15- Die leer van volharding eer God en troos gelowiges; Satan en ongelowiges verwerp en bespot dit Hierdie leer van die volharding van die ware gelowiges, dit wil sê die heiliges, en van die sekerheid daaroor, het God tot eer van sy Naam en tot troos van die gelowiges uitvoerig in sy Woord geopenbaar en in die harte van die gelowiges ingeprent. Die sondige natuur verstaan hierdie leer nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges en huigelaars misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit. Die Bruid van Christus het dit egter altyd as ‘n skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning stand hou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag
Inleiding
Hierdie leer van die volharding van gelowiges is ʼn ongelooflike troos vir elke gelowige. Ons weet en het die versekering dat God ons nooit sal begewe of verlaat nie. Hebreërs 13:5 Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, “Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie”. Hierdie aanhaling in Hebreërs is ʼn terug wysing na God se belofte aan Abraham en die belofte aan Josua voor sy intog in Kanaän. God bevestig aan die gelowiges in Openbaring dat diegene wat deur lyding gaan as gevolg van ongelowige mense, seker moet wees dat daar ʼn dag van oordeel sal aanbreek vir die ongelowiges wat hulle nou vervolg. Openbaring 14:12 Hiervoor het die heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo. Hierdie belofte kom male sonder tal in die Bybel voor en word oor en oor bevestig aan elke gelowige.
Bespot
Wanneer mense iets kosbaar sien en dit nie kan begryp, besit of ooit bekom nie, wil hulle dit vernietig. Net so is dit dan ook met hierdie wonderlike belofte. Dit word deur die wêreld bespot, omdat dit vir hulle onverstaanbaar is. In hierdie wêreld is niemand van enige iets seker behalwe dat hulle gaan sterf nie. Om dus in ander se lewens hierdie vaste sekerheid en anker te sien, word vir hulle ‘n steen des aanstoots en moet dit summier vernietig word. Dit doen hulle maar al te goed deur dit te bespot.
Satan
Die Satan wil nie hê dat die gelowige enige sekerheid moet hê nie. Solank as wat hy die gelowige in onsekerheid en twyfel kan laat sal hy baie tevrede wees. Gelowiges wat onseker is van hulle verlossing kan nooit vrede hê nie en kan ook nie in oorwinning lewe nie. Hulle lyk net so hopeloos soos die wêreld en is dus vir hom geen bedreiging nie. Romeine wil egter aan elke gelowige bevestig: “Ons is meer as oorwinnaars. Niks kan ons skei van die liefde wat daar in Christus is nie.” Romeine 8:31 Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? (Lees gerus weer Romeine 8:31-39) Iemand wat hierdie versekering het, is iemand wat dit aan die wêreld wil uitbasuin. Dit is iemand wat sterk kan staan te midde van swaar en onseker tye. Kan jy verstaan hoekom die Satan hierdie sekerheid van jou wil ontneem? Hoe doen hy dit?
Onkundiges en huigelaars
Die wêreld en baie in die kerk word ongelukkig gebruik om hierdie versekering aan te val. Hierdie groep mense is seker die doeltreffendste in Satan se stryd. Die meeste gelowiges kan ‘n direkte aanslag teen die Bybel duidelik sien kom en hulle daarteen verweer. Hierdie groep mense kom egter met dwaallerings en verdraaiing van die Woord om sodoende gelowiges deurmekaar te maak. Net soos die Satan, gebruik hulle selfs die Skrif deur voorbeelde uit die Bybel, van mense wat eens goed oppad was en dan in sonde weggeval het, voor te hou. “Wat van Judas en Salomo?” “Wat van Israel?” Die Bybel is duidelik dat diegene wat sterf in hul sonde, nooit deel van God se uitverkorenes was nie. Jesus maak dit baie duidelik dat nie een van die skape wat die Vader hom gegee het, verlore sal gaan nie. Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Op dieselfde wyse sal hulle na voorbeelde van mense wys wat kragtig tot wedergeboorte gekom het, net om ‘n paar jaar later totaal in sonde te verval. Dit is egter hierdie mense waarvan daar in Romeine gepraat word. Romeine 2:24 ‘Want “die Naam van God word deur julle toedoen onder die heidene belaster”, soos daar geskryf staan’. Ons moet altyd onthou om nie God se beloftes te toets deur na mense te kyk nie. Die Bybel waarsku ons nie verniet “Bedrieglik is die hart bo alle dinge” nie. Jeremia 7:9. Ons kan nie in mense se harte sien nie en daarom kan baie mense dinge voorgee sonder dat ek of jy ooit daarvan sal weet. Hoewel dit gewoonlik aan die lig kom, is daar verseker mense wat huigel in alles wat hulle doen. Indien God egter aan jou belowe dat jy verewig aan Hom behoort, mag jy nie daarin twyfel nie.
