Sal die nuwe mens wil lewe soos die oue?

12- Sekerheid van volharding moedig aan tot ‘n vroom lewe. Dit is egter totaal onmoontlik dat hierdie sekerheid van die volharding die ware gelowiges hoogmoedige en sorglose mense sou maak. Inteendeel, dit is ‘n ware wortel waaruit die nederigheid, die kinderlike vrees, die ware vroomheid, die volharding in alle stryd, die vurige gebede, die standvastigheid onder die kruis, die standvastigheid in die belydenis van die waarheid en die standvastigheid van ‘n blywende vreugde in God spruit. Ook is die oordenking van hierdie weldaad vir hulle ‘n aansporing tot ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie werke, soos uit die getuienisse van die Skrif en die voorbeelde van die heiliges blyk.

Inleiding

Diegene wat bekend is met die bekende akroniem van Calvinisme T.U.L.I.P, sal weet dat die laaste letter P staan vir “Perseverance of the Saints” Die Dordtse leerreëls ondersteun hierdie lering as duidelik vanuit die Skrif, en die voorafgaande blog-inskrywings het hierdie onderwerp deeglik behandel. Indien jy nog enige onduidelikheid oor hierdie stelling het, gaan weer terug na die vorige inskrywings en maak seker dat jy dit ten volle verstaan en kan verifieer as getrou aan die Woord. Die Dordtse leerreëls verklaar dat die Skrif sê dat indien jy eenmaal gered is, is jy altyd gered. ‘n Ware gelowige kan nie verlore gaan nie! Indien jy deur God uitverkies is, bly jy uitverkies – God verander nie van gedagte nie. Hy is ons sekerheid, Hy is ons anker. God sal die werk wat Hy in elke gelowige begin het enduit volhou. Hierdie inskrywing handel oor die uitwerking van hierdie realiteit in elke gelowige se lewe.

Teenkanting

Deur die geskiedenis was een van die grootste teenkantings teen die leer van die volharding van die heiliges, m.a.w. dat ‘n ware gelowige tot die einde toe sal volhard, dat mense dan sal lewe soos wat hulle wil. Baie mense sê dat hierdie sekerheid mense arrogant sal maak en dat hulle dan ligsinnig teenoor sonde sal wees. Ligsinnigheid teenoor sonde veroorsaak dat mense val vir vleeslike versoekings en dus sedelose lewens sal begin lei. Die Armeniane sowel as die Rooms-Katolieke Kerk gebruik hierdie argument om te sê dat die Dordtse-leerreëls dus verkeerd is en dat gelowiges wel steeds verlore kan gaan. Hierdie argument word egter nie op Bybelse gronde gevoer nie, maar op menslike logika en emosie geskoei. Ons dink aan die voorbeeld van ‘n kursus op Universiteit wat deurlopende evaluering vir assessering gebruik. Daar kan ‘n stadium kom waar die student verseker is dat hy/sy alreeds die vak deurgekom het op grond van punte wat alreeds behaal is. Die argument is nou dat hierdie student dan sal verslap in sy studies, omdat die gevaar dat hy/sy kan druip nie meer daar is nie. “Ek is mos klaar deur, so waarom sal ek verder leer?”, is die argument. Hoewel dit verseker sin maak, en ek glo talle mense het al hierdie presiese gevolgtrekking gemaak, vergeet die opposisie dat ware gelowiges gevul is met die Heilige Gees en dat Hy besig is met ‘n proses van heiligmaking in elke gelowige se lewe.

Nederigheid

Hierteenoor stel die Dordtse leerreëls dit duidelik dat die geloof dat God ons sal vashou tot aan die einde, die gelowige bring tot nederigheid. Hoe kan iemand wat verstaan dat God al die werk rakende my volharding te weeg bring enigsins hoogmoedig word? Die teken van ʼn ware gelowige is ʼn persoon wat elke dag uit dankbaarheid lewe vir dit wat God in sy/haar lewe bewerk het. Dit is selde dat iemand hoogmoedig raak op grond van iets wat iemand anders gedoen het. Dit is eerder die geval dat mense wat dink dat hulle self iets vir hul redding gedoen het, dink dat hulle beter as ander is. Hulle het immers gedoen wat nodig was, terwyl die ander persoon te “sleg” was om dit te doen. Die Heilige Gees in elke gelowige lewer egter ‘n vrug van, “…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Galasiërs 5:22-23

