Net die Woord!

14- God begin en versterk die genadewerk in ons deur die Evangelie te laat hoor, lees, vermaan, oordink en deur Sy beloftes en sakramente. Dit het God behaag om hierdie Goddelike genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die heilige sakramente.

Inleiding

“Evangelie verkondiging, vermaning en die sakramente” of te wel “Die Woord, die Kerklike opsig en tug en die Heilige sakramente”…..dit is die dinge wat volgens die Nederlandse geloofsbelydenis die kenteken is van die ware Kerk. Die Dortse leerreëls bevestig dit in hierdie leerstelling deur te wys dat hierdie dinge die maniere is waarop God die genadewerk wat Hy in ons begin het end uit sal voer. Dit is dan ook hierdie drie dinge wat die meeste deur die wêreld aangeval word. Die Woord word afgewater as net nog ‘n opinie en jy kan dit basies interpreteer net soos dit jou pas, die Kerklike tug word gebrandmerk as die “liefdelose oordeel van Christene” en die Heilige sakramente verloor hul ware betekenis deur allerhande mistiese eienskappe daaraan te koppel.

God begin die genadewerk

God het die genadewerk van Verlossing in ons lewens begin. Filippense 1:6  omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus. Hy het hierdie werk begin en sal hierdie werk in ons lewens voleindig. Dit was van die begin af, in die tuin van Eden, duidelik dat God die inisiatief neem wanneer Hy die verlore mens opsoek. Adam en Eva het geen begeerte gehad om God te soek nie, maar slegs om hulle van Hom te verberg. Romeine 3:11  Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.

God se Woord

God het bepaal dat hierdie werk van wederbaring sou plaasvind deur die verkondiging van God se Woord. Mens hoor deesdae dat baie mense sê dat hulle nie meer nodig het om die Woord te lees nie, maar God vind in die bestudering van die natuur. “Ons gaan sit op ‘n rots by die see en ervaar God se ongelooflike vrede as die son oor die see sak.” Hoewel dit ‘n pragtige prentjie is en die wonder van die Skepping God verheerlik, vind menig ongelowige dieselfde “vrede” as hulle die Skepping aanskou. Dit is deel van die algemene openbaring van God. Dit is egter in die kennis van die Skepper en ‘n persoonlike verhouding met Hom dat gelowiges ware vrede ervaar. Hierdie kennis vind ons in die Woord, deur dit te lees en te oordink, deur dit te bid en te sing en aan ander te verkondig.

Baie kerke vandag skeep die Woord af en fokus op sogenaamde wonders, gawes en tekens. Hulle veronderstel dat hierdie bonatuurlike dinge mense sal laat glo in die bonatuurlike bestaan van God. Dit is egter nie deel van God se raadsplan nie. God het nie bepaal dat mense sou glo deur wonders of tekens nie. As ons kyk na die tye in die Ou Testament waarin die meeste wonders plaasgevind het, kan ons nie anders as om dit te beskryf as ʼn goddelose tyd nie. Hier kan ons Moses en Josua, Elia en Elisa noem. Die interessante is verder dat ten spyte van die wonders wat hulle gedoen het, niks in die volk se lewens verander het nie. God is saam met Moses in die woestyn met die wolkkolom bedags en snags met die vuurkolom. Die berge bewe, daar is weerlig en ‘n stem uit die hemel. Eksodus 20:18  En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan. Jy sal onmiddellik dink dat die volk nou gehoorsaam sal wees, omdat hulle vreesbevange is. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Aan die voet van dieselfde berg vind ons seksuele orgies en die dans om ‘n afgodsbeeld. Elia en Elisa is bekend as profete van God wat magtige wonders doen. Tog volhard die volk, wat al hierdie wonders sien, in hulle sonde. Nie net verhard hulle in hulle sondes nie, maar ten spyte van Elisa se wonders, is daar ʼn klomp jong kinders wat kom en hom spot. 2Konings 2:23  En daarvandaan het hy opgegaan na Bet-el; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop! As die voorbeeld van Moses, Josua, Elia en Elisa  jou nie oortuig nie kan jy die lewe van Jesus en die apostels bestudeer en jy sal vind dat geen wonders mense verander het nie. Wonders was altyd gegee as ‘n bevestiging dat hierdie manne God se boodskappers is. Die meerderheid profete het egter geen wonders gedoen nie. In die Nuwe Testament vind ons, nadat die apostoliese gesag van individue bevestig is, dat hierdie kenmerk onnodig is en dat Paulus, wat voorheen talle genesings gedoen het, mense wat saam met hom die evangelie verkondig het, siek agterlaat en nie kon genees nie. 2Timotheus 4:20  Erástus het in Korinthe gebly. Trófimus het ek siek in Miléte agtergelaat.

Die Woord in die erediens.

