5- Hul growwe sondes vertoorn God, wat nogtans weer Sy lig oor hulle laat skyn by hul opregte berou betoning. Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood en bedroef hulle die Heilige Gees, versteur hulle die oefening in die geloof, verwond hulle die gewete ernstig en verloor hulle soms ‘n tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God, wanneer hulle deur ‘n opregte berou op die regte pad terugkeer, weer die lig van sy Vaderlike aangesig oor hulle laat skyn.
Inleiding
Dit is baie duidelik vanuit die Skrif dat God die sonde haat – enige sonde. Ons wil soms dink aan growwe sondes as daardie erge openbare sondes soos moord, diefstal en owerspel. Growwe sonde is egter enige sonde waarin mense volhard – ja, ook daardie ongeduld of humeur wat jy as deel van “wie jy is” beskryf.
As inleiding oor hoe God oor sonde voel kan ons maar na ’n paar voorbeelde in die Bybel gaan kyk. Hy stuur ’n vloed in die tyd van Noag en wis die hele mensdom behalwe Noag en sy gesin uit. Hy wis Sodom en Gomorra uit met vuur a.g.v. hulle volgehoue sonde. Hy gebruik Israel om lande met die banvloek te tref a.g.v. hulle sondes. God vra Saul om Amalek met die banvloek te tref. 1Samuel 15:3 Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel. Niemand mag verskoon word nie. God het al ’n belofte aan Moses gemaak dat hy Amalek sal uitwis, omdat hulle teen Israel opgestaan het en hulle wou uitwis. Saul is nie gehoorsaam aan God nie en spaar Agag, die koning, en ’n klomp van die vee. Hieroor verwerp God Saul as koning van Israel. 1Samuel 28:18 Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Amalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen. Dit is dus duidelik hoe God optree teenoor die sondes van die wêreld. Sommige mense het egter die idee dat die God van die Ou Testament ernstiger is oor sonde as die God van die Nuwe Testament. Jesus Christus is vir hulle ’n toonbeeld van God se liefde en genade teenoor die sondaar en woorde soos “Moenie oordeel nie” en “Laat hy wat sonder sonde is die eerste klip gooi” het amper die fondasie van hul teologie geword. Die Nuwe Testament eindig egter in Openbaring met Christus wat kom om te oordeel en die hel is ’n besliste beeld van wat met die ongelowiges en sondaars in hierdie wêreld gaan plaasvind. Die God van die Ou en Nuwe Testament is dieselfde. God haat sonde!
Hoe voel God oor gelowiges se sonde?
Ons weet dat God se toorn oor die ongelowige sondaars in hierdie wêreld is en dat Hy hulle haat. Psalm 5:6 Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. Die vraag ontstaan oor hoe God die sonde van die gelowiges ervaar. Sommige het die idee dat omdat Jesus se regverdigheid met wedergeboorte op ons oorgedra word, God ons sonde nie eers sien nie. Dit is egter baie duidelik vanuit die Skrif dat God Sy volk en Sy kinders partykeer erger straf as die wêreld. Die verskil is dat die gelowige tydelik hier op aarde gestraf word, terwyl die ongelowige vir ewig in die hel gestraf word. Die rede hiervoor is dat God ’n liefdevolle Vader is wat Sy kinders tug. Hebreërs 12:5-6 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. Geen pa wat sy kinders lief het, sal toelaat dat hulle grootword sonder tug nie. ’n Vader besef dat tug ’n beskermings meganisme is vir sy kinders waarvoor hy lief is. Daarom is die onmiddellike vraag, nadat God verklaar dat Hy sy kinders tug, die volgende: “As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?” Hebreërs 12:7. Daar is baie voorbeelde in die Skrif waar God sy kinders tug, bv. Moses en Aaron wat nie in die beloofde land kan ingaan nie, Dawid wat deur God gestraf word met die dood van sy seun en Ussa, wat aan die ark raak en doodgeslaan word deur God. In die Nuwe Testament sien ons Ananias en Sefira wat dood neerslaan omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg het.
God haat sonde!
Hoekom voel God so oor sonde?
Sonde in die gelowige se lewe vernietig die verhouding met God. As ons sondig is ons besig om die Heilige Gees te bedroef. Efesies 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Die Heilige Gees is die persoon in die Drie-eenheid wat ons lewendig gemaak het, ons elke dag suiwer in ons heiligmaking proses en ons verseël tot die dag van ons ewige verlossing. Hierdie teksvers word aangehaal na die oproep op gelowiges om nie toe te laat dat vuil woorde uit hulle mond uitgaan nie. Dit is verder ’n aanhaling van Jesaja 63. Jesaja 63:10 Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry. Wat ’n skokkende boodskap: dat God die vyand van Sy volk geword het a.g.v. hulle sonde!? Watter gelowige wil hê dat God hulle vyand moet word?
