Inleiding
In hierdie hoofstuk vind ons die kerk en kerkleiers van vandag. Uiterlike skyn godsdiens is aan die orde van die dag en die mens het so ver van God se standaard afgewyk, dat hulle dit amper nie meer ken nie. Hulle bring offers en vra skouerophalend: “Hoekom aanvaar U nie ons offers nie?”, “Hoe maak ons U moeg” en “Waar is die God wat reg en geregtigheid moet laat geskied?” Hulle is so selfversekerd en selfvoldaan dat hulle nie eers die fout by hulself soek nie, maar by God, want, volgens hulle, doen hulle alles reg. Volgens sommige kerke is almal vandag goed, maak nie saak hoe hulle leef nie – dit is onwaar en God sê dit maak hom moeg “Waarmee het ons Hom moeg gemaak? Julle het dit gedoen toe julle gesê het: ‘Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle.’” Maleagi 2:17
Priesters en kerkleiers dwaal
In Hoofstuk 2 kom God se oproep tot die priesters. Hulle is diegene wat van beter behoort te weet. Hulle is die leiers van die volk en die manne wat besig moes wees met offers en die bestudering van God se Woord. Hierdie priesters se harte het hard geword teenoor God se opdragte. Dit is die gevaar om besig te wees met die dinge van God, maar nie in ‘n liefdesverhouding met Hom te staan nie. Hulle lewe nie in gehoorsaamheid teenoor Hom in terme van sy morele standaarde nie. Daar is dalk uiterlike rituele en tradisies, maar geen ware liefde en verering. Hulle is die leiers wat die voorbeeld behoort te stel. Net soos vir hierdie priesters, kom die waarskuwing vir elke gelowige. Jy luister elke Sondag en deur die week na God se Woord. Jy weet wat dit sê, maar jy gehoorsaam dit nie. Niks verander in jou lewe nadat jy na Sy stem geluister het nie. Daarom skrywe die Hebreërs skrywer dat mense wat die Woord hoor nie hulle harte moet verhard nie. Hebreërs 4:6-7 Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie – bepaal Hy weer ‘n sekere dag, dit is “vandag”, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie!”.
Ons leef vandag in die skokkende werklikheid, waar gemeentelede nie net voort gaan met hulle sondes nie, maar waar predikante en pastore dit ook goed vind, en selfs aanmoedig, dat mense in sonde lewe. Romeine 1:32 – mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat die mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat hulle dit boonop goed wanneer ander dit doen.
Ongelukkig het die opinie van mense vir baie leiers belangriker geword as om God te eer en Sy woord te gehoorsaam. Die breë pad van populêr wees word gevolg – en ons verander die boodskap vir die “moderne” mens. Jesus bestraf die Fariseërs aangaande dieselfde sonde as die van die priesters, nl. dat hulle leringe van mense hoër ag as die Woord van God. Markus 7: 7-9 Tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’ “Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.” Hy het ook vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en sodoende julle tradisie te handhaaf.
God verklaar deur Maleagi dat sy vloek op hierdie leiers rus. Hulle nageslag sal vir hulle i.p.v. ʼn seën, ʼn vloek wees. Hulle dink hulle is so wonderlik – ʼn uitverkore volk en priesters van God, maar God verklaar dat Hy mis in hulle gesigte sal gooi. “Julle sal gewys word hoe vuil julle werklik voor my is.” Al die diere wat na hulle feeste gebring is moes ʼn geweldige hoeveelheid mis veroorsaak het wat oral gelê het. God gebruik hierdie beeld om die leiers in te lig dat dit met hulle sal gaan asof Hy hierdie mis in hulle gesigte sal spat. Hoekom straf God hierdie leiers? Hy wil hê hulle moet hulle weer tot Hom bekeer. Is dit nie wonderlik hoe God met ons werk, omdat Hy ons by berou wil bring nie? Die Here maak dit in sy woord duidelik dat mense in die leierskap van die kerk erger geoordeel gaan word as ander, omdat hulle die waarheid ken en die verantwoordelikheid het om mense op die regte pad te lei. Jakobus 3 Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. Priester en leiers, julle het van God ʼn opdrag ontvang om God se mense te onderrig en julle moet God se kennis bewaar. Eendag gaan julle verantwoording doen voor ‘n lewende God oor dit wat julle in Sy naam verkondig het.
