God skep vrug!

13- Vertroue wek nie ligsinnigheid nie, maar ‘n nougesette lewe in God se paaie. Wanneer die vertroue in die volharding weer lewendig word in hulle wat uit ‘n val in sonde weer opgerig word bring dit geen ligsinnigheid of verwaarlosing van die vroomheid nie, maar eerder ‘n baie groter begeerte om nougeset in die paaie van die Here te wandel. Hierdie paaie is vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou hulle gevolglik die sekerheid van hulle volharding. ‘n Verdere gevolg is dat die aangesig van die versoende God – waarvan die aanskouing vir die gelowiges soeter as die lewe en die verberging bitterder as die dood is – nie weer weens hulle misbruik van sy Vaderlike goedheid van hulle afgewend word en hulle só in swaarder gemoedskwellings verval nie.

Inleiding

Sonde is nooit vir die gelowige iets ligsinnig nie. Enige persoon wat na sy verlede kan kyk en sonde in sy/haar lewe kan beskryf as nie so “erg “ nie is iemand wie se Christenskap betwyfel moet word. Net so is dit met gelowiges wat lag oor die sondes van hulle verlede. Mense wat maklik kan praat oor sondes van die verlede en wat nie diep daardeur gesny is nie kan onmoontlik nie deur die Heilige Gees vervul wees nie.

Sonde laat ‘n merk

In die Ou Testament kan ons na persone soos Dawid gaan kyk om te sien hoe intens hulle hulle sondes beleef en beskrywe het. Psalm 51:5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Soms het mense die idee dat omdat jy van sonde vergewe is, dit nou weg is. Ja, dit is die waarheid dat God nie meer daaraan dink nie, maar ongelukkig bly die gevolge daarvan by jou. Die gevolge is soms direkte sigbare konsekwensies en soms meer psigies. Die feit is dat sonde ‘n letsel laat. Dit is egter jou keuse of dit ‘n wond sal bly, want God kom en maak dit gesond. Verder kan die “letsel” vir jou ‘n teken wees van wat God in jou lewe gedoen het en soos in die geval van David en Paulus ‘n bron van dankbaarheid wees.  Paulus kon terug kyk na sy sonde en nooit het hy dit as iets ligtelik beskryf nie. 1Timotheus 1:15 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Sou jy hom so beskryf? Het hy nie sy sonde gedoen uit onwetendheid nie? 1Timotheus 1:13  my wat vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. Al was Paulus na sy wedergeboorte ʼn man wat toegewyd in alles aan die Here gelewe het en ʼn voorbeeld was vir al die gelowiges, was hy iemand wat die erns van sy eie sonde besef het.

Jesus vertel ʼn gelykenis wat hy aan sy hoorders wys dat iemand wat verstaan hoe groot sy sonde is, iemand sal wees wat sal lewe uit dankbaarheid vir wat God in sy/haar lewe gedoen het. Lukas 7:47  Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. Die kenmerk van ‘n gelowige is dus ‘n droefheid oor hulle sonde wat hulle dryf na die kruis. Met die ontvangs van vergifnis is daar nou ʼn groter begeerte as ooit te vore om toegewyd aan die Here te lewe. Die verstaan dat my sonde deur my Verlosser aan die kruis gedra is, kan my nooit ligtelik na my sonde laat kyk nie. My lewe wil ek nou in dankbaarheid aan Hom lewe. Hierdie begeerte is ʼn begeerte wat aanhou groei en net sterker word in ons lewens.

Sonder twyfel

Wanneer God jou optel na opregte berou, gee Hy vir jou weereens die versekering van jou redding, Hy gee dit vir jou in Sy Woord deur jou te verseker dat die begeerte wat jy nou het om weer voluit vir Hom te lewe, nie uit jouself kon plaasvind nie, maar alleenlik moontlik is omdat dit die pad is wat Hy alreeds voor die grondlegging van die aarde vir jou bestem het. Efesiërs 2:10  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. As ons verlos is, is dit omdat ons uitverkies is om gered te word. Dus as ons uitverkies is, is ons nuut gemaak deur God en nuut geskape in Christus Jesus. Dit is nie al nie, ons is nuut geskape om goeie werke te doen wat God alreeds vir ons voorberei het. God het dus die goeie dinge wat jy nou wil doen, vir jou voorberei. Daarom word dit oral bevestig dat iemand wat uit God gebore is, goeie vrugte sal dra. Dit was die boodskap van die profete van die Here. Johannes die Doper vertel aan diegene wat gekom het om deur hom gedoop te word, dat hulle vrugte moet dra wat by die bekering pas. Dra dan vrugte wat by die bekering pas. Mattheus 3:8. Dit is wat Jesus vir diegene wat saamgekom het om na Hom te luister, vertel het. Mattheus 7:16-18  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Die Here het ʼn doringboom verander in ʼn appelboom. Hy het nie net die boom verander nie maar ook die vrugte geskep vir die appelboom om te dra. Daarom sê Jesus in Johannes “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie”. Johannes 15:5. Wat sou gebeur as God nie die werk in ons gedoen het nie? Sou ons enige vrugte kon dra? Sou ons uit ons eie kon verander? Verstaan ons werklik die woorde in Efesiërs dat daar niks is waarop ons kan roem nie. Efesiërs 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. My geloof word dus versterk deur my werke. Nie omdat my werke my red nie, maar omdat my werke ʼn versekering is van God se werk in my. Wanneer ek nou weer op die regte pad begin wandel, kyk ek nie die heeltyd terug na vorige lewe in vertwyfeling nie, maar met ‘n sekerheid dat die verandering en groei wat in my lewe plaasgevind het, plaasgevind het omdat ek gered is. Die vrug in my is dus ‘n versterking van my geloof en ‘n versekering dat ek uitverkies is. Die versekering groei dus a.g.v. die sigbare bewyse van Sy beloftes in my lewe.

