7- As die gelowiges terugval, bring God hulle terug na bekering en groter toewyding. Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Tweedens vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot bekering. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof, met ‘n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God wat nou met hulle versoen is, aanbid hulle sy ontferming en trou om daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk.
Inleiding
Ons weet dat dit soms gebeur dat gelowiges in sonde val. Die sekerheid wat ander gelowiges egter het, is dat God hierdie persoon weer sal terugbring. Dit wat in die gelowige gebeur het, was ’n lewe wat ontstaan het uit onverganklike saad. 1Petrus 1:23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Die groei wat dus begin het by wedergeboorte gaan nooit tot ’n einde kom nie.
God van verbonde
In die Ou Testament sien ons hoe God ewige verbonde sluit met die mens. Hierdie verbonde word telkemale deur die mens verbreek en tog hou God hierdie verbonde nogsteeds in stand. Hy bly getrou al is ons nie getrou nie. Die straf vir die breek van die verbond dra Hy ook self. Hiervan is die verbond wat Hy met Abraham sluit ‘n wonderlike voorbeeld. Die diere word in die helfte geslag en die ondertekendes van die verbond moet dan, soos deur tradisie bepaal, daardeur beweeg. Daarmee verklaar hulle dat dit wat met die diere gebeur het met die een sal gebeur wat nie die verbond nakom nie. Die persoon se liggaam sal ook soos hierdie diere s’n in twee gesny word. Ons vind dat God alleen deurgaan aangesien Abraham vas aan die slaap geraak het a.g.v. moegheid om die wilde diere weg te hou. Die verbond word deur die mense oortree, maar God dra die straf in Jesus Christus aan die kruis. As God jou deur sy Gees wederbaar het en jou aangeneem het as sy kind kan jy verseker weet dat jy ’n kind sal bly tot die einde toe.
Volharding in sonde
Die vraag kan dan gevra word of ’n gelowige wat in sonde val in daardie toestand sal bly. Ons weet reeds dat niemand wat in sonde bly volhard ‘n ware gelowige genoem kan word nie. Dus volg die antwoord logies en onomwonde: “Nee! “Petrus huil bitterlik nadat hy besef wat hy gedoen het. Markus 14:72 En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars. Na Jesus se opstanding sou Jesus hom ’n paar keer ontmoet. Hy kom elke keer na Petrus. Op ’n dag vind ons dat Petrus weer soos ouds wil gaan visvang. Weer, net soos die eerste keer toe Jesus hulle ontmoet het langs die waters, word geen vis gevang nie. Hulle kry die opdrag om die net aan die regterkant uit te gooi. ’n Groot hoeveelheid vis word gevang. Petrus hoor dat dit Jesus is en trek sy bo-kleed aan, want hy was naak. Johannes 21:7 Daarop sê die dissipel—die een vir wie Jesus liefgehad het—aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om—want hy was naak—en werp homself in die see. Hy bevind hom naak soos Adam van ouds. Daardie dag sou Jesus drie maal vir Petrus vra of hy Hom liefhet. Drie maal sou hy aan Petrus sy opdragte gee, nl. om die gelowiges toe te rus en te versorg. Net soos God in die begin die inisiatief neem in ons verlossing, so hou Hy aan om die werk in ons te doen. Hy werk deur sy Gees en die verkondiging van Sy Woord in jou lewe. Ons is uit God gebore en daarom sal ons nie aanhou met sondig nie. 1Johannes 3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Die sonde waarvan in 1Johannes gepraat word, is die sonde waarin ‘n persoon bly volhard.
Ware berou
Net soos Petrus sal elke gelowige by die plek kom van ware berou. ’n Droefheid wat in lyn is met God se wil. Daar is baie mense in die Skrif wat bedroef wat oor hulle sonde, maar nooit bedroef was volgens God se wil nie. Kain is sekerlik een van die eerste persone wat bedroef was oor sy straf eerder as sy sonde. Nadat God sy straf aangekondig het kla Kain by God. Genesis 4:13-14 Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra. Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: ‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan. Was hy bedroef oor sy broer wat hy doodgemaak het? Was Hy bedroef dat hy nie na God se waarskuwing geluister het nie? Nee sy grootste bekommernis is dat iemand hom dalk sal doodmaak. Watter ironie! Solank sonde se konsekwensies nie sleg is nie sal ek aangaan met die verkeerde. So baie mense doen die verkeerde in hulle lewens en bevind dan dat alles ‘n gemors is. In plaas daarvan om hul lewe in oënskou te neem en te besef hoe hulle van God se standaard afgewyk het, draai hulle na God en blameer hom vir hul situasie. Hulle blameer almal rondom hulle i.p.v. om hulle hande in hulle eie boesem te steek. Baie mense is dus bedroef oor die gevolge wat hul sonde in hul eie lewe het (die konsekensies daarvan in hul eie lewe), maar hoe jou sonde ander, en spesifiek vir God bedroef het, skeel hulle min.
Hiskia was dieselfde. Alles wat hy gehad het, het God aan hom gegee. Hy was bedreig deur die Assiriese magte en God het ’n engel gestuur en in een nag honderd vyf en tagtig duisend soldate doodgemaak. Dan word Hiskia siek en God genees hom. Die koning van Babel hoor dat Hiskia siek was en stuur manne na hom. Jy sou verwag dat Hiskia die manne alles sou vertel wat God gedoen het en hoe groot God is, maar nee. 2Konings 20:13 En Hiskia het na hulle geluister en hulle sy hele skathuis laat sien, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare olie en sy wapenhuis en alles wat in sy skatkamers te vinde was; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskia hulle nie laat sien het nie. Hy wys hulle hoe magtig hy is. Hy vat alle eer vir homself. God kondig dan sy straf aan. Luister wat Hiskia hierop aan antwoord. 2Konings 20:19 Toe sê Hiskia vir Jesaja: Die woord van die HERE wat u gespreek het, is goed. Ook sê hy: Waarom dan nie, as daar maar vrede en bestendigheid in my dae sal wees!
Is dit hoe ‘n gelowige optree? Nee, ’n gelowige moet ’n berouvolle bekering hê volgens God se wil. 2Korintiers 7:10 Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Is jy in sak en as oor jou sonde en hoe ligtelik jy daarmee omgegaan het, ’n sonde waarvoor ons Verlosser duur betaal het? Jy het jou vuis vir Hom gebal en met jou lewe sy naam gelaster. Kan jy verstaan dat ’n persoon wat die Gees in hom/haar het en wie bewus gemaak word van hul sonde, iemand sal wees wat oor hulle sondes sal huil en sal begeer om skoon gewas te word deur die bloed van die Lam. Psalm 32:5 My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.
Slot
Wat ‘n wonderlike versekering om te weet dat God ons nooit alleen laat nie. As Sy kind sal Hy jou altyd kom haal, jou ware berou laat ervaar en jou terugbring na die liefdesverhouding waarin Hy jou ingebring het. Om jou sonde te erken is nooit lekker nie en gaan gepaard met hartseer, berou en baie trane, maar dit is so bevrydend. Elke gelowige wat so gewas word, is weer opnuut bewus van God se genade en is gevul met ’n oorlopende dankbaarheid. Hulle het nog ’n groter ywer om hulle geestelike lewens met vrees en bewing uit te werk. Filippense 2:12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing. Dit is die kenteken van ’n gelowige. Dit kan nie anders nie, want dit is alles wat God veroorsaak in sy kinders se lewens. Jou lewe as Sy kind begin met onverganklike saad – jy sal nie verlore gaan nie!
