Inleiding
Net ter inleiding is dit dalk goed om Sagaria 6 in verskillende vertalings te lees, aangesien die bewoording sodanig verskil dat die betekenis in sommige vertalings effens duister is. Die gedeelte word die beste vertaal in die 1953 vertaling en is grootliks ‘n professie van die koms van Christus. Die voorsienigheid van God, die vrygewigheid van mense en gehoorsaamheid aan God se bevele, word alles uitgebeeld in hierdie visoen.
Die berge van koper
Die vier strydwaens kom tussen twee berge van koper te voorskyn. Die Engel wat aan Sagaria die uitleg gee vertel hom dat die vier strydwaens uitgaan nadat hulle voor God verskyn het. Die twee berge van koper wys op God se voorsienigheid en onwankelbaarheid. Sy bevele staan vas soos berge van koper. Hy sal nooit verander nie en sy planne staan vir ewig vas. Luister maar net wat Jakobus getuig van God. Jakobus 1:17 Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. Niemand kan God se besluite keer of ongedaan maak nie. Keer op keer lees ons van heersers wat gedink het hulle is magtiger as God, net om voor Hom hul knie te moet buig. Nebukadneser is seker een van die beste voorbeelde van so ‘n koning. Hy was die groot heerser van Babilon en het gedink dat hy die een is wat Babilon opgerig en sy koninkryk groot gemaak het. In een oomblik raak God sy verstand aan en die “magtige” koning vreet gras soos ʼn dier. Luister na sy belydenis nadat die Here weer vir hom helderheid van verstand gee: Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, ‘Wat het U gedoen?’ Daniel 4:35.
Net so het God ook alles bepaal en beplan wat met Sy Seun sou plaasvind op aarde. Handelinge 4:27-28 “Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heiden nasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur.
Die vier strydwaens
Die vier strydwaens wat van God af uitgestuur word verteenwoordig engele van die Here. Ons lees ook in die Psalms dat die engele van die Here waens van God genoem word. Psalm 68:18 Die strydwamag van God is tienduisende, duisende der duisende. My Heer het van Sinai af by die heiligdom aangekom. Die psalmdigter vertel ons ook dat God op die gerub(engel) ry en ook dat Hy sweef op die vlerke van die wind. Psalm 18:11 Hy het op ‘n gerub gery, Hy het gevlieg, gesweef op die vlerke van die wind. In Sagaria word die waens ook deur die engel geïdentifiseer as vier winde van die hemel, wat weereens ʼn bevestiging is van die beeld in Psalm 18 genoem. In opdrag van God gaan hierdie engele uit na die hele wêreld. Ons lees dat hule gretig is om God se opdragte uit te voer. Die engele, wat God se diensknegte is, is altyd gretig om God se opdragte uit te voer. Wat ookal die opdrag aan elke engel was, of dit straf of vrede is, hulle voer dit uit met entoesiasme, tot God se heerlikheid en eer. Wat van ons? Daarom roep die Onse Vader ons op om te bid “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Mattheus 6:10. Mag ons as U kinders en diensknegte net so gretig wees om U Woord uit te voer as die engele in die Hemel.
Die engele voer God se opdragte uit. Elke Jood moes besef dat elke beslissing wat oor hulle gekom het in ballingskap in die Noorde, die slegte (die swart perd) en die goeie (die wit perd) uit Sy hand voortgekom het. God het gestraf, maar Hy bring ook weer die vrede. Net so moet ons as gelowiges besef dat God se beslissings en opdragte uitgevoer word oor die hele wêreld, oor die goeie sowel as die slegtes. Of dit vrede is of teenspoed – alles kom van God. Jesaja 55:10-11 Ja, soos reën en sneeu uit die hemel afkom en nie daarheen terugkeer nie maar die aarde deurdrenk en plante laat voortbring, dit laat uitspruit, en so saad gee vir die saaier en voedsel vir dié wat eet, net so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie, maar doen wat Ek wil hê, en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het.
Die geskenke uit Babel
Josua en Serubbabel moes die ballinge van uit Babel in Jerusalem lei en het die opdrag gekry om die tempel te herbou. Nie alle ballinge het egter uit Babel teruggekeer nie, maar Geldai, Tobia en Jedadja bring geskenke om hul hulp aan te bied. Hierdie geskenke word gebruik om die kroon vir die hoëpriester te maak. Die opdrag is dat hierdie geskenke aanvaar sal word en gebruik sal word om God se opdrag uit te voer. God gebruik ook mense in die uitvoer van sy opdragte. Ons het dikwels die vraag hoe ons dade en gebede enigsins deel vorm van God se plan en soewereiniteit. Hierdie is ‘n misterie wat ons nie verstaan nie, maar waarvan ons deeglik kennis moet neem. Jou dade en gehoorsaamheid is belangrik en jou gebede vorm beslis deel van God se voorsiennigheid (providence)
Die man met die naam Spruit / Loot
Hierdie beeld wys op die regeerder was sal kom. Wat vreemd is van hierdie regeerder, waarvan Josua ʼn beeld is, is dat Hy iemand sal wees wat beide Priester en Koning sal wees. Dit is baie duidelik dat Josua nie hierdie titels beide sou dra nie, maar dat dit na iemand anders gewys het. Sy naam is Josua, wat Verlosser beteken. Dit is die naam Jesus in die Grieks beteken. Hy sou net soos Josua, die opvolger van Moses, die volk lei na die beloofdeland. Nêrens in die Ou Testament kon een persoon beide die posisie van koning en priester vervul nie. Net Christus sou beide posisies ten volle kom vervul. Hy regeer en sit aan die regterhand van God die Vader en Hy is die hoëpriester wat nie net homself as volmaakte offer gegee het nie, maar ook vir ons intree by die Vader. Psalm 110 profeteer dat Hy beide hierdie posisies sal beklee. Sy Koningskap vers 1: Van Dawid. ‘n Psalm. Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete. Sy Priesterskap vers 4: Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek.
