Agtergrond
Die Jode het teruggekom na die beloofdeland, na ‘n ballingskap van 70 jaar in Babilon. Hulle is as gevangenis weggevoer deur die Babiloniërs in 586 vC. Reeds tydens hul ballingskap het die profeet Jeremia verkondig dat God hulle uit hierdie ballingskap sal bevry en weer sal terugbring na hoop en voorspoed. (Jeremia 29:11) Hierna het generasies uitgesien en nou vind ons die volk, ongeveer 90 jaar na hul terugkeer in net sulke slegte omstandighede as tevore – al is dit nou nie meer in ballingskap nie, maar in Jerusalem. As ons na van die teregwysing van Maleagi kyk blyk dit dat dit korreleer met die dinge waarvan Nehemia die volk beskuldig. Nehemia het na Jerusalem vertrek in die twintigste jaar van Artaxerxes, ongeveer 90jaar na die eerste terugkeer van die volk uit ballingskap, dus kan hierdie tydgleuf geplaas word ongeveer 100 jaar na die terugkeer van die volk uit ballingskap.
Die profeet se naam beteken “my boodskapper”. Elke profeet was ʼn boodskapper van God wat namens God gepraat het. Maleagi sou die laaste boodskapper wees, voor Johannes die Doper 400 jaar later Christus se koms en die komende koningkryk aangekondig het met die boodskap “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” Mattheus 3:2. Christus sou die Woord wees wat self gekom het. Na Christus sou daar geen meer boodskapper wees wat ʼn nuwe boodskap van God sou bring nie. Hebreërs 1:1-2 In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.
Boodskap
Jou verwagting van hierdie groep mense sou wees dat hulle dankbaar teenoor God sal wees en vreesbevange sal wees om enige sonde te doen. Hulle voorouers se sonde het immers God se straf teweeg gebring en gelei tot ballingskap en slawerny. Hulle kon terugkeer na hul land en die tempel herbou. Alles behalwe wat jy verwag vind egter plaas. Die leiers, die Leviete, wat die wet behoort te ken, lei die mense met hulle voorbeeld na afvalligheid. Hulle lewe is ʼn skadubeeld van die land van voorspoed en hoop waarop hulle voorouers in Babel gehoop het. Net soos vandag, wanneer dinge nie gaan soos ons graag wil hê nie, twyfel hulle nou aan God se liefde. “Hoekom gaan dit met ons so sleg?”, “Hoekom gaan dit met goddelose mense beter as met ons – ons wat veronderstel is om God se uitverkorenes te wees?” Klink dit bekend?
God se liefde
God stuur ʼn boodskap aan sy volk Israel deur monde van Maleagi en laat Israel weet dat Hy hulle liefgehad het bo enige ander volk. Hy het hulle gekies en sy liefde op hulle uitgestort nie op grond van wie hulle is nie maar op grond van wie Hy is. Sy liefde teenoor die wat Hy uitverkies is altyd op grond van sy keuse en genade en nooit op grond van enige iets wat die persoon mag of kan doen nie. Dit is dus onvoorwaardelik. Ongelukkig vereenselwig hulle God se liefde met hoe dit met hulle gaan. As dit sleg gaan kan dit onmoontlik waar wees dat God hulle liefhet en daarom vra hulle die téén vraag – “Hoe het U ons lief” Dit lyk dan nie so nie! God se liefde lê in die feit dat Hy, die almagtig God bereid is om hul God te wees. Die feit dat hulle uitverkies is om Hom te kan aanbid en verheerlik behoort vir hulle die grootste vreugde te verskaf, maar dit is nie die geval nie, omdat hulle liefde teenoor God voorwaardelik is. In teenstelling met God se onvoorwaardelike liefde, moet hulle bewyse van sy liefde sien in terme van hul alledaagse omstandighede voordat hulle dit sal erken as liefde van God en Hom terug sal liefhê. Omdat God hierdie volk so bevoordeel het, deur hulle uit te verkies, hulle met soveel geseën het en Sy liefde op hulle uitgestort het sou jy verwag dat hierdie volk die mees dankbare volk op aarde sou wees. Wat sou jy verwag van iemand wat uit vrye guns oorlaai is met oorvloed? Teenoor hulle staan Edom as ʼn voorbeeld van al die ander volkere wat God vertoornd op bly. Dit is nie ʼn toorn wat net vir ʼn bepaalde tyd sal wees nie. Nee God bly vertoorn op hulle vir ewig. Maleagi 1:4 Ja, Edom sê: “Ons is verpletter, maar ons sal weer die puinhope opbou.” Maar so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Húlle kan maar bou, maar Ék sal afbreek. Hulle sal die goddelose gebied genoem word, en die volk vir wie die Here vir altyd vervloek het.” Ons het nie nodig om weer vir mekaar te sê dat dit nie net Edom is wat God se toorn verdien nie, maar alle volke en elke individu. Hierdie argument word deur Paulus uit mekaar gepak in Romeine 9.