Tweedens word sogenaamde “logika” gebruik om Christene op hul denkfout te wys indien hulle aan God se belofte van ewige verlossing wil vashou. Hul argument lui as volg: Omdat sommige mense huigel en hierdie belofte gebruik as ‘n skans om nou te lewe net soos hulle wil, moet dit beteken dat die belofte vals is. Hoe sou God sekerheid belowe indien dit hierdie tipe ligsinnigheid veroorsaak? Ons het in diepte hierdie punt in vorige inskrywings bespreek en dit moet teen hierdie tyd vir elke gelowige duidelik wees dat indien bg. ‘n persoon se uitgangspunt is hy/sy nie ‘n ware gelowige kan wees nie. Hulle maak God se genade goedkoop en het nie die vaagste benul wat dit beteken om waarlik deur God lewend gemaak te word nie – al sit hulle dalk al vir jare in die kerk en lyk baie vroom.
Derdens probeer mense jou oortuig dat twyfel in jou redding sal veroorsaak dat jy meer toegewyd in jou geestelike lewe sal “werk”. Dink maar hier aan die Rooms-Katolieke kerk wat glo dat jy nooit verseker kan wees van jou redding nie. Selfs Moeder Teresa was onseker oor waar sy die ewigheid sal deurbring. Hulle wil jou laat glo dat daar ‘n arrogansie is by diegene wat sekerheid oor hul redding het. Die rede hiervoor is omdat hulle glo dat jy jou redding moet verdien en nie dat dit uit genade is nie. Indien jy glo dat jy deur verdienste gered word, kan jy egter ook sekerheid hê – sekerheid dat jy nie gered is nie, want redding is deur genade alleen! Jou sekerheid is in Christus, nie in jou werke. Twyfel aangaande jou sekerheid bewerk nie ʼn meer toegewyde geestelike lewe nie – inteendeel, dit is ‘n onmoontlike taak en wanneer jy dit besef sal jy in moedeloosheid opgee. Jy sal nooit enige vrede hê nie en wat meer is, jy gaan begin om jouself aan ander te meet sodat jy meer versekering kan kry. Hierdie uitkyk op die lewe maak jou net afgunstig en steel beslis net jou vreugde.
God ken jou
Die ware gelowige weet dat God ons op verskeie plekke waarsku dat baie mense gaan bely dat hulle die Here ken, maar dat hulle nie aan Hom sal behoort nie. Jesus vertel bv. dat baie op die oordeelsdag sal kom en bely dat hulle in Sy Naam geprofeteer het en duiwels uit gedrywe en kragte gedoen het. Jesus sal hierop vir hulle sê “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!” Iemand wat dus volhard in sonde, volhard daarin omdat hy/sy nooit deur God geken is nie. Het God dan nie hierdie ongeredde mense geken nie? Wat beteken hierdie woord ken? Die Griekse woord kom van γινώσκω (ginosko). Dit beteken om iemand intiem lief te hê. Dit word byvoorbeeld in Mattheus gebruik waar dit vertel word dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het totdat sy Jesus gebaar het nie. Mattheus 1:25 Hy het nie met haar gemeenskap gehad totdat sy aan ‘n seun geboorte gegee het nie. En hy het Hom Jesus genoem. Hierdie woord word in die LXX(Griekse vertaling van die Ou Testament) ook op dieselfde manier gebruik vir Adam, wat gemeenskap met Eva gehad het, en Kain wat met sy vrou gemeenskap gehad het. Om dus deur die Here geken te word, is om deur Hom lief gehê te wees, van ewigheid af. Dit gaan saam met God se ewige uitverkiesing van diegene op wie Hy sy liefde in genade uit stort. Die rede hoekom sommige bely dat hulle Jesus geken, maar tog in sonde volhard het, is dat hulle nooit deur God uitverkies is en aan Hom behoort het nie. Ons kan na die voorbeeld van die saaier gaan kyk. Hier toon Jesus aan dat slegs die laaste groep, waar die saad in die goeie grond geval het en vrug voortbring, waarlik gered word. (Ons weet alreeds dat selfs hierdie vrug, deur God vir sy kinders voorberei is.) Die ander drie groepe het wel op een of ander stadium die Woord gehoor, hulleself in die kerk of onder die geklank van die Woord bevind, maar verlore gegaan. As iemand spottend wil wys hoe iemand op ʼn stadium in die kerk was en nou in die wêreld leef, kan ons met gerustheid aantoon dat die Skrif vir ons duidelik wys dat daar baie sal wees wat deel van ons was, maar nou die teenswoordige wêreld liefgekry het. 2Timotheus 4:10 want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry, en na Thessalonika vertrek, Kressens na Galasië, en Titus na Dalmasië.
Slot
Die ware gelowige is deel van God se bruid. Voor die grondlegging van die aarde is jy deur God uitverkies en Hy sal die werk wat Hy in jou begin het voleindig. God is nie ʼn God wat van gedagte verander nie. Psalm 33:11 Die raadsplan van die Here bestaan vir ewig, die planne wat Hy bedink, van geslag tot geslag. Dit is Sy raadsplan van ewigheid af. Efesiërs 1:4 So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees. Daarom weet ons dat die gelowiges nooit verlore sal gaan nie. Beteken dit dat gelowiges nooit val of afdwaal nie? Verseker nie! Dit beteken wel dat die Goeie Herder, Jesus Christus, nie een van sy skape verlore sal laat gaan nie. Hy sal jou kom haal en jou in moeilike tye bewaar. Petrus skrywe aan gelowiges wat intense lyding ervaar die volgende: En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. 1Petrus 5:10-11.
