend jaar. Die duisend jaar is natuurlik ʼn simboliese getal en die werklike aantal jare is aan die mens onbekend. Die vroeë kerk het in hierdie fisiese vrederyk geglo en dit geleer. In Bybelse terme is daar egter vandag baie debatte oor die fisiese bestaan of totstandkoming van hierdie ryk en word teoloë in verskeie groepe verdeel volgens wat hulle aangaande hierdie periode glo. Hierdie debat is egter buite die omvang van hierdie blog en die geestelike realiteit in Christus word eerder hier beklemtoon.
Ligdraers
God belowe verder dat diegene van die volk wat vir Hom lewe beloon sal word. Net aan die oorblyfsel sal die beloning gegee word. Dit is die groep waarvan in Romeine gepraat word: Romeine 9:27 Maar Jesaja roep aangaande Israel uit: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, sal net ‘n oorblyfsel verlos word. Hierdie groep gaan deur God gered en in stand gehou word. Hy roep hulle op om aan Sy Woord gehoorsaam te wees en nie te doen dit wat Hy haat nie. Diegene wat gehoorsaam is se lewens sal in ʼn vreugdefees verander word. Hulle sal vreugde hê ten spyte van alles wat rondom hulle gebeur. Hulle sal vrede hê ten spyte van haat en onmin rondom en teen hulle. In die tyd waarin God herstel gaan bring, sal mense van ander volke en stede stroom om die aangesig van die Here te sien en sal hulle ʼn Joodse man se kleed gryp en met hom wil saamgaan, omdat hulle gehoor het dat God met hulle is. Die gedeeltelike vervulling hiervan vind plaas in Johannes waar ʼn aantal Grieke vra dat hulle Jesus wil sien. Johannes 12:20-21 Daar was ‘n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid. Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus sien.”
Die vervulling hiervan vind ons vandag wanneer kinders van die Here ander mense aantrek na die Blye Boodskap van Jesus Christus. Kinders van die Here wat in vrede en vreugde leef omdat Christus hulle Koning is behoort deur hulle lewens Christus so uit te straal dat mense sal begeer om dit te hê wat hulle het. “Ons het gehoor dat God met julle is”. Watter getuienis behoort dit nie te wees as ons werklik leef soos ons opgeroep word om te leef nie!? Mense wie se lewens getuig dat die Almagtige God in hulle leef en saam met hulle wandel is ‘n lig in die donker wêreld. Die Grieke het na Filippus gekom, omdat Jesus fisies saam met hulle gewandel het, maar soveel meer het gebeur met die uitstorting van die Heilige Gees. Op die dag van die uitstorting van die Heilige Gees het mense van verskillende tale God se Woord gehoor en is hulle diep getref. Hulle het vir Petrus en die ander gevra wat hulle moes doen. In Handelinge sien ons hoe die boodskap vanuit Jerusalem beweeg na mense van alle volke en tale en hoe hulle deel word van die Volk van God. Hoe wonderlik is dit nie om te sien dat diegene wat tot bekering gekom het die boodskap met blydskap ontvang het nie? Die boodskap is deur die hoorders met blydskap ontvang en diegene wat dit ontvang het, het, soos God in Sagaria voorspel het, hulle lewenswyse verander. 1Tessalonissense 1:8 Die woord van die Here het immers van julle af, nie net in Macedonië en Agaje weerklink nie – julle geloof in God het inderdaad na elke plek versprei. Gevolglik het ons nie nodig om meer iets daaroor te sê nie.
Slot
God bring herstel omdat Hy sy uitverkorenes hartstogtelik liefhet. Hy bring vrede en vreugde en maak volkome nuut. Niks is vir Hom onmoontlik nie, al lyk jou lewe en verlede hoe. Hy kom in Sagaria na die volk toe en sê dat hulle moed moet hou; dat hulle nie moet bang wees nie, want Hy is steeds in beheer. Hy wil die koning in jou lewe wees en vra dat jy die waarheid sal praat en ander sal liefhê. Hy sal jou hartseer verander in feesdae vol vreugde. Ander sal na jou lewe kyk en besef dat God met jou is, omdat jy, ongeag die fisiese omstandighede, vreugde en vrede sal hê. Jy sal vir hulle die pad kan wys na hoop en liefde en vergifnis. Mag dit waar wees van elkeen van ons se lewe – dat mense sal sê: “Ons wil met jou saamgaan, want ons het gehoor, en gesien, dat God met jou is!”