Hierdie man wat sal kom se naam is Spruit/Loot. Dit word ook deur ander profete geprofeteer dat die Een wat kom ʼn spruit of loot sal wees. Niks van Hom sal ooglopend wonderlik wees nie. So word hy deur Jesaja beskrywe. Jesaja 53:2-3 Hy het soos ‘n jong loot voor Hom opgegroei, soos ‘n wortelstok uit droë grond. Hy het nie ‘n gestalte gehad, geen glans, dat ons na hom sou kyk nie, nie ‘n goeie voorkoms, dat ons hom sou begeer nie. Hy is verag, deur mense verlaat, ‘n mens van smarte, bekend met siekte, soos iemand vir wie ‘n mens jou gesig verberg. Hy is verag, en ons het hom nie geag nie. Tog, al sou niemand Hom reken nie, sou Hy die een wees wat die lang verwagte tempel sou herbou. Jesus profeteer dit ook van homself as hy aan die leiers van die volk openbaar waar Hy sy gesag vandaan kry om hulle uit die tempel uit te jaag. Johannes 2:19 Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en binne drie dae sal Ek dit opbou.” Dit word dan ook bevestig, ʼn paar verse later, dat Hy van die tempel van Sy Liggaam gepraat het. Haggai het self ook geprofeteer dat die tweede huis wat gebou sou word groter as die eerste sou wees. Haggai2:9 ‘Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘En op hierdie plek sal Ek vrede gee,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.” Die tempel wat deur Loot herbou sou word, sou die ware, ewige geestelike tempel van God wees en sou bestaan uit mense van alles volke, tale en nasies. Christus is hierdie man. Hy het die ware tempel kom herbou.
Die herbou van die ware tempel
Hy, Jesus, die ware priester en koning, kon alleen vrede bewerkstellig. Psalm85:11 Troue liefde en waarheid ontmoet mekaar, geregtigheid en vrede omhels mekaar. Daar is geen manier wat enige mens al God se opdragte ten volle kon nakom nie. Romeine 3 sê dit maar te duidelik dat daar niemand is wat regverdig is of doen wat God vra nie. Ook is daar niemand wat na God soek nie. Hoe kan daar dus vrede tussen God en mens wees? Die vrede moes bewerkstellig word deur een wat in alles aan die Vader gehoorsaam kon wees en sodoende dit wat ons nie kon doen nie in ons plek kon doen. Hy moes verder ook die volmaakte offer bring wat nooit weer herhaal sou word nie en die priester wees wat met die “volk” se name voor God sou kom staan en intree vir die “volk”. Die name waarvoor Hy intree as priester is die wat Hy uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld en wie se name opgeskrywe is in die boek van die Lewe. Aan hierdie groep sou sy geregtigheid oorgedra word. Ons ontvang sy geregtigheid en Hy ontvang ons sonde aan die kruis. 2Korintiers5:21 Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word. Elke persoon wat nou in Christus geplaas is, en daarom in absolute vrede met God verkeer, sal nou deel word van hierdie tempel.
Sagaria vertel verder dat hierdie groep wat van ver af kom, ook sal help bou aan die tempel. Die wat van ver af kom verwys na die groep wat sal kom uit elke volk en stam en taal en nasie. Deur die profesieë van die Ou Testament word geprofeteer dat mense uit alle nasies deel sal word van die volk van God. Ons word as gelowiges daarop gewys dat ons die tempel van die Lewende God is en dat God kom woning maak het in ons. 1Korintiers6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? As ons as Sy tempel na die wêreld gaan en hulle oproep om hulle te bekeer, word ons deel van hierdie sendingaksie om mense wat deel moet vorm van hierdie tempel, deur die werking van God, in te bring. Efesiërs 2:19-21 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here.
Slot
Die boodskap van Sagaria 6 aan die Jode, sowel as aan ons is dat God in beheer is van elke situasie. Sy besluite staan vas. Die Messias word voorspel en aangetoon dat Hy die een sal wees wat die ware tempel sal herbou. Christus sal die een wees wat vrede tussen ons en God bewerkstelling. Tog is die mens nie uitgesluit uit God se raadsplan nie en word dit duidelik aangetoon dat ons in gehoorsaamheid sal help bou aan hierdie geestelike tempel. Wees dus nie bevrees vir die toekoms en wat dit ookal vir jou en my mag inhou nie. Lewe in gehoorsaamheid aan God se gebooie, vertel aan ander die Evangelie van Verlossing in Christus en help bou aan die mees ongelooflike tempel, waarvan ons alreeds die voorreg het om aan deel te hê.