Vreemde vroue
Deur die Jode se geskiedenis, sien ons herhaaldelik die sonde van ondertrouery met heidense vroue. God het in die wet die volk verbied om met vreemde vroue te trou. Deuteronomium 7:1-4 “Wanneer die Here jou God jou in die land bring waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uitdryf, sewe nasies wat groter en magtiger is as jy – die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete – en die Here jou God hulle aan jou oorlewer en jy hulle verslaan, dan moet jy hulle beslis met die banvloek tref. Jy mag nie met hulle ‘n ooreenkoms aangaan nie en jy mag hulle nie genadig wees nie. Jy mag nie met hulle ondertrou nie. Jou dogter mag jy nie gee aan sy seun en sy dogter mag jy nie vir jou seun as vrou neem nie, want hulle sal jou seun van die Here afvallig maak, sodat hy ander gode dien. Dan sal die toorn van die Here teen julle ontbrand en sal Hy jou gou uitdelg. Die rede hiervoor is duidelik uit die teks, nl. dat as jy met ‘n heidense vrou trou, jy afvallig van God sal word. Die probleem was dus nie vreemde volkere nie, maar volkere wat ander gode aanbid het en sodoende die volk sou verlei het. Om hierdie punt te bevestig kan ons gaan kyk na Jesus se geslagsregister. Ons vind daar vroue van ander volke bv. Rut die Moabiet en Ragab die Kanaäniet. Dit is duidelik dat hierdie vroue wat God ingebring het anders was. Luister na Rut se verklaring as haar skoonma vir haar vra om terug te gaan na haar eie volk. Rut 1:16 Maar Rut het geantwoord: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Hulle het dus deel geword van God se volk, omdat hulle Hom aanbid het.
God beskryf Homself as ʼn jaloerse God. Hy deel sy eer met niemand nie. Die volk mag net vir Hom aanbid en dien. Ons sien in Numeri God se woede teen die volk as die volk vir hulle Moabitiese vroue neem en afgode begin aanbid. Terwyl God hulle oordeel aankondig kom een van die leiers van Israel die kamp binne met ʼn Moabitiese vrou. Pinehas sien dit, volg hulle en dryf sy swaard deur die twee se liggame. Luister wat God van Pinehas sê: Pinehas, seun van Eleasar, seun van die priester Aäron, het my woede van die Israeliete weggekeer deurdat hy onder hulle sy ywer getoon het vir my heilige jaloesie, sodat Ek nie die Israeliete in my heilige jaloesie vernietig het nie. Numeri 25:11. Hoe is dit moontlik dat ʼn volk wat uit ballingskap terugkom so vinnig vergeet dat God hulle gestraf het en sal straf as hulle hierdie sonde weer sal begaan? Sal God anders optree as hulle hierdie sonde doen? Het Hy van gedagte verander rakende sondes? Miskien is dit een van die groot probleme van vandag – dat ons dink dat God verander het. Sonde van gister is nie meer sonde van vandag nie.
Egskeiding
God vertel aan die volk dat Hy egskeiding haat. Hy haat dit dat jy ontrou word aan die vrou van jou jeug. Hierdie vrou is die vrou van jou verbond. Jy het voor God ʼn verbond met haar gesluit wat jy nooit mag breek nie. Salomo noem dit ook ʼn verbond in Spreuke 2:17 “wat die boesemvriend van haar jeug verlaat, die verbond van haar God vergeet. “In Maleagi en in Spreuke word die vrou van jou jeug onderskeidelik jou metgesel en boesemvriend genoem. Hoe kan jy die een wat die naaste aan jou is sommer net op ʼn dag verlaat? Hoe kan jy haar in die steek laat? Watter tipe man laat sy boesemvriend net agter? Verder mag geen mens hierdie verbond tot ʼn einde bring nie. Mattheus 19:6 … Daarom, wat God saamgevoeg het, moet ‘n mens nie skei nie. Maleagi stel dit baie duidelik dat God egskeiding haat. Hy haat dit. Daar is geen manier dat jy verby dit kan kom nie.Hy noem dit verder ʼn daad van geweld. Dit is ʼn beeld wat maar te duidelik na vore kom met elke egskeiding. Daar is geweld in die gesin en mense se lewens word verwoes. Kinders se skade is langtermyn. Vroue en mans wat deur ‘n egskeiding kom se lewens is geskaad. Verwoesting en geweld het plaasgevind.
God lig die volk en elke leser in dat Hy die huwelik gemaak het sodat, as Hy dit beskik het dat jy kinders kan hê, daar goddelike kinders vir Hom gebore kan word. Maleagi2:15 Hy het nie net één mens gemaak nie, maar ook ‘n geesgenoot vir die mens, waarna dié een mens op soek was, ‘n goddelike geslag. Bewaar daarom julle gees van eensgesindheid. Moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy getroud is toe jy jonk was nie. ʼn Gelowige man en vrou sal vir Hom ʼn goddelike geslag te weeg bring. Daarom wil God nie hê dat ons in dieselfde juk met ʼn ongelowige moet trek nie. 2Korintiers 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis?
Slot
God se standaard verander nie. Hy waarsku sy volk dat hulle ‘n dooie godsdiens het, met leiers wat hom nie liefhet nie. Die Here maak dit duidelik dat Hy alleen God is en dat Hy mense se harte ken. Die waarskuwing vir elkeen in Maleagi 2 is om weer terug te keer na Sy verbond. Moenie luister na enige iemand wat iets anders verkondig as dit wat in die Skrif staan nie. Moenie luister na sogenaamde kerkleiers wat sonde siektes noem en mense net lippetaal gee nie. Moenie dink jy kan dinge in die donker doen en dink God weet dit nie en dat hy uiterlike skynheiligheid of “offers” sal seën nie. Moenie deur goddelose mense (mans of vrouens) mislei word nie.
Keer terug na Hom