Vrees vir God
Elke keer as ons die profete lees, en in hierdie geval Maleagi, is ons geskok oor die volk se optrede teenoor hierdie almagtige groot God wat soveel genade en barmhartigheid aan hulle bewys het. Hierdie volk is so bevoorreg en word na verwys as die seun van God. God is aan die woord in Eksodus 4:23 Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Hierdie volk, wat dan die seun van God is, het geen eer vir God nie. God beveel kinders om hulle ouers te eer. Dit is ‘n beeld van ʼn groter eer wat deur alle “seuns” van God aan Hom bewys moet word. Net so sê God dat as ons Hom Here noem ons hom as Heer moet vrees. Hy is die baas, die meester! Die woord vrees is ʼn woord wat baie mense in die kerk wil weg redeneer. Ons hou nie van hierdie woord nie. Tog is dit ʼn Bybelse woord en ʼn opdrag van God. Die Bybel leer ons dat om God te vrees die begin is van wysheid. Spreuke 9:10 Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand. Dit leer ons ook verder dat diegene wat die Here vrees ʼn fontein van lewe het wat jou bewaar van paaie wat na die dood toe lei. Spreuke14:27 Die vrees van die HERE is ‘n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk. Jy kan gerus hierdie frase in die Bybel opsoek om te kyk hoe baie keer dit voorkom en al die redes waarom dit as iets wonderliks voorgehou word. Die vraag word baie gevra of dit werklik ʼn Nuwe Testamentiese gedagte is, a.g.v. Jesus wat ons wraak gedra het. Moet ons as Christene nogsteeds God vrees? Kyk na ʼn paar verse:
Handelinge 9:31 Die kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem. Die woord in die Grieks wat vertaal word as “ontsag” is φόβῳ(foboi). Die woord beteken ʼn intense vrees.
Paulus beskryf goddelose mense as mense wat nie vir God vrees nie. Romeine 3:18 “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” Hy haal hier Psalm 36:2 aan. Dus is die probleem in die Ou Testament dieselfde as in die Nuwe Testament en die oplossing is ook dieselfde.
Paulus beskrywe sy evangelisasie as ‘n poging om mense te oortuig om die Here te vrees. 2Korintiers 5:11 Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig. Maar by God is ons deeglik bekend, en ek hoop om ook in julle gewete so bekend te wees.
Ware eer
God se vraag aan sy volk deur Maleagi is dieselfde vraag aan talle gelowiges vandag: “As julle sê dat ek julle Vader is, hoekom eer julle my nie en as julle sê dat ek julle Here is waarom vrees julle my nie? Indien jy werklik besef wie die Here is en Hom werklik die Here van jou lewe maak, sal jy met alles binne jou wil doen wat Hom behaag. Daarom is die opsomming van die groot gebod dat jy die Here jou God moet lief hê met jou hele harte en siel en al jou kragte. God se boodskap aan die Jode en aan ons is dat ons leef net soos ons wil sonder om My Woord te vrees. Sal die wêreld na jou kan kyk en die manier waarop jy lewe kan bely dat jy glo in ʼn lewende God en dat jy die hoogste ontsag, vrees vir Hom het.
Tweede beste
Wanneer jy iemand net wil paai en net tevrede wil stel, dan doen jy net genoeg om nie in die moeilikheid te kom nie. Dis nie jou beste nie, maar dis OK. Jy sal darem nie daarvoor gestraf word nie. Jou werk is gedoen, nie goed nie, maar gedoen, en dus sal jy nie deur jou baas aangespreek word nie. Nie net doen die volk bogenoemde nie maar alles wat hulle vir die Here bring is tweede beste en selfs die slegste moontlik. Hy moet ons net nie weer straf nie! Kan jy dink dat jy gelukkig sal wees as iemand ʼn werk vir jou doen en hy/sy gee ʼn afgeskeepte en slegte produk. Wat dink iemand van jou wat dink dat jy tevrede moet wees met ʼn swak produk? Hierdie volk wat bely dat God ʼn lewende God is wat alles sien en bewus is van alles, bring hulle siek en blinde diere vir God en dink dat hy gelukkig daarmee moet wees. Kan jy jouself indink dat iemand so arrogant is? Jy kan nie dink dat iemand wat glo dat God alles weet soos Ananias en Saffira, net ʼn deel van die geld vir die huis wat hulle verkoop het sal bring, terwyl hulle die res weggesteek het nie. Vandag is dit nogsteeds dieselfde. Mense gee ʼn deel van hulle tiende en dink dat alles klop disselboom is. God moet tevrede wees! Doen net genoeg om verby te kom. Party mense het die idee dat God hulle nodig het of baie dankbaar moet wees vir hulle bydrae. Die psalmdigter wys enige persoon wat so dink tereg. Psalm 50:12-14 As Ek honger word, sal Ek jou nie sê nie, want die wêreld en die volheid daarvan is myne. Eet Ek die vleis van bulle, en die bloed van bokramme, drink Ek dit? Offer dank aan God, betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Dan praat ons nie eers van elke gelowige wat uit dankbaarheid hulle totale lewens aan Christus behoort toe te wy nie.
Die Here se oproep deur Maleagi is dat iemand asseblief net die tempel se deure moet sluit dat niemand kan aangaan met hierdie afgewaterde godsdiens nie. God sou natuurlik hierdie Tempel met die totale offerandes tot ʼn einde bring in 70nC. Baie mense sien God se liefde net wanneer dit met hulle goedgaan, maar God straf diegene wat Hy liefhet. In plaas daarvan om God se liefde te bevraagteken, moes die volk hul eie lewens ondersoek en besef dat hulle geen liefde teenoor God het nie. Hy ken mense se harte en weet wanneer jou godsdiens oppervlakkig en net vir skyn is. Hy weet as jy Sondag vir Sondag vroom en skynheilig in die kerk sit sonder ware eerbied en ontsag vir wie Hy is. Indien Hy jou liefhet sal jy daarvoor gestraf word.
