Inleiding
Sagaria sien ʼn goue kandelaar met sewe lampe. Elke lamp is gekoppel aan ʼn pyp wat weer gekoppel is aan ʼn oliekan wat voorsien word van olie deur twee olyfbome aan weerskante van die kandelaar. Daar is dus oorgenoeg olie sodat die lampe nooit sal ophou brand nie.
Die Lampstaander met sewe lampe.
In die tempel was ʼn kandelaar geplaas wat aanhoudend moes brand. Dit het vir die volk herinner dat God se teenwoordigheid in die tempel was en daarom moes dit dag en nag brand. God sou die lig vir die Volk wees. Hulle moes hierdie lig aan die wêreld vertoon deur hulle lewens, iets wat hulle nie gedoen het nie. Die kandelaar in die tempel was ook die heenwysing na Christus wat genoem word die “lig van die mense.” Johannes1:9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld. Jesus verwys ook na Johannes die Doper as ʼn lig. Johannes 5:35 Hy was die lamp wat brand en lig gee, en julle was gretig om julle vir ‘n tydjie in sy lig te verbly. Net so word die gelowige ook opgeroep om ʼn lig te wees. Hierdie lig is altyd ʼn heenwysing na Christus en moet gesien word as ʼn metafoor vir alles wat goed en goddelik is in teenstelling met die donker wat alles wat sleg is en die duiwel verteenwoordig. Jesus roep sy volgelinge op om nie ʼn lamp te wees wat onder ʼn maatemmer weggesteek word nie, maar om ʼn lig te wees wat skyn sodat mense ons Vader sal verheerlik. Mattheus5:16 “Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.” So word die sewe kerke in Openbaring ook die sewe goue kandelare genoem. Openbaring 1:20 Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.” So is dit baie duidelik dat die Kerk van die Ou Testament en die Nuwe Testament die lig moes wees in hierdie wêreld.
Leergierig
Sagaria vra die engel wat hierdie beeld beteken. Hy is nuuskierig om God se boodskap aan hom te verstaan. Elke gelowige moet dieselfde gesindheid hê as hulle na die Woord van God kom. Het ons die begeerte om werklik God se Woord te verstaan? So baie mense wat in die kerk sit het die idee dat die predikant die enigste persoon in die kerk hoef te wees wat in die Woord moet groei of dat net mense wat teologie studeer regtig die Bybel in diepte hoef te lees. Daar is ʼn groot probleem met iemand wat hom/haarself ʼn gelowige noem wat nie begerig is om die Woord van God beter te leer ken nie. Wat sou jy van die liefde van ʼn eggenoot dink wat geen begeerte het om sy eggenote beter te leer ken nie? Iemand wat te vrede is om getroud te wees, sonder om tyd met die ander persoon deur te bring en te leer hoe om hom/haar gelukkig te maak en te bederf. Die Here roep ons op om vir Hom aan te roep om nog meer wysheid te ontvang. Jakobus1:5 As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word.
God die bron van krag
Die boodskap van God word aan Sagaria geopenbaar. Miskien kon Sagaria dink aan die kandelaar in die tempel en hoe dit die taak van die priesters was om elke dag die kandelaar van olie te voorsien, sodat dit nooit sou ophou brand nie. Maar hier is geen priesters nodig nie. Die pype wat uit die bak loop, gevul met olie, wys ons daarop dat God die olie sal voorsien sonder enige hulp van ʼn mens. Die boodskap aan Serubbabel is duidelik: “Ek het jou geroep om die tempel te herbou, maar weet verseker dit is Ek wat dit sal doen. Ek sal jou, en die res van die volk, die krag gee om te doen waarvoor ek julle geroep het.” God roep die mens op vir ʼn sekere taak en dan voorsien Hy die krag om dit uit te voer. Net so sou die Kerk se groei en krag slegs van God kom. Paulus skrywe aan die Efesiër gemeente dat die krag wat in hulle is dieselfde krag is wat Christus uit die dode opgewek het. Efesiers1:19-20 wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele. Net die Gees bring ʼn verandering in mense se lewens. In Esegiël se visioen is dit die Gees wat kom en ʼn leërmag op hulle voete laat staan. Jesus vertel aan Nikodemus dat dit die Gees is wat mense wederbaar. Johannes 3:8 Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Die boodskap aan Serubbabel en aan ons is om op God se Gees te vertrou. Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur die Gees sal dit gedoen word wat God gedoen wil hê. Soms soek ons invloedryke mense met mag en geld om dryfkrag aan ons projekte te gee, maar dit is slegs God wat ons werk kan laat slaag.
