God sal my die krag gee!

11- God laat nie toe dat die gelowiges bo hul kragte versoek word nie, maar gee volharding, ook in tye van twyfel. Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God, die Vader van alle vertroosting, laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms, en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker.

Inleiding

Voordat ons in diepte hierdie leerstelling bespreek is dit belangrik om te weet: “God versoek niemand nie.” Daar is ‘n definitiewe verskil tussen toetse en versoekings. Toetse is moeilike omstandighede waarin elke gelowige hom van tyd tot tyd bevind. Dink bv. aan siekte, finansiële probleme, werkloosheid, slagoffer van geweld, ens. Baie keer is hierdie die dinge wat gelowiges in vertwyfeling laat met die vraag: “Waar is God in hierdie moeilike omstandighede?” Hierdie toets verander dan vir die gelowige in ‘n versoeking om sonde te doen deur nie op God te vertrou te midde van die omstandighede nie. God stuur egter nooit ‘n versoeking in die vorm van sonde nie – dit doen die duiwel en jou eie vleeslike begeertes. God weerhou dit egter nie van gelowiges nie, want ons leef in ‘n sondige wêreld met daaglikse versoekings om ons. Hoewel die verskil tussen toetse en versoekings soms onduidelik is, is die belangrikste om te weet dat God nie sal toelaat dat iedereen meer is as wat ons saam met Hom kan hanteer nie. Hy sal ook die antwoord gee in tye van toetse en versoekings.

Staande? Hoeveel van ons het al rolprente of boeke gelees van die martelare van ouds wat vir Christus gely het. Hulle is vervolg en sommige gemartel. Soms hoor ons van mense wat moet kies tussen Christus en hul werk, omdat daar onetiese dinge by die werk gebeur. Ons lees van manne wat bereid was om op die brandstapel verbrand te word vir wat hulle glo en weet van gelowiges wat in die arenas, saam met hulle kinders, gesing en God geloof het, terwyl die leeus op hulle afstorm. Ons  kyk na ons eie geloofslewe en vra tereg: “Sal ek in dieselfde situasie staande kan bly?” Kan die duiwel my deur toetse neem waarin ek nie staande sal bly nie. Kyk na die voorbeeld van Job en waardeur hy moes gaan. Sal ek ooit soos Job staande kan bly? Die toets is of Job nog steeds God sal eer indien hy alles verloor, selfs sy gesondheid. Die versoeking kom in die vorm van sy vrou wat sê dat hy God moet vloek en sterf, asook sy vriende wat hom laat twyfel oor sy verhouding met God, deur daarop aan te dring dat hy gestraf word oor een of ander sonde wat hy moes gepleeg het. Ons lewe in hierdie wêreld vol versoekings en ʼn vlees wat geneig is tot die verkeerde. Romeine 7:18 Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, dit wil sê, nie in my sondige aard nie. Die wil bestaan wel by my, maar die doen van die goeie nie. Hierdie sondige aard, of soos die 1953 vertaling dit skryf, die vlees, is ingestel om die verkeerde na te jaag. Ons verstaan vanuit die Skrif dat daar dus ʼn stryd aan die gang is tussen die gees wat vernuwe is en die vlees. Ons weet egter dat Job nie gesondig het nie en staande gebly het en God beloof ons dat geen versoeking meer sal wees as wat ons kan hanteer nie. Die vraag word dus nie of ek kan nie, maar hoe doen ek dit? Hierdie vraag is onlosmaaklik gekoppel aan wat ek glo aangaande God.   

Hoe bly ons staande? 

  1. God is met ons 

Die Woord verseker ons dat God die Vader ons Vertroosting is. 2Korintiers1:3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Die Griekse woord vir vertroosting word ook gebruik vir die werk van die Heilige gees en ook die werk van Christus. Die werk van vertroosting is dus die werk van die Drie-Eenheid. As ons na 2Korintiers1 kyk sien ons dat Paulus hier spesifiek kyk na die vertroosting wat ons het in tye van lyding. Die Woord vertroosting in die Grieks beteken om langs iemand in te kom en die persoon te ondersteun. God kom ons dus in tye van toetse ondersteun. Die versoeking in swaar tye kom gewoonlik in die vorm van vertwyfeling in die liefde van God. Die belangrikste wapen hierteen is om te besef dat God by jou is. Hoe wonderlik is hierdie gedagte nie. As God met ons is hoe sal enige iets ons laat struikel of weg laat val. Die konstante bewustheid van God se teenwoordigheid is die bron van my vreugde en die sekerheid van my oorwinning. Kom ons gaan kyk na ‘n paar manne in die Bybel wat hierdie stelling illustreer.  

