Sagaria 2

Inleiding

Die profete het voor die ballingskap wonderlike beloftes gemaak aangaande Jerusalem en die tempel.  Na die ballingskap moes baie mense gewonder het wat van al hierdie beloftes geword het. Is God nie getrou aan sy beloftes nie? Net soos vandag word soveel van God se beloftes as fisiese beloftes geïnterpreteer, terwyl dit eintlik met die geestelike dinge te make het. Die fisiese skiet so ver te kort en die geestelike is van soveel meer waarde, en tog is die fisiese vir mense belangriker. Die tydelike genot is van meer waarde as die geestelike groei en seën. Dit is vandag nog hoe baie mense die Nuwe Testament lees, wanneer hulle die geestelike beloftes iets fisies wil maak en dan ervaar dat God nie getrou is aan sy beloftes wanneer voorspoed, gesondheid en rykdom nie gestalte in hul lewe vind nie.   

Afbreek en opbou

Dawid skrywe in die Psalms dat die goddelose se horings deur God verbreek sal word soos dit ook plaas sal vind volgens hoofstuk 1, maar hy sê verder dat die regverdige se horings opgehef moet word. Psalm 75:10 En ek, ek sal dit altyd verkondig, ek sal die God van Jakob besing,  wat sê: “Al die horings van goddeloses sal Ek afbreek, maar die horings van regverdiges sal opgelig word.” In die Ou Testament is daar baie gevalle waar engele aan mense verskyn in die vorm van ʼn mens. Die man met die meetsnoer in sy hand is dus ‘n engel wat aan Sagaria openbaar dat God die goddelose sal afbreek, maar die regverdige sal opbou. Die man met die meetsnoer in sy hand wys daarop dat Jerusalem weer opgebou sal word. Wie sal hierdie stad weer opbou? In Hebreërs word aan ons vertel dat die een wat die huis gaan bou meer eer waardig is as Moses. Hebreërs 3:3 Hy is inderdaad groter heerlikheid waardig geag as Moses – soos wat die bouer van die huis meer aansien het as die huis self. Hierdie stad wat gebou sou word sou beslis nie ʼn fisiese stad wees nie. Die profete het geprofeteer dat hierdie Jerusalem ʼn plek sou wees wat sou oorloop van mense. Jesaja 60:3-4 Nasies sal na jou lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms. Kyk om jou rond en neem waar: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. Jou seuns – van ver af  kom hulle aan, en jou dogters – op die heup word hulle gedra. Hierdie klomp mense wat na Jerusalem toe sal kom sal beslis nie net van een nasie wees nie. Hulle sal bestaan uit elke stam en volk en taal en nasie, soos dit ook in Openbaring aangetoon word. Die grense sal wyd wees en die spasie groot, want die nasies wat kom sal baie wees. Jesaja 54:10 Maak die plek vir jou tent groter, en die tentdoeke van jou wonings – laat dit oopgespan word moet dit nie beperk nie! Maak jou tenttoue lank en jou tentpenne stewig!

Die Tempel van God

Sagaria word beskryf as ʼn jongman. Hy het nodig om versterk te word. Hy sou met menslike oë kyk na die verlatenheid van Jerusalem en ʼn tempel wat nog gebou moet word. Sal daar werklik iets goeds hieruit kom? Sal ons dit kan herbou? Sagaria word opgeroep om verder te kyk as net die fisiese. Ja, Jerusalem sou weer herbou word en die tempel ook, al sou dit nie met dieselfde glorie wees as in Salomo se tyd nie. Daarom, as ons na Sagaria se profesie luister, kan ons nie anders as om te sien dat dit wat belowe is soveel verder strek as net die fisiese nie. As ons na die tempel se afmetings in Esegiël kyk besef ons dat nie net word die hoogte van die tempel nêrens aangedui nie, maar ook dat daardie tempel nooit gebou is of sal gebou word nie. Dit verwys na ʼn tempel wat nie met mense hande gebou sal word nie, maar ‘n geestelik tempel wat sou bestaan uit God se kinders. Op pinksterdag, met die uitstorting van die Heilige Gees, sien ons hoe hierdie geestelike Jerusalem begin herbou word.

Jesus herbou en beskerm

Jerusalem word beskrywe as ʼn plek wat lê soos ʼn oop land. Ons weet dat die Jerusalem wat Sagaria hulle sou herbou steen mure gehad het en dat dit een van die dinge was wat Nehemia in dieselfde tyd herbou het. Nehemia 7:1 Toe die stadsmuur herbou was, het ek die poortdeure ingesit, en die poortwagte, die sangers en die Leviete is aangestel. Weereens word daar aangetoon dat die gesig nie verwys na  ʼn fisiese stad nie, want daar sal geen fisiese mure wees nie. Verder sal hierdie Jerusalem ʼn plek wees wat nooit oorwin sal word nie. Hierdie stad sal ʼn muur van vuur hê. Jesaja profeteer ook van hierdie stad. Jesaja 26:1 Op daardie dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: “Ons het ‘n sterk stad; God se redding is die stadsmure en verdedigingswal.

