6- God verlaat nie die uitverkorenes nie en laat hulle nie in ewige verderf wegval nie God, wat oneindig barmhartig is, neem, weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing, sy Heilige Gees nie heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle jammerlike sondeval nie. Hy laat hulle ook nie só diep val dat hulle uit die genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie.
Inleiding
Voordat ons na hierdie gedeelte kyk is dit belangrik dat ons net weereens besef wie die uitverkorenes is waarvan hier gepraat word. In Efesiërs word God se oneindige barmhartigheid bespreek wat Hy vir sy geliefdes het. Efesiërs 2:4-5 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus… Barmhartigheid is om te ontvang dit wat ek nie verdien nie. Ons het God se ryke barmhartigheid ontvang op grond van sy ewige liefde en nie op grond van enige iets wat ons gedoen het of sal doen nie. Die mense aan wie Hy barmhartigheid bewys is diegene wat Hy met sy grote liefde liefgehad het. Ons sien dat dit in die verlede tyd geskryf is. Dus, die mense aan wie God barmhartigheid bewys, is diegene waarop Hy sy liefde uitgestort het voor die grondlegging van die wêreld. Ons vind hierdie verklaring in die eerste hoofstuk van Efesiërs. Efesiërs 1:4-5 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil. Wanneer is ons uitverkies? Voor die grondlegging van die wêreld. Hoekom is ons uitverkies? Die gedeelte verklaar dat dit plaasgevind het na die welbehae van Sy wil. Dit was volgens wat goed was vir Hom. Hy het bepaal wie uitverkies word en in elke persoon wat uitverkies is, het Sy wil geskied. Ons is uitverkies op grond van Sy ryke barmhartigheid en as gevolg daarvan het Hy Sy liefde op sy uitverkorenes uitgestort. ’n Liefde wat nie een van sy uitverkorenes verdien het nie.
Onveranderlike besluit
As Jesus die verhaal van die Herder en die skape aan sy volgelinge voorhou, vertel Hy aan sy hoorders dat die skape vir wie Hy sy lewe sal aflê diegene is wat die Vader vir hom gegee het. Johannes 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Die grootste fout wat baie mense maak is om Jesus en die Vader as twee teen pole te gebruik nl. Jesus is liefde en die Vader is haat. Hulle dink dat Jesus die liefdevolle persoon in die Drie-eenheid is en dat die Vader vol wraak en woede is en ons slegs lief het omdat Christus vir ons gesterf het. Niks kan vêrder van die waarheid wees nie. Die Drie-eenheid het in hul raadsplan besluit om hul liefde uit te stort oor die uitverkorenes. Die Vader het elke uitverkorene lief en het hulle aan die Seun toevertrou sodat hulle deur die Seun se kruisdood volkome vergifnis sou ontvang. As jy twyfel aangaande die Vader se liefde vir sy uitverkorenes luister net na Jesus se gebed aan Sy Vader. Johannes 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. Weereens word die verlede tyd gebruik. Kan jy verstaan dat daar nooit aan hierdie besluit verander kan of sal word nie? Indien jy uitverkore is, is dit a.g.v. God se barmhartigheid en omdat Sy liefde op jou uitgestort is. Hoe kan so ’n persoon ooit deur God verlaat word? Ook in Johannes 10 word bevestig: Johannes 10:28-30 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en die Vader is een. Ons is in Christus en in die Vader se hande. Dit is ’n dubbele versekering dat ons nooit verlore sal gaan nie.
Nooit deur God verlate
Die Dortse Leerreëls gaan dan vêrder om te bevestig dat die Heilige Gees ook nie van ons weggeneem sal word nie. Selfs in gruwelike sondes, soos die van Dawid, is die Gees nog steeds teenwoordig, al is dit ’n tyd waarin die Gees bedroef en stil word in jou lewe. Luister na Psalm 51 waar Dawid sy sondes bely. Psalm 51:13 en 15 Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Hy bely dat hy bewus is dat die Heilige Gees nog steeds in sy lewe teenwoordig is en dat God nie sy Gees van hom weggeneem het nie. God verlaat nooit sy uitverkorenes nie.
Sonde teen die Heilige Gees
Baie gelowiges het vrae oor sonde teen die Heilige Gees en wat dit beteken. Kan ’n gelowige sondig teen die Heilige Gees en as gevolg daarvan verlore gaan? Ander gelowiges wonder weer of hulle die tipe sondes kan doen waarvan 1Johannes praat, nl. sonde wat tot die dood is. Hier praat ons van die ewige dood en nie die fisiese dood wat wel as straf oor gelowiges gekom het nie. Paulus vertel van sulke mense in die gemeente in Korintiërs. 1Korintiers 11:29-30 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.