Sonde in die gelowige se lewe verwond jou gewete. Dit beteken dat sonde veroorsaak dat jy dikvellig raak teen sonde in jou eie lewe. Jy het nie ’n sensitiewe gees rakende jou eie sonde nie. Die Heilige Gees raak al hoe stiller in jou lewe, omdat jy nie luister na sy waarskuwings nie. So ‘n persoon verval maklik in gruwelike sondes aangesien die waarskuwings ligte al lankal geflikker het, maar die persoon het verhard en geestelik blind geword. Die hartseer is dat die Gees wat vir die gelowige bevestiging gee van sy sekerheid in Christus, dieselfde Gees is wat nou stilgemaak is in jou lewe – die Gees wat in ons roep Abba Vader. Romeine 8:15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Baie wat volhard in sonde probeer hulle sekerheid nou op ander maniere vind, bv. in iets wat jare terug gebeur het of ’n besluit wat hulle jare terug vir Christus geneem het. Hulle probeer weer die Heilige Gees “hoor” deur te gryp na valse manifestasies van die Gees in terme van sekere Charismatiese “gawes”. Hierteenoor staan die gelowige wat in gehoorsaamheid lewe, wat elke dag die versekering van die Gees se werking en bevestiging dat God hul Vader is, duidelik in hulle gees ervaar.
Sonde in die gelowige se lewe steel jou vreugde. Die Psalmdigter verwoord dit waardeur iemand wat volhard in sonde gaan. Psalm 32:3-4 Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; 4 want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. Sela. Dit is die pyn waardeur ’n gelowige gaan wat in sonde volhard. Die ontsettende geestelike pyn waardeur iemand gaan wat met sonde speel, maak alle vreugde dood. Enige dokter sal jou vertel dat pyn die liggaam se manier is om jou te waarsku dat daar êrens groot fout is. Sommige mense wil net pynstillers drink om die pyn te verdoof eerder as om die oorsaak van die pyn op te spoor en iets daaromtrent te doen. Hulle soek vir hulle predikante wat preek wat hulle graag wil hoor en maak vir hulle sogenaamde vriende bymekaar wat hulle sonde aanvaar. As jy werklik God se kind is, sal God egter teen jou opstaan en Hy sal jou pynig, want Hy is lief vir jou en Hy het geen begeerte dat Sy kinders sal aanhou sondig nie.
Sonde in die gelowige se lewe maak God se genade goedkoop. As gelowiges leef ons elke dag uit dankbaarheid vir wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gedoen het. Elke dag staan ons op met die besef van hoe wonderlik dit is dat ons ’n verhouding met God kan hê as gevolg van Christus se versoeningsoffer. Wanneer ons egter in sonde volhard – en party doen dit met die idee: “Ag God se genade is so groot, Hy sal my weer vergewe” – dan maak ons God se genade goedkoop in die feit dat ons nie besef wat God se genade Hom gekos het nie. Dit het Sy lewe aan die kruis gekos! ‘n Bekende teoloog het eenmaal die stelling gemaak dat dit nie heuning is wat van die kruis af drup nie, maar bloed. As jy nie die enormiteit van hierdie daad besef nie, het jy geen dankbaarheid en dus geen gehoorsaamheid nie en verval jy al hoe meer in sonde en God haat sonde!
Sonde belydenis
Wat gebeur as jy jou sonde bely? Psalm 32 vertel die gelowige nie net van die pyn van sonde nie, maar ook van die vergifnis en gevolglike herstel met sonde belydenis. Psalm 32:5 My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela. Moenie jou sonde probeer minder maak of maak asof dit nie so erg is nie. Elke sonde is ’n sonde teenoor God – ‘n heilige God, wat sonde haat! Bring dit na die Een wat alleen jou sonde kan vergewe en ten volle daarvoor betaal het. Hoe wonderlik is dit nie om die Vader se vergifnis te ervaar nie? Jesaja 1:18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. Vergifnis is waarna elke gelowige moet smag – om vry te wees en te ervaar hoe die aangesig van God oor jou lewe skyn. Numeri 6:25 die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. So ’n persoon het ’n vrede en geluk wat van onskatbare waarde is. Luister maar net na die bergpredikasie en jy sal verstaan dat gelowiges wat in gehoorsaamheid lewe ’n vreugde (Makarios) in God het wat ongekend is. Nie net belowe God aan sy kinders vreugde nie, maar ook ’n vrede. ’n Vrede, nie soos hierdie wêreld belowe nie, maar ‘n vrede in jou gees wat niemand van jou kan wegneem nie. Jesus belowe hierdie vrede aan sy volgelinge terwyl Hy aan hulle die koms van die Heilige Gees belowe. Johannes 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. As jy in gehoorsaamheid aan God leef sal die Heilige Gees hierdie vrede in jou lewe teweegbring. Geen oorlog, vervolging, aardse gebreke, armoede of hartseer kan hierdie vrede van jou steel nie.
Slot
Ons sondig elke dag. Dit is ’n feit waarvan elke gelowige maar te bewus is. Dit moet egter nooit ’n verskoning word vir growwe sondes, of dan, om in sonde te volhard, nie. Dit moet vir altyd vir die gelowige ’n stryd bly, nie net omdat ons bang is vir God se straf nie, maar hoofsaaklik omdat dit ons verhouding met God kan skaad. Bely jou sonde gereeld, met opregte berou. Jou sonde is dit wat Jesus Christus aan die kruis laat ly het. Die pyn van hierdie wete moet net so ‘n werklikheid in jou lewe wees, as die vreugde van jou verlossing, sodat jy nooit dikvellig of ongeërg sal word oor sonde in jou lewe nie.
God haat sonde!
