Inleiding
Straf is die tema van Sagaria 5. Ons bevind ons vandag in ‘n samelewing waar niemand verantwoordelikheid vir hul dade wil aanvaar nie, en nog minder wil hoor dat jy vir verkeerde dade gestraf word of gaan word. “God is liefde” en daarmee word alles wat duister is bedek en verontskuldig, of so redeneer mense. Ons moet onthou dat die boodskap van Sagaria eerstens vir die Jode as volk is, maar ook vir elke mens wat op aarde leef.
Straf kom van God
Die duiwel word deesdae verantwoordelik gehou vir alles wat sleg is wat in jou lewe gebeur. Die Bybel is egter duidelik dat sonde deur God gestraf word. Sonde het nie net slegte nagevolge nie, maar God se volk en gelowiges word aktief deur God gestraf. In hierdie beeld wys God vir Sagaria dat die ballingskap God se straf vir die volk se sonde was. Die volk is vervloek a.g.v. hulle ongehoorsaamheid. In Deuteronomium roep God die volk op om Hom te gehoorsaam en na sy opdragte te luister. As hulle Hom sou gehoorsaam beloof Hy aan hulle dat Hy hulle sal seën. (Deuteronomium 28) In dieselfde hoofstuk kondig Hy egter ook hulle straf aan indien hulle nie na Hom sou luister nie. Hulle sal gestraf word deur verskeie vloeke wat hulle sal tref. Die verhouding van vloek teenoor seëning is drie tot een. Die volk moes dus nooit twyfel dat hulle gestraf is, en sal word, deur God a.g.v. van hulle oortredings nie. Net so moet elke gelowige sy/haar lewe gereeld in oënskou neem en evalueer of dit wat hulle ervaar nie dalk ʼn straf van God is aangaande hulle sonde nie. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: “My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.” As jy volhard in sonde sal God jou tug, net soos wat Hy die Israeliete getug het. Die bannelinge wat uit Babilon teruggekeer het moes herinner word daaraan dat hulle vaders weggevoer was na Babilon a.g.v. hulle sonde en dit moes vir hulle elkeen, soos vir ons vandag, tot ʼn waarskuwing wees.
Die boek
Die boek wat Sagaria sien verteenwoordig die vloek wat God oor die land gestuur het. Die lengte en breedte van die boek is dieselfde afmetings as die van die voorportaal van die tempel, ʼn herinnering dat hierdie straf van God af gekom het. 1 Konings 6:3 Die portaal aan die voorkant van die hoofvertrek van die tempel was, soos die tempel, twintig el breed, en dit was tien el lank. Die vloek kondig die straf aan vir elke persoon wat volhard het in hulle sonde. Dit het deur die hele land gegaan. Hy wil ook aan die volk die versekering gee dat, indien ‘n persoon in sonde volhard, die vloek van God jou sal tref ongeag waar jy jou bevind. Jy sal nooit vry kan kom van Sy vloek wat Hy oor jou lewe sal stuur nie. Geen verskoning, blaam verskuiwing of menslike regverdiging sal jou laat vrykom nie. Jy staan verantwoordlik vir jou dade. Jy en jy alleen. Die dief en diegene wat vals sweer word gestraf. Hier word die agste en die negende gebod saam genoem as voorbeelde van die volk se oortredings. God wat die opdrag gegee het dat die mens nie mag steel nie is dieselfde God wat gesê het dat die mens nie mag vals sweer nie. Jakobus 2:11 Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy ‘n oortreder van die wet. Geen mens moet ooit dink dat iets wat God gespreek het van minder belang is nie. As God gespreek het moet die mens in gehoorsaamheid optree. Miskien dink jy jy het nog nooit iets gesteel nie, maar jy skinder van ander en steel so hul reputasie. Of dalk dink jy, jy het nog nooit vals gesweer nie, maar jy noem jouself ‘n Christen, maar leef nie soos een nie. Ons kan derduisende voorbeelde in die allerdaagse lewe vind van hoe hierdie gebooie daagliks verontagsaam word. Ons het egter die arrogansie om sommige sondes as minder ernstig te bejeën, omdat die nagevolge daarvan dalk nie menslik so ooglopend of ernstig is nie. Sommige mense het verder nog die arrogansie dat hulle onder sekere omstandighede God se Woord weerstaan en glo dat God hul ongehoorsaamheid sal verstaan. Deuteronomium 27:26 Vervloek is die een wat die woorde van hierdie wet nie bevestig deur dit uit te leef nie. Die beeld in Sagaria 5, nl. wat die straf vir die sonde sal veroorsaak, behoort elke leser te skok. Die vloek sal in jou huis vertoef en alles in jou huis sal vernietig word. Wie sal sonde wil vertroetel of enigsins daarmee wil speel, na so ʼn waarskuwing? Hoe baie gelowiges se huisgesinne is nie al totaal verwoes deur die sonde wat toegelaat is deur ouers nie? Nie net gelowiges nie, maar die hele wêreld word deurtrek met God se vloek. Spreuke 3:33 Die Here se vervloeking rus op die huis van goddeloses, maar die tuiste van regverdiges seën Hy. Nie net het sonde gevolge vir elke mens nie, maar sonde waarin ʼn gelowige volhard het ook ʼn straf wat daarop volg.