Die konteks van die sonde teen die Heilige Gees is baie duidelik in Mattheus 12. Die Fariseërs het gesien hoe Jesus duiwels uitdryf deur die krag van die Heilige Gees. Tog het hulle gesê dat Hy dit deur die krag van Beëlsebul doen. Vanaf Jesus se doop het Hy alles deur die krag van die Heilige Gees gedoen en het die Heilige Gees getuig dat Hy die Messias is wat sou kom. Tog het hulle die Heilige Gees se getuienis aangaande Jesus nooit aanvaar nie, omdat hulle Jesus nie as die Messias, die Verlosser, aanvaar het nie. Dit is sonde teen die Heilige Gees. Net soos toe, verklaar Die Heilige Gees vandag nog deur God se Woord die evangelie van Jesus Christus, Seun van God. Diegene wat egter nie hierdie getuienis aanvaar nie doen sonde teen die Heilige Gees. Aangesien die Gees van Hom getuig. Johannes 15:26 Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.
Daar word uit sekere geledere die aantyging gemaak dat jy sondig teen die Heilige Gees as jy nie erken dat wonders en tekens wat in die kerk plaasvind ten alle tye van die Heilige Gees afkomstig is nie. Die interessante is dat Jesus sy volgelinge waarsku dat baie valse mense in Sy naam sal kom en wonders en tekens sal doen. Mattheus 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Hulle sal so misleidend wees dat indien dit moontlik kon wees, hulle selfs die uitverkorenes sou kon mislei. (Gelukkig is dit nie moontlik nie.) Dus is sonde teen die Heilige Gees beslis nie iemand wat onderskeiding aan die dag lê nie, maar iemand wat Jesus Christus nie as God en Here van hul lewe aanvaar nie.
Sonde tot die dood
Johannes se gedeelte van sonde wat tot die ewige dood lei word soos volg aan ons verduidelik. 1Johannes 5:16 As iemand sy broeder ‘n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee—vir die wat nie ‘n sonde tot die dood doen nie. Daar is ‘n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie. Johannes verduidelik aan ons dat ons vir ons medegelowiges moet bid, wanneer ons sien dat hulle in sonde geval het, met die wete dat God hom/haar sal vergewe. Daarteenoor stel hy die sonde wat die ewige dood voortbring, waarvoor ons nie moet bid nie. Hierdie sonde is enige sonde waarin iemand volhard. Nooit word daar gesê dat hierdie sonde deur gelowiges gedoen word nie. Ons weet uit vorige inskrywings dat geen persoon wat waarlik ’n gelowige is in sonde sal volhard nie, omdat God jou sal tug en sal terugbring. Dit is sy belofte aan elke gelowige. Jou gebede sal dus nie help vir iemand wat in sonde volhard en dus nie ’n gelowige is nie. Jou gebed moet wees dat hy/sy eerstens tot wedergeboorte moet kom, voordat enige sonde belydenis en gevolglike vergifnis kan plaasvind. Sonder wedergeboorte sal die persoon verseker in die ewige dood beland en jou gebede sal dus nie help nie.
Geen ware kind van die Here kan bly in sonde wat tot die dood lei nie. 1Johannes 5:18 Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie. 1Johannes sê weer dat as ons sê dat ons nie sonde het nie ons leuenaars is, maar as ons ons sondes bely sal Hy ons vergewe. Dan maak Johannes dit duidelik hoe ’n kind van die Here moet lewe en God se gebooie moet bewaar. Indien iemand nie so leef nie is hy/sy, volgens Johannes, nie ’n gelowige nie. Die onderskeid word dus duidelik gemaak tussen ’n gelowige wat sonde doen en dit dan bely teenoor ’n ongelowige wat volhard in sy sondes. Dit is dus nie die tipe sonde nie, maar die volharding daarin, wat veroorsaak dat dit beskryf word as ‘n sonde wat tot die dood lei. Paulus bevestig dit in 1Korintiers. 1Korintiers 6:10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. Indien dit ’n sonde is waarin jy steeds volhard, word jy met daardie naam beskryf. In vers 11 gaan hy egter verder deur te sê “So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus deur die Gees van ons God” Dit is duidelik dat alhoewel hierdie mense op ’n stadium in hul lewe hulself skuldig gemaak het aan bogenoemde sondes, word hulle nie meer daardeur gedefinieer nie en het hul naam verander na Heiliges. Indien jy bv. voor jou bekering te veel gedrink het en mense jou beskryf het as ’n dronkaard of alkoholis, is jy dit nie meer nie. Jy het die sonde bely en laat staan en jy is nou vry.
Slot
Geen sonde is te groot of val te vêr of diep dat God jou nie daaruit sal red nie. Indien jy ’n uitverkore is, is dit Sy belofte: Hy sal by jou wees en nie toelaat dat jy verlore gaan nie! Die gelykenis van die Goeie Herder illustreer hierdie belofte – Hy sal jou kom haal. Indien dit jou die idee gee dat jy nou maar kan leef soos jy wil, want God sal jou altyd weer vergewe en jou kom haal, is jy nie ’n gelowige nie en geld die belofte juis nie vir jou nie. Dit is daar om vir kinders van die Here die versekering te gee, dat ware liefde alle vrees verdryf. Alles vrees vir die ewige dood word vervang met die belofte van God se liefde en ewige barmhartigheid vir sy uitverkorenes, waarvan elke gelowige deel is. Enige sonde wat jy afgelê en bely het, is vergewe en so vêr verwyder as die ooste van die weste. Prys Sy grote Naam!
