Agtergrond.
Sagaria begin optree as profeet ongeveer twee maande nadat Haggai, die profeet, begin preek het, in die tweede jaar van Darius die heerser van die Mediërs en die Perse. Darius het begin heers in 522vC. Dit beteken dat Sagaria se profesieë in 520vC begin. Sagaria beteken “God onthou”. Die volk van Israel het uit ballingskap teruggekeer met die toestemming van koning Kores om die tempel te herbou.
Die aanhoorders van sy profesie het beleef hoe God hulle voorouers gestraf het deur hulle vir sewentig jaar in ballingskap weg te voer. Hulle is egter nou weer in Jerusalem en God wil hulle daaraan herinner dat dit wat met hul voorouers gebeur het, nie toevallig was nie, maar Sy straf op hul ongehoorsaamheid was. Hul voorouers, het hulle nie aan God se boodskap en waarskuwings gesteur nie en was ongehoorsaam aan God. Daar het met hulle presies gebeur wat God bepaal het met hulle sou gebeur volgens hul dade en hul lewens. God wil deur Sagaria weereens die volk waarsku, dat Sy woorde nie leeg is nie en dat Hy doen wat Hy sê. Mense kom en gaan, maar sy woord sal vir ewig vas bly staan. Hoe belangrik is dit nie om te onthou dat mense se opinies en woorde sal net vir ʼn oomblik wees, maar God se Woorde bly vir ewig. Jesaja 40 “Ja, gras verdor, ‘n blom verwelk, maar die woord van ons God hou stand vir altyd.” Mense sal kom en gaan, maar God is ewig. Op wie se woorde gaan jy ag slaan? God roep hierdie oorblywendes om na Hom terug te keer met die belofte dat Hy dan na hulle sal terugkeer. Dit is altyd God se eerste opdrag: “Keer terug” ,“Bekeer julle,” was in die Nuwe Testament ook die eerste boodskap van Johannes die Doper. Jy kan nie aangaan met jou lewe soos voorheen en dink dat God daarin ʼn behae sal hê nie. Hebreërs vertel ons dat God soos ʼn goeie Vader is wat sy kinders tug. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: “My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.” Geen kind van die Here sal in sonde kan volhard sonder dat God hom/haar sal tugtig nie.
Eerste visioen:
Dit is nou drie maande na sy eerste preek en oproep dat die volk hulleself moet bekeer. Sagaria sien in ʼn gesig ‘n man op ‘n rooi perd wat tussen mirtebome in ‘n diep kloof sit. Agter hom is nog ruiters op wit, rooi en vos kleurige perde. Hierdie ruiters het die aarde deurkruis en aan die man op die perd, die Engel van die Here, vertel dat die wêreld kalm en rustig is.
Uitleg
Die mirtestruike
Israel is soos hierdie mirtestruike, klein en weggesteek vir die res van die wêreld. So is dit ook met die Kerk. 1Johannes3:1 Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie.
Die man op die perd
Tog is daar ʼn ruiter wat op ʼn rooi perd ry wat tussen hulle staan. Die Afrikaanse vertalings sê dat hy op ʼn bruin perd ry. Of die vertaler wou aandui dat daar net bruin perde is weet ek nie maar die Hebreeuse woord dui beslis op ‘n rooi perd. In die LXX (Die Griekse vertaling van die Ou Testament) word dit ook aangetoon as ʼn rooi perd. Die man word nog verder aangedui as die Engel van die Here in vers 11 en 12. Uit die Ou Testament is dit duidelik dat die Engel van die Here, die Tweede persoon van die Drie-Eenheid, God self is. Ons sien dit in die verhaal van Hagar, die slavin van Sarah. Die Engel van die Here verskyn aan haar in die woestyn en sy noem die plek waar Hy aan haar verskyn het “U is die God wat sien”. Genesis 16:13 Hagar het toe die Naam aangeroep van die Here wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” Die Engel van die Here verskyn ook aan Moses in die brandende bos. Hier is dit weereens duidelik dat dit God is wat met Moses praat. So is daar baie voorbeelde deur die Ou Testament. Omdat ons weet dat geen persoon God, die Vader, ooit gesien het nie, weet ons dat elke keer wat God aan mense verskyn, soos bv. aan Abraham wanneer Hy saam met hom eet, dat dit die tweede persoon van die Drie-Eenheid is. Dus is die Een wat tussen die mirtebome staan niemand anders as die Seun van God, Christus self, nie. Sy perd is die kleur van bloed.
Die Engel van die Here is ook dan die een wat vir die volk intree. Is dit nie wonderlik hoe die profesie ook baie verder vorentoe wys as net vir hierdie volk wat in hierdie bepaalde tyd gelewe het nie? Christus word aangetoon as die een wat intree vir die gelowiges voor God. Romeine 8:34 Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.