Die verkondiging van die Woord is die manier wat God bepaal het mense gered sou word. 1Korintiers 1:21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red. Daarom moet die Woordverkondiging altyd die sentrum inneem van elke erediens. Nie die sang of getuienis of kerse brand of enige sogenaamde “beter plan of program” wat jy ookal mag hê nie. Die Kerk het weer nodig om dit duidelik te maak dat die Woord genoegsaam is. 2Timotheus 3:16-17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Nie net weet ons dat die Bybel die waarheid en onfeilbare Woord van God is nie, maar ons moet dit ook so begin hanteer. Bring jou Bybel saam kerk toe. Moenie net luister nie, lees saam met die prediker. Plaas ‘n boekmerk by die Skriflesing en gaan lees die hele gedeelte verder by die huis.

Die Woord in jou huis.

Verder is dit belangrik dat die huis van gelowiges ingerig moet word as ʼn plek waar die evangelie aan die volgende geslag verkondig sal word. In Deuteronomium gee God die  opdrag aan ouers dat hulle hulle kinders moet onderrig in die Woord van die Here, oral waar hulle gaan. Deuteronomium 6:67 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Hoe hartseer dat so baie ouers hierdie opdrag nalaat  en toevertrou aan skole en kerke om dit namens hulle te doen. Hierdie opdrag is eerstens aan ouers en elke ouer sal eendag rekenskap moet gee tot watter mate hulle hulle kinders in die Woord van God onderrig het. Daar is soveel geleenthede waar mens met jou kinders oor die Here kan praat, teksverse in die Woord wat jy kan aanhaal: “Ek kyk op na die berge”, as jy deur Meiringspoort ry, of “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af” wanneer boetie en sussie weer oor iets vassit. Die Woord moet geleef word in jou huis.

Die Woord in jou gemeenskap

Elke koning van Israel was opgeroep om God se Woord elke dag te lees. Hy moes as hy as koning gesalf word ʼn afskrif van die wetboek skryf en dit lees al die dae van sy lewe. Deuteronomium 17:18-19  En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen. Altwee hierdie opdragte is baie vinnig agterweë gelaat en na Josua vind ons ʼn generasie wat opstaan wat niks meer weet van wat God gedoen het nie. Rigters 2:10 En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie. In 2Konings vind ons ook vir Josia wat die tempel laat skoonmaak en dan die wetboek vind. As die koning hierdie woorde van die wetboek hoor skeur hy sy klere. 2Konings 22:11 En toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy sy klere geskeur. Hoe tragies as die volk van God nie meer die Woorde van God ken nie. God waarsku sy volk dat hulle ten gronde gaan weens hulle gebrek aan kennis. Vandag is ons grootste gevaar dat huisgesinne almal toegang het tot een of meer Bybels, maar kennis van die Bybel is net so sleg as in die tye van die Middeleeue, toe geeneen van die gewone mense en selfs van die priesters toegang tot die Woord gehad het nie. Die Bybel moet weer gelees en bestudeer word. Mense moet weer begin om moeilike konsepte te oordink en te debatteer vanuit die Woord, terwyl die duidelike riglyne en morele waardes die basis moet word van ons gemeenskappe. Dit gebeur wanneer gelowiges weer opgewonde begin praat  – by hul werk, skool en gesellige byeenkomste, oor hul Bybelstudie en dit wat die Woord hulle leer.

Die Woord is God se stem

God se Woord is aan ons bekend gemaak en is vertaal in die taal waarmee ons groot geword het. As ons God se stem wil hoor kan ons Sy Woord in ons hande neem en dit lees en as ons sy stem hardop wil hoor kan ons dit hardop lees. Hoe kosbaar is Sy Woord nie vir ons nie. U kan gerus Psalm 119 deurlees om te sien hoe belangrik die Psalmdigter God se Woord beskou. Luister net wat sê hy in Psalm 119:92 As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. Die Woord is ‘n kosbare skat vir elke gelowige

Die sakramente en tug

Verder het God ook vir ons die sakramente gegee, die nagmaal en die doop, om ons met sigbare tekens te versterk. Daarom het die vroeë kerk dit gereeld saam beoefen. Handelinge 2:42 En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. Om die tug toe te pas gaan saam met die vermaning wat God gebruik om gelowiges op hulle geloofspad te rig. Nie net is dit dus belangrik om die Woord te lees nie maar ook die onderlinge byeenkomste van die gelowiges by te woon. Hier is die plek waar ons die prediking hoor en saam met ander gelowiges skouers skuur en mekaar bedien en vertroos en vermaan. Hebreërs 10:25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. Iemand wat die bywoon van eredienste as sekondêr sien loop die gevaar om in sy/haar geloofslewe skade te ly. Ware gelowiges word deur die Gees gedring om saam met ander gelowiges te wees. Dit is jou ware familie.

Slot

Die Woord, die Woord, die Woord! Die belangrikheid van die lees en bestudeer daarvan kan nie meer beklemtoon word nie. Dit is die ware kennis van God en die spesiale openbaring aan elke gelowige. Luister na die Woord se beloftes – dit sal jou versterk op jou pad, luister na die Woord se teregwysings – dit sal jou beskerm op jou pad, luister na die Woord se aansporing – dit sal jou bring na die beloofde Land.