Met die voorspelling van  Jesus se geboorte word daar gesê dat Hy Immanuel genoem sal word, God met ons. Daarom verkondig Johannes dat hierdie Jesus vlees geword het en onder ons kom woon het. Johannes 1:14 En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun  van die Vader – vol genade en waarheid. Die woord in die Grieks vir woon beteken om tent te kom opslaan. Hy het dus by ons kom tabernakel maak. Luister wat Sagaria voorspel en lees weer Johannes 1:14. Sagaria 2:5 Ek self sal ‘n muur van vuur rondom Jerusalem wees, en Ek sal heerlikheid in hulle midde wees.’ Dit is die uitspraak van die Here.” Kyk na die woord heerlikheid. Hy is die heerlikheid. Sy heerlikheid is in die stad. Hy het by ons kom woning maak en is elke dag met ons deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Johannes14:23 Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Hierdie stad sal nooit vernietig kan word nie. Die Kerk sal staande bly en niks sal ons skei van die liefde wat daar in Christus is nie.

Vlug uit Babel

Omdat God by ons wil kom woning maak word ons opgeroep om uit Babel te vlug. Babel word van die begin as ʼn plek beskou waar die mens soos God wil wees en hul eie stad, in teenstelling met God se stad, wil bou. Genesis 11:4 Hulle sê toe: “Kom ons bou vir ons ‘n stad en ‘n toring met sy bopunt in die hemel, sodat ons vir onsself naam maak; anders versprei ons oor die hele aarde.” Babel is dus die metafoor vir rebellie teen God, wêreldse roem, rykdom en plesier. Die gelowige moet nooit in hierdie stad hulle vesting maak, soos wat Lot in Sodom en Gomorra vesting gemaak het nie. Daarom roep Jeremia in sy profesie die mense op om Babel te verlaat en so hul lewe te red. Jeremia 51:6 Vlug weg uit Babel laat elkeen sy eie lewe red! Sorg dat julle nie omkom weens haar sondeskuld nie. Want dit is ‘n tyd van wraak  vir die Here; ooreenkomstig wat sy verdien, reken Hy met haar af. Babel was ‘n goue beker in die hand van die Here, ‘n beker wat die hele wêreld  dronk gemaak het. Van haar wyn het die nasies gedrink; daarom het die nasies  waansinnig geraak. Hierdie profesie word dan ook herhaal in Openbaring 17 en 18. Die gelowige moet nooit hierdie wêreld as sy/haar tuiste beskou nie. Ons mag ook nie in dieselfde juk met hierdie wêreld wees nie. Of dit nou is om met ʼn ongelowige in die huwelik te tree of met ʼn ongelowige in besigheid te gaan. 1Korintiers 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?

God vergeld

Niemand moet dink dat, indien hulle God se kinders aanraak, hulle daarmee sal weg kom nie. Ons is Sy oogappel, Sy bruid en Hy is die bruidegom. Hy sal die wêreld straf as Hy weer terugkeer. Daarom sien ons Hom op die wolk verskyn in Openbaring met die sekel in sy hand. Openbaring 14:15 ‘n Ander engel het uit die tempel gekom, en met ‘n harde stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd om te oes, het aangebreek, en die aarde is ryp vir die oes.” Ons kan vreesloos, met vreugde en vrede leef, sonder wraakgedagtes teen ons oortreders. Die wraak kom God toe en Hy sal geregtigheid laat geskied. Is daar enige omstandighede wat buite God se beheer is? Is daar iets wat met my kan gebeur sonder dat die Lewende God nie in beheer daarvan is nie? Daarom kan ons jubel en bly wees, want ons God het woning by ons kom maak. Ons kan verder ook jubel, want die dag van wraak sal aanbreek, die dag wat ons finaal by Hom sal wees. Sing tot lof en eer van Hom solank jy lewe. Die dag sal aanbreek waarop die nuwe hemel en aarde sal kom.

God se nuwe volk

Diegene wat by die Here sal aansluit sal mense wees uit elke volk. Hul etnisiteit, taal en nasie sal verander en hulle sal eerstens bekend wees as kinders van die Here. Niks, behalwe hierdie feit, sal meer vir hulle van belang wees nie. As jy na Paulus luister in Filippense hoor jy die getuienis van elke gelowige. Filippense 3:5-7 Ek is besny op die agtste dag, afkomstig uit die volk Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër, wat ywer betref, ‘n vervolger van die kerk, wat geregtigheid op grond van wetsbeoefening betref, onberispelik. Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus.

Slot

Soek die Koninkryk van God, vlug weg uit Babel en word deel van God se nuwe stad, Jerusalem. ‘n Stad wat Hy verewig sal bewoon en beskerm. ‘n Stad wat gevul sal wees met Sy heilige teenwoordigheid en waar ons, as nuwe volk van God verewig saam met Hom sal woon. Wees stil en rustig en verbly jou in die feit dat God in beheer is.

Juig, Sion, wees bly! Ek kom.