Is jy seker?

9- Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring. Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof. Hulle het hieroor sekerheid volgens die maat van die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sondes en die ewige lewe het.

10- Sekerheid spruit nie buite die Woord om nie, maar deur die getuienis van die Gees uit die Woord. Hierdie sekerheid spruit dus nie voort uit enige besondere openbaring wat sonder of buite die Woord plaasgevind het nie, maar uit die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy Woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar het; uit die getuienis van die Heilige Gees: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, mede-erfgename van Christus”, en, laastens, uit die ernstige en heilige strewe na ‘n goeie gewete en goeie werke. As die uitverkorenes van God in hierdie wêreld nie hierdie vaste troos het dat hulle die oorwinning sal behou en hierdie onfeilbare pand van die ewige heerlikheid sou besit nie, dan sou hulle die ellendigste van al die mense wees .

Inleiding

Is jy seker? Hierdie vraag het gewoonlik die teenoorgestelde reaksie as wat mens verwag. Dit laat mense twyfel, waar hulle oomblikke tevore seker van hul saak was. Die vraag veronderstel die moontlikheid dat jy verkeerd kan wees. Dink maar aan TV programme soos “Who wants to be a millionaire.” Die oomblik as die aanbieder vra “Is jy seker?” of “Is dit jou finale antwoord?” begin die persoon twyfel. Hy/Sy word gewoonlik herinner aan wat, in dié geval die hoeveelheid geld, op die spel is. Hoeveel te meer is op die spel wanneer dit by jou geestelike sekerheid kom? Jy staan nie die gevaar om geld, wat jy in elk geval nie gehad het te verloor nie, maar om die Ewigheid in die hel te spandeer.

Valse sekerheid

Werke

Deur die eeue het hierdie vraag mense gedryf na allerhande dinge om hulself van hul redding te verseker. Die meeste mense wat sogenaamde Christene is, wil egter hul sekerheid van redding en die ewige lewe bou op iets ekstern, iets wat ek gedoen het wat vir my sekerheid sal gee aangaande my verlossing. Hulle wil ‘n balansstaat hê van hul goeie en slegte dade en solank die balans in die positief ten opsigte van goeie dade is, voel hulle verseker van hul redding. Ons weet egter vanuit die Bybel dat ons beste dade soos vuil klere is en dat, indien ons ons dade sou klassifiseer in terme van God se standaarde, elkeen aan die verkeerde kant van die balansstaat sal beland. Hierdie poging van die mens om sekerheid te verkry, bring nooit enige rus of vrede nie. Daar is ‘n konstante vrees en bekommernis oor of jy genoeg gedoen het of nie. In stede van sekerheid bring dit dus net nog meer twyfel.

Bonatuurlike verskynsels

Ander mense glo weer dat die Gees se teenwoordigheid in hul lewe ‘n sekere bewys van hul redding is. Dit is ongetwyfeld waar – indien jy die Heilige Gees het kan jy verseker wees van jou redding. Die probleem is egter hoe weet jy, jy is gevul met die Heilige Gees? Bewyse van die Gees se teenwoordigheid word vir baie mense gevind in een of ander bonatuurlike manifestasie soos drome, visioene, vreemde tale of in ’n stem wat met hulle gekommunikeer het. Hierdie krag of stem word dan aan die werking van die Heilige Gees toegedig en dit gee mense die sekerheid van Sy teenwoordigheid. Hierdie tipe manifestasies is egter geensins ‘n bewys van die inwoning van die Heilige Gees nie en mislei baie mense. Sê die Bybel nie tereg dat mense in die laaste dae wonders en tekens sal doen nie? Markus 13:22 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. So erg sal hierdie misleiding wees dat as dit moontlik was selfs die uitverkorenes mislei sou word.  

Predikante of pastore

Baie mense vandag voel verseker van hul redding op grond van die opinies van die meerderheid predikante of pastore. Solank ek met hulle saamstem, glo wat hulle glo en doen wat hulle doen, kan ek sekerheid hê dat ek op die regte pad is. Net soos die bewys van ‘n bonatuurlike stem geen vertroosting of sekerheid kan bied nie, is die opinies van die meerderheid predikante en pastore nie ‘n anker waaraan jy jou redding kan vasmaak nie. Miga deel ongeveer vierhonderd profete mee dat ’n leuen gees van God uitgegaan het om hulle almal te mislei nie. 1Konings 22:22-23 En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek. Dit leer ons dat selfs die meerderheid predikers nie altyd reg is nie. Deur die geskiedenis was daar manne wat alleen teen die kerk van hulle dag moes optree. Athanasius sou bekend word vir die stelling: Athanasius teen die wêreld. So sou die welbekende Martin Luther ook opstaan teen die kerk van sy dag en sê: “Hier staan ek want ek kan nie anders nie.”