Dankbaarheid

Paulus roep die gelowiges op, juis a.g.v. God se groot ontferming, om toegewyde lewens te lei. Romeine12:1 Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Ons is offers wat ʼn heerlike reuk voor God is. Ons lewenswandel moet heilig wees, want dit is aanneemlik voor God. Elke gelowige wat die verlossingswerk van God in hulle lewens verstaan, word gekenmerk deur lewens wat heilig is. Hulle wil in alles God behaag. Dit is die “sinvolle godsdiens”. Daar is geen ander manier waarop ʼn gelowige sal kan lewe nie. Mense wat op ʼn stadium ʼn besluit neem om die Here te volg en dan die spoor so byster raak dat hulle in volharding van sonde sterf, is iemand wat nooit deur God nuut gemaak is nie, maar wat uit hulle eie ʼn besluit geneem het om te verbeter of te verander. Ons hoor dit so baie dat mense sê: ”Ek gaan probeer om ʼn beter lewe te lei.” Hoe lank sal so ʼn persoon staande kan bly? Met die gelykenis van die saaier openbaar Jesus dat sulke mense net sal volhou tot die eerste verdrukking kom. Dan sal hulle “ware liefde” aan die lig kom. Dink bv. aan ‘n alkoholis: Hy/sy is lief vir drank. Iets moet die plek van die drank inneem en dit moet iets wees waarvoor hulle liewer sal wees as drank. Almal is afhanklik van iets – iets waarvoor jy jou siel sal verkoop. Dink maar aan sekuriteit, liefde, aanvaarding, eer, ens. Die oomblik as hierdie dinge in gedrang kom, kom jou “ware liefde” aan die lig. Wanneer jy Jesus ontdek as jou grootste liefde, deur die werking van die Heilige Gees, sal jy die krag en motivering hê om alkohol (of enige ander verslawing), te oorkom. Iemand wat terug val in sonde en daarin bly is ʼn vark wat nog net altyd hom/haarself gewas het. 2Petrus2:22 Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol. As God jou nuut gemaak het sal jy ʼn nuwe mens wees. 2Korintiers 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Die lewe van ʼn gelowige word gekenmerk deur dankbaarheid aan God. Psalm 56:13-14 Op my, o God, rus geloftes aan U gedoen; lofoffers sal ek U betaal; want U het my siel gered van die dood—ja, my voete van struikeling—om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe. Daar was tien melaatse mans wat na Jesus gekom het om deur Hom genees te word. Jesus stuur hulle na die priester om hulleself aan hom te gaan wys. Op pad word hulle genees van hulle melaatsheid. Hoe dankbaar moes hulle nie gewees het toe hulle ontdek het dat hulle genees is nie.!? En tog vind ons dat net een man na Jesus terugkom om Hom te dank. Lukas 17:15-16  En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ‘n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was ‘n Samaritaan. Jesus is verstom oor die reaksie van hierdie melaatse mans as hy sê: Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie? Lukas 17:18.

Dawid is ʼn wonderlike voorbeeld van ʼn man wat die begeerte gehad het dat God in dieselfde stad as hy moes woon. Die ark was die simbool van God se teenwoordigheid. Dawid het in Jerusalem gebly en die ark was in Kirjat-Jeárim. Hulle probeer die ark na Jerusalem bring, maar op die verkeerde manier en God straf hulle daarvoor.  Dan bely Dawid hulle sonde en bring die ark van Obed-Edom na Jerusalem. Die priesters het musiek gemaak en Dawid en die mense het in ‘n vreugdevolle optog van musiek en sang en dans die ark na Jerusalem begelei. 1Kronieke 15:28  En die hele Israel het die verbondsark van die HERE gaan haal met gejuig en basuingeklank en met trompette en simbale, onderwyl hulle musiek maak op harpe en siters. Watter vreugde – God gaan by ons woning maak! Terwyl hulle dans en met vreugde die ark inbring kyk Migal, die dogter van Saul deur haar venster na Dawid en sy verag hom in haar hart. 2Samuel 6:20  Toe Dawid terugkom om sy huisgesin te seën, het Migal, die dogter van Saul, Dawid tegemoetgegaan en gesê: Hoe het die koning van Israel homself vandag geëer, dat hy homself vandag voor die oë van die slavinne van sy dienaars ontbloot het soos een van die ligsinnige mense hom somaar ontbloot! Luister hoe Dawid haar antwoord. 2Samuel 6:21-22  Maar Dawid sê vir Migal: Voor die aangesig van die HERE wat my verkies het bo jou vader en bo sy hele huis, deur my as vors aan te stel oor die volk van die HERE, oor Israel—ja, voor die aangesig van die HERE sal ek vrolik wees! En ek sal my nog geringer ag as dit—ek sal nederig wees in my eie oë en met die slavinne van wie jy gepraat het, met hulle sal ek myself eer. Vir Dawid was daar geen groter vreugde as dat God hom uitverkies het en nou by hom wil kom woon nie. Daar is geen groter vreugde vir die gelowige as om te weet dat God my uitverkies het en dat Hy in my kom woning maak het nie. Sal iemand wat hierdie vreugde het enigsins geïntimideer kan word deur ander wat op hom/haar neersien of hulle vervolg of sleg behandel? Dit wat ons nou het in Christus oortref alles in waarde. Psalm 116:12 Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my. Hierdie vreugde veroorsaak dankbaarheid en daarom sal elke gelowige se lewe getuig van die wil om God te eer en te verheerlik.

Heilige Gees

Gelowiges leef in afwagting dat Christus weer moet kom en dat ons Hom dan van aangesig tot aangesig sal sien. Wat ʼn wonderlike vooruitsig is dit nie!? Titus 2:11-14 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus. Dieselfde reddende genade waardeur ons gered is leer ons ook “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe”. Hoe is dit moontlik dat iemand gered is, maar nie deur die Gees geleer word om dinge in hierdie wêreld af te lê en die vleeslike begeertes in ons lewens dood te maak nie? Luister gerus weer na wat Filippense ons leer. Filippense 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Omdat Hy in ons werk is daar ʼn konstante begeerte om myself te reinig van alle sonde. Ek wil nie daarmee voort gaan nie. Ek haat nou die sonde en het ʼn begeerte, deur Hom bewerk, om myself te reinig. 1Johannes 3:3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

Slot

Enige persoon wat dink dat die feit dat God ons verseker van die Ewige Lewe in Christus, nou beteken dat hy/sy kan lewe soos hulle wil, het nie die Heilige Gees nie en is dus nie ‘n ware gelowige nie. Ons is baie vergewe en daarom het ons baie lief. Ons is baie lief vir Hom wat uit genade Sy lewe vir ons gegee het sodat ons kan Lewe, Jesus Christus, ons Koning en Verlosser. Ons sal U eer, o God, en vir U lewe. In nederigheid, omdat ons niks gedoen het om U groot genade te verdien nie, in dankbaarheid, omdat U alle seëninge wat daar in die hemel is op ons uitgestort het, omdat U ons aangeneem het as U kinders en by ons kom woning maak het – eenmaal en verewig.