Maleagi 4

Inleiding

In wese is Maleagi 4 ‘n waarskuwing. Daar kom ‘n dag – ‘n dag wat deur die Here voorberei is. Hierdie dag is nie die dag waarvan ons op baie begrafnisse hoor, waar alle mense ewe skielik engeltjies word en verder in vrede rus nie, o nee! Dit is ‘n dag waar daar finaal afgereken gaan word met diegene wat geen ontsag vir die lewende God, die Heerser oor alle magte gehad het nie. Omdat niemand weet wanneer hierdie dag gaan wees nie, dit kan vir jou vandag wees, ignoreer mense dit en gaan hulle aan met hulle lewens asof hulle vir ewig gaan leef. Predikante en pastore verkondig liefde en genade en universalisme (almal is gered ongeag wat hulle glo) en niemand waag dit om God se waarskuwing duidelik en hard aan mense oor te dra nie. Selfs ware gelowiges is soms bang om dit te doen, want netnou klink God liefdeloos. Maleagi kom in opdrag van God en verklaar prontuit – daar kom ‘n dag  wat gaan brand soos ‘n oond! God self verklaar wie Hy is, en daarom moet ons dit ook aan mense duidelik maak.

Waarskuwing

Dwarsdeur die Bybel wys God dat Hy diegene wat in sonde bly volhard, sal straf. Daar sal beslis ʼn finale straf wees, wat bevestig word as ons die tydelike strawwe sien wat God op gegewe oomblikke deur die geskiedenis gestuur het. God waarsku altyd voor Hy straf. Amos 3:7 Ja, my Heer, die Here, doen niks nie, tensy Hy sy vertroulike besluit openbaar aan sy diensknegte, die profete. Die vloed in die tyd van Noag is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Die mense van daardie tyd was goddeloos en God stuur vir honderde jare profete om hulle te waarsku. Henog, die oupagrootjie van Noag, was so ʼn man. Hy het die mense van sy tyd gewaarsku dat God se wraak sal kom oor al hulle goddeloosheid. Judas1:14-15 Henog, uit die sewende geslag ná Adam, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here kom met sy heilige tienduisende, om oor almal die oordeel te vel, en om alle mense te straf vir al hulle goddelose dade wat hulle in hulle goddeloosheid verrig het, en vir al die vermetele dinge wat goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.” God se genade is baie groot en daarom dink baie mense dat die oordeel nooit sal kom nie. Van die begin van Henog se prediking tot die aanbreek van die vloed was ongeveer 1000 jaar. Watter genade tydperk was dit nie en tog aan die einde van hierdie tydperk was daar net agt mense wat in die ark gegaan het.

Hier is daar weer ʼn waarskuwing aan die Jode dat die dag van die Here sal brand soos ʼn oond. Hoe het die Jode nie uitgesien na die koms van die Messias nie? En tog het hierdie afwagting niks verander aan die manier waarop hulle gelewe het nie. Dit was dan ook die rede waarom God die volk deur die profeet Amos gewaarsku het. Amos 5:18 Wee die wat na die dag van die HERE verlang! Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie. God gebruik die volgende beeld om die uiteinde van hulle afwagting vir Sy koms te beskryf: Soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en ‘n slang byt hom! Amos 5:19.  Die tragedie van die meerderheid Jode is dat hulle die dag van die Here nie met hartlikheid ontvang het nie. Terwyl daar nog ʼn hoop van ʼn aardse koninkryk was sou hulle uitroep in hulle massas: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele! Mattheus 21:9. Die oomblik toe hulle egter besef dat sy koms nie ‘n aardse koninkryk is soos wat hulle verwag het nie, roep hulle “Kruisig Hom”. Die “Hosanna” verander in “Kruisig Hom” in minder as vyf dae.

God het hulle op verskeie maniere gewaarsku en stuur ook, soos Hy belowe het, Johannes die Doper, as die Elia waarvan geprofeteer is. Sy boodskap – “Bekeer julle!”

Omdat hulle die gunstige dag van die Here nie ontvang het nie sou hulle die straf van die Here ongeveer 40 jaar later ontvang, as God die Romeine gebruik om Jerusalem te verwoes en die tempel, wat vir hulle so belangrik was, af te breek. Dit het alles gebeur soos Jesus ook voorspel het toe Hy belowe het dat nie een steen van die tempel op mekaar sal bly staan nie. Wat God belowe vind plaas. Numeri 23:19 God is nie ‘n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ‘n mensekind, dat Hy van plan sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand doen nie?

Twee reaksies – die Goddelose teenoor die Godvresende

Die profesie van Maleagi wys ook na die finale straf van alle goddelose mense. Die goddelose mense wat in die tyd van Henog geleef het en nie die vloed beleef het nie sou tog die ewige straf beleef. Al mis jy die tydelike wraak van God oor die aardbewoners sal jy as ongelowige beslis die ewige wraak van God ervaar. So baie keer kry ek die idee dat baie mense dink dat Jesus meer genadig is as die Ou Testamentiese God. Hy sal nie werklik toelaat dat mense vir ewig gestraf word in die onblusbare vuur nie. Tog is dit juis Jesus wat meer oor die hel en die komende oordeel waarsku as enige iemand anders. Die gelowige is maar net terdeë daarvan bewus dat Jesus ook die God is van die Ou Testament en dat Hy nooit sal verander nie. Hebreërs 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde, en tot in ewigheid. Miskien is die grootste probleem dat so min mense werklik weet wat die Bybel rakende die hel sê. Openbaring vertel ons voor wie se aangesig die mense in die Hel sal brand. Openbaring14:10 sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word. Dit is baie duidelik in Openbaring dat die Lam Jesus Christus is.

Teenoor die goddelose sal daar diegene wees wat die Here se naam vrees. Hulle wat Hom gehoorsaam en doen wat Hy van hulle vra. Vir hulle sal Sy lig hul lewens verlig. Die profesie wys daarop dat daar vreugde sal wees met die koms van die Here. Hierdie profesie het ʼn eerste en ʼn finale vervulling. Die eerste vervulling was met Jesus se eerste koms. Met Jesus se koms was daar mense wat genees is en tog het niks in hul geestelike lewe verander nie. Die genesing was slegs ʼn fisiese genesing. Teenoor hulle sien ons voorbeelde van mense wat genees is waar ons ervaar dat die genesing baie dieper was as maar net die blote fisiese genesing. Jesus bevestig dat hierdie genesings geestelik was as Hy sê: “Gaan, jou geloof het jou gered”. Bartimeüs is ʼn voorbeeld van so ʼn genesing. Hy was ʼn blinde man wat langs die pad gesit en bedel het. Hy hoor dat Jesus verby gaan en begin uit te roep: “Seun van Dawid Jesus wees my barmhartig.” Die skare probeer hom stil maak maar Bartimeüs roep net al hoe harder. Jesus laat hom roep en vra hom wat hy wil hê. Luister wat Jesus vir Hom sê en wat dan gebeur. Markus 10:52  En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg. Daar was ook diegene wat nie fisies genees is nie, maar net die innerlike genesing ervaar het en met opgewondenheid vervul is, net soos wat Maleagi voorspel het. Johannes 4:28-29  Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? ʼn Verdere vervulling van hierdie profesie sien ons in Handelinge as Johannes en Petrus na die Tempel gaan en ʼn man vind wat by die Tempel bedel. Hulle deel hom mee dat hulle geen geld het om aan hom te gee nie, maar dat hy, in die naam van Jesus Christus die Nasarener, moet opstaan. Luister na Lukas onder die leiding van die Heilige Gees. Handelinge 3:7-8  Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. By elke gelowige sal hierdie innerlike vreugde hul lewe oorheers a.g.v. dit wat Christus in sy/haar hart bewerkstellig het. Gelowiges word gekenmerk deur ʼn fontein van lewende water wat uit hul binneste borrel. Johannes 4:14 maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. Dit is nog net die gedeeltelike vervulling van die profesie. Die volledige vervulling sal wees die dag wanneer Christus op die wolke sal kom en ons die nuwe Hemel en aarde sal ontvang. Watter vreugde sal dit nie wees nie!

Slot

Daar kom ‘n dag waarop die hele aarde in net twee groepe sal verdeel, nl. Godvresende mense en goddelose mense. Niks anders aangaande ‘n persoon sal belangrik wees nie. Nie jou velkleur, ras, klas, ouderdom of geslag sal saak maak nie. Van die goddeloses sal niks oorbly nie, maar die Godvresende sal bokspring van vreugde! Hul sal volkome geregverdig staan voor God en die ewige lewe saam met Hom ontvang. Die kenmerk van hierdie groep is dat hulle gehoorsaam was aan die Woord van God. Maleagi4:4 Onthou die Wet van Moses, my dienskneg, wat Ek hom by Horeb beveel het en wat vir die hele Israel geld – die vaste voorskrifte en bepalings. Diegene wat die Woord van die Here nakom en gehoorsaam, is diegene wat die Here werklik lief het. Johannes 14:21 Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” Dit word deur die hele Skrif bevestig en is die kenmerk van ʼn ware gelowige. 1Johannes 5:2 Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. Daarom word dit ook deur die hele Nuwe Testament en ook in Openbaring bevestig dat mense wat volhard in hulle sonde nooit die ewigheid saam met Christus sal beleef nie. Openbarin22:14-15 Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen..

In watter groep is jy?