Sagaria 7 (Moet ek Vas?)

Inleiding

Dit kom vir ons voor as ons ook na Sagaria 8:19 kyk dat die Jode vier dae van vas gehad het in ʼn jaar. Die eerste, ongeveer die 17de Julie, in herinnering van die val van Jerusalem se muur (Jeremia 52:6.) Die tweede, ongeveer die 4de Julie, in herinnering van die tempel wat deur Nebusaradan afgebrand is (Jeremia 52:12,13.) Die derde,  in die sewende maand, gedenk die moord op Gedalia asook die totale vernietiging van Jerusalem. Die vierde, die 10de Desember, herdenk die beleg van Jerusalem (2 Konings 25.) Die vraag wat nou deur die volk gevra word, aangesien hulle besig is om Jerusalem te herbou, is of hulle moet voortgaan om hierdie vasdae te vier. In Sagaria 7 word daar spesifiek na twee van hierdie vasdae verwys. In Jesaja 58 het die volk ook ʼn vraag oor die vas wat hulle nakom. Hulle vraag is hoekom hulle dit doen as God hulle nie raaksien nie. Die rede vir vas, volgens die volk, word dus duidelik, nl. dat God hulle moeilike omstandighede moet raaksien en iets daaromtrent doen. M.a.w. ons doen iets, dan sal God iets doen. Klink dit nie bekend nie?

Die ware betekenis van die vas

In Jesaja en hier in Sagaria het God egter ‘n teenvraag vir die volk. “Vir wie het julle dit gedoen toe julle gevas het?” Die Jode het nou al vir 70 jaar dieselfde “ritueel” gevolg deur in hierdie maande te vas. Dit was deel van hul godsdiens, maar God was nie in hul gedagtes toe hulle dit gedoen het nie. Dieselfde vraag kom na elke gelowige vandag, nl. hoekom doen jy wat jy doen? Dit kan die mooiste godsdienste gebruik wees, met die wonderlikste betekenis, maar indien jy nie God daardeur verheerlik en eer nie en dit doen bloot a.g.v. tradisie of om deur mense raakgesien te word, is dit ‘n euwel in God se oë.

Jesus roep die mense van sy tyd op om te vas, nie om deur mense raak gesien te word nie, maar om deur God gesien te word. Mattheus 6:16-18 “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met hulle lang gesigte wees nie, want hulle trek hulle gesigte, sodat die mense kan sien dat hulle vas. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang.  Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.” Die veronderstelling was dat die volk deur te vas, terugdink aan die straf oor hul ongehoorsaamheid aan God se gebooie, hulself voor Hom verootmoedig en sal terugkeer na Hom deur nou in gehoorsaamheid te lewe. Ongelukkig was dit nie wat plaasgevind het nie. Hulle vasdae was ‘n uiterlike vertoon oor hoe godsdienstig en vroom hulle was, sonder enige innerlike hartsverandering. Dit was nou ‘n kompetisie oor wie se vas die beste en langste en ergste is. In Jesaja 58 vra God hulle of hulle dink dat die vas wat Hy van hulle vra ʼn vas is wat totaal gefokus is op ʼn liggaamlike en uiterlike kastyding. Jesaja 58:5 Is die vas wat Ek verkies dan so, ‘n dag van verootmoediging vir ‘n mens? Is dit om die hoof te buig  soos ‘n biesie, en in sak en as te lê? Is dit wat julle vas noem? Is dit ‘n dag wat die Here se goedkeuring wegdra? Dit is soortgelyk aan die vraag in Sagaria 7. Sagaria 7:6 En wanneer julle eet en wanneer julle drink, eet en drink julle nie net soos gewoonlik nie? In beide gedeeltes, Jesaja en Sagaria, roep God dan die volk op om te doen wat reg is in sy oë. Om na die weduwee, die wese en die vreemdeling om te sien en die arme nie te verdruk nie. In Jakobus word hierdie manier van lewe voor God “suiwer en onbesmette godsdiens” genoem. Jakobus 1:27 Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou. Die vas wat God gevra het, was dus nie ‘n onthouing van voedsel nie, maar ‘n innerlike herfokus op die dinge waaroor dit regtig gaan, nl. die beoefening van onbesmette godsdiens, ‘n lewe van gehoorsaamheid aan Sy gebooie.

Vas vandag

Dit is duidelik in die nuwe verbond dat Christus al die Ou Testamentiese seremonies in Homself vervul het. In Jesus se eerste wonderwerk in Johannes 2 word hierdie vervulling op ʼn sigbare manier aan ons uitgebeeld. Daar is nie meer enige wyn op die bruilof nie. Jesus roep die diensknegte op om die klipkanne wat daar gestaan het vol water te maak. Hierdie klipkanne was gebruik vir die reiniging voor iemand die vertrek sou kon ingaan. Jesus verander dan hierdie water in wyn. Dit is simbolies vir die feit dat die reiningswette nou vervul is in Hom. In Hom breek die tyd aan van ʼn innerlike reiniging wat deur Sy kruisdood bewerkstellig is. Daarom antwoord Jesus ook die mense wat na Hom toe kom met die vraag aangaande sy dissipels wat nie vas nie, soos volg: “Julle kan tog nie die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is nie?” Lukas 5:34. Wat het Jesus hiermee bedoel? Hy bring dit onder die mense se aandag dat sy dissipels saam met die bruidegom wandel en daarom geen rede het om te vas en God te smeek vir herstel nie. God het reeds in Christus naby hulle gekom en in Hom is die tempel en die muur en Jerusalem totaal geestelik herstel. Daar sou wel ʼn aantal dae na Sy hemelvaart wees waar Hy sy volgelinge sou verlaat, maar met die uitstorting van die Heilige Gees het Hy vir ewig by Sy volgelinge woning kom maak. Johannes14:23 Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Let daarop dat mense by wie Hy kom woning maak, mense sal wees wat Hom liefhet en Sy opdragte ter harte neem, presies dit wat Hy van die Ou Testamentiese mense gevra het wanneer hulle die vas sou gebruik. Die bruidegom is nou met ons en ons het vergifnis ontvang. Waarom sal ons dan uiterlik vas?