Dawid se lewe is ʼn voorbeeld van ʼn gelowige wat die oorwinning met God behaal en dan in ʼn gruwelike sonde val juis omdat Hy God se teenwoordigheid vergeet. Hy gaan in ʼn oorlog teen Goliat, ʼn man van ongeveer 3 meter, met absolute vreesloosheid. 1Samuel17:45 Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n vegspies en met ‘n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die Here, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy ‘n bespotting maak. Terwyl hy dus bewus was van hoe groot God is, in vergelyking met die reus wat voor hom staan, kon hy die oorwinning behaal. Die oomblik toe hy egter versoek word deur sy eie vlees wanneer hy Batseba sien, vergeet hy dat hy in God se teenwoordigheid wandel. Nou gaan dit nie meer oor gevaar vir sy lewe nie, maar sy eie vleeslik genot – iets waarvoor hy volgens hom nie vir God nodig het nie. Soos met enige sonde, word hy al dieper ingetrek totdat hy selfs Uriah, een van sy dapper manne, vermoor. Die oomblik as ek vergeet hoe afhanklik ek van die Here is en sonder die bewustheid van sy teenwoordigheid die dag ingaan of besluite neem, is die oomblik wat ek in die grootste gevaar is.  

Dit was dieselfde probleem met die Israeliete toe hulle hulleself in die woestyn bevind het. God het die heeltyd aan hulle sy teenwoordigheid gewys en bevestig deur magtige dade. Hulle het in die dag die wolkkolom en saans die vuurkolom gesien. God het die Rooisee oopgemaak en in twee verdeel. Tog het hulle gereeld in sonde geval. Hoekom? Hulle val in sonde omdat God se teenwoordigheid vir hulle so vanselfsprekend geword het, dat dit nie meer vir hulle ‘n bron van wonder en vrees was nie. Hulle omstandighede was vir hulle ‘n groter realiteit as die teenwoordigheid van God. Wanneer die omstandighede (goed of sleg) waarin jy jou bevind van so ‘n aard is, dat jy jou vreugde daarin vind of verloor, in plaas van in die feit dat God met jou binne die omstandighede is,  dit is dan wat jy in sonde val. Hulle het gekla oor alles en vergeet van God se voorsienigheid. Te min kos, te veel manna, te min vleis, te min water, bitter water, ens., ens. Hoe maklik kan ons nie ook kla en ontevrede wees oor God se manier waarop Hy voorsien nie. Hierdie is verseker ʼn teken van ʼn spoedige val. Mense wat ongelukkig aangaande hulle omstandighede is, is opsoek na hulle eie geluk buite God. Hulle is met niks tevrede nie. Hierteen, sê die skrywer van Korintiers, moet ons as gelowiges waak. Soek in Hom jou vertroosting en jou verlange. Lewe elke dag met die bewustheid dat Hy saam met jou loop en jou ondersteuning is. Jy kan nie een voet voor die ander plaas sonder sy voorsienigheid nie. Watter vertroosting sal hierdie bewustheid nie konstant aan jou verleen nie!? 

  1. God is in beheer 

Die volgende belofte waarop die Dordtse Leerreëls ons aandag wil vestig is dat ons nooit bo ons kragte versoek sal word nie. 1Korintiers10:13 Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe ‘n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur. Elke versoeking wat oor jou en my sal kom sal ʼn menslike versoeking wees. Dit beteken dat iemand voor my alreeds daar deur gegaan het. Dit sal nie bo-menslik wees nie. Daarom is dit so belangrik om die Skrif te ken. Hier leer ons hoe ander mense deur versoekings en toetse gegaan het, hoe hulle oorwin het of hoekom hulle geval het.  