Die twee olyfbome.
Wie of wat verteenwoordig die twee olyfbome? Hulle word geïdentifiseer as die twee gesalfdes wat by die Here staan. Om meer duidelikheid te kry oor wie hierdie twee gesalfdes is het ons nodig om na Openbaring te gaan kyk. Baie van die beelde in Sagaria word herhaal en uitgebrei in Openbaring. In Openbaring 11 vind ons die twee getuies wat ook die twee olyfbome en twee kandelaars genoem word wat voor God staan. Openbaring11:4 Hulle is die twee olyfbome, en ook die twee kandelare wat voor die Here van die aarde staan. Hulle word uitgebeeld as twee figure uit die Ou Testament naamlik Moses en Elia. Moses en Elia verteenwoordig die Wet en die Profete en word as metafoor gebruik vir die hele Skrif. Toe Jesus op die berg van verheerliking saam met drie van sy dissipels was, het Moses en Elia aan hulle verskyn. Lukas9:31 Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. Die hele Ou Testament het na Christus verwys, ʼn feit wat Jesus bevestig toe Hy met die Emmausgangers in gesprek was. Lukas24:27 Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê. In Openbaring word ook vir ons vertel dat die twee getuies vir drie en ʼn half jaar sal getuig. Dit is dan ook volgens Openbaring die presiese tyd vandat Jesus opgevaar het tot en met sy wederkoms.
Die olie
Hierdie twee olyfbome se olie word as goud beskryf. Dit is dus suiwer skoon olie. Die olie het geen gebrek nie. Dit is die suiwer Woord wat uit God se mond kom. Die hele Skrif wat deur hom gegee is om mense te voed. Hy sê aan Jeremia dat Hy sy Woord in sy mond plaas. Jeremia1:9 Die Here het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die Here het vir my gesê: Kyk, Ek lê my woorde in jou mond. Hierdie Woord vloei dus deur die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Dit voed ons en veroorsaak ʼn lig in ons lewens wat nie uitgedoof sal word nie. Die werk wat Hy in ons lewe begin het sal nooit tot niet gaan nie. Filippense1:6 juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. Hierdie werk van God sal voltooi word en niks of niemand sal die Lig in hierdie wêreld kan vernietig nie. As Petrus vir Jesus sê dat Hy die Christus is, die Seun van die lewende God, sê Jesus dat op hierdie verklaring van Petrus die Kerk gebou sal word. Dan volg die mees vertroostende woorde: en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Mattheus 16:18. Die Kerk is dus die getuies wat God se Woord deur die krag van die Heilige Gees aan die wêreld moet verkondig. Hierdie Woord sal deur die Kerk en deur ons lewens vloei deur die werking van die Heilige Gees en die lig, wat uit God se Kerk skyn, sal helder skyn in hierdie wêreld.
Slot
Die boodskap van Sagaria was vir Serubbabel en vir elkeen van ons. God is die bron van krag, deur Sy Woord en Sy Gees. Hy is getrou en ewig. Moenie moedeloos word nie, moenie angstig rondkyk en met geweld dinge probeer verander nie. Wees getrou in jou getuienis aan die wêreld en vertrou God, die bron van alle krag, om jou lig vir Sy glorie te laat brand, totdat Hy ons kom haal en Hy self ons lig sal wees.