Ware sekerheid

Die Heilige Gees

Die inwoning van die Heilige Gees gee elke gelowige die sekerheid wat hy/sy nodig het dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sondes ontvang het en dus die ewige lewe het. Valse sekerheid, wat deur bogenoemde pogings bewerkstellig word, laat altyd ‘n mate van vrees. “Doen ek genoeg, het ek genoeg ervarings en luister ek na die regte mense?” God het ons egter nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie. 2Timotheus 1:7 “God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” Dit is die Heilige Gees.

Die Heilige Gees getuig ook in ons lewens dat ons kinders van God is. Romeine 8:15-16  Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. Is dit met ’n harde stem? Is dit ’n emosie? Nee, maar dit is ‘n daaglikse bewustheid, meer en meer, dat God my Vader is. Sy begeertes word my begeertes. Ek verlang om by Hom te wees. Ek word al meer verander om soos die beeld van Sy Seun te lyk. Daarom die uitroep: “Abba Vader.”

Die Heilige Gees wat in die gelowige leef het gekom om te getuig aangaande Christus. Johannes 14:25-26  Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Elke “skaap” van Hom sal luister na Sy stem. Elke gelowige sal deur die werking van die Heilige Gees met sekerheid weet dat die Woord die enigste onfeilbare Woord van God is en absoluut waar is. Johannes 7:17  As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek. Nie net is die Heilige Gees die Een wat die Woord in ons harte bevestig as ons dit lees nie, maar Hy het ook in die verlede die persone wat God gestuur het om Sy Woord te verkondig, deur tekens en wonders bevestig. Hebreers 2:4 terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?  Kan jy sien dat die sin in die verlede tyd is (kyk na die woord “het”)? Dus het die Heilige Gees nie meer nodig om bevestiging van Sy Woord te gee deur tekens en wonders nie – dit is alreeds bevestig en daar is getuienis daarvan in Sy Woord.

Die Woord

Waarop het Martin Luther en Athanasius en ander manne van God opgestaan? Die Woord (Sola Scriptura). Indien jy hulle vanuit die Woord sou kon wys waar hulle in hul leerstellings dwaal sou hulle bely en hulself bekeer het.  Ons sekerheid lê in niks anders as die Woord nie. Hierdie Woord wat deur die Heilige Gees in elke gelowige bevestig word in wat God verklaar aangaande Sy kinders. Ons weet volgens Romeine 8:31-39 dat ons oorwinnaars is en dat daar niks in hierdie wêreld of in die toekomstige wêreld is wat ons van die liefde wat daar in Jesus Christus is kan skei nie. Ons weet ook die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. 2Timotheus 4:18

Lyding

Die Woord gee aan elke gelowige die sekerheid dat jy aan God behoort en dat Hy jou sal bewaar tot die einde. Hoe weet jy egter dat jy ‘n gelowige is? Kyk na Romeine 8:17: en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Ons is erfgename aan sy lyding en dan ook aan Sy heerlikheid. As jy nie ly vir Sy naam nie is jy beslis nie ’n erfgename en seun van die Vader nie. Lees gerus Handelinge en jy sal vinnig agterkom dat lyding ‘n konstante deel was van die Kerk van Christus. Die Woord gee dus ook sekere kriteria waaraan jy jouself kan meet, of eerder versekerings of beloftes wat aan jou sal bevestig, dat jy waarlik Sy kind is. Vervolging en lyding ter wille van Christus is een van hierdie kriteria.

Heiligmaking

Elke dag sondig ons. Hoe kan ons dan verseker weet dat ons kinders van God is? Het jy ‘n strewe na ‘n heilige lewe en ‘n rein gewete? Handelinge 24:16 Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê. Mense wat in sonde volhard is konstant in vertwyfeling en met goeie reg. ‘n Ware gelowige het die begeerte om elke dag na God te nader met ’n rein gewete, sonder aanklag oor sonde in hul lewe.

Slot

Iemand wat die heeltyd twyfel is soos ‘n brander in die wind – deurmekaar. So lyk kinders van die Here nie. Nee, ons lewe is gevul met ’n sekerheid – ’n sekerheid van ons Verlossing sowel as die ewige tuiste wat ons sal ontvang. Die sekerheid wat God ons gee, is dat Sy Woord waar is – elke belofte vir hierdie lewe sowel as die lewe hierna.1Korintiers 15:19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. 

Het jy hierdie sekerheid? Is jy besig om te wandel onder die leiding van die Gees vanuit die Skrif? Bely jy Sy Woord en leef jy in heiligheid? Kan jy die bewyse hiervan sien in die manier waarop die wêreld jou hanteer?  Bely jou sonde en ongeloof en vertrou op die beloftes van God in Sy Woord. Dit is waar en seker.