Nuwe verbond

In Lukas 5 vergelyk Jesus die vas, die ou verbond, en dit wat sou plaasvind onder die nuwe verbond, met ou en nuwe wyn. Die nuwe wyn, wat Jesus se versoeningswerk uitbeeld, kan nie in die ou verbond se wynsak ingegooi word nie. Net so min kan diegene wat wil vashou aan die ou verbond hulle tuis vind in die nuwe verbond. Lukas5:39 Boonop het niemand wat ou wyn gedrink het, lus vir nuwe wyn nie. ‘Die oue smaak goed,’ sê hy. Die nuwe verbond mens bevind homself toegedraai in Christus se geregtigheid, iets waarvan die mens wat vashou aan die ou verbond niks van wil weet nie. Jesus sê die nuwe wyn sal die ou sakke laat skeur. Dit word op twee plekke letterlik en op ʼn traumatiese manier uitgebeeld. Die eerste is as die hoëpriester, wat die verteenwoordiger van die ou verbond is, Jesus vra of Hy die Christus, die Seun van God is. Jesus antwoord hom soos volg: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: Van nou af sal julle die Seun  van die Mens sien sit aan die regterhand  van die Magtige, en Hom op die wolke  van die hemel sien kom.” Mattheus 26:64. Hierop skeur die hoëpriester sy kleed. Hy aanvaar nie die nuwe wyn nie. Net so sou Jesus met sy sterwe aan die kruis veroorsaak dat die gordyn in die tempel, wat skeiding gemaak het tussen die heilige en allerheiligste, geskeur word. Die skeur vind plaas van bo na onder. Mattheus 27:51 “En kyk, die voorhangsel in die heiligdom is van bo tot onder in twee geskeur…” Dit kom van God. God bring die mens terug na Eden, waar gelowiges nou weer saam met Hom kan wandel in die allerheiligste.

Gehoorsaamheid

In die ou verbond en die nuwe verbond is God se oproep nogsteeds dieselfde, nl. dat mense in gehoorsaamheid aan Hom moet leef en Sy opdragte moet uitvoer. Dit gaan nie oor wat mense sien nie, maar wat God sien. Wat mense van jou dink is nie dit wat eendag gaan tel nie. God waarsku ons verder dat dit wat belangrik in mense se oë is as ʼn gruwel by God beskou word. Lukas 16:15 Hy sê toe vir hulle: Dit is julle wat julleself voor die mense regverdig voordoen, maar God ken julle harte. Want dit wat deur mense hoog aangeskryf word, is ‘n gruwel voor God. Hy ondersoek ons harte. Hy kyk na die gesindheid waarmee ons dinge doen. Kyk wat sê Jesus oor hoe mense lyk wat Hom lief het. Johannes 14:15 As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. Dit was dan ook die rede hoekom daar so ʼn groot toorn van God teenoor Sy volk gekom het. Sagaria7:12 Hulle het hulle harte verhard, so hard soos ‘n diamant, sodat hulle nie die wet en die woorde gehoor het wat die Here, Heerser oor alle magte, deur sy Gees en deur die vroeëre profete gestuur het nie. Daarom was daar van die kant van die Here, Heerser oor alle magte, ‘n baie groot oordeel uit toorn.

Gebede

God roep ons op om Hom te gehoorsaam in alles. Hy sê aan sy volk dat Hy nie hulle gebede verhoor en nie meer na hulle luister nie, omdat hulle ook nie na Hom wil luister nie. Niks kan erger wees as om te hoor dat God nie meer na jou gebede sal luister nie. In Petrus word mans gewaarsku dat as hulle nie reg sou optree teenoor hulle vroue nie, God nie na hulle gebede sou luister nie. 1Petrus 3:7 Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie. Moenie speel met God se opdragte nie. Moenie dink dat jy kan leef soos jy wil en dat God met jou sal wees nie. Hy wandel saam met die wat saam met Hom wil wandel in gehoorsaamheid.

Slot

Uiterlike skyn godsdiens is nog steeds aan die orde van die dag. Dit is maklik om vroom te lyk deur allerhande uiterlike dinge te doen sodat mense dit kan raaksien. Ware suiwer godsdiens is egter presies dit wat die woord sê, nl. diens aan God. Om iemand te dien beteken om dit te doen wat hy/sy wil hê jy moet doen, nie dit wat jy dink die beste is nie. Baie mense is egter verward omtrent wat God van hulle vra, omdat hulle nie die Woord ken en bestudeer nie. In moeilike omstandighede vas hulle deur op te hou eet en hulself liggaamlik van allerhande dinge te onthou. Soms dink mense dat hulle hierdeur amper God se “arm kan draai” om te doen dit wat hulle graag wil hê Hy moet doen. God se Woord is egter duidelik –  Hy gaan nie na jou gebede luister indien jy nie in gehoorsaamheid aan Hom leef nie. Die uiterlike vas het verander het in ‘n innerlike fees saam met Christus. Hierdie inwoning veroorsaak dat ons in verootmoediging voor God wandel en herfokus op die dinge waarvan Jakobus praat as die ware en suiwer Godsdiens. Jakobus 1:27…. om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.

Lewer kommentaar