Een van die beste voorbeelde is om na die lewe van Abraham te gaan kyk. Ons ken hom as iemand wat ‘n ongelooflike oorwinning ten opsigte van sy toets om Isak te gaan offer behaal het, maar ook as iemand wat bitterlik gefaal het toe hy aan Abimeleg verklaar het dat Sara sy suster is. Hoekom kon hy in seker omstandighede oorwin en het hy in ander geval? Abraham vertel aan Abimeleg dat Sara sy suster is, omdat hy bang was dat hulle hom sou doodmaak a.g.v. sy vrou. Wat leer Abraham deur hierdie versoeking waarvoor hy geval het? Genesis20:11 Abraham het geantwoord: “Dit is omdat ek gedink het daar is beslis geen ontsag vir God op hierdie plek nie, en dat hulle my sal doodmaak oor my vrou. Wat was Abraham se probleem? Hy het vergeet dat die God wat hy aanbid in beheer is van alles wat op aarde plaasvind en dat geen koning of leier enige iets kan doen sonder dat God dit toelaat nie. Hoe sal dit jou help in jou oorwinning oor versoekings?  

  1. God berei ons voor 

Verder sê die vers ook dat God getrou is en ons nie bo dit wat ons kan hanteer sal versoek nie. God sou Abraham deur nege toetse stuur voordat Hy hom gevra het om Isak te gaan offer. God is besig om ons voor te berei met elke toets sodat ons staande sal kan bly in toetse wat vir ons voorlê. God ken elke kind van Hom en weet wat ons kan hanteer. Let wel, nie wat ons dink ons kan hanteer nie. So baie keer as ons deur ʼn toets gaan dink ons dat dit bo ons kragte is. Ons voel dat God nie werklik getrou is nie en dat ons nooit hierdie toets sal deurkom nie. Hierdie is leuens van die  Satan. Ons sal dit kan deurkom, want God het belowe dat dit nie bo my vermoë sal wees nie. Verder kan die gelowige ook seker wees, vanuit hierdie Skrifgedeelte, dat God ook aan jou die uitkoms sal gee. Die grootste toets is egter om geduldig vir God se antwoord te wag. Saul het geval voor ʼn toets juis omdat hy wou hê dat daar ʼn offer gebring moes word voor hy hom sou begewe in die oorlog. Hy wag vir Samuel en omdat Samuel nie dadelik opdaag nie, offer hy self die offer. Hy het gedink dat daar geen ander opsie vir hom was as om die sonde te doen nie. Kan ek op die Here wag en weet dat Hy ʼn deurbraak in hierdie omstandighede gaan stuur? Kan ek geduldig op Hom wag? Ongeduld is ‘n sonde – die eie ek wil nie wag nie. Ons wil die antwoord en die uitkoms dadelik hê. As God dit nie onmiddellik stuur of op my tyd nie, is ek ontstoke en maak ek my eie planne. Luister maar na Saul se verdediging van sy sonde. 1Samuel13:11-12 Maar Samuel het gesê: “Wat het jy gedoen?” Waarop Saul toe antwoord: “Omdat ek gesien het dat die manskappe van my af gedros het, dat u self nie op die vasgestelde tyd opgedaag het nie, en dat die Filistyne by Migmas saamgetrek het, het ek gedink: Nou gaan die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, terwyl ek nog nie die Here se guns gesoek het nie. Ek het toe moed bymekaargeskraap en die brandoffer geoffer.” Is God getrou en sal Hy vir jou ʼn uitkoms gee? Beslis! 

Slot 

Die wêreld en gelowiges gaan deur dieselfde moeilike dinge. Rampe tref gelowiges ook. Die verskil tussen die wêreld en die ware kinders van die Here kom egter juis dan aan die lig. ‘n Ware gelowige kan in moeilike omstandighede vrede en vreugde ervaar omdat hy/sy verseker is van God se teenwoordigheid te midde van die omstandighede. God sal jou vertroos en jou krag gee. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan behoort aan elkeen wat besef dat niks jou van die liefde van God, wat daar in Christus is, kan skei nie. Al lyk dit hoe donker en al is dinge hoe onseker, is God ons lig en sekuriteit. Selfs al twyfel ons, en val ons soms in swakheid vir die versoekings wat oor ons pad kom, sal God, deur sy Gees weer die sekerheid in ons wakker maak. Jy sal kan staande bly indien jy besef dat die krag om dit te doen nie in jouself geleë is nie, maar in God.