8- Die sekerheid van die bewaring lê in die vastigheid van God se genade. Dat hulle nie heeltemal uit die geloof en die genade uitval of ook tot die einde in die sonde bly of verlore gaan nie, verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie, maar weens die genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het, kon dit nie alleen maklik gebeur het nie, maar sou dit ook ongetwyfeld gebeur het. Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Immers, sy raad kan nie verander, sy belofte kan nie verbreek, die roeping na sy voorneme kan nie herroep die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie net so min as wat die verseëling deur die Heilige Gees verydel of vernietig kan word.
Inleiding
Hierdie gedeelte gee ‘n mens hoendervleis as jy dit lees en verstaan. Alreeds in die vorige inskrywing het die leerreëls ons daarvan verseker dat die Skrif daarop dui dat geen ware gelowige ooit verlore sal gaan nie. Hierdie gedeelte wil dit verder vas sement deur daarop te wys dat jou bewaring en redding tot die Ewige Lewe nie van jou inspanning afhanklik is nie, maar geanker is in die beloftes van ‘n onverganklike God wie se beloftes nooit verander nie. Op grond van God se karakter is sy beloftes waar en verseker. Die mens het werklik niks waarop hy/sy kan roem nie. Niks is uit onsself nie. Net soos met ons redding, berus die volgehoue wandeling saam met Christus nie op ons nie, maar op Christus.
God hou ons vas
Indien die vashou aan Christus van die gelowige sou afhang sou daar geen sekerheid van verlossing wees nie. Hy hou ons vas, nie ons vir Hom nie. Dit is baie maklik vanuit die Skrif om die bevestiging van hierdie stelling te sien. Daar was net drie persone wat sonder sonde in die wêreld ingekom het. Christus was vir sy hele lewe sonder sonde. Hebreërs 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Die ander twee was Adam en Eva. Hulle was nie deurtrek van sonde soos elke mens met geboorte nie. Hulle is perfek gemaak. Hulle was in staat om die goeie te kies en tog, ten spyte daarvan, het hulle die sonde gekies. Dus, selfs al was jy die ‘beste’ persoon op aarde sou jy nie uit eie krag aan God kon vashou nie.
Ons is soos Petrus. Hy sien Jesus op die see loop en verlang om na Jesus toe te gaan. Jesus roep vir Petrus en hy klim uit en begin op die water na Jesus te loop, Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! Markus 14:30. Jesus red hom en spreek hom aan as kleingelowige. ’n Sterk wind bring twyfel en vrees in Petrus se hart. Die eerste teken van gevaar en Petrus sink in die water. Is dit nie tipies van die mens nie? Is dit nie presies wat ons in ons daaglikse lewens ervaar nie? Hoe baie keer is ons nie teleurgesteld in ons eie swakheid en ons vinnige vertwyfeling nie? Petrus moes leer om in tye van twyfel buite homself te kyk na die Een wat wandel op die golwe teen die wind. Net soos die man wie se seun met duiwels besete was, moet ons gereeld uitroep: En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! Markus 9:24. Daarom is dit wonderlik vir elke gelowige om weg te kyk van hul eie swakheid na God en Sy beloftes.
God se karakter
As iemand aan my iets belowe, maar die persoon is van twyfelagtige karakter, beteken die belofte nie veel nie. Dit is dus belangrik om te weet wie God is. Kennis van God se karakter bring soveel gerustheid. Psalm 33 vertel ons dat “Die raadsplan van die Here bestaan vir ewig, die planne wat Hy bedink, van geslag tot geslag. Psalm 33:11. Sal Sy raadsplan ooit verander? As Hy iets besluit het verander Hy nie op ’n stadium van gedagte nie. Hy is die God wat nooit verander of berou het nie, die God wat alles wat Hy spreek waar maak. Numeri 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? Dus weet ek dat elke belofte in Hom Ja en Amen is. 2Korintiers 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. Hierdie beloftes word bevestig deur die karakter van God wat in Exodus 34:6 aan ons bekend gemaak word: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid”
God se beloftes.
Elke woord in die Bybel wat gespreek word, is God se Woord en daarom is die ja en amen. In Romeine vertel God aan sy kinders dat die werk wat in ons begin is totaal afhanklik is van Hom. Romeine 8:29-30 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. Hoe wonderlik is die werk wat God in ons lewens gedoen het en nogsteeds doen?! Daar is egter soveel meer. Kyk na die laaste deel van die vers: “die het Hy ook verheerlik.” Wat beteken dit anders as die God, wat al die werk in ons lewens begin het, ook die Een is wat ons verheerlik. Ons is in Christus in die Koninkryk van God geplaas. Ons is verseker van die ewige lewe wat ons sal beërwe, aangesien ons dit in Christus alreeds ontvang het. Kan jy verstaan hoekom die Skrywer onder die inspirering van die Gees kan uitroep dat niks ons kan skei van die liefde van Christus nie. Ons het die wonderlike versekering dat ons oorwinnaars is. Die oorwinning is alreeds behaal al ervaar ons dit nie nou al ten volle nie en al stry ons nog teen die sonde.
Christus belowe ons verder dat Hy ook die een is wat elke dag vir ons intree by die Vader. Wie is hierdie groep waarvoor Hy intree? Romeine 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Die persone, die uitverkorenes, vir wie Christus gesterf het is dieselfde persone vir wie Hy alles genadiglik geskenk het en die persone vir wie Hy intree. As Christus elke oomblik vir ons intree, hoe kan iemand of enige situasie ons uit God se arms wegruk? Romeine 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Hy is die groot Hoëpriester wat volgens Hebreërs vir ons intree. Hebreërs 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Sy redding is volkome. Daar is geen gebrek in God se redding van Sy uitverkorenes nie. As Jesus aan Petrus bekend maak dat hy Hom sou verloën gee hy aan Petrus ’n wonderlike bemoediging. Luister na die woorde van ’n liefdevolle redder. Lukas 22:32 Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk. “Petrus, jy gaan my verloën, maar weet verseker dat ek vir jou ingetree het en met sekerheid kan sê dat daar ’n dag gaan kom wat jy jou gaan bekeer. Jy sal tot inkeer kom en jou sonde bely. Ten spyte van jou swakheid en ten spyte van jou sonde sal ek verseker dat jy sal terugkom na My.” Dieselfde belowe Hy aan elkeen van sy kinders.
God se seël
Die Heilige Gees wat ons lewendig gemaak het en in ons lewens woning kom maak het, is ook dieselfde Gees wat ons verseël. Hy is ons waarborg dat ons aan God behoort. Die beeld in Efesiërs is ryk. Dit vertel aan die gelowige dat die betaling klaar vir ons gemaak is en die Heilige Gees wat in ons lewe is die bewys dat die betaling volkome gemaak is. Efesiërs 1:13-14 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid. Die Heilige Gees, wat jou lewend gemaak het, sal woning by jou maak en elke dag voortgaan om jou te verander om al hoe meer te lyk soos ons Verlosser, Jesus Christus,
Slot
Kan daar enige twyfel in ons harte wees? Mag ons mismoedig raak? Nee, ons weet verseker dat God se werk ewig en volmaak is. Ek kan weg kyk van myself – my eie swakhede en vrese, na God, die Vader, My Verlosser Jesus Christus en die leiding van die Heilige Gees. Hy is ons anker en rots. Die duiwel wil ons laat dink dat ons redding van onsself afhang, maar God verseker ons deur Sy woord dat indien jy deur God uitverkies is, Hy die werk wat Hy in jou begin het tot voleinding sal bring.