Die mandjie
Met die tweede beeld word goddeloosheid as ʼn vrou uitgebeeld. In die Ou Testament word die volk baie keer as ʼn vrou uitgebeeld wat aan haar man ontrou geword het. Israel het soos ʼn slegte vrou agter ander mans aangeloop en nie aan God getrou gebly nie. Hierdie goddelose vrou sit in ʼn “graanmandjie” (2020 vertaling) Die woord het te make met ʼn meetinstrument wat gebruik word om ʼn sekere hoeveelheid graan af te weeg. Die volk se sonde word deur God geweeg. Ons vind dieselfde gedagte in die Nuwe Testament as God die volk Israel aan spreek oor hulle sonde. Mattheus 23:31-32 Daarmee getuig julle teen julleself dat julle kinders is van hulle wat die profete vermoor het. Maak julle dan maar die maat van julle vaders vol. Die vrou is goddeloosheid en nie Israel self nie. Vir ʼn bepaalde tyd sal God toelaat dat Israel voortgaan in goddeloosheid totdat goddeloosheid die maat bereik wanneer God dit uit Israel sal verwyder. God is in beheer van die hoeveelheid goddeloosheid, nie net in Israel nie, maar ook op die hele aarde – wat Hy toelaat en vir hoe lank Hy dit toelaat. Psalm 34:17Die gesig van die Here is gerig teen kwaaddoeners om hulle gedagtenis uit te roei van die aarde af. Daar sal ʼn dag van verlossing aanbreek vir Israel soos wat God dit bepaal het. Romeine 11:25-26 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder.
Die vrou wat goddeloosheid voorstel sal dan weggevoer word na Sinar of beter bekend as Babilon. Babilon word deur die Bybel as metafoor gebruik vir opstand teen God, of anders gestel, sonde teen God. Vanaf die bou van die toring van Babel tot aan die einde van Openbaring, waar Babilon uitgebeeld word as “die moeder van die prostitute, en van al die afskuwelikhede van die aarde.” Openbaring 17:5, wordhierdie stad uitgebeeld as al die goddeloosheid wat mense gedoen het deur alle eeue. Hierdie stad word dan ook deur God vernietig in Openbaring 18. God sal die sonde straf en tot ʼn einde bring. Daar is ook ʼn tema wat reg deur die Bybel loop dat die gelowige hierdie goddelose stad moet verlaat. So vind ons dat Abram geroep word om Mesopotamië te verlaat wat tussen die Tigris en die Eufraat lê, ‘n gebied wat ook Babilon genoem word. In Jeremia en Jesaja word Babilon se finale straf aangekondig en woorde soortgelyk met die in Openbaring word gebruik om hulle finale straf aan te kondig en God se volk op te roep om Babilon te verlaat. Net so word die gelowiges in Openbaring opgeroep om Babel te verlaat. Openbaring 18:4 Toe het ek ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan weg van haar, my volk, sodat julle nie ook deelneem aan haar sonde nie, en julle haar plae nie oor julle bring nie. Daar sal dus ʼn wraak aanbreek oor alle goddelose mense. Hulle straf is ʼn ewige straf in die vuur wat vir ewig brand. Openbaring 14:8-10 Ná hom het ‘n ander engel, ‘n tweede een, gekom en uitgeroep: “Geval, geval het Babilon, die magtige, sy wat al die nasies van die wyn van die wellus van haar hoerery laat drink het.” Ná hom het ‘n ander engel, ‘n derde een, gekom en met ‘n harde stem uitgeroep:
“As iemand die dier en sy beeld aanbid, en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.”
Slot
Ons almal weet dat sonde gevolge het. Vir die gelowige is daar egter ook die belofte dat God jou hier vir jou sonde sal straf. God het verder ook sy vloek uitgespreek oor elke persoon wat in sonde volhard. Elke persoon in die wêreld se sonde lê onder God se vloek en hy/sy sal die verdiende loën daarvoor ontvang. Geen gelowige moet hom/haar verbeel dat hulle sonde kan toelaat in hulle lewens en in hulle huise en dat dit nie erge gevolge sal hê nie. God se straf van Sy volk is vir ons tot voorbeeld dat Hy ook Sy uitverkorenes sal straf omdat die konsekwensies van sonde vernietigend vir so ʼn persoon sal wees. God wil ons in Sy liefde van sonde weerhou deur ons te waarku dat Hy dit nie ongestraf sal laat bly nie. Saam met hierdie waarskuwing om egter ook die beloftes van seën. Lees gerus Deuteronomium 28 om ook God se seën aan te hoor vir die wat aan Hom gehoorsaam is.