Die wêreld is rustig en stil
God weet wat presies plaasvind op elke deel van die aarde. 2Kronieke 16:9 Want die Here, sy oë deurkruis die hele aarde, om hulle wie se harte volkome by Hom is, kragtig by te staan. Hierin het jy dwaas opgetree, want van nou af sal daar oorloë teen jou wees.” Die engele is sy gesante wat op sy bevel rondgestuur word en Sy bevele gehoorsaam. Terwyl Israel vervolg is, is die res van die wêreld in vrede en rustigheid. God het Israel gestraf en Hy het die volke gebruik om dit te doen. Die volke het met lus opgetree teen God se volk en het erger gedoen as dit wat Hy hulle beveel het. Dit is presies wat Hy teen die volk van die Assiriërs gehad het. Hulle was ʼn stok in God se hand en God het hulle gebruik om sy toorn op Israel uit te woed. Tog het die Assiriërs hulleself hoogmoedig gehou en in hulleself geroem asof hulle alles in hulle eie krag gedoen het en daarom roep God hulle tot verantwoording. Jesaja 10:6-7 Teen ‘n nasie, vervreem van God, stuur Ek hom; teen die volk op wie my gramskap rus, gee Ek hom volmag, om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om van hulle ‘n vertrapte ding, soos die kleigrond van strate, te maak. Maar hy het dit nie so bedink nie, sy hart het dit nie so beplan nie; want sy voorneme was om uit te delg, om tallose nasies uit te roei.
Haggai het geprofeteer dat God die volke wat Israel vervolg het sou straf en nou moet die volk aanhoor dat alles rustig en stil is. Hoe moes hulle verstaan, dat hulle, wat God se uitverkore volk is, deur soveel verdrukking gegaan het en nog steeds moeilike tye beleef, terwyl die wêreld net rustig voortgaan sonder enige gevolge vir dit wat hulle aan God se volk gedoen het? God gee egter vir hulle die versekering en bemoediging, dat Hy hulle hartstogtelik liefhet en dat die nasies wat hulle vervolg het, wel gestraf sal word. In tye van nood en angs waarin die Kerk vervolg word, kan ons altyd weet dat Christus vir ons intree en dat die dag van rekenskap vir die wêreld wat die gelowiges vervolg sekerlik sal aanbreek. Dit is dan ook die begeerte van die siele onder die altaar wat doodgemaak is vir woord van God en hulle getuienis. Openbaring6:10 Hulle het met ‘n harde stem geroep: “Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek?”
Boodskap
Christus tree in en die Vader antwoord Sy gebed vir Sy volgelinge. Hy sal weer herstel bring.
God sal Jerusalem weer laat herbou en die tempel weer oprig, want Hy is jaloers oor die volk wat Hy uitverkies het. Hy is elke keer die een wat die inisiatief neem teenoor hierdie volk. Deuteronomium 7:7-8“Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met ‘n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit ‘n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. Dit is die boodskap van bemoediging vir die volk, maar ook vir ons vandag. Dit is presies waarom die Openbaring van God gestuur word aan die sewe gemeentes wat lewe in erge vervolging. Hulle en ons moet sien dat ten spyte van erge vervolging die einde alreeds bepaal is. Die oorwinning is reeds behaal al lyk dit nie nou so nie. God sit op sy troon en Sy bevele word uitgevoer. God sal Sy Kerk aanhou bou en die magte van die hel sal dit nie kan stop nie.
Tweede visioen
Sagaria sien vier horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het. Hierdie vier horings kan heel moontlik, Egipte, Assiriërs, Babiloniërs en die Mede en Perse wees. God bevestig hier aan sy volk dat die koninkryke wat hulle met soveel geweld vervolg het, deur Hom gestraf sal word. Dit is ook ‘n bevestiging vir ons vandag. God is die Almagtige – Hy heers en Sy koninkryk is ewig!
As ons na Daniel se profesie kyk sien ons dat die beeld wat verwoes sal word ook bestaan uit verskillende koninkryke. Die een wat hulle sal verwoes is Christus self, die groot rots wat op sy eie los raak en die beeld verpletter. Hy sal ʼn koninkryk oprig wat nooit verwoes sal word nie. Hierdie koninkryk sal ook aangeval word, ‘n feit wat deur die beeld van die dier met die sewe koppe en tien horings van Openbaring duidelik gemaak word. Tog sal God elke ander koninkryk tot ʼn einde bring en geen koninkryk, behalwe sy eie, sal vir ewig bestaan nie. Koninkryke en regeerders sal kom en gaan. Hulle word aangestel en tot niet gemaak deur God. Die Koninkryk waaraan ons as gelowiges behoort sal nooit vernietig kan word nie. Al sal baie gelowiges doodgemaak word vir die evangelie sal die Kerk aanhou groei tot en met die wederkoms van Christus.
Slot
Israel het teruggekeer om God se tempel te herbou. In Sagaria 1 word hulle deur sy visioene bemoedig. God het hulle voorouers gestraf, omdat hulle ongehoorsaam was en juis omdat Hy hulle liefhet. Die volke wat gebruik was om hulle te straf, mag dalk nou rustig en stil lyk, maar hulle sal beslis vir hulle dade van wreedheid teenoor God se volk boet. Die tyd van straf vir Sy volk is verby, maar hulle moet oppas om nie soos hulle voorvaders te wees nie. God se waarskuwings is nooit leeg nie. Die boodskap is ook vandag vir Sy kerk, maar ook vir elke gelowige. God het ons hartstogtelik lief, daarom waarsku Hy ons en straf Hy ons, maar wanneer ons tot inkeer kom ontferm Hy hom weer oor ons. Hy sal diegene straf wat ons vervolg en Hy sal by ons en Sy Kerk wees. Moenie moedeloos word nie, God het alreeds die oorwinning behaal en by ons woning kom maak.