Weg vlug van God

Daar word baie keer gesê dat mens versigtig moet wees om sonde in ‘n preek aan te spreek, want daar mag dalk iemand wees wat skuldig was aan daardie spesifieke sonde wie se gevoelens seermaak kan word. Dink maar aan egskeiding, aborsie of voorhuwelikse seks. Hierdie sondes word ter illustrasie gebruik en word nie genoem omdat die erger as ander sondes is nie. Indien jy van hierdie sondes vergewe is, sou jy nie ander daarteen wou waarsku nie? Is dit nie juis die dinge waaroor jy sou wou hê die predikant moet praat nie? As gelowige verstaan jy wat sonde aan jou, aan ander en hoofsaaklik aan Christus gedoen het. Dit het Sy lewe gekos. Jy verstaan wat dit  beteken om van God verlate te wees. Enige ware gelowige sou enige iets doen om ander van hierdie lot te weerhou. Watter hartseer om saam met God te wandel in Eden en dan a.g.v. my sonde te moet wegkruip in die tuin. Ons wil nou soos Henog van ouds elke dag saam met die Here wandel in ons lewens. Terwyl ons in sonde was wou ons van God wegvlug. Jona vertel ons in sy wegvlug van God dat hy afgegaan na Jafo en dan het hy afgegaan na die hawe. Sy totale wegvlug van God word beskryf in die woordjie “afgaan.” Afgaan na Jafo. Afgaan na die hawe. Afgaan in die boot. Wegvlug van God is altyd ʼn afgaan in jou lewe. Dan sou God self hom laat afgaan en hierdie keer in die see en in die maag van die groot vis. Hy moes alleen kom in die vis se maag voor daar herstel kan kom, om te besef niks is beter as om by Hom te wees nie.

God se aangesig

Wat ek in Hom het oortref alles in waarde. Na die volgehoue sonde van die volk in die woestyn maak God dit duidelik aan Moses dat Hy nie meer langer saam met hulle sou trek nie en dat Hy sy engel saam met hulle sal stuur. Moses pleit by God om hulle nie te verlaat nie en dan sê hy die volgende: Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. Eksodus 33:15. Dawid pleit ook netso by God na sy sonde met Batseba en die moord op Uriah. Psalm 51:13 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Wat sal gebeur as God sy aangesig vir ons verberg. As ons ʼn leegheid in ons binneste sou ervaar met geen meer vrede of vreugde a.g.v. Sy teenwoordigheid nie. Wat sou gebeur as God Hom vir my sou bly verberg a.g.v. my sonde?  Jesaja 64:7 En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede. Die aangesig van die versoenende God, die God wat jou vergewe het van al jou oortredings, jou weer opgetel het uit die modder en geplaas het op die pad van goeie werke, wat Hy alreeds vir jou voorberei het voor die grondlegging van die aarde, is soeter as enige iets in die gelowige se lewe.  Ons wil eerder wees soos Josua wat in God se teenwoordigheid bly. Eksodus 33:11  Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, ‘n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie. Is dit jou grootste verlange en jou grootste begeerte?

Slot

Genade op genade. Dit is wat ons as gelowiges ontvang het. God gee ons die versekering, selfs wanneer ons eie sonde ons wil laat twyfel, dat Hy ons uitverkies het. Dit doen Hy deur ons te bring na die plek van opregte berou, deur ons te vernuwe en te vul met sy Gees sodat ons vrugte vir onsself, sowel as vir ander, sigbaar kan word, as ‘n teken dat Hy ons vrygekoop het. Hy is met ons – hy sal die gebuigde riet nie breek nie.