Sagaria 3

Inleiding

Die Jode wat na Jerusalem teruggekeer het, het baie vyande gehad. Baie mense wat wou hê dat hulle moes misluk in die herbou van hul volk en hul stad. Soos alreeds gesê het daar ook ʼn fraksie van die Jode teruggekeer wat voorheen in Israel was. Hierdie vyande het hul lewe baie moeilik gemaak en die omstandighede was alles behalwe rooskleurig. God het met Sagaria se vorige visioen alreeds aan die volk verklaar dat Hy hulle liefhet en dat Hy weer by hulle sal kom woning maak. Omstandighede het egter die hele tyd die teendeel gewys en daar was fisies min om oor opgewonder te word.

Satan – die ware vyand

Josua die Hoëpriester, waarvan ook gepraat word in Haggai, staan voor die Engel van die Here. (Soos in die vorige blog aangetoon: Christus self.) Die Satan staan aan die regterkant van Josua en is besig om hom voor God aan te kla. Eerstens was dit belangrik om aan die Jode wat teruggekeer het na Jerusalem aan te dui wie hulle eintlike vyand is. Die mense wat hul werk moeilik gemaak het deur allerlei hindernisse op hul pad te sit, was gestuur om hulle te laat twyfel aan God se beloftes. Paulus, onder leiding van die Heilige Gees, skrywe dieselfde boodskap aan die Efesiër gemeente. Efesiërs 6:11-12 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel. Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Ons moet as gelowiges nooit hierdie opdrag vergeet nie. Dit help ons niks om kwaad te word vir mense wat ons vervolg of slegte dinge van ons sê nie. Agter al ons lyding is die duiwel en sy magte. As die Jode hulle fokus op die mense sou plaas wat hulle elke dag gespot het terwyl hulle Jerusalem opgebou het of hulle gedreig het met oorlog sou hulle nooit die werk waarvoor God hulle geroep het kon klaarmaak nie. Ons word opgeroep om aan te gaan met God se opdrag vir ons en nie te fokus op mense nie. God verklaar aan die Satan dat hy gestraf sal word. God is in beheer en heers oor die Satan. Ons hoef ons nie te bekommer of te steur aan Satan se dreigemente en aanklagte nie. Hy sal daarvoor gestraf word.

Verder word ons ook nie opgeroep om te fokus op die Satan en sy magte nie. (Asof ons enigsins in staat sou wees om teen geestelike wesens te kon veg). Nee, nadat Paulus vertel teen wie ons se stryd is, vertel hy aan ons wat ons wapenrusting teen die vyand is. Dit is belangrik om te let dat elkeen van die wapenrustings wat genoem word, verwys na ons verhouding met die Here en die opdrag om Sy Woord te gaan verkondig. Al kla die Satan Josua aan dat Sy klere vuil is, net soos wat hy jou en my aankla oor sonde in jou lewe en dat ons nooit deur God aanvaar sal word nie, kom Christus en bestraf die Satan: “Hierdie man, net soos elke gelowige, is deur My gered” 

Oorwinning is alreeds behaal.

In Openbaring word aan ons vertel dat die Satan, wat die aanklaer is, neergewerp is. Openbaring 12:10 Toe het ek ‘n harde stem in die hemel hoor uitroep: “Nou het die verlossing en die krag en die koningsheerskappy van ons God deurgebreek, en ook die volmag van sy Christus, omdat die aanklaer van ons broers uitgegooi is, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Daar is oorwinning oor die Satan behaal. As jy wil weet hoe hierdie oorwinning plaasgevind het, hoef jy net die volgende vers te lees. Openbaring 12:11   Húlle het hom oorwin, op grond van die bloed  van die Lam, en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie. Hierdie oorwinning is dus deur Christus aan die kruis behaal. As gelowiges het ons egter ook ‘n aandeel in hierdie oorwinning elke keer as ons met ons lewens en met ons mond getuig aangaande Christus en wat hy in ons lewens kom doen het. Elke keer wanneer ons te midde van die aanslae van die duiwel, het sy deur mense of omstandighede, nie bang is om die evangelie van Christus aan die wêreld te verkondig nie.

Sondelas

Ons vind Josua voor God waar hy aangekla word deur die Satan. As die Hoëpriester wat die offers moet bring met vuil klere staan, hoe sou die volk kon dink dat hulle enigsins sou kon vry kom van die aanklag teen hulle? In Hebreërs word ons vertel dat die hoëpriester nooit vry kan kom van sy eie sonde nie en daarom moes daar elke jaar eers vir sy eie sonde ʼn offer gebring word. Die offer wat ons finaal kon bevry kon dus slegs gebring word deur iemand was sonder sonde is, hierdie persoon is Jesus Christus.  Hebreërs 7:26-27 So ‘n hoëpriester was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is, wat, anders as die hoëpriesters, nie elke dag nodig het om eers ter wille van hulle eie sondes offers te bring, en daarna vir die volk nie. Want dit het Hy eens en vir altyd gedoen toe Hy Homself as ‘n offer gebring het.

Josua, wie se naam “verlosser” beteken, staan voor die Een wat sou kom en wat ook genoem word Josua in Hebreeus en in Jesus in die Grieks. Hy sou die werklike Verlosser wees. Dit is Hy wat intree vir Josua en hom red soos ʼn brandhout wat uit die vuur gered word. Daar is geen manier waarop enige mens homself sal kan red van die ewige verderf nie. Ons het nodig dat Een wat sonder sonde, met ‘n kleed vol geregtigheid, vir ons moes kom sterwe. Christus het in ons plek die oorwinning bepaal wat ons nooit op ons eie sou kon doen nie. Christus se geregtigheid, sy lewe op aarde sonder enige sonde, word op ons oorgedra. Hier word dit uitgebeeld deur Josua wat sy vuil klere verruil vir feesklere. Hierdie feesklere is die drag waarmee ons geklee moet word as ons wil aansit by die Hemelse feesmaal. In Mattheus 22 vind ons die gelykenis van die bruilof. Nadat al die gaste opgedaag het, vind ons ‘n man by die onthaal sonder feesklere aan. Mattheus 22:11-12 Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar ‘n man sonder ‘n bruilofskleed aan.  En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed?’ Maar die man het geswyg. Hy word dan uitgegooi na waar hulle sal ween en op hul tande sal kners – die ewige verderf. Die beeld is so duidelik. Die Een wat die kleed sou bewerkstellig is die Engel van God, Christus self, en is ook die Een wat dit laat oorhandig aan Josua.

Die spruit van sal kom

Hierdie gedeelte profeteer aan Josua van die “Loot” of Spruit wat sal kom. Dit is ʼn bevestiging van die profesieë van Jesaja en Jeremia wat dui op die koms van die Messias. (Jesaja4:2; 11:2; 53:2 en Jeremia 23:5; 23:15). Hy sal voorkom as iets nietig. Gebore in ʼn nederige stal, met ouers sonder enige status en tog die Koning van ʼn ewige onvernietigbare koninkryk. Daniel 2:44 In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan ‘n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot ‘n einde bring, en dit sal standhou vir ewig.

Die steen

Die versoening sou nie net vir Josua plaasvind nie, maar God dui aan dat die versoening in een dag sou plaasvind vir almal. Die beeld van hierdie Een wat dit sou bewerk word uitgebeeld as ʼn steen met sewe oë. Deur die Bybel word Christus vergelyk met ʼn steen of klip. ʼn Voorbeeld hiervan is in Jesaja 28:16 Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek lê ‘n fondamentklip in Sion, ‘n uitgesoekte klip – ‘n kosbare hoeksteen as fondament gelê. Die een wat vertrou, hoef nie haastig weg te gaan nie. Die sewe dui op die volmaaktheid van die steen, aangesien sewe ʼn volmaakte getal is. So word die Heilige Gees ook in Openbaring uitgebeeld as die sewe geeste voor God se troon.

Dag van versoening

Met die opstanding uit die dood het Christus Satan verslaan en oorwinning behaal. Daar is dus alreeds ‘n vervulling in die profesie in die feit dat die Satan nie meer oor ons heers nie. Ons is nou vry, geklee in Christus se kleed van geregtigheid. Ons vuil kleure is met sy kruisdood uitgetrek en ‘n nuwe stel feesklere is vir ons aangetrek. Hierdie dag waarop die versoening gedoen word sal ʼn dag van vreugde vir al die kinders van God wees. Hierdie dag sal gekenmerk word as ʼn dag van vreugde. Die vrederyk in die Ou Testament word genoem ʼn tydperk waarop die mense onder hulle eie vyeboom en wingerdstok sal sit- ʼn tyd van absolute vrede. Hier word aan Sagaria vertel dat die dag van Versoening die aanbreek sal wees van ʼn vrede vir elke gelowige. ʼn Vrede van enige vrees vir straf. 1Johannes 4:18 In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Verder is daar ʼn vrede want niks sal ons kan skei van die liefde wat daar in Christus is nie. Watter vrede en vreugde moet die gelowige nie kenmerk nie?

Slot

Die Heilige Gees is vir elke gelowige gegee om ons toe te rus en te help in die proses van heiligmaking. Alhoewel ons alreeds deur Christus nuut gemaak is, wys die Heilige Gees deur God se Woord, ons op dinge waarin ons nog elke dag moet groei of in moet sterwe. Daar is egter ‘n duidelike onderskeid tussen die aanklag van die Satan en die teregwysing van die Heilige Gees. Die Satan se aanklag is verdoemend en wil ons moedeloos maak en ons vryheid in Christus wegneem. Dit oorweldig ons deur ons te laat fokus op ons eie sondigheid en plaas van op ons heiligheid in Christus, deur ons te laat fokus op uiterlike omstandighede en die opinies van mense. Die Heilige Gees, daarenteen, laat ons fokus op God en Sy oorwinning. God het verklaar dat ons die appel van Sy oog is. Hy het verklaar dat ons uitgenooi is na sy bruilof en Hy het aan ons die “nuwe skoon klere” gegee om aan te trek. Hy het ons Syne gemaak en geen aanklag van die Satan kan of mag ons vreugde in Christus van ons steel nie. Hoewel ons daagliks ons sonde bely is dit nie as verdoemdes nie, maar as oorwinnaars, wat deur die krag van die Heilige Gees, die wedloop sal voltooi.