Inleiding
In die voorafgaande hoofstukke het die Woord van God in Maleagi ons tot die besef gebring hoe die Joodse volk weg van God geleef het. Hulle het God nie geëer nie en het hul swakste moontlik vir Hom gegee. Hulle het nie heilige lewens gelei soos wat Hy van hulle gevra het nie. Levitikus 11:45 want Ek is die Here wat julle uit Egipte laat optrek het om vir julle ‘n God te wees. Wees dan heilig, want Ek is heilig. Hulle was ongehoorsaam aan God se opdragte en tog het hulle die seën van die Here in hulle lewens verwag. Deur die kerkgeskiedenis, en nogsteeds vandag, is dit die groot probleem, nl. dat die kerk nie anders lyk as die wêreld nie. Mense wat hulleself gelowiges noem, leef in stryd met God se Woord en is verstom as hulle huwelike en hulle kinders se lewens uit mekaar val. Hulle is soos ‘n boer wat nie gesaai het nie, maar tog nog steeds vir ‘n oes wag. Waar is julle gehoorsaamheid? Waar is die eer vir hierdie Groot God?
God se beloftes
Nie teen staande die volk se halstarrigheid is God nogsteeds die een wat die inisiatief neem in die redding van hierdie volk. Hy hou sy beloftes. Numeri 23:19 God is nie ‘n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ‘n mensekind, dat Hy van plan sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand doen nie? In hierdie hoofstuk is daar ʼn aantal profetiese uitsprake aangaande die toekoms wat God aan die volk verklaar.
Johannes die Doper
God belowe aan die volk dat Hy ʼn boodskapper aan hulle sal stuur om die pad gereed te maak voordat Hy self sal kom. As ʼn koning ʼn area sou besoek, het hy mense voor hom uitgestuur om alles gereed te maak en te sorg dat alles reg is voordat hy sy verskyning sou maak. Hierdie profesie wys op die koms van Johannes as die boodskapper. Jesus maak dit baie duidelik as Hy aan die mense verklaar dat Johannes, na wie hulle in die woestyn gegaan het, die een is van wie Maleagi gepraat het. Mattheus 11:9-10 Maar wat wou julle dan gaan sien? ‘n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as ‘n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ Dan, volgens die voorspelling, sal die Engel van die verbond kom. Hierdie Engel van die verbond verwys na Christus wat sal kom. In Esegiël word daar gewys dat God die tempel verlaat en dan later weer sal terugkom van die Ooste kant af. Jesus vervul hierdie profesie as Hy van die Ooste kant af na die tempel kom en dan die mense uitdryf. As hulle dan vir Hom vra waar hy sy gesag vandaan kry om dit te doen, antwoord Hy soos volg: … “Breek hierdie tempel af, en binne drie dae sal Ek dit opbou.” Johannes 2:19. Jesus is die Tempel. Sy Kerk word ook die Tempel genoem. Hulle sal bestaan uit mense wat werklik ʼn begeerte en verlange na Hom het.
Christus se wederkoms
Daar word ook in Maleagi verwys na die tweede koms van Christus, wanneer Hy sal kom soos ʼn vuur wat die ongeredde sal verwoes. Dit is ook die boodskap van Johannes die Doper as hy aan sy luisteraars verkondig dat die Een wat sal kom sal doop met die Heilige Gees en met vuur en dat Hy die dorsvloer sal skoonmaak. Mattheus 3:12 Sy hooivurk is in sy hand. Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak en sy koring in die skuur versamel, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.” Die waarskuwing is duidelik. Hierdie mense het ʼn afwagting vir Hom, maar gaan met vrees gevul wees die dag waarop Hy sal kom. Baie mense het ‘n afwagting na daardie dag waar daar geen siektes, geweld en onregverdigheid meer gaan wees nie. Hulle smag na daardie dag waar hulle sal kan rus van al hul bekommernisse oor finansies en allerlei menslike probleme. Daar is sekerlik niks mee verkeerd om na so ‘n tyd te verlang nie. Die vraag is egter, verlang jy na Christus, want as dit die geval is, sal jou lewe nou alreeds die vrug daarvan wys. Jy sal aan Hom gehoorsaam wees in afwagting op Sy koms. Die meerderheid mense is egter soos diegene waarvan Jesus praat in Lukas. Lukas 23:30 “Dan sal hulle vir die berge begin sê, ‘Val op ons!’ en vir die heuwels, ‘Bedek ons!’. Hulle het geen vrees vir die lewende God terwyl hulle op aarde wandel nie. Hulle lewe soos wat hulle wil. Teenoor hierdie groep staan die mense wat werklik vir God lewe en ʼn begeerte het om heilig te lewe. Hulle sal diegene wees wat werklik ʼn ware verlange na Christus se wederkoms het. Romeine 8:23 En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.
Suiwering
Hierdie groep wat aan God behoort sal die groep wees wat God sal suiwer terwyl hulle op aarde is. Hulle is die “nuwe” stam van Levi, diegene wat aan Hom toegewys is en offers sal bring wat God vra. 1Petrus2:5 En laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus Christus, vir God aanneemlik is. Ons as gelowiges is soos die Leviete van ouds wat in God se Tempel werk en besig is om met ons lewens offers aan Hom te bring. So bevestig Paulus dit ook aan ons as hy ons oproep om ons hele lewe aan God toe te wy as ʼn offer. Romeine 12:1 Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Jy kan nie besluit om net ʼn gedeelte van jou lewe aan die Here toe te wy nie. Dit is of alles of niks. Ons mag nooit ons lewe in kompartemente opdeel nie. As ons by die huis is, is ons een mens, maar by die werk iemand heeltemal anders. As ons by die kerk is, is ons ewe skielik vroom, maar tussen ons vriende vertel en lag ons vir vuil grappe. Dit was nog altyd die probleem met die oorgrote meerderheid van mense wat hulle Sondae in die kerk bevind. Baie ken tot die dogmas en die leerstellings van die kerk, maar as jy individue soek wat heilig lewe sal jy lank soek. Maleagi noem al die misdrywe wat die volk voor God aanhou doen en hoe hulle Hom oral probeer beroof van dit wat aan Hom behoort. Diegene wat heilig lewe se reuk is ʼn reuk tot lewe. 2Korintiers 2:15-16 Want ons is ‘n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – vir laasgenoemde ‘n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde ‘n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Hierdie groep sal elke dag nog meer en meer deur God gesuiwer word.
Straf en seën
Baie mense verstaan straf en seën verkeerd. Aardse voorspoed word dikwels gesien as God se seën en teëspoed as God se straf. Hierdie terme moet egter altyd geestelik beoordeel word, met die wete dat die werklike straf van God sal kom wanneer Hy finaal kom om te oordeel tussen Sy kinders en goddelose mense. Iemand mag dalk op aarde geseën voorkom omdat dit finansieel met hom/haar goed gaan, maar geestelik is hulle arm. God se seën, word gesien in ‘n liefdesverhouding met Hom. Die dinge wat werklik ewigheidswaarde het is die dinge waarin gelowiges deur God geseën word.
God se straf is oor ‘n goddelose volk. Hoe anders sou dit nie gewees het as hulle aan God gehoorsaam sou wees nie. Hulle sou ʼn volk wees wat in elke area van hulle lewens geseënd sou wees. Maar nou kla hierdie volk voor God dat daar geen verskil is tussen mense wat God dien en nie dien nie. Hulle vind geen baat om hulle te verootmoedig voor die Here nie. Nie net dit nie, maar hulle spreek ook vir God aan, omdat diegene wat slegte lewens lei gelukkiger is as diegene wat vir Hom lewe. Hy is dus onregverdig! Hulle beoordeel dus hul lewe op grond van aardse voorspoed en uiterlike dinge. Hulle het nie werklik ‘n verhouding met God nie, want dan sou hulle besef het hoe ryk hulle geestelik is, teenoor hoe arm die goddelose mense is. Hoe tragies dat so baie mense wat hulleself gelowiges noem, nie net lewens lei wat totaal van God se Woord vervreemd is nie, maar ook deur hulle lewens wys dat hulle dink diegene wat ver van die Here af lewe is eintlik gelukkig. Hulle volg die Sport en die Hollywood sterre na. Diegene met baie geld of roem is sogenaamd geseënd. Hoe is dit dat ons so blind kan wees? Hoe is dit dat ons nie kan sien dat diegene wat waarlik toegewyd aan God lewe gelukkige gesinne het wat almal vir God lewe nie? Hoe kan ons nie sien dat diegene wat leef in ooreenstemming met die rolle wat God in die huwelik beskik het, werklik gelukkige huwelike het nie? Waarna smag jy werklik? Wat dink jy sal jou werklik gelukkig maak? Baie van God se getroue volgelinge was konstant siek, was arm, is gemartel en gehaat in hierdie wêreld. Tog as jy van nader kon kyk het jy hulle altyd singende en biddende gevind in die middel van die tronk, vrede te midde van enige storm. Hulle gesinne was toegewyd aan die Here. Wat is meer van waarde vir die gelowige as om sy kinders en kleinkinders dop te hou en te sien dat hulle aan die brand is vir die Here? As Jesus in die bergpredikasie met sy volgelinge praat vertel hy aan hulle dat dit wat jou werklik gelukkig maak die teenoorgestelde is van dit wat die wêreld as gelukkig beskou. In Mattheus 5 draai Jesus die koninkryk op sy kop.
Sy eiendom
Met Christus se koms is ons as gelowiges Sy eiendom gemaak. Ons behoort aan Hom en ons is Sy volk. God het met ons medelye, met ons wat Hom dien soos ʼn seun sy vader dien. Ons is soos die gelykenis wat Jesus vertel van die twee broers wat deur hul vader gevra word om in sy wingerd te gaan werk. Die een belowe dat hy sal, maar gaan nooit nie, terwyl die ander een sê dat hy nie sal nie, maar later wel gaan. Die ware seun gehoorsaam sy Vader.
Wanneer Christus weer kom sal die onderskeid tussen hierdie twee broers vir almal duidelik wees. Die verskil tussen God se kinders en ongelowige mense sal duidelik wees vir elkeen om te sien. Die dag gaan aanbreek waarop die fisiese verskil tussen God se volgelinge, die regverdiges en die goddeloses sigbaar sal wees. Die regverdiges sal skyn soos ʼn helder lig vir ewig en altyd en sal die nuwe Hemel en aarde bewoon. Teenoor hulle sal diegene wees wat vir ewig in die hel gegooi sal word waar die wurm en die vuur nie sal doodgaan nie.
Slot
Ondersoek jou hart. Is Jesus Christus jou hartsbegeerte en die bron van al jou seëninge of kyk jy met afguns na die wêreldse, tydelike seën van goddelose mense. Wys jy ‘n teregwysende vinger na God en vra: “Waarom gaan dit met ander so goed en met my so sleg?” Dit gaan sleg omdat jy jou geluk soek op die verkeerde plekke en omdat jy dink God is in jou diens om aan jou die wêreldse seën te gee. God het sy Seun vir JOU gegee, sodat jy ‘n verhouding met Hom kan hê en al die hemelse seën op jou uitgestort kan